1. SKRIFLESING:
Joh.2:1-12 ~ Op die derde dag was daar ’n bruilof in Kana in Galilea, en die moeder
van Jesus was daar. 2Jesus en sy dissipels is ook na die bruilof
toe genooi. 3Toe die wyn opraak, sê Jesus se moeder vir Hom: “Hulle
het nie meer wyn nie.” 4Maar Hy sê vir haar: “Waarom sê u dit vir
My? My tyd het nog nie gekom nie.” 5Sy moeder sê toe vir die
kelners: “Wat Hy ook al vir julle sê, moet julle doen.” 6Daar het
ses klipkanne gestaan vir water wat die Jode by hulle reiniging gebruik het.
Elkeen het tussen negentig en honderd liter gehou. 7Jesus sê toe
vir die kelners: “Maak die kanne vol water.” Hulle het dit tot bo toe
volgemaak. 8Toe sê Hy vir hulle: “Skep nou daarvan uit en gaan gee
dit vir die seremoniemeester.” Hulle
het dit gedoen. 9Die seremoniemeester het nie geweet waar dit
vandaan kom nie, maar die kelners wat die water uitgeskep het, het geweet. Toe
die seremoniemeester die water proe wat wyn geword het, roep hy die bruidegom 10en
sê vir hom: “’n Mens sit gewoonlik eers die goeie wyn voor, en as die mense
goed gedrink het, dié van swakker gehalte; maar jy het die goeie wyn tot nou
toe teruggehou.” 11Hierdie eerste wonderteken het Jesus in Kana in
Galilea gedoen. Hy het daardeur sy heerlikheid laat blyk, en sy dissipels het
tot geloof in Hom gekom. 12Hierna het Hy, sy moeder, sy broers en
sy dissipels na Kapernaum toe gegaan, maar hulle het nie baie lank daar gebly
nie.
2. INLEIDING:
In hoofstuk een van die Johannes
Evangelie het Jesus o.a. Sy dissipels geroep om Hom te volg. In ons gelese gedeelte vandag, sien ons hoe
dat Jesus se openbare optrede by ’n bruilof in Kana begin het.
Hierdie wonderwerk by die huwelik het nie
net Jesus se goddelikheid gedemonstreer nie, maar dit het ook ’n diepgaande
effek op Jesus se eerste volgelinge gehad, want dit het aan Sy volgelinge
bevestig dat daar veranderende- en herskeppende mag in Jesus gesetel was – Hy
kon en het die spreekwoordelike water van Judaïsme verander in die wyn van
Christenskap. Hy verander die water van
Godloosheid in die wyn van die volheid van ’n ewige lewe in Jesus Christus. Of
as u wil, Jesus verander die water van wettisisme in die wyn van die Evangelie
en God se onverdiende genade.
Op bloot menslike vlak was Jesus se
wonderwerk ook van belang vir die bruidegom en sy familie, want destydse
huwelike het dikwels vir dae geduur en wyn het ’n belangrike rol gespeel in die
feesvieringe en daarom sou dit vir die bruidegom en sy familie ’n groot
verleentheid gewees het, indien die wyn sou opraak. Hierdie wonderwerk van Jesus was dus om meer
as een rede, baie belangrik.
Ek wil dat ons na hierdie gedeelte kyk
onder die volgende ses opskrifte:
·
Jesus en die Geleentheid (2:1-3);
·
Jesus se Vraag (2:4);
·
Jesus en Maria se Opdragte (2:5-8);
·
Die Seremoniemeester se Verbasing (2:9-10);
·
Die Kruks (2:11-12) en dan sal ons laastens kyk na ʼn...
·
Toepassing.
3. JESUS EN DIE GELEENTHEID (2:1-3):
Ons sien in v.1 dat Johannes vir ons sê
dat Jesus op die derde dag by die huweliksfees aangekom het. Hierdie "derde dag" waarna hy
verwys, is die derde dag nadat Jesus vir Filippus en Nataniël geroep het. Hy en Sy ses dissipels stap na ’n dorpie
genaamd Kana. Dit was ’n dorpie in die
heuwels van Galilea. Die presiese
ligging is nie aan ons bekend nie, maar alle aanduidings is dat hierdie dorpie
ongeveer 14 kilometer noord van Nasaret was.
’n Huwelik was destyds ’n baie belangrike
en luisteryke fees en in ’n dorpie soos Kana sou dit die hele gemeenskap betrek
het.
Die huwelik is altyd voorafgegaan deur ’n
verlowing wat ’n baie ernstige seremonie was, want tydens hierdie seremonie het
die paartjie plegtig trou aan mekaar beloof.
’n Verlowing was só ’n bindende ooreenkoms, dat die verbreking van ’n
verlowing in dieselfde ernstige lig as ’n egskeiding beskou was.
Die huwelik het op ’n Woensdag plaasgevind
in die geval van ’n maagd en op ’n Donderdag in die geval van ’n weduwee. Die bruidegom en sy vriende het gewoonlik die
voorafgaande nag in ’n skouspelagtige optog met fakkels en lanterns, na die
bruid se huis beweeg. Daar het dan
toesprake plaasgevind en geluk- en seënwense is uitgespreek, waarna die bruid
en bruidegom en al die ander teenwoordiges, na die bruidegom se huis gegaan het
vir die huweliksonthaal en soos reeds gesê, het hierdie fees, baie dikwels vir
dae aangehou en moes die bruidegom en sy familie die verversings en veral die
wyn, wat ’n belangrike deel uitgemaak het van die onthaal, moes voorsien en
indien die wyn sou opraak, was dit ’n baie groot verleentheid vir die bruidegom
en sy familie, trouens hulle was volgens wet verplig om aan sekere standaarde
te voldoen wat betref die feesvieringe.
In v.2 sien ons dat Jesus en Sy dissipels
ook na die bruilof genooi was. Ons weet
nie of Jesus na die huwelik genooi was omdat hy familie was en of hy net saam
met sy jongste dissipel, Natanael wat van Kana was, genooi is nie. Die punt is egter dat Jesus en Sy dissipels
ook genooi is en dat Jesus die uitnodiging aanvaar het.
Jesus se moeder (Maria)
was ook by die huwelik en
sy het agtergekom dat daar nie meer wyn was nie. Ons weet nie regtig hoe sy daarvan kennis
geneem het nie. Miskien was sy ’n
"baie naby familielid" en het sy van haar familielede se verleentheid
geweet. Dit is ook moontlik dat sy
gemoeid was met die reëlings van die onthaal en daarom geweet het van die
probleem.
Ons moet onthou dat Jesus tot nou, nog
geen wonderwerk gedoen het nie en Maria het nie geweet dat Hy by magte was om
dit te kon doen nie – of was sy? Maria
het tog geweet dat sy ’n maagd was toe sy Jesus verwag het. Ook het engele met haar gepraat oor Jesus
voor haar swangerskap. Sy moes dus
geweet het dat Jesus nie maar net ’n gewone mens was nie en wat meer is, sy het
Jesus se lewe geken en geweet dat Hy anders was as ander mense. In kort, sy moes geweet het dat Hy die
Messias was (die Engel het tog immers vir haar verloofde,
Josef gesê dat Jesus deur die Heilige Gees verwek is).
In die lig hiervan, kom Maria na Jesus en
sê vir Hom dat die wynkanne leeg is.
Hierdie was dus ’n indirekte versoek tot Jesus om iets aan die saak te
doen. Wat hierop sou volg, is dat Jesus se dissipels en diegene wat binnekort
aan Jesus se wonderwerk blootgestel sou word, hulle eerste openbaring van God
se mag en heerlikheid sou ervaar en hulle nuut gevonde geloof se fondasie sou
terselfdertyd gelê word.
4. JESUS SE VRAAG (2:4):
Jesus se reaksie op Maria se opmerking
teenoor Hom dat die wyn opgeraak het, is baie interessant. In die OAV sien ons dat Hy haar aanspreek as
"vrou". Dit mag vir ons uiters
oneerbiedig en hard voorkom as Hy haar so antwoord, maar in die Grieks was dit
nie so intens of onbeleefd soos dit vir ons in die Afrikaanse kultuur mag klink
nie, trouens die Griekse woord vir vrou in hierdie verband is γυνή (gynē), wat ’n baie
beleefde aanspreekvorm was. Jesus het
dit bv. weer gebruik in Sy laaste oomblikke aan die kruis, toe Hy Sy geliefde
dissipel gevra het om om te sien na Maria (19:26); ook toe Hy die Samaritaanse vrou by
die put aangespreek het (4:21); die owerspelige vrou (8:10), asook vir Maria Magdalena by Lasarus
se graf (20:15).
Jesus vra egter ook vir Maria waarom sy
Hom by die saak betrek. Jesus se
openbare optrede as die gestuurde Messias (Seun van God) het amptelik begin en Jesus wil hierdeur
vir haar sê, dat sy nie langer na Hom moet kyk as haar kind nie, maar as die
Verlosser, Jesus die Christus. Deur
hierdie reaksie van Jesus, word daar dus ’n nuwe verhouding tussen Hom en Maria
gevestig, nl. dié van Verlosser en volgeling, of dissipel.
Tweedens sê Jesus aan Sy moeder, dat Sy
tyd of Sy uur (OAV) nog
nie gekom het nie. Daar word kort-kort
deur hierdie Evangelie verwys na Jesus se tyd of uur (bv.7:6,
8, 30;8:20). Wat Jesus egter hier gesê het, is dat Hy na
die aarde gekom het met Joh.12:23 as doelwit, nl. dat Hy verheerlik moes word;
dat Hy gekruisig moes word; dat Hy uit die dood moes opstaan. Die huweliksonthaal was dus nie die plek vir
Hom om Homself te openbaar, of Homself as Messias bekend te maak nie.
5. JESUS EN MARIA SE OPDRAGTE (2:5-8):
Maria het dus oënskynlik iets groters in
gedagte gehad as wat Jesus uiteindelik gedoen het, maar Sy berus haar egter by
Jesus se antwoord en sy gee opdrag aan die dienaars om presies te doen wat
Jesus vir hulle sê om te doen – so asof sy vir hulle wil sê: Doen
alles wat Hy vir julle sê om te doen, al klink of lyk dit ook hoe absurd of
onmoontlik – doen dit net!
Hierdie kinderlike geloof en vertroue van
Maria in Jesus as Messias, moet ons ook aanspoor om ons onvoorwaardelike geloof
en vertroue in Jesus te plaas, ongeag van wat en hoe Hy ook al ons bepaalde
versoek of situasie gaan hanteer – ons moet Hom ten alle tye vertrou dat Hy net
die beste volgens Sy wil vir ons sal laat geskied. Hierdie selfde beginsel geld dus ook ons
gehoorsaamheid aan die Woord van God – dit maak nie saak hoe onmoontlik, of
absurd, of selfs onregverdig dit ook al mag klink of lyk nie, ons móét Sy Woord
ten alle tye en met oorgawe gehoorsaam.
Jesus gee opdrag aan die diensknegte om
die kanne vol water te maak, waarop hulle dit tot oorlopens toe vol gemaak het. Daar was 6 kanne en saam het dit nagenoeg 450
tot 700 liter water bevat wat Jesus in wyn verander het. Ons kan vra, waarom so baie wyn? Deur hierdie, amper oordadigheid van Jesus,
wou Hy die grootsheid van Sy gawe en die oorvloed van Sy liefde en genade betoon
(ek wil amper sê – soos altyd!).
Dit is ook opmerklik dat Jesus opdrag gee
dat die waterkanne wat gebruik was vir die Jode se reinigingseremonies gevul
moes word. Ook hier sien ons ’n subtiele
optrede van Jesus om die ou Judaïstiese reinigingsgebruike en Judaïsme in
totaliteit met God se krag in Christus te suiwer en te verander.
Nadat die diensknegte die klipkruike
gevul het, gee Jesus opdrag aan hulle om van die inhoud uit te skep en na die seremoniemeester
te neem.
6. DIE SEREMONIEMEESTER SE VERBASING (2:9-10):
Toe die seremoniemeester die wyn proe was
hy stomgeslaan – nie oor die wonderwerk wat plaasgevind het nie, want hy het
nie geweet dat Jesus die water in wyn verander het nie (net
die diensknegte het geweet),
maar oor die gehalte wyn wat vir hom aangebied is en die feit dat ’n mens
gewoonlik die beste wyn eerste voorgesit het omdat die gaste later gedurende
die fees te veel wyn gedrink het en dan nie meer die gehalte kon onderskei en
waardeer nie, maar nou gebeur die teenoorgestelde – die beste wyn word laaste
voorgesit! Hy het onmiddellik die
bruidegom geroep en vir hom gesê ~ ’n Mens sit gewoonlik eers die goeie wyn
voor, en as die mense goed gedrink het, dié van swakker gehalte; maar jy het
die goeie wyn tot nou toe teruggehou
(v.10). Waarskynlik was sy opmerking bedoel as ’n
kompliment teenoor die bruidegom.
Ons moet besef dat Jesus nooit tweede
beste vir ons as Sy kinders gee nie – dit wat Hy ook al vir ons gee en doen, is
die heel beste vir ons op daardie stadium – niks wat Hy doen of gee is
minderwaardig of onvoldoende nie. In
vergelyking met die wêreld en selfs ander gelowiges, mag dit wat Hy vir ons gee
of aan ons toevertrou, op daardie oomblik dalk minderwaardig of gebrekkig
voorkom, maar wanneer ons dit in die lig van die ewigheid beskou, sal ons altyd
sien en besef dat dit Sy beste vir óns spesifiek op daardie tydstip van ons lewe
is – Hy weet die beste!
7. DIE KRUKS (2:11-12):
Ons vind in vers 11, die kruks van
hierdie gebeure in Kana ~ Hy het
daardeur sy heerlikheid laat blyk, en sy dissipels het tot geloof in Hom gekom.
Wat sê Johannes vir ons hier? Hy
wil vir ons sê dat alles wat hy in hierdie Evangelie van hom skryf, ten doel
het dat mense Jesus die Christus sal ontmoet; beter sal leer ken en uiteindelik
tot reddingsgeloof in Christus sal kom. Die metode wat Johannes in sy skrywe
gebruik, is om die soeklig op Jesus se tekens en gesprekke te laat val en
derhalwe sy lesers se aandag te vestig op Jesus Christus, die Seun van God wat
gekom het om vir skuldige sondaars aan die kruis te kom sterf en weer uit die
dood uit op te staan. Dit is presies wat
hier tydens Jesus se eerste wonderwerk plaasgevind het ~ ...Sy dissipels het tot geloof gekom.
Daar het egter nog iets veel meer
betekenisvol gebeur. Ons lees ook
daarvan in v.11, nl. ~ Hy het
daardeur sy heerlikheid laat blyk,
of soos die OAV dit stel ~ Hy het
sy heerlikheid geopenbaar,
m.a.w. Hy het deur hierdie eerste wonderwerk van Hom, onteenseglik aangetoon
dat Hy waarlik die Seun van God is.
Johannes bevestig hierdie feit in Joh.20:31 wanneer hy sê ~ Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat
julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur
te glo, in sy Naam die lewe kan hê.
Die primêre rede waarom Jesus se
dissipels geglo het, was nié omdat Hy ’n wonderwerk gedoen het nie, maar omdat
hulle Hom as Messias herken en erken het.
Die wonderwerk het dus weggewys van die daad self en die fokus op die
"Wonderwerker",
Jesus Christus gevestig. Dit is
waarom ons nie veel detail het oor die huwelik self nie – ons weet nie watter
rol Maria daar vervul het nie; ons weet nie wie die bruidegom was nie (familie
of kennis); ons weet nie
hoe lank die fees geduur het nie, ens.
Nee, die fokus word vierkantig op Jesus geplaas.
In Joh.1:49 sien ons, dat Natanael reeds
in Jesus as Messias geglo het en daarom het hy uitgeroep ~ Rabbi, U is die Seun van God; U is die
Koning van Israel! Die ander
dissipels het voor hierdie wonderwerk reeds genoeg van Jesus geweet om Hom te
volg, maar nou, na hierdie wonderwerk het hulle Sy heerlikheid gesien en Hom
waarlik as Messias erken.
8. TOEPASSING:
Wanneer ons na ’n toepassing van hierdie
gedeelte in die Johannes Evangelie kyk, moet ons eerstens besef dat ons gedurig
daarop bedag moet wees dat ons nie ook allerlei rituele en wettiese gebruike in
ons godsdiensbeoefening inbring soos die Jode met die klipkanne en hul
reinigingsrituele, wat uiteindelik niks met God te doen het nie. Jesus het die klipkanne gereinig en net so
wil Hy hê dat ons begeerte na Jesus sal wees en nie na allerlei gewoontes en
strukture; na die skouspelagtige en dit wat die sinne bevredig nie. Ons moet voortdurend na die kerk (na
ons gemeente) en na ons
self kyk en probeer vasstel of daar nie allerlei formaliteite en tradisies en
gebruike is wat niks met die Woord en met Jesus te doen het nie. Jesus het
vernuwing en reiniging na Kana en vir Judaïsme gebring, wat dit vir altyd sou
verander en dit is presies dieselfde wat Hy vir jou en my begeer.
Ons moet ons oë vestig op Jesus self en
nie Sy wonderwerke, of dit wat Hy vir ons doen of kan doen nie. As dit die geval is, is ons in presies
dieselfde bootjie as die vyfduisend, nadat Jesus, hulle gevoed het en Hy in
Joh.6:26 aan hulle gesê het ~ Dít
verseker Ek julle: Julle soek My, nie omdat julle die wondertekens gesien het
nie, maar omdat julle van die brood geëet en versadig geword het.
Ons moet doen wat Hy in v.27 vir die menigte gesê het ~ Julle moet nie werk vir die voedsel wat
vergaan nie, maar vir die voedsel wat nie vergaan nie en wat ewige lewe gee.
Dit sal die Seun van die mens vir julle gee, want God die Vader het Hom die mag
daartoe verleen.
Laastens wil ek net graag onder u aandag
bring dat hierdie eerste wonderwerk van Jesus in Kana, vir ons prakties en baie
eenvoudig aantoon hoe dat sondaars gered word en in elkeen van die simbole
waarmee ons te doen kry in hierdie verhaal, sien ons wat met sondaars gebeur
wanneer hulle tot redding in Jesus Christus kom:
·
Eerstens het ons ’n klomp bruilofsgaste wat dors
is. Hierdie is ’n baie mooi
uitbeelding van die verloregaande wêreld rondom ons. Die wêreld smaak die
plesiere van hierdie wêreld, maar ervaar geen vervulling en tevredenheid
nie. Die Woord van God nooi sondaars wat
dors na die waarheid, om na Christus te kom vir redding en vervulling. Joh.4:13-14 sê ~ Elkeen wat van hierdie water drink,
sal weer dors kry; 14maar wie van die water gedrink het wat Ek hom
sal gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie. Nee, die water wat Ek hom sal
gee, sal in hom ’n fontein wees met water wat opborrel en vir hom die ewige
lewe gee. Jesus nooi die
verloregaande wêreld in Joh.7:37 deur te sê ~ As iemand dors het, laat hy na My
toe kom en drink! 38Met die een wat in My glo, is dit soos die
Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei.
Openb.22:17 stel dit ook pragtig ~ Die Gees en die bruid sê:
“Kom!” En elkeen wat dit hoor, moet
sê: “Kom!” En elkeen wat dors het,
moet kom; elkeen wat die water van die lewe wil hê, moet dit kom kry, verniet!
·
In die tweedeplek vind ons die leë waterkruike. Ons kan hierdie leë kruike vergelyk met die
mens se hart wat verhard en leeg is. Die
Woord van God vergelyk die mens op verskeie plekke met ’n kruik of kleipot –
bv. 2Kor.4:7 ~ Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die
krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie. ’n Sondaar se lewe mag pragtig lyk van buite,
maar wat God in so ’n mens se binneste sien, is leegheid en nutteloosheid,
behalwe as God self ’n genadige en wonderwerkende reddingswerk in so ’n leë
kleipot verrig. Dit laat ’n mens
onmiddellik dink aan die woorde in 2Tim.2:20-21 ~ In ’n groot huis is daar nie alleen
voorwerpe van goud en silwer nie, maar ook van hout en klei. Sommige is vir
besondere gebruik en ander vir die alledaagse. 21As iemand hom van
die kwaad gereinig het, sal hy ’n voorwerp
vir besondere gebruik wees. Dan sal hy vir die eienaar afgesonder en bruikbaar
wees, voorberei vir enige goeie diens.
·
Derdens was die kleipotte met water gevul. Water wat gebruik word vir wasdoeleindes word
in die Bybel vergelyk met die Woord van God (Ef.5:26; Joh.15:3 O.A.V.). Al wat die diensknegte by die
huweliksfees moes doen, was om al die kruike te vul met water. Presies dieselfde moet gebeur met iemand wat
tot wedergeboorte kom – hy moet homself vul (of was) met die Woord van God. En wanneer ons die Evangelie met mense deel,
moet die Woord van God met sulke mense gedeel word, want dit is deur die Woord
van God dat die Heilige Gees oortuig van sonde en ongeregtigheid.
In die Ou Testament het Moses die water in Egipte verander in
bloed wat oordeel geïmpliseer het (Eks.7:19). Jesus het
egter water in wyn verander wat genade en vreugde simboliseer.
·
Dan was daar die water wat in wyn verander
het. Eers wanneer ’n sondaar se hart
gevul word met die Woord van God, kan Christus die wonderwerk van vreugde en
volheid en redding teweeg bring. Wanneer
ons na Hand.8:26-40 kyk, sien ons hoe
dat Filippus die Woord van God met die Etiopiese hofdienaar gedeel het, vóór
die wonderwerk van redding plaasgevind het.
·
Laastens sien ons dat die gebeure in Kana, die
begin van Jesus se wonderwerke tydens Sy aardse bediening was en dit dui
vir ons ook op die wonderwerke wat dag vir dag ná ’n sondaar se wedergeboorte
in so ’n persoon se lewe plaasvind.
Geliefdes, ons moet Maria se woorde aan
die diensknegte, ter harte neem toe sy gesê het ~ Wat Hy ook al vir julle sê, moet julle doen. Dit moes onsinnig
vir die diensknegte geklink het toe Jesus vir hulle gesê het om die kanne vol
water te maak, terwyl daar ’n tekort aan wyn was, maar God gebruik baie dikwels
die onmoontlike en selfs die oënskynlik onsinnige, om kinders van Hom te maak. Dit is waarom Paulus in 1Kor.1:27 vir ons sê
~ En tog, wat vir die wêreld onsin
is, het God uitgekies om die geleerdes te beskaam; wat vir die wêreld swak is,
het God uitgekies om die sterkes te beskaam.
As ons wil sien dat mense na Christus
kom, moet ons gehoorsaam wees aan God; moet ons nie vermaak en ontspanning en
die skouspelagtige aan ’n verloregaande wêreld gee nie, maar die Woord, want
dit is die Woord en die prediking van die Woord wat die Heilige Gees gebruik om
siele te red.
Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te VAALDRIEHOEK Gereformeerde Baptistegemeente – Sondagoggend 11 Januarie 2015