Indien u hierdie preek wil uitdruk – Verlig die
teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige
Woordverwerkingsprogram (bv. MS Word of Word Perfect) – druk daarna gewoon uit.
1. VOORAF:
Hoofstuk 4 sluit af deur weer terug te
keer na die sentrale tema van Jesus as die Joodse volk se allerlaaste Hoë
Priester. Ons gaan dan vanoggend na Jesus Christus as Hoë Priester kyk en ons
gaan dit aan die hand van die volgende opskrifte doen:
·
Sy
volmaakte Amp (v.14).
·
Sy
volmaakte Medelye (v.15).
·
Sy
volmaakte Uitnodiging (v.16).
2. SKRIFLESING:
Hebr.4:14-16
~ Terwyl ons dan nou ’n groot
Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God,
laat ons vashou aan die geloof wat ons bely. 15Die Hoëpriester wat
ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers
in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig
nie. 16Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat
ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.
3. INLEIDEND:
Hierdie perikoop vorm ’n baie belangrike
oorgang van die een gedeelte van die Hebreërbrief na die volgende gedeelte.
Israel se Hoë Priesters was gedurende die
Ou Testamentiese tydperk, of onder die Ou Verbond, afgesonder deur God en wel
vir ’n twee-ledige bediening. Aan die een kant was hulle God se
verteenwoordigers by Sy volk, deur o.a. die Woord van God aan die volk oor te
dra, maar aan die anderkant het hulle ook die mense voor God verteenwoordig,
deur die volk se gebede en offerandes voor Hom te bring.
Dit is interessant om te weet dat, toe die
vroeë Christene die Hebreeuse Ou Testament in Latyn vertaal het, hulle die
woord vir "priester", vertaal het met die Latynse woord "pontifex" wat letterlik
"brugbouer" beteken.
Wat ook belangrik is om te weet t.o.v.
die Hoë Priesterlike amp, was dat dit oorerflik was (Eks.29:29-30)
– iets waaraan die
skrywer breedvoerig aandag gaan skenk in hoofstuk 7. T.w.v. agtergrond moet ons
ook voortdurend in gedagte hou dat die Hoë Priester die enigste was, wat die
Allerheiligste in die Tabernakel (en later die
Tempel) kon binnegaan en
dit het net eenkeer per jaar geskied en
wel op die Dag van Versoening (Lev.16:1-25).
Ons perikoop waarna ons vandag kyk, dien
beide as ’n finale gevolgtrekking t.o.v. die vermanings in 3:1 tot en met 4:16,
maar dien terselfdertyd as inleiding vir die wonderlike uiteensetting en
verklaring, of lering oor die Hoë Priesterskap van Jesus die Christus, en wel tot
en met 10:25.
Tot nou was die boodskap in hierdie brief
hoofsaaklik negatief: as jy nie glo nie, is jou verdoem – vir ewig verwyder van
God se teenwoordigheid; jy sal nooit Sy rus kan binnegaan nie. Net soos wat die
Hebreërskrywer hierdie negatiewe boodskap moes oordra, net so moet ons dit ook
van tyd tot tyd doen, want God Almagtig is nie nét ’n liefdevolle en genadige
God nie – Hy is ook ’n heilige God en daarom moet ons voortdurend gewaarsku
word en moet ons andere ook aanhoudend waarsku en as ons baie mooi daaroor
dink, is dit eintlik ’n boodskap wat ten alle tye verwelkom moet word, want
agter hierdie boodskap van veroordeling, vind ons steeds God se liefde en
genade (net soos dit die geval is met die tug in
Matt.18).
Die boodskap verander egter nou na die
positiewe kant, want die Evangelie van Jesus Christus hou ons nie alleen uit
die hel nie, dit vermag veel-veel meer as net dit, want dit skenk aan ’n ieder
en ’n elk wat sy geloof in Jesus Christus as Verlosser plaas, geestelike lewe.
Ons moet verlossing in Christus dus nie alleen najaag omdat dit ons uit die hel
kan hou nie – nee, ons moet dit najaag omdat dit aan ons die ewige lewe in
Christus skenk. Ons moet daarna strewe en met alles in ons dit najaag, nl. om
in God se rus in te gaan en nie omdat ons God se oordeel vrees nie, maar omdat
God ’n genadige God is – Hy is nie net ’n regverdige Regter nie, maar ook ’n
genadige en getroue Hoë Priester!
4. SY VOLMAAKTE AMP:
Die Hebreërskrywer begin hierdie
paragraaf deur in v.14 te sê ~ Terwyl
ons dan nou ’n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het,
Jesus, die Seun van God, laat ons vashou
aan die geloof wat ons bely.
Die laaste woorde motiveer ons om vas te hou aan die geloof wat ons bely –
waarom? Nie net omdat ons God se ewige rus daardeur kan binne gaan nie, maar
omdat (sê die skrywer) Jesus die Seun van God reeds deur die
hemele gegaan het en nou die amp van Hoë Priester beklee.
Hierdie feit, nl. dat Jesus, Hoë Priester
is, is alreeds ’n paar keer in die Hebreërbrief beklemtoon – so het ons bv. in
1:3 gesien dat Hy die reiniging van ons sonde bewerkstellig het. In 2:17 lees
ons dat Hy ’n getroue en barmhartige Hoë Priester geword het ten einde
versoening vir ons sonde te maak. In 3:1 verklaar die skrywer van die brief vir
ons, dat Jesus, die Apostel en Hoëpriester van ons geloof is.
Die Ou Testamentiese Hebreërs was intens
afhanklik van die optrede van die Hoë Priester wat betref die vergifnis van hul
sonde en die skrywer wil nou hier vir sy lesers aantoon, dat ook ons wat deel
uitmaak van die Nuwe Verbond, ’n Hoë Priester het. Daar is egter ’n geweldige
groot verskil tussen die Hoë Priester waaroor ons beskik en die Israeliete se
Hoë Priesters (bv. Aäron), want die aardse Hoë Priesters het een keer per jaar op
die Groot Versoendag ("Yom Kippur") uit die teenwoordigheid van die volk
"verdwyn", wanneer hy die Allerheiligste binne gegaan het om
versoening vir die volk se sonde te doen deur ’n offerdier se bloed as
versoeningsimbool op die altaar te sprinkel – die volgende dag was die Hoë
Priester egter weer tussen sy volksgenote en ’n jaar later moes hy die hele
ritueel weer van voor af herhaal. Jesus daarenteen, het deur die hemele gegaan (v.14) ná Sy hemelvaart en sodoende permanent
na die Heiligste van die Allerheiligste gegaan, maar met die geweldige groot
verskil – Hy het nie die bloed van ’n offerdier gebruik om versoening tussen
God en die mens te bewerkstellig nie – nee, Hy het Sy eie bloed gestort
daarvoor – Hy het Sy eie lewe daarvoor gegee!
Die Israelitiese Hoëpriesters moes op die
Groot Versoendag deur drie deure gaan om uiteindelik in die Allerheiligste te
kom waar die offer vir die volk se sonde gedoen is. Eerstens het hy met die
offerdier se bloed, deur die eerste deur gegaan – dit was die deur in die Buitehof.
Hierna is hy deur die deur wat lei na die Heilige Plek en dan derdens het hy
deur die deur gegaan wat na die Allerheiligste gelei het. Dit is opmerklik om
in v.14 te lees dat Jesus deur die
hemele gegaan het – waarom
meervoud, "hemele"? Wat bedoel hy hiermee? Ons lees in 2 Kor. 12:2-4
van ’n derde hemel ~ Ek
ken ’n man wat aan Christus behoort. Veertien jaar gelede is hy weggeruk tot in
die derde hemel. Of dit met die liggaam was of sonder die liggaam, weet ek nie,
net God weet dit. 3–4Ek weet ook dat hierdie man weggeruk is na die
paradys toe. Of dit met die liggaam was of sonder die liggaam, weet ek nie, net
God weet dit. Daar het hy woorde gehoor wat ’n mens nie kan of mag uitspreek
nie. Daar is derhalwe
sprake van drie hemele en hierdie drie hemele, is die eerste hemel (die
atmosfeer); die tweede
hemel (die buitenste ruimte) en die derde hemel, is die allerheiligste
– daar waar Christus in die teenwoordigheid van God is en waar elke gelowige
uiteindelik ook die ewige rus sal binnegaan.
Jesus het dus in teenstelling met die
aardse Hoë Priesters, deur die
hemele gegaan, waar Hy nou
aan die regterhand van God sit (Hebr.1:3) – iets wat geen aardse Hoë Priester
ooit kon vermag nie en waarom het Christus deur die hemele gegaan?
Omdat Sy versoeningswerk afgehandel is en Hy steeds voorbidding vir elkeen van
Sy kinders doen. Jesus se amp as Hoë Priester is dus een van volmaaktheid.
Ons moet ook besef dat Jesus minder as 40
jaar voor Jerusalem in 70 n.C. geval het, gekruisig is. Met die val van
Jerusalem is die Tempel ook verwoes en is die enigste plek waar offerandes aan
God gebring is, daarmee saam vernietig. Van kort na Jesus se hemelvaart dus, is
daar nog nooit weer enige offerandes deur die Jode gebring nie. Ja, "Yom
Kippur" word steeds as die mees heilige dag deur die Jode gevier, maar
geen priesters is meer betrokke en geen offerandes word meer gebring en daar
bestaan nie meer ’n tempel waar offers gebring kan word nie.
Enige formele priestersamp of –funksie
sal nou impliseer dat die afgehandelde en volmaakte offer wat Jesus Christus
aan die kruis gebring het, nie voldoende is nie. Daar is derhalwe geen plek
meer in die Christelike godsdiens vir priesters en offerandes nie, want Jesus
is die finale en volmaakte Hoë Priester en daarom kan enige gelowige deur
geloof in Jesus Christus, nou direk toetree tot die teenwoordigheid van God, want
die oomblik toe Jesus gesterf het, het die Voorhangsel in die Tempel van bo tot
onder, middeldeur geskeur en was daar geen skeiding meer tussen die
allerheiligste en enige ander deel van die Tempel nie – die mens wie op God se
voorwaardes na Hom wou kom, het dus vrye toegang verkry.
As ons bg. in gedagte hou verstaan ons
die skrywer se laaste sinnetjie in v.14 beter, wat sê ~ ... laat ons vashou aan die geloof wat ons bely. Die moontlikheid het steeds in die
tyd van die vroeë Christene bestaan dat die ou Joodse rituele weer ’n aanvang
kon neem en daarom is die skrywer bekommerd daaroor dat sy lesers, wat uit die
Jodedom bekeer is, te midde van swaarkry, maklik weer sou terugval op die ou
Joodse Levitiese stelsel waar hulle weer gebruik kon maak van
"priesterlike-tussengangers", offerandes en al die ander gebruike en
rituele wat met die Joodse geloof gepaard gaan het.
Die Hebreërskrywer hou egter die
volmaakte Hoë Priesteramp van Jesus aan sy lesers voor, ten einde hulle
daardeur aan te moedig om Jesus Christus as Verlosser te bly bely en daarom vas
te hou aan hulle geloofsoortuigings wat betref die Evangelie.
5. SY VOLMAAKTE MEDELYE:
Om die lesers te help om hul greep op hul
belydenis te verstewig, skryf die apostel die woorde van v.15 aan hulle ~ Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen
medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons
aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. Hier wil die skrywer nie alleen sy
lesers aanmoedig om vas te hou aan hul belydenis as Christene nie, maar hy motiveer
hulle ook verder om dit te doen, deur vir hulle op die Hoë Priester, Jesus
Christus se volmaakte medelye te wys.
Ons moet besef dat hierdie uitspraak van
die skrywer ’n geweldige stelling was wat hy gemaak het, want die algemene
opvatting onder die mense (veral aangevuur deur die Stoïsyne –
’n Grieks filosofiese denkrigting)
was dat die primêre karaktereienskap (attribuut) van God, een van apatie
was (die
afwesigheid van drif, hartstog of strewe – geen gevoel of emosie nie) en om nou te sê dat Christus medelye
met Sy kinders het, was ’n vreemde gedagte vir hulle, want hulle het gevoel dat
indien God ’n gevoel kon hê, kon mense Hom manipuleer en beheer en daarom kon
Hy nie volkome God wees nie. Om dus te sê dat God medelye met Sy kinders kon
hê, was ’n radikale uitspraak en moeilik vir sy lesers om te verwerk.
Die Hebreërskrywer wil egter sy lesers laat
verstaan dat Christus nie so ver verwyder van hulle is, as wat hulle gedink of
geglo het nie, want dit was nog een van die redes waarom Hy mens geword het,
sodat Hy elke versoeking en beproewing en pyn en lyding kon deurgaan wat ons
elke dag beleef, trouens dit wat Hy deurgemaak het, is ondenkbaar meer en
intenser as wat ons ooit kan droom om deur te maak en wat meer is, deur al
hierdie beproewing wat Hy ervaar het (die versoekings in
die wildernis; Getsemane; Golgota; ens.),
het Hy nooit – nie een enkele keer, gesondig nie - dit alles, kwalifiseer Hom
dus by uitnemendheid om ons te verstaan en simpatie met ons te hê – Hy is dus
die volmaakte Een om medelye met
ons swakhede te hê.
6. SY VOLMAAKTE UITNODIGING:
Die skrywer sluit hierdie kort, maar baie
treffende en belangrike paragraaf op gepaste wyse af met ’n oproep tot gebed ~ Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon,
sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan
word (v.16).
Die Griekse woord wat vir
"vrymoedigheid" hier gebruik word, is παρρησία (parrēsia) (en beteken letterlik, om sonder vrees
en met vrymoedigheid en opgewekte durf en selfversekerdheid, te praat en/of iets
te doen. Wat verder interessant is van hierdie woord, is dat dit nooit in
heidense godsdienstige taal gebruik was om na gebed tot hulle gode te verwys
nie; dit was die Jode wat eerste begin het om dit te gebruik in die Griekse Ou
Testament ten einde gebed te beskryf, nl. ’n handeling waar jy as gelowige, jou
hart ten volle voor God kon uitstort.
Natuurlik is hier ook geen sprake van
oneerbiedigheid of minagting nie en word gelowiges eerder aangemoedig om met
vrymoedigheid en sonder huiwering na God te kom in gebed. Wat ’n kontras met
die huiwerige en amper vreesagtige gesindheid waarmee die Ou Testamentiese Hoë
Priester die Allerheiligste genader het. Hierdie is een van die grootste
openbarings van hierdie brief, nl. dat ons met vrymoedigheid God se
genadetroon, deur Jesus Christus ons Hoë Priester, kan nader.
Wanneer ons met vrymoedigheid nader tot
God se genadetroon, is dít presies wat ons ontvang – genade! Ons ontvang genade
t.o.v. ons mislukkings en sonde uit die verlede. Ons ontvang genade t.o.v. ons
versoekings en pyn en vervolging – ons laste en hartseer. Ons ontvang genade t.o.v.
ons huidige en toekomstige behoeftes. In kort, ons ontvang en ervaar ons Hoë
Priester se volmaakte voorsiening in alles wat ons nodig het – vertrou Hom net
daarvoor en nader Sy genadetroon met vrymoedigheid.
Hierdie woord "vrymoedigheid"
is die vertaling van die werkwoord wat in die teenswoordige tyd gebruik word –
dit impliseer dus dat hierdie uitnodiging om na God se genadetroon te gaan, op ’n
voortdurende aksie dui dat ons derhalwe
uitgenooi word tot ’n intieme, maar spesifiek ook op ’n onophoudelike interaksie
met ons Verlosser, Jesus Christus.
7. AFSLUITING:
Paulus sê in 1 Kor.10:13 ~ Geen versoeking wat meer is as wat ’n mens
kan weerstaan, het julle oorval nie. God is getrou. Hy sal nie toelaat dat
julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die
uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan. Christus Jesus ons Hoë Priester, verstaan ons swaarky
volkome en daarom sal Hy ook volkome voorsien.
Hoe kan enige iemand so ’n genadige en
liefdevolle en begripvolle Hoë Priester en Redder verwerp – ’n Hoë Priester wat
ons nie net duld voor Sy troon nie, maar wat ons uitnooi om tydig en ontydig en
met vrymoedigheid voor Sy genadetroon te verskyn.
Jesus Christus is voorwaar ons Hoë Priester;
ons "Pontifex" – die ware Brugbouer tussen God en ons en ons word
genooi om tydig en ontydig met groot vrymoedigheid en openheid na Hom te gaan,
met alles wat ons in ons gemoed ronddra!
[1] Boodskap deur
Kobus van der Walt te Vaaldriehoek
Gereformeerde Baptistegemeente - Sondag, 09 September 2012