Indien u hierdie preek wil uitdruk – Verlig die
teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige
Woordverwerkingsprogram (bv. MS Word of Word Perfect) – druk daarna gewoon uit.
1. VOORAF:
John Stott het op ’n keer gesê: True worship is the highest and noblest
activity of which man, by the grace of God, is capable. Ongelukkig moet ons
erken dat, wat in baie kerke vandag aan die gang is, min tot niks te doen het
met ware aanbidding van God nie en wanneer ons dit sê, moet ons uiteraard ook
die hand diep in ons eie boesem steek, ten einde vas te stel hoe ons God
werklik aanbid en of ons dit doen soos wat die Woord van God van ons vereis.
Ps. 95 is ’n pragtige voorbeeld vir ons
van hoe God aanbid moet word, trouens dit is ook ’n oproep tot ware aanbidding
van God. Hierdie Psalm is egter ook ’n waarskuwing wat aan ons gerig word van
wat sal gebeur, indien ons God nie aanbid nie.
2. SKRIFLESING:
Ps.95:1-11
~ Kom, laat ons jubel tot eer van
die Here, laat ons juig oor die rots by wie ons redding vind, 2laat
ons na Hom toe gaan met lof, laat ons Hom toejuig met lofsange, 3want
die Here is die magtige God, die groot koning oor al die gode. 4Die
dieptes van die aarde behoort aan Hom, die kruine van die berge is Syne. 5Die
see is Syne, Hy het dit gemaak; sy hande het die land gevorm. 6Kom
ons val in eerbetoon voor Hom neer, kom ons buig, kom ons kniel voor die
Here ons Skepper! 7Hy is ons God en ons is sy volk, sy kudde, sy
skape, deur sy hand versorg. As julle vandag maar na Hom wou luister: 8“Moenie
hardkoppig wees soos destyds by Meriba, soos die dag by Massa in die woestyn
nie, 9waar julle voorvaders My uitgetart en my geduld beproef het,
hoewel hulle gesien het wat Ek gedoen het. 10Veertig jaar lank
het Ek ’n weersin in daardie geslag gehad, Ek het gesê: ‘Hulle is ’n
moedswillige volk, hulle wil my paaie nie ken nie.’ 11Daarom het
Ek in my toorn ’n eed afgelê dat hulle nooit sou uitkom by die rusplek wat
Ek hulle wou gee nie.”
3. INLEIDEND:
Dit is onbekend wie die skrywer van
hierdie Psalm was en dit is ook nie bekend wanneer dit geskryf is nie. Wat ons
wel weet is dat hierdie Psalm, tesame met Ps.93 tot en met Ps.100 gesing was deur
die Israeliete om lof en eer aan God te bring, terwyl hulle na die Tempel in
Jerusalem gestap het. Elkeen van hierdie Psalms wat gesing was, is ’n
verklaring en verduideliking van hoe ons God moet aanbid, maar terselfdertyd ’n
vermaning om nie ons aanbidding van God af te skeep nie.
4. SKEMA:
·
Oproep
tot gesamentlike aanbidding (vv.1-7b):
o
Aanbid
die Rots van ons Verlossing (vv.1-5).
o
Aanbid
die Here ons Skepper en Herder (vv.6-7b).
·
Oproep
tot gehoorsaamheid (vv.7c-11).
5. OPROEP TOT GESAMENTLIKE AANBIDDING:
Twee oproepe word in die eerste helfte
van hierdie Psalm gerig tot die Israeliete, ten einde hulle op te roep tot
gesamentlike aanbidding. Die eerste vind ons in die eerste vers ~ Kom, laat ons jubel tot eer van die Here, laat ons
juig oor die rots by wie ons redding vind en die tweede in v.6 ~ Kom ons val in eerbetoon voor Hom neer, kom ons buig, kom ons kniel voor
die Here ons Skepper!
Ons sien duidelik hier dat hierdie
uitnodigings tot aanbidding, op twee vlakke lê. Die eerste is ’n uitnodiging om
te sing en die tweede is ’n uitnodiging tot gebed. Ons sien dus dat
gemeentelike aanbidding uit twee baie belangrike fasette bestaan, nl. sang en
gebed.
Die feit dat die Psalmdigter die volk
hier oproep om te jubel, dui vir ons op ’n uitbundige en feestelike atmosfeer.
Die volk is bly en hulle het rede om uitbundig bly te wees, want hulle is gered
van slawerny en ballingskap. Hier bestaan dus ’n gesindheid van uitbundige en
opregte dankbaarheid.
In v.2 vind ons ’n aanduiding van hoe die
volk opgeroep word tot aanbidding – hier moet ons egter na die Engelse
vertalings gaan kyk, omdat beide ons Afrikaanse vertalings hier te kort skiet –
die N.K.J.V vertaal dit met ~ Let us come before His presence with
thanksgiving; Let us shout joyfully to Him with psalms. Ons sien dus dat die Psalmdigter
hierdie gedeelte geskryf het, met die bekende en pragtige rymvorm van A, B, B,
A en as ons dit dan direk uit die Engels sou vertaal, sien dit as volg daar uit:
A. ...laat ons na Hom toe gaan...
B. ...met dankbaarheid,
B. ...met lofsange
A. ...laat ons Hom toejuig...
In hierdie eerste twee verse van Ps.95, vind
ons die wie en die hoe van ons aanbidding. Die wie, sien ons in v.1, is die
Here en die Here word verder in v.3 beskryf, nl. ...die
Here, die magtige God, die groot koning oor al die gode. Hierdie selfde beskrywing van die
Objek van ons aanbidding vind ons in Titus 2:13 ~ ...terwyl
ons uitsien na die gelukkige dag wat ons verwag. Op daardie dag sal die
heerlikheid van ons grote God en Verlosser, Jesus Christus, verskyn. Ook in Maleagi 1:14b word die Here
beskryf as ~ ...Ek is die Grootkoning, sê die Here die Almagtige, vir
My het die nasies ontsag.
Kan u sien wat die Psalmis besig is om
hier te doen? Hy is besig om redes te verskaf waarom elke mens uit dankbaarheid
na God moet gaan – ja selfs ongelowiges. Die mens se primêre
verantwoordelikheid is om God uit dankbaarheid te aanbid, maar by gebrek
daaraan sê Paulus in Rom.1:24 dat God hulle ~ ...aan
die drange van hulle hart en aan sedelike onreinheid (oorgee), sodat hulle
hulle liggame onder mekaar onteer.
Waarom is God ons totale aanbidding
waardig? Vv.3-5 sê vir ons waarom ~ ...want die Here is die magtige God, die groot koning oor al die gode. 4Die
dieptes van die aarde behoort aan Hom, die kruine van die berge is Syne. 5Die
see is Syne, Hy het dit gemaak; sy hande het die land gevorm.
Die Wie; die Objek van ons totale
aanbidding is dus God self – Hy wat Koning oor alle gode is; Hy aan wie die
ganse heelal behoort – Hy die Skepper van hemel en aarde!
Ek het gesê, dat ons ook die
"hoe" van ons aanbidding in die eerste twee verse van hierdie Psalm
vind:
-
In
v.1 vind ons die eerste wyse van aanbidding, nl. om te jubel. Hierdie woord
jubel kan ook in die Afrikaans vertaal word met "sing". Net soos wat
daar baie tipes musiek is, is daar ook baie maniere om te sing. Wat ons wel
weet is dat daar in die Ou Testamentiese tye, baie gesing is. Sang is baie
dikwels die uitdrukking van ’n mens se emosies, waarvan vreugde waarskynlik die
belangrikste is en die Bybelse godsdiens is tog immers een van vreugde en
daarom het die gelowiges deur die eeue heen, soveel aandag aan sang in die kerk
gegee. Natuurlik is dit belangrik dat ons as gelowiges baie mooi moet let op
die inhoud van ons sang (musiek en lirieke) – die vraag wat ons voortdurend vir
onsself moet afvra, is of die musiek en die woorde van ons sang, God verheerlik
of nie.
-
Ons
lees in v.2 dat die Psalmdigter sê dat hulle die Here moet toejuig – die
Afrikaanse woord hier, stel dit baie saggies, maar die N.K.J.V. vertaal hierdie
woord "toejuig", met ’n woord wat waarskynlik nader aan die ware
toedrag van sake was, nl. "shout". Om te skree tydens ons aanbidding
is, sal u met my saamstem, totaal vreemd aan ons kultuur, maar destyds (en
in sommige kulture vandag nog – selfs sommige Charismatiese groepe) was en is dit glad nie so vreemd nie,
omdat dit weereens ’n uitdrukking was van emosie en vreugde. Om egter nié te
skree nie, is ook nie verkeerd, wanneer ons die Here loof en prys nie (asseblief!).
-
In
v.2 maak die Psalmdigter ook melding van "lofsange". Hierdie lofsange
is gewoonlik met instrumentale begeleiding gesing. Ps. 150:3-5 gee bv. vir ons
’n aanduiding van watter tipe instrumente gebruik is ~ Prys Hom met die ramshoring, prys Hom met harp en
lier! 4Prys Hom met tamboeryn en koordanse, prys Hom met
snaarinstrumente en fluite! 5Prys Hom met simbale, prys Hom met
galmende simbale! Wanneer
ons na hierdie lys kyk, beteken dit nié dat ons nie klawerborde, viole, klaviere en orrels, mag
gebruik nie, want indien hierdie instrumente destyds bestaan het, is ek daarvan
oortuig dat hulle dít ook sou gebruik het (mag ek maar tong
in die kies sê: Daar is beslis geen melding van tromme in die lys nie!).
o
Aanbid
die Rots van ons Verlossing:
Wanneer dankbaarheid uitgespreek word, of
wanneer aanbidding plaasvind, ongeag die wyse waarop dit gedoen word (sang,
spreke, gebare, of wat ook al),
word sulke dankbetuigings, altyd gerig tot iemand vir iets wat daardie persoon
aan of vir die dankbare persoon gegee of gedoen het.
Word die gewer van hierdie geskenk of
daad, vir ons hier geïdentifiseer? Ja, die Gewer is die Here volgens v.1 en
waarom dank die volk Hom? V.1b sê vir ons waarom, nl. dat Hy, die Here, vir
hulle die rots (is) by wie (hulle) redding
vind. Die heel eerste
keer dat God in die Ou Testament geïdentifiseer word as die volk Israel se
"Rots van verlossing" vind ons in Deut.32:15 in die "Lied van
Moses" ~ Jesurun
het alles in oorvloed gehad; hy het in opstand gekom. Jy het oorvloed gehad,
jy het dom geword, jy het jou ooreet. Hy het God wat hom gemaak het,
verwerp, Hy was vermetel teen die Rots
wat hom gered het.
In die Ou Testament was ’n rots gewoonlik
geassosieer met water in die wildernis. Ons Psalm en dan spesifiek vv.7-11,
sinspeel, of verwys op ’n verskuilde manier na hierdie tydperk van die volk
Israel se omswerwinge in die woestyn – bv. in Eks.17:1-7 toe die volk in die
Sinwoestyn dors was en Moses by Horeb, opdrag van God ontvang het om met sy
kierie teen die rots te slaan, waarna daar water uit die rots gestroom het.
Dawid het hierdie verwysing na God as die volk se Rots ook in Skrifgedeeltes
soos Ps.18:47 en 62:3 en 7 gebruik, asook in 2 Sam.22:47. Israel word derhalwe
opgeroep om hulle Rots – die Here God, te aanbid uit dankbaarheid dat Hy
redding (water)
vir hulle in die wildernis geskenk het.
Mense kan voorwaar geprys word vir dinge
wat hulle doen of bereik (dink bv. aan Oscar Pistorius die
afgelope tyd in Londen by beide die Olimpiese Spele), máár aanbidding kom nét die Here God
toe. Wat egter ook belangrik is, is dat ons God nie na behore kan aanbid en
loof en prys, as ons Hom nie na behore ken nie en daarom beskryf die
Psalmdigter Hom in vv.3-4, deur na Hom te verwys as die ~ ...die
magtige God, die groot koning oor al die gode. 4Die dieptes van
die aarde behoort aan Hom, die kruine van die berge is Syne. Ons moet God se karakter ken; ons moet
weet met Wie ons te doen het. Dit is die wegspringplek as ons God na behore wil
aanbid en lof en eer aan Hom wil bring.
Ek het netnou gesê dat die uitnodiging
tot aanbidding op twee vlakke lê; nl. sang, maar dan ook gebed.
o
Aanbid
die Here ons Skepper:
Vv.6-7 van ons Psalm fokus ons aandag nou
op die tweede aspek van ons aanbidding, nl. gebed ~ Kom ons val
in eerbetoon voor Hom neer, kom ons buig,
kom ons kniel voor die Here ons
Skepper! 7Hy is ons God en ons is sy volk, sy kudde, sy skape,
deur sy hand versorg.
Ons vind drie werkwoorde in hierdie twee verse en al drie spreek van
onderwerping, aanbidding en gehoorsaamheid en dit beteken letterlik om jou neer
te buig of te kniel met jou kop omlaag voor iemand wat jou absolute meerdere
is.
As ons in gedagte hou dat God nie net die
hemel en die aarde geskape het nie, maar ook elkeen van ons (Gen.2:7), dan begin ons besef dat Hý waardig
is om aanbid te word; dat Hý die Een is voor wie elke mens die knie moet en sal
buig en dat ons voor Hom moet neerval in aanbidding – voor Hom die almagtige en
heilige God!
Ons volgende oproep tot aanbidding word
in v.7 aangetref en is baie meer spesifiek en persoonlik van aard, as die
oproep wat ons in die vooraf gedeeltes gevind het, want hier word ons gewys op
die baie spesifieke en intiem persoonlike verhouding wat daar tussen God en Sy
kinders bestaan – kom ons kyk net weer daarna ~ Hy is ons God en ons is sy volk, sy kudde, sy skape, deur sy hand versorg. Hierdie beskrywing van die
verhouding wat daar tussen God en Sy kinders bestaan, is ’n tipiese Ou
Testamentiese beskrywing van die Mosaïese verbond (bv.
Eks.6:7; Lev.26:12). Hierdie
beeld van God as Herder en Sy kinders as skape, is egter ’n algemene beeld, so
gebruik Esegiël bv. dieselfde beeld in Eseg.34:31 ~ Julle is my kleinvee, julle is die volk vir wie Ek sorg, en Ek is julle
God,” sê die Here my God.
Ook gebruik Jesus hierdie beeld in die Nuwe Testament wanneer Hy in Joh.10 die
volgende sê ~ Dit
verseker Ek julle: Ek is die ingang vir die skape
(v.7);
Ek is die goeie herder. Die goeie
herder lê sy lewe af vir die skape
(v.11);
Ek is die goeie herder. Ek ken my
skape, en my skape ken My
(v.14) en
Ek lê my lewe af vir die skape
(v.15b).
Daar rus ’n swaar verpligting op ons
skouers om God te aanbid, omdat Hy Skepper is van alles wat is en wat lewe,
maar daar rus ook ’n heerlike verantwoordelikheid op ons skouers om God te
aanbid, omdat Hy ons beskerm en versorg soos ’n herder, sy skape.
Omdat Hy Sy lewe aan ons geskenk het;
omdat Hy Sy lewe vir ons afgelê het en omdat ons aan Hom behoort, het ons die
absolute versekering dat niks of niemand ons ooit uit Sy hand sal ruk nie (Joh.10:28)
– is dit nie alleen al genoeg
rede om Hom met oorgawe te aanbid nie!
6. OPROEP TOT GEHOORSAAMHEID:
Skielik aan die einde van v.7 kry ons ’n
dramatiese verandering in stemtoon. Vanaf v.1 tot en met v.7a, is ons opgeroep
tot aanbidding en is daar vir ons gesê wie aanbid moet word en hoe en waarom
ons moet aanbid, maar nou hier in v.7b word ’n vermaning tot ons gerig ~ As julle vandag maar na Hom wou luister. Dit is God self wat nou hier met die
volk praat en nie meer die Psalmdigter nie en wat Hy in essensie van ons verlang
wanner ons in aanbidding voor Hom verkeer, is dat ons na Sy stem moet luister.
Dit is prysenswaardig wanneer mense na aanbiddingsbyeenkomste,
of na kerkbyeenkomste gaan, maar die waarde daarvan om na so ’n byeenkoms te
gaan, verdwyn soos mis voor die son, wanneer ons fokus nie op God en Sy woord
gevestig is nie – om God te aanbid is in die eerste en laaste plek om na God se
stem te luister – na Sy Woord. Dit is waarom die verkondiging en verklaring van
die Woord sentraal moet staan in die erediens.
Ware aanbidding moet gebaseer wees op die
Woord en die prediking van die Woord. Ware aanbidding gaan egter nog ’n stappie
verder, deurdat v.7b vir ons sê dat ons na die Woord moet luister en hierdie
woord luister, is nie ’n passiewe luister nie, maar ’n aktiewe luister – ons
moet dus gehoorsaam wees aan die Woord wat ons hoor. Anders gestel: Deur
gehoorsaam te wees aan die Woord is nóg ’n wyse van aanbidding. Deut.11:13-15
spel vir ons uit wat gehoorsaamheid aan God se Woord behels ~ As julle al die gebooie wat ek julle vandag gee,
stiptelik gehoorsaam en die Here julle God liefhet en dien met hart en siel, 14sal
Hy vir julle land sy reën gee op die regte tyd, lente- en somerreëns, en julle
sal koring, wyn en olie oes. 15Die Here sal sorg vir groen gras op
julle veld vir julle vee, en julle sal oorgenoeg hê om te eet. Gehoorsaamheid impliseer dus dat ons
sal doen wat God se Woord vir ons leer, maar dit impliseer ook dat ons God lief
sal hê en Hom dien met hart en siel. Die teenpool van gehoorsaamheid vind ons
in 1 Sam.12:15 ~ As
julle nie na die stem van die Here luister nie en ongehoorsaam is aan die bevel
van die Here, sal die Here teen julle wees, soos teen julle voorvaders.
Die
Here waarsku die lesers van Ps.95 deur vir hulle te sê dat hulle nie so
hardkoppig soos hulle voorgeslag moet wees nie en dan verwys Hy hulle na die
gebeure by Meriba en Massa waar die volk met Moses getwis het en hom verwyt het
dat hy hulle van die vleispotte van Egipte beroof het – hulle het m.a.w.
eintlik teen God en Sy Woord in opstand gekom en Hom verwyt oor hulle situasie
en ons het vroeër gesien wat die uiteinde van o.a. hierdie rebellie was en dit
word vir ons weer in v.11 bevestig ~ Daarom
het Ek in my toorn ’n eed afgelê dat hulle nooit sou uitkom by die rusplek wat
Ek hulle wou gee nie.
7. AFSLUITING:
Die Here waarsku dus Sy kinders om Hom te
aanbid en wanneer ons Hom aanbid, dat ons nie ons harte sal verhard wanneer ons
na Sy Woord luister nie, of om in opstand teen Hom te kom en teen Hom te rebelleer
soos die Israeliete van ouds nie, maar om gehoorsaam te wees aan Sy Woord en
dit uit te leef in en deur ons lewens en God vir Sy Woord te prys.
[1] Boodskap deur
Kobus van der Walt – Vaaldriehoek
Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) - Sondag, 16 September 2012