1. INLEIDING:
Ek
wil vanoggend met ʼn reeks uit die tweede brief van Petrus begin en ek gaan dit
in tandem met Sagaria, waarmee ons al ʼn tyd lank besig is, preek.
2. SKRIFLESING:
2 Pet.1:1-2 ~ Van Simon
Petrus, ’n dienaar en apostel van Jesus Christus. Aan dié wat deur die
regverdige beskikking van ons God en Verlosser, Jesus Christus, dieselfde
kosbare geloof as ons ontvang het. 2Mag daar vir julle genade en
vrede in oorvloed wees deur julle kennis van God en van Jesus ons Here!
3.
DIE SKRYWER VAN DIE BRIEF:
Die skrywer
stel homself bekend as Simon Petrus. Daar bestaan heelwat meningsverskil oor wie
hierdie Simon Petrus is, maar dit word algemeen aanvaar en sonder om op die
tegniese redenasies in te gaan, kan ons, net soos die meerderheid teoloë
aanvaar, dat dit dieselfde Petrus is wat die eerste brief van Petrus geskryf
het en dat hy die apostel Petrus is. Petrus is ʼn verkleinvorm van Samuel en in
Aramees is dit Sefas. Die naam Petrus beteken, “God het gehoor”. Jesus het
Petrus se naam verander deur die naam Simon wat “rots” beteken, as eerste naam
by Petrus te voeg – dit is dus dieselfde Petrus van wie Jesus gesê het ~ En Ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op
hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie
oorweldig nie (Matt.16:18).
Petrus
identifiseer homself egter nog duideliker wanneer hy sê dat hy, ’n dienaar en
apostel van Jesus Christus is. Wat
interessant is, is dat Petrus by die titel van “apostel”, dié van “dienaar” byvoeg
en dit word doelbewus deur hom gedoen, sodat dit kan aanpas by dit wat hy so
bietjie later gaan skryf.
Die woord
“dienaar” het ʼn baie ryk betekenis. Petrus wil met die gebruik van hierdie
benaming vir sy lesers sê dat hy reg langs hulle staan as dienskneg van die
Here Jesus en dat hy derhalwe nie verhewe bo hulle is nie. Hy is m.a.w. net so
gereed en bereid, soos sy geadresseerdes, om Christus se opdragte te aanvaar en
te gehoorsaam.
Hierdie
uitdrukking, “dienaar” of “dienskneg” (̈δοῦλος - doulos) word ook deur Petrus op alle gelowiges
toegepas, daarom dat hy o.a. in 1 Pet.2:16 sê ~ Julle is vry, maar moenie julle vryheid gebruik as dekmantel om kwaad
te doen nie. Gebruik dit om God te dien.
Dit is
egter ook belangrik om kennis te neem van die feit dat Petrus homself in
hierdie openingswoorde, identifiseer as ʼn apostel, want daarmee vestig hy die
aandag op die gesag wat sy brief dra, omdat hy as gestuurde (dit is wat
die benaming “Apostel” beteken) die brief
aan sy ontvangers skryf, in opdrag van en met die gesag wat hy van Jesus
Christus self ontvang het. Petrus skryf en preek dus nie sy eie woorde nie,
maar die boodskap van die Here self – dit is bv. hoe Paulus homself aan die
Galasiërs voorgestel het ~ Van Paulus, ’n apostel, en van al die broers wat by
my is. Dat ék ’n apostel is, dank ek nie aan mense nie. Ek is ook nie deur ’n
mens aangestel nie, maar deur Jesus Christus en deur God die Vader wat Hom uit
die dood opgewek het (Gal.1:1).
Met hierdie
bekendstelling van Petrus sê hy dus dat hy net soos die ontvangers van die
brief, ʼn getroue, gehoorsame en gelowige dienskneg van Jesus is, maar hy sê
terselfdertyd dat hy ʼn apostel is en daarom moet die lesers ag slaan op wat hy
skryf – dit is in ooreenstemming met Jesus se woorde in Luk.10:16, waar Jesus Sy
dissipels bemagtig het met die woorde ~ Wie na julle luister, luister na My; wie vir julle verwerp, verwerp My;
en wie My verwerp, verwerp Hom wat My gestuur het
– die lesers (en daarom ons ook) moet
derhalwe ag slaan op die inhoud van hierdie skrywe.
4.
GROETEWOORD:
Ons vind ʼn baie interessante groetewoord
aan die begin van hierdie tweede brief van Petrus. Hy spreek die ontvangers van
die brief in baie algemene terme aan – hy noem hulle, ...dié wat ...dieselfde
kosbare geloof as ons ontvang het (v.1), maar hierdie ongeïdentifiseerde
geadresseerdes, is nie maar sommer net “skimme in die lug” nie – hulle word tog
wel geïdentifiseer, sonder dat daar menslike name en vanne en plekke aan hulle
gekoppel word. Wie is hulle? Hulle is diegene wie dieselfde geloof as Petrus
ontvang het.
Hierdie woord “ontvang” is in die
Grieks, λαγχάνω (lanchanō)
en in die ESV word dit
vertaal met “obtain”. Ten einde
hierdie woord beter te verstaan, kan ons o.a. na Luk.1:9 kyk ~ Op ’n keer toe Sagaria in die beurt van sy
diensgroep besig was om die priesterdiens voor God te verrig, 9is hy
volgens die priesterlike gebruik deur die lot aangewys om in die tempel van die Here in te gaan en die wierook op
die altaar te brand, asook
Joh.19:24 ~ Hulle sê toe vir mekaar: “Ons moet dit nie skeur
nie. Kom ons loot wie dit moet kry.”
Dit het gebeur sodat die Skrif vervul kan word waar dit sê: “Hulle het my klere
onder mekaar verdeel, en vir my kleed het hulle geloot.” Dit is wat die soldate
gedoen het. Hierdie
gebeure in Joh.19 was natuurlik ʼn vervulling van die profetiese woorde in
Ps.22:19 ~ Hulle
verdeel my klere onder mekaar en trek lootjies oor my mantel. Die gebruik van hierdie uitdrukking, “die lot werp” dui op ʼn direkte ingrepe van God self en dra nié dieselfde
betekenis as om lootjies te trek of om te dobbel soos in ons moderne samelewing
nie.
Hierdie “kosbare geloof” wat die lesers dus ontvang het, is nie geloof
wat hulle self opgeklits het nie – nee, dit is reddende en saligmakende geloof
wat hulle deur God se heilige geregtigheid as genadegawe ontvang het – deur God
se soewereine ingrepe en besluit dus. Paulus omskryf hierdie geloof baie mooi
in Ef.3:6 ~ En dit is die
geheimenis: deur die verkondiging van die evangelie en in hulle verbondenheid
met Christus Jesus, word ook mense wat nie Jode is nie, saam met ons deel van
die volk van God en lede van die liggaam van Christus, en kry hulle ook saam
met ons deel aan wat God belowe het.
5. GOD
SE GEREGTIGHEID:
Dit is geweldig belangrik om kennis te
neem van die feit dat hierdie geloof wat aan beide Jood en heiden gegee word,
uit God se geregtigheid geskenk word. Daar is twee maniere om na hierdie Griekse
woord wat hier gebruik word, nl. δικαιοσύνη (dikaiosynē), te kyk. Enersyds dui God se
geregtigheid daarop dat hierdie geloof wat aan Jode gegee word in dieselfde
maat aan heidene gegee word – sonder onderskeid dus en net soos daar geen
onderskeid tussen die geloof wat die Jode en die heidene ontvang, bestaan nie,
net so bestaan daar geen onderskeid tussen die geloof wat Petrus aan die
eenkant en sy lesers aan die anderkant ontvang het nie. Die geloof wat Dawid
uit genade ontvang het; die geloof van Paulus; die geloof van Spurgeon, ens. is
dus presies dieselfde geloof wat jy en ek ontvang het – dit gaan dus nie oor
geloof om “berge te versit” nie, maar geloof wat lei tot redding en verlossing.
Paulus is nie méér gered as jy nie! Petrus is nie méér gered as ek nie – ons is
“ewe veel gered”!
Om hierdie uitgangspunt toe te pas op
Petrus se gebruik van die uitdrukking, “God se geregtigheid, klink baie aanloklik,
omdat Petrus pynlik bewus was van etnisiteit – so verwys hy bv. na Noag wat
deur die vloed heen gespaar was, terwyl die heidennasies almal omgekom het. So
verwys hy ook na Lot wat gered is, terwyl die goddeloses uitgedelg is (2
Pet.2:7-8). Hierdie is die
een kant van God se geregtigheid, maar daar is ook ʼn anderkant.
Die ander en meer algemene faset van God
se geregtigheid word vir ons baie mooi geïllustreer deur Paulus se woorde in
o.a. Rom.3:25-26 sê ~ Hom het God gegee as offer wat deur sy bloed
versoening bewerk het vir dié wat glo. Hierdeur het God getoon wat sy vryspraak
behels: Hy het die sondes wat Hy voorheen in sy verdraagsaamheid tydelik
ongestraf laat bly het, vergewe. Maar Hy het ook getoon wat sy vryspraak in die
teenswoordige tyd behels: Hy oordeel regverdig deurdat Hy elkeen vryspreek wat
in Jesus glo. Hierdie hele
saak van “geregtigheid” waarvan Paulus hier praat en natuurlik ook Petrus in
die verse waarna ons vandag kyk, is van sulke wesentlike belang dat ons net
eenvoudig in meer detail daarna móét kyk.
Hierdie Evangeliewaarheid, nl. regverdiging
deur die geloof alleen, lê nie net aan die hart van ons allerheiligste
geloof nie, maar dit behoort ook 'n bron van onuitputlike troos en sekuriteit
te wees vir elkeen wat vir lewe en dood in Jesus Christus skuil. Ons het al
dikwels hieroor gepraat, en vir meeste van julle gaan ek niks nuuts sê nie, maar
hierdie is ʼn Skrifwaarheid wat oor en oor met mekaar gedeel móét word.
Martin Luther het gesê dat die kerk by
hierdie Waarheid staan of val en ons moet baie seker maak dat ons in ons
gemeente, hierdie Waarheid ook as Waarheid glo en leef, want dít bepaal ʼn
gemeente se egtheid al dan nie – dit bepaal ook die egtheid van jou en my
geloof – staan en val jy daarby?
Die waarheid rondom God se geregtigheid
is waarskynlik – nee, is beslis dié Waarheid wat ʼn mens waarlik vrymaak en
wanneer jy dit verstaan – wanneer jy dit wérklik verstaan, kan en sal jy nie
meer geteister word met allerlei onsekerhede oor jou geloof en redding nie en
daarom moet ons baie seker maak dat ons hierdie begrip verstaan en dat ons dit
sal omhels in die geloof; dit weer en weer sal oordink en ons lewe daarvolgens sal rig.
Ek het nou net verwys na Martin Luther –
hy was die baie bekende Rooms-Katolieke monnik en professor aan die
universiteit van Wittenberg (1483–1546).
Luther het hom verset teen die kerklike bewering
dat mense van hul straf vir sondes vrygestel kon word deur “pouslike aflaatbriewe”
te koop. In der waarheid is die geld eenvoudig gebruik om die geldkoffers van
die pous in Rome aan te vul, en vir Luther was dit ’n ongehoorde vergryp, te
meer omdat hy geglo het dat sondevergifnis slegs van God kan kom. Daarom het hy
sy 95 Stellinge op 31 Oktober 1517 teen die deur van die
slotkapel in Wittenberg vasgespyker.
Terwyl hy klas gegee het oor Romeine, het hy vasgehaak by Rom.1:16-17 ~ Ek skaam my nie oor die evangelie nie, want
dit is ’n krag van God tot redding van elkeen wat glo, in die eerste plek die
Jood, maar ook die nie-Jood. 17In die evangelie kom juis tot
openbaring dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle
glo. Dit is soos daar geskrywe staan: “Elkeen wat deur God vrygespreek is omdat
hy glo, sal lewe.” Hy het verstaan dat hierdie twee verse die tema van die hele Romeine-boek is, en as sodanig die
sleutel tot die verstaan daarvan. Oor en oor het hy die twee verse gelees en
elke keer gestruikel oor die uitdrukking in v.17: "die geregtigheid van God" (OAV). Deur die Middeleeue het die Katolieke
kerk geleer (en soveel hedendaagse Christene steeds) dat hierdie uitdrukking oor een van die
karaktertrekke van die Here praat, naamlik dat Hy 'n God van geregtigheid is en
toorn oor die sonde van mense uitspreek – dit opsigself is natuurlik nie
verkeerd nie, máár daar is ʼn ander betekenis ook en in ʼn sekere sin, is dit ʼn
veel swaarder gelaaide begrip.
As daar één kwessie was wat in Luther se
hart gebrand het, was dit Job se vraag ~ ...hoe kan 'n mens regverdig voor sy Maker staan? (Job 4:17; 9:2). Hy skryf daarom in sy outobiografie
dat hy mettertyd die uitdrukking begin haat het, en al hoe meer kwaad geword
het vir God, want vir baie jare het hy met 'n intense sondebesef geworstel,
magteloos om 'n heilige lewe te lei. Die laaste ding wat hy wou hoor, allermins
van hierdie boek (Romeine) wat
daarop aanspraak maak dat dit die geheim van ewige verlossing dra, was dat hy
te doen het met 'n God wat algeheel onverdraagsaam is teenoor sondaars.
Een dag (waarskynlik
in die herfs van 1514),
terwyl hy in die toring van die Augustiniaanse klooster in Wittenberg worstel
met die Here, en hy weer hierdie verse oor en oor lees, tref dit hom skielik
dat hierdie uitdrukking in die Grieks ook ʼn ander betekenis kan hê en val die
sentrale boodskap van die Romeineboek vir hom oop, nl. dat die uitdrukking,
“God se geregtigheid” ook kan beteken dat God “geregtigheid” skenk – uitdeel
met ander woorde! Hy skryf later n.a.v. hierdie insig: "Toe ek dit verstaan het ek wedergebore gevoel soos 'n nuwe mens,
en ek het deur oop deure, God se Paradys binnegestap."
Só het die sestiende eeuse Reformasie begin en niks sou ooit weer dieselfde wees nie en soos iemand dit eens gestel het: “Opeens is Europa se vensters oopgestoot om die sonskyn van heilswaarheid orals te laat instroom en die duisternis van die Middeleeue te verdring.” Duisende der duisende mense het hierna (tot vandag toe) God se geregtigheid ervaar.
Om hierdie uitdrukking te verstaan moet
ons terug gaan na die begin van die Woord, nl. na Adam. Adam het as hoof van
die ganse mensheid opgetree toe hy in sonde geval het. Die effek van sy sonde
op sy nageslag was dat hulle (ons), ʼn onveranderbare verlies aan geregtigheid gely het – die
mens Adam en sy nageslag het hul geregtigheid verloor, m.a.w. die reg om gemeenskap
met God te hê, maar ook die vermoë om sonder sonde te leef. Ons kan dit as volg
verduidelik:
·
Eerstens het Adam sy geregtigheidsaard, of
toestand van geregtigheid verloor. Hy het nou ʼn
sondige natuur, m.a.w. hy verkeer in ʼn
teenoorgestelde toestand as voor die sondeval (sonde is dus die teenoorgestelde van geregtigheid) en
hierdie toestand staan dan ook bekend as die erfsonde (of erfsmet) – dit
wat ons van Adam geërf het en ons sien en ervaar die vrug daarvan elke dag in
ons lewe (ons sondig
voortdurend).
·
Tweedens het die mens sy juridiese geregtigheidstand voor
God verloor. Ons noem dit ook die erfskuld, want elke mens is nou
strafwaardig voor God, selfs nog voordat hy of sy 'n enkele sonde gepleeg het.
Die mensheid, as nageslag van Adam, is as sodanig doemwaardig, daarom dat
Artikel 15 van die Nederlandse Geloofsbelydenis o.a. sê: “Ons glo dat die erfsonde deur die ongehoorsaamheid van Adam oor die
hele menslike geslag uitgebrei het. Dit is ʼn verdorwenheid van die hele natuur
en ʼn oorgeërfde gebrek waarmee selfs die klein kindertjies in die moederskoot
besmet is.” Hierdie feit word deur verskeie Skrifverwysings onderskryf,
soos bv. Ps.51:7 ~ Ek was al skuldig toe ek gebore is, met
sonde belaai toe my moeder swanger geword het en Joh.3:6-7 ~ Wat
uit die mens gebore is, is mens; en wat uit die Gees gebore is, is gees. 7Moenie
verbaas wees dat Ek vir jou gesê het: Julle moet opnuut gebore word nie.
Die
probleem met die erfsonde is dat dit daagliks in alle mense se lewens toeneem,
soos wat die mens dag na dag self ook sondig (die sondesmet). God het egter nie
die mens net aan sy eie lot oorgelaat nie – die ewige dood en verdoemenis met
ander woorde. Nee, Hy het Sy Seun, Jesus Christus as "tweede mens",
as "laaste Adam" (1Kor 15:45, 47) – en as Hoof van God se nuwe mensheid – na die
wêreld gestuur om die effekte van die sondeval vir Sy mense op te hef (let op: Sy mense – die uitverkorenes).
Hoe kan ons dit verseker weet? Kom ons blaai na Rom.5:12-21 en lees dit
aandagtig saam ~ Verder nog
dít: Deur een mens het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die
dood, en so het die dood tot al die mense deurgedring, omdat almal gesondig
het. 13Die sonde was al in die wêreld nog voordat die wet van Moses
gegee is, maar sonde word nie toegereken as daar nie ’n wet is nie. 14Nietemin
het die dood heerskappy gevoer van Adam af tot by Moses, ook oor mense wat nie
gesondig het op dieselfde manier as dié waarop Adam oortree het nie. Daar is
ooreenkoms tussen Adam en Hom wat sou kom, 15maar met die genadegawe
is dit anders as met die oortreding. Deur die oortreding van een mens het baie
gesterf, maar die genade van God en die gawe wat deur die genade van die een
Mens, Jesus Christus, gekom het, is veel oorvloediger aan baie geskenk. 16En
met die gawe van God is dit anders as met die sonde van die een mens. Op die
oortreding van die een mens het die oordeel gevolg en dit het tot veroordeling
gelei, maar op die baie oortredings het die genadegawe gevolg en dit het tot
vryspraak gelei. 17Deur die oortreding van die een mens het die dood
begin heerskappy voer deur hierdie een mens, maar deur die Een, Jesus Christus,
is veel meer bereik: dié wat die oorvloed van genade en die vryspraak as gawe
ontvang het, sal lewe en heerskappy voer. 18Soos een oortreding
gelei het tot veroordeling vir alle mense, so het een daad van gehoorsaamheid
dus ook gelei tot vryspraak en lewe vir almal. 19Soos baie deur die
ongehoorsaamheid van een mens sondaars geword het, so ook sal baie deur die
gehoorsaamheid van die een Mens vrygespreek word. 20Die wet het
bygekom om die oortredinge nog meer te maak; en hoe meer die sonde geword het,
hoe oorvloediger het die genade geword. 21Die doel was dat, soos die
sonde deur die dood heerskappy gevoer het, die genade deur die vryspraak ook
heerskappy kan voer en tot die ewige lewe kan lei deur Jesus Christus ons Here.
Wanneer
'n sondaar in alle opregtheid en erns sy volle geloofsvertroue in Christus
stel, word hy of sy by wyse van spreke uit Adam uitgehaal en in Christus
oorgeplant. Soos wat Adam se sonde aan ʼn sondaar toegereken, oftewel gedebiteer
is, so word Christus se verdienste nou aan hom toegereken, oftewel gekrediteer.
Om te verstaan hoe Christus die probleem
van ons verlies aan 'n geregtigheidstand voor God aanspreek, moet ons vir 'n
oomblik oor die aard van sonde praat (ons eie sonde en ons
sonde in Adam).
Alle sonde val in een van twee klasse:
·
Dit wat ʼn mens doen (wat teenstrydig is met die Woord), en...
·
Dit wat jy nalaat om te doen (nie doen wat die Skrif sê
gedoen moet word).
Ons
oortree God se voorskrifte, én ons misluk om aan Sy standaarde te voldoen (ons sondes van oortreding
is één ding, maar wat van al die dinge wat die Here beveel, wat ons nie doen
nie? Vandat ons wederbaar is, haat ons Hom nie meer nie – en dis wonderlik - máár
wat daarvan dat ek Hom nie liefhet met my hele hart en verstand en krag, soos
dit hoort nie?).
Meeste van ons is deeglik bewus daarvan
dat Christus met Sy vernedering en bloed betaal het vir alle sonde wat Sy mense
gedoen het; doen en nog sal doen. Die straf wat Hy verduur het, het Hy as my Plaasvervanger
gedoen - in my plek. My skuld is aan Hom toegereken – dit is oorgeplaas na Sy
rekening, Hy is daarmee gedebiteer... en toe Hy dit betaal het, was dit die
einde van my skuld!
Hoeveel van ons besef egter dat hierdie
vryspraak op sigself nie genoeg is nie? Wat ek nou gaan sê is kardinaal
belangrik! Indien ons net vryspraak ontvang het, was ons maar net weer waar
Adam voor die sondeval was – sonder skuld. Die vraag is dus of Christus se
vryspraak genoeg is? Die antwoord is, “nee”! Christus moes nog deur aktiewe
gehoorsaamheid die loon verdien! Deur positiewe gehoorsaamheid moes hy toegang
tot die Boom van die Lewe verkry. Nee, dis nie genoeg om God se gebooie nie te
oortree nie, ons moet hulle hóú! Daar is nie net straf om te ontkom nie; daar
is loon om te verwerf! Wil jy die ewige lewe beërf, dan moet jy God volkome gehoorsaam
en dit is ons grootste probleem, want ons kan dit nie uit eie krag verdien of
verwerf nie!
Hierdie onoorkombare dilemma van die
sondegevalle mens word egter óók deur Christus aangespreek. Hý het
God volkome gehoorsaam – van Sy eerste lewenslig af, tot en met Sy dood aan die
kruis. Hy het nie 'n enkele sondige gedagte bedink nie; Hy het nooit enige
sondige begeerte, of sondige motief vertroetel nie, want Hy was volkome, ja tot
die dood toe, gehoorsaam aan Sy Vader en hierdie selfde gehoorsaamheid word aan
elkeen wat waarlik glo, toegereken! Christus se volkome gehoorsaamheid word
oorgeboek na sy of haar rekening wat glo! Stel dus jou geloofsvertroue in die
verdienste van die Plaasvervanger, en jy word met Sy volmaakte geregtigheid
gekrediteer!
Dít is waarvan Rom.1:17 praat as dit sê
~ In die evangelie kom juis tot
openbaring dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle
glo. Dit is soos daar geskrywe staan: “Elkeen wat deur God vrygespreek is omdat
hy glo, sal lewe. Dít is die
geregtigheid wat God gee. Dít is wat Luther gesien het. Dít is die essensie van
regverdigmaking deur die geloof alleen.
Wat beteken dit alles? As iemand anders
jou skuld namens jou betaal, skuld jy tog immers niks meer nie en dit is
presies wat gebeur het toe jy God se geregtigheid ontvang het. Om te hou by die
bekende boehoukundige terminologie van Paulus – in God se kasboek het jy die
status van iemand wat die wet van God volkome onderhou, want God het aan jou
geregtigheid geskenk – Christus se geregtigheid. Hierdie is derhalwe 'n
objektiewe saak, nie 'n subjektiewe nie, m.a.w. dit gebeur buite jou (in
God se boeke!), nie ín jou
nie. Dit is nié 'n ervaring nie; dit is iets wat jy in die geloof moet vat -
omdat God se Woord dit belowe.
Om weg van onsself te kyk, en ons oë op
Christus en Sy verdienste vas te nael, is een van die eerste en belangrikste
lesse wat 'n Christen moet leer. Dít is die essensie van ons geloof. Dít is
dieselfde tipe geloof wat die Israeliete aan die dag moes lê toe hulle
geteister was deur slange en hulle bloot net moes opkyk na die koperslang – ʼn
heenwysing na Jesus Christus aan die kruis (Num.21:5-9 en Joh.3:14-15) en dít is presies wat ons moet doen –
ons oë vasgenael hou op die gekruisigde; plaasvervangende, “gedebiteerde” en
verrese Jesus Christus.
So baie gelowiges vasgevang in ʼn
maalkolk van verwarring en selfverwyt en vertwyfeling oor sonde en allerlei vrae
oor hulle eie wedergeboorte, omdat hulle nie hierdie Waarheid verstaan en vir
hulleself toegeëien het nie. Dit is niks anders as ongeloof nie – ja dit is so
dat talle Christene nooit hierdie Waarheid – hierdie ander faset van God se
geregtigheid van die kansels af hoor nie, maar dit is nie ʼn verskoning nie – ook
nie vir ons nie, want keer op keer lees ons daarvan in die Skrif!
Dit wat Adam moes, maar nie kon nie, dit
het die Laaste Adam reggekry. Dit wat ons nie kan nie, dit het Jesus Christus
vir ons vermag! Ons lees in Gen.3:24 van die gerubs, asook die vlammende swaard
wat die toegang tot die boom van die lewe (die ewige lewe) bewaak, maar daardie selfde engele sal
vir ons, wie in die geregtigheid van God ingeplant is, met ope arms inwag
wanneer ons die ewigheid binnegaan – soos iemand dit eenkeer gestel het – hulle sal vir ons ʼn erewag vorm!
Die bekende Amerikaanse kerkleier en
teoloog, Gresham Machen, se laaste woorde op sy sterfbed op 1 Januarie 1937 was:
"Ek is so dankbaar vir die aktiewe
gehoorsaamheid van Christus. Daarsonder is daar geen hoop nie.”
6. AFSLUITING:
Kom
ons kyk net ter afsluiting, kortliks en in die lig van ons Skrifgedeelte
vanoggend, na enkele uitstaande kenmerke waaroor ons as gelowiges beskik:
·
Ontvang
geloof: Hoe word ons gelowiges – deur geloof te ontvang en dan te glo, maar
dit is ook God wat ons geloof in stand hou ~ Ek gee hulle die ewige lewe, en
hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my
hand ruk nie (Joh.10:28).
·
Dieselfde
geloof: Die geloof wat ons ontvang is niks anders as die geloof wat die
Apostels ontvang het nie ~ Aan dié wat deur die regverdige beskikking
van ons God en Verlosser, Jesus Christus, dieselfde kosbare geloof as ons
ontvang het (2
Pet.1:1).
·
Lewensveranderende
geloof: Die geloof wat ons ontvang, verander ons ganse lewe ~ Mag daar
vir julle genade en vrede in oorvloed wees deur julle kennis van God en van
Jesus ons Here (2 Pet.1:2). Wanneer ons genade ontvang en wanneer ons vrede wat
alle verstand te bowe gaan ervaar, is en sal ons lewens nooit weer dieselfde
wees nie.
·
Reddende-
en Saligmakende geloof: In en deur Christus ontvang ons vergifnis en
verlossing ~ En dan sal daar vir julle vrye en feestelike toegang
wees tot die ewige koninkryk van ons Here en Verlosser, Jesus Christus
(2 Pet.1:11).
Amen
Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te VAALDRIEHOEK Gereformeerde Baptistegemeente – Sondagoggend 18 Januarie 2015