1. INLEIDING:
In hoofstuk 1 het die Hebreërskrywer vir
ons verduidelik dat Jesus, die Seun van God, verhewe is bo die engele. Hy het egter
ook vir ons daarop gewys dat Jesus God is en dat Hy verhef is bo die ganse
skepping en dat Hy op ’n ewige troon sit met ’n septer in Sy hand en vir altyd oor
die heelal heers.
In hoofstuk 2 sal ons ook sien dat die
Hebreërskrywer vir ons daarop wys dat Jesus mens geword het en dat Hy daarom
volmaakte Middelaar tussen ons en God is – iets waarop geen engel homself kan
beroem nie. Die skrywer hanteer egter eers ’n ander saak in vv.1-4 in hoofstuk
2, voor hy aangaan met Sy beskrywing van die Seun van God se vleeswording en in
hierdie vier verse sal ons sien dat geen mens die gevolge sal ontsnap indien hy
nie ernstig aandag gee aan Jesus nie.
2. SKRIFLESING:
Hebr.2:1-4 ~ Om hierdie rede moet ons soveel kragtiger vasgryp aan wat ons gehoor het,
sodat ons nie dalk wegdrywe nie. 2As die woord wat deur engele
gepraat is, bindend was, en elke oortreding en ongehoorsaamheid regmatig
gestraf is, 3hoe sal ons dan ontkom as ons so ’n groot saligheid
verontagsaam het? Hierdie saligheid is immers deur die Here verkondig, deur wie
dit sy oorsprong het, en is aan ons bevestig deur dié wat dit gehoor het. 4Daarby
het God ook saam getuig deur tekens en wonders en ook deur allerhande kragtige
dade en gawes van die Heilige Gees, soos Hy dit toebedeel het volgens sy wil.
3. GRYP KRAGTIG VAS:
Vers 1 begin met die woorde: Om hierdie rede moet ons soveel kragtiger vasgryp aan
wat ons gehoor het....
Om watter rede moet ons ...kragtiger
vasgryp aan wat ons gehoor het
– waarvan praat die apostel hier? Hierdie is natuurlik ’n "teruggryp"
na hoofstuk een – omdat God gepraat het, moet ons met soveel groter aandag
luister en ag slaan op wat Hy gesê het en omdat Jesus verhewe is bo die engele
en op ’n ewige Heerserstroon in die hemel aan God se regterhand sit, moet ons
soveel kragtiger vasgryp aan wat ons gehoor het – as God gepraat het, moet ons
luister!
Waarom waarsku die skrywer sy lesers om
aandagtig te luister en vas te hou aan dit wat hulle gehoor het? Een van die ou
antieke simbole vir die kerk van die Here Jesus Christus, is ’n visserskuit en
die idee van hierdie simbool spruit voort uit die verhaal wat ons in
Matt.14:22-33 en Joh.6:16-21 lees, waar die dissipels alleen in die nag in ’n
visserskuit op die See van Galilea was en ’n storm hulle getref het. Ons lees
dan verder in Matt.14:25 ~ Met
dagbreek die volgende môre het Hy op die see na hulle toe aangeloop gekom. 26Toe
sy dissipels Hom op die see sien loop, het hulle groot geskrik en gesê: “Dis ’n
spook!” Van angs het hulle hard begin skreeu. 27Maar Jesus het
dadelik met hulle gepraat en gesê. “Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees
nie.” Dit is ook
tydens dieselfde geleentheid dat Petrus vir Jesus gevra het om bevel aan hom te
gee om op die water te loop en hy wel op die water begin loop het, maar toe hy
die golwe sien het hy weggesink in die water en het hy na Jesus geroep en gesê
~ Here red my! (v.30). Kan u die simboliek hier sien van ’n gemeente
wat in nood verkeer-; ’n gemeente wat swaar kry-; ’n gemeente wat roep om redding
en Jesus Sy hand uitsteek en die stormwinde van geestelike aanslae gaan lê
opeens. Ek het eenkeer ’n foto van die preekstoel van die NG. Gemeente, Die
Vleie in Hoekwil naby George gesien wat in die vorm van die boeg van ’n
visserskuit is en die mas in die vorm van ’n kruis – pragtige simboliek van die
kerk van die Here Jesus – die kerk wat die aanslae van die vyand moet trotseer
en Jesus die Bruidegom van Sy bruid wat telkens Sy hand uitsteek en die stormwinde
bestraf en Sy kinders veilig weer aan wal laat gaan.
Dit is dan waarskynlik met hierdie beeld
of simbool van die Kerk wat voorgestel word as ’n visserskuit, wat die
Hebreërskrywer hier in gedagte het wanneer hy aan hulle skryf, want hulle
verkeer in geestelike nood omdat hulle besig is om uit die geloof te val en
terug te keer na die Judaïsme toe en daarom is hul lewe net soos dié van ’n
visserskuit sonder ankertou wat die ruwe see indryf.
Soos ons heel aan die begin gesien het,
was hierdie gemeente aan wie die apostel sy skrywe rig, waarskynlik ’n klein
gemeentetjie iewers in Italië en waarskynlik naby Rome en as ons hulle ligging
in ag neem, kan ons onsself indink dat die aanslae teen die gemeente, te midde
van die Romeinse vervolging, soveel feller was as bv. ’n gemeente in Klein-Asië
– die gemeente het in gevaar verkeer om los geruk te word van hul ankertoue en
terug te dryf na die "Dooie See van Judaïsme".
In ’n poging om hierdie gevaarlike
geestelike situasie teen te werk, waarin die gemeente verkeer, beklemtoon die
skrywer in die eerste hoofstuk, Christus se profetiese heerskappy as die finale
gesagswoord van God (1:1,2); Sy kosmiese heerskappy as Skepper en Instandhouer (1:2,3); Sy Levitiese heerskappy as volmaakte
en finale Hoë Priester wat aan die regterhand van God stelling ingeneem het (1:3); en as Heerser oor selfs die engele
en wel in naam, eer, roeping, bestaan en heerskappy (1:4-14). Hierdie menigvuldige heerskappy
behoort dus die stewige anker te wees vir die "gemeentetjie" aan wie
die Hebreërskrywer sy brief rig, maar dit moet uiteraard ook elkeen van ons se
ankertou wees in hierdie onstuimige era waarin ons leef!
Wanneer ’n skuit se ankertou loskom, dryf
so ’n boot geruisloos en amper ongesiens weg van sy ankerplek en as die
niksvermoedende vissermanne hul oë uitvee, is die boot in die see se breekwater
en word so ’n skuit baie maklik omgedop en vergaan almal aan boord en die
probleem hiermee is dat so ’n skuit se wegdryf nie voorbedag plaasvind nie,
maar eerder a.g.v. agterlosigheid en sorgeloosheid. Dit is dan ook presies
hierteen dat die skrywer die gemeente waarsku, nl. ’n subtiele wegdryf van die
waarhede waarvan hy in die eerste hoofstuk gepraat het, maar ook al die ander
eeue-oue waarhede van die Skrif, want hulle ankertou in Christus Jesus het slap
geraak en uiteindelik van sy ankerplek los gekom. Die probleem is dat wanneer
die stormwinde van vervolging en teëspoed en hartseer, opsteek teen ’n gelowige
wie se "ankertou" los geraak het, so ’n persoon sonder iemand aan die
stuur uit die stil en veilige waters van die hawe, reguit voortdryf na die
vernietigende breekwater van die see – sonder ankertou, weg van Christus,
reguit na geestelike vernietiging.
Een van die grootste geestelike siektes
van ons tyd is mense wat net ankerloos voortdryf a.g.v. ongeërgdheid en
agterlosigheid – gelowiges in ons dag verwaarloos hul Anker, Jesus Christus en
dryf stadig maar seker al verder en verder weg van Hom – sonder enige ophef;
sonder enige sigbare tekens, maar die dag as die stormwinde opsteek dan kom
sulke gelowiges agter dat hul Ankertou lankal reeds los geraak het en beleef
hulle skielik groot geestelike krisisse. Johannes beskryf hierdie selfde
situasie wanneer hy in Openb.2:4 sê ~ Maar Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het (O.A.V.).
Wat lei daartoe dat gelowiges se
ankertoue losraak – dat hulle hul eerste liefde verlaat?
·
Tyd: Baie mense wat op ’n stadium in hul
lewe "aan die brand" was vir die Here, verloor oor die jare heen, hul
"vuur", maar behou ’n voorkoms van godsaligheid, maar hulle is net
nie meer toegewyd soos vantevore nie – diesulkes het nie noodwendig Christus
verloën nie, maar hulle leef hul getuienis net nie meer in oorgawe uit nie –
soveel so dat hul kinders bv. net geen erg het aan die Evangelie as hulle groter
word nie, want hul ouers het net nie meer ’n oorwinningslewe in Christus vir
hulle voorgeleef nie.
·
Alledaagsheid/Gemeensaamheid: Wat bedoel ek hiermee? Kom ek
verduidelik baie kortliks – Mense wat van Gauteng af na die Kaap trek kan nie genoeg
van die natuurskoon en die see kry nie, maar kort voor lank is die nuutjie nie
meer snaaks nie en gaan hulle maar net weer hul normale gang soos wat dit in
Gauteng die geval was en wat meer is, na ’n jaar of wat sien hulle amper nie
meer dit wat vir hulle so pragtig was ’n paar maande van tevore nie – alles is
maar net weer alledaags. Dit is presies wat met gelowiges se eerste liefde kan gebeur
– dit word alledaags; jou liefde vir die Woord is net meer dieselfde nie; jou
"stiltetyd" raak roetine, of dit "droog selfs op"; jy gaan
kerk toe omdat dit die regte ding is om te doen; ens.
·
Ander
Prioriteite: Ander
prioriteite, of dinge wat net belangriker raak as my verhouding met die Here,
is ’n verdere bedreiging vir ons ankertoue om los te raak. Die era waarin ons
leef is só vol van allerlei katoeters ("gadgets"), wat tot gevolg het dat ons lewe net
voller gepak raak; dat ons al vinniger lewe en dat dinge net nie meer rustig
kan gebeur nie. Alles raak ook meer en meer aanskoulik en visueel – dinge soos
die rekenaar; "Slimfone"; "Tablette"; ens. en dan praat ek
nie eens van Facebook nie. Hierdie dinge neem ons totale menswees in beslag as
ons nie streng beheer oor onsself uitoefen en ons tyd en hierdie apparatuur
behoorlik bestuur nie. Hoe aanloklik is dit nie, om voor jy met jou
"gesprekstyd" (stiltetyd) in die oggend begin, net eers gou te
kyk wie sê wat op Facebook en as jy jou oë uitvee is ’n uur verby en is daar
net nie meer tyd vir Bybellees en gebed nie en moet jy begin hardloop. Op
hierdie wyse veragter jy in jou geloof; raak jou ankertoue los en dryf jy al
verder weg van jou ware Anker en verlaat jy jou eerste liefde, Jesus Christus.
4. DIE EERSTE VAN VYF WAARSKUWINGS:
As ons verder na vv.2-4 kyk, vind ons die
eerste van vyf groot en belangrike waarskuwings in die Hebreërboek. Die skrywer
sê in vv.2-4 vir sy lesers, dat die Ou Testamentiese wet deur die bemiddeling
van engele (engele wat ondergeskik was aan Christus) aan die volk Israel gegee was, en
hierdie Wet het allerlei strawwe ingebou gehad vir die oortreders daarvan en daarom
was daar ’n baie hoë premie geplaas op die streng onderhouding van hierdie
wette. Diegene wie egter oortree het, is gestraf en indien dit die geval was,
hoeveel te meer sal diegene wat die Evangelie verwerp nie ernstig gestraf word
nie! Die Evangelieboodskap was nie deur engele gegee nie, maar deur die Here
Jesus self en die waarheid daarvan was bevestig deur diegene wat Jesus
eerstehands en persoonlik gehoor en gesien het. Wat meer is, die
Evangeieboodskap was bevestig deur allerlei tekens en wonderwerke, asook die
gawes van die Gees, sodat niemand kon twyfel oor die gesag en betroubaarheid
van die Evangelie nie. Indien mense met die oortreding van die eerste wet kon
wegkom, sal dit beslis nie gebeur met ’n verwerping van die Evangelie nie. Dít is
die waarskuwing wat die apostel aan sy lesers wil deurgee.
Watter van sy lesers moet hierdie
waarskuwing egter ter harte neem? Is dit die gelowiges in die gemeente? Dit kan
tog nie aan hulle gerig gewees het nie, want geen gelowige kan tog uit die
geloof val nie – ja, hulle kan wegdryf en groei en dissipelskap verwaarloos,
maar hulle kan nie hul redding verwaarloos of verloën nie – of word dit tóg dalk
aan hulle gerig? Is dit gerig aan mense wat nog nooit die Evangelieboodskap
gehoor het nie? Dit kan tog ook nie sulke mense wees nie, want hoe kan hulle nalaat
en verwaarloos waarvan hulle nie eens weet nie, of word hierdie waarskuwing
gerig tot ongelowiges en spesifiek aan die Jode, wat intellektueel oortuig is
van die Evangelie, maar wat dit nie vir hulleself toe-eien nie? Indien dit dan
korrek is dat hierdie waarskuwing gerig word aan Jode wat die Evangelie ken, maar
dit verwerp, waarom sê die skrywer dan in v.3 ~ ...hoe sal ons dan ontkom as ons so ’n groot saligheid verontagsaam
het? Sluit hy homself
en die hele gemeente in by hierdie groep wat intellektueel oortuig is van die
Evangelie, maar dit nie vir homself toe-eien nie? Nee, wanneer hy praat van
"ons", verwys hy na sy volksgenote (die Jode) wat die Evangelie gehoor het en wat
die wondertekens gesien het, maar die Evangelieboodskap nogtans verwerp. Die
feit dat die skrywer homself identifiseer met sy volksgenote, impliseer nie dat
hy op dieselfde dwaalspoor as hulle is nie. Wat hy eintlik hiermee wil sê, is
dat almal wat die Evangelieboodskap gehoor het (sy
volksgenote), dit behoort
te aanvaar.
Vir wie geld hierdie waarskuwing dan? Daar
bestaan uiteenlopende menings oor wie aandag aan hierdie waarskuwing moet gee.
John MacArthur bv. sê dat hierdie boodskap slegs vir diegene is wie die Evangelie
gehoor het, maar hulle nie daaraan onderwerp nie. Iemand weer soos R. Kent
Hughes sê dat dit vir almal geld wat die Evangelie gehoor het, maar hulle óf
nie daaraan steur nie, óf hulle het geglo, maar hulle ankertoue het los geraak
het en nou dryf hulle maar net voort – ek vereenselwig my met R. Kent Hughes se
verklaring. Hierdie waarskuwing geld derhalwe vir die ongelowiges wat die
Evangelieboodskap al gehoor het, maar wat onverskillig daar teenoor staan, máár
ook vir talle gelowiges wat koud geraak het – hulle wat die Blye Boodskap van
Jesus Christus gehoor het – wat bely dat Hy vir ons sonde gesterf het; dat Hy
opgestaan het uit die dood; ens. – wat die Waarheid dus ken en selfs daarvoor
staan, máár wie se ankertoue los geraak het en maar net geestelik voortdryf,
sonder om in toewyding aan Jesus Christus te leef – dit is met hulle wie die
skrywer praat. Die doel met die skryf van hierdie verse is dus om elkeen wie se
ankertou los is, terug te ruk na die kaai (die hawemuur) en toe te sien dat sy ankertou weer stewig
vasgeknoop sal word aan die kaai – Jesus Christus.
5. MOTIVERING:
Die skrywer sê dan in v.3 ~ ...hoe sal ons dan ontkom as ons so ’n groot saligheid
verontagsaam het? Hy
vra dus vir elkeen wat al die Evangelieboodskap gehoor het, maar wie óf
onverskillig daaroor is, óf wat stil-stil weggedryf het, hoe dit moontlik is
dat hulle die belofte van ’n ewige lewe kan ignoreer en onverskillig daaroor
kan staan en die moontlikheid van ’n ewig straf in die gesig kan staar oor hul ongeërgdheid,
daarom kom hy weer vir oulaas en hy motiveer die egtheid van die belofte van
verlossing en ’n ewige lewe op drie gronde:
·
Hy
sê eerstens in v.3b ~ Hierdie
saligheid is immers deur die Here verkondig, deur wie dit sy oorsprong het... Hierdie Evangelieboodskap –
hierdie belofte van verlossing is dus deur Jesus Christus self verkondig! Die
wet is wel deur die bemiddeling van engele vir die volk gegee, máár Jesus die
Christus het die Evangelieboodskap self vir ons gegee, trouens Hy is self die
Evangelie; Hy is self die Verlosser; Hy is self die Middelaar! Paulus sê in 1
Tim.2:5-6 ~ Daar
is immers net een God, en daar is net een Middelaar tussen God en die mense,
die mens Christus Jesus 6wat Homself as ’n losprys vir almal gegee
het. Dit was op die bestemde tyd die bewys van die bedoeling van God.
·
Tweedens
sê die skrywer in v.3c dat hierdie boodskap van verlossing en ’n ewige lewe ~
...aan ons bevestig (is) deur dié wat
dit gehoor het. Soos
vroeër reeds gesê, was daar talle ooggetuies wat self die Evangelieboodskap uit
Jesus se mond gehoor het en Hom talle wonderwerke sien doen het. Lukas bevestig
dit ook vir ons in Luk.1:2 ~ Hulle
het dit opgeteken soos dit aan ons oorgelewer is deur die mense wat van die
begin af ooggetuies en dienaars van die Woord was.
·
Laastens
sê die skrywer vir ons in v.4 ~ Daarby
het God ook saam getuig deur tekens
en wonders en ook deur allerhande kragtige dade en gawes van die Heilige Gees, soos Hy dit toebedeel het volgens sy
wil. Wonderwerke en
allerlei tekens en kragtige dade en daarmee saam, die gawes van die Heilige
Gees wat God op die mense uitgestort het, het die mense wat dit beleef het in
verwondering laat staan. Die eerste gelowiges het absoluut geen twyfel daaroor
gehad dat God Almagtig, aan't werk was en dat die Evangelieboodskap waarlik van
Hom was – God self was dus Getuie van die Boodskap van verlossing en ’n ewige lewe!
6. AFSLUITING:
Ons moet ernstig aandag skenk aan hierdie
boodskap van die Hebreërskrywer – hy is nie in hierdie geval, besorg oor
diegene wie die Evangelie verwerp nie, máár hy is intens besorg oor elkeen wat
hierdie boodskap ignoreer of nie ernstig opneem nie.
Dit gaan dus oor ons gesindheid. Dit gaan
oor diegene wie die grootsheid van Christus en die wonder van God se genade uit
die oog verloor het, of dit begin vergeet. Dit gaan oor diegene wie nie meer ’n
dors na die Woord van God het nie; die een wie nie meer regtig bid nie; die een
wat stadig maar seker wegdryf en nie regtig omgee daarvoor nie. Dit is vir diesulkes
dat die Hebreërskrywer waarsku en sê dat hulle nie die skrikwekkende gevolge
daarvan sal ontsnap nie. Trouens as ons gedink het dat die gevolge van die
oortreding van die wette verskiklik was, hoeveel te meer sal die straf op ’n
ongeërgdheid oor die Evangelie nie wees nie!
Elkeen van ons het nodig om stil te raak
en ons verhouding met Jesus Christus in oënskou te neem en onsself af te vra of
ons nog só geheg is aan Hom, soos wat Hy van ons verwag? Indien ek egter steeds
vas geanker is, moet ek myself afvra of my ankertoue stewiger of slapper as in
die verlede is, want daar is net twee soorte knope wat ons skuit geanker hou
aan die hawe – daardie wat stewiger as in die verlede is, of daardie wat
slapper geraak het en besig is om los te glip.
[1]Boodskap deur
Kobus van der Walt te Vaaldriehoek
Gereformeerde Baptistegemeente (Meyerton) - Sondag, 15 Julie 2012