Saturday, 17 January 2015

Die Tweede Brief van Petrus - 01 (“God se Geregtigheid”)

1.    INLEIDING:
       Ek wil vanoggend met ʼn reeks uit die tweede brief van Petrus begin en ek gaan dit in tandem met Sagaria, waarmee ons al ʼn tyd lank besig is, preek.

2.     SKRIFLESING: 
2 Pet.1:1-2 ~ Van Simon Petrus, ’n dienaar en apostel van Jesus Christus. Aan dié wat deur die regverdige beskikking van ons God en Verlosser, Jesus Christus, dieselfde kosbare geloof as ons ontvang het. 2Mag daar vir julle genade en vrede in oorvloed wees deur julle kennis van God en van Jesus ons Here!

3.    DIE SKRYWER VAN DIE BRIEF:
Die skrywer stel homself bekend as Simon Petrus. Daar bestaan heelwat meningsverskil oor wie hierdie Simon Petrus is, maar dit word algemeen aanvaar en sonder om op die tegniese redenasies in te gaan, kan ons, net soos die meerderheid teoloë aanvaar, dat dit dieselfde Petrus is wat die eerste brief van Petrus geskryf het en dat hy die apostel Petrus is. Petrus is ʼn verkleinvorm van Samuel en in Aramees is dit Sefas. Die naam Petrus beteken, “God het gehoor”. Jesus het Petrus se naam verander deur die naam Simon wat “rots” beteken, as eerste naam by Petrus te voeg – dit is dus dieselfde Petrus van wie Jesus gesê het ~ En Ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie (Matt.16:18).

Petrus identifiseer homself egter nog duideliker wanneer hy sê dat hy, ’n dienaar en apostel van Jesus Christus is. Wat interessant is, is dat Petrus by die titel van “apostel”, dié van “dienaar” byvoeg en dit word doelbewus deur hom gedoen, sodat dit kan aanpas by dit wat hy so bietjie later gaan skryf.

Die woord “dienaar” het ʼn baie ryk betekenis. Petrus wil met die gebruik van hierdie benaming vir sy lesers sê dat hy reg langs hulle staan as dienskneg van die Here Jesus en dat hy derhalwe nie verhewe bo hulle is nie. Hy is m.a.w. net so gereed en bereid, soos sy geadresseerdes, om Christus se opdragte te aanvaar en te gehoorsaam.

Hierdie uitdrukking, “dienaar” of “dienskneg” (̈δοῦλος - doulos) word ook deur Petrus op alle gelowiges toegepas, daarom dat hy o.a. in 1 Pet.2:16 sê ~ Julle is vry, maar moenie julle vryheid gebruik as dekmantel om kwaad te doen nie. Gebruik dit om God te dien.

Dit is egter ook belangrik om kennis te neem van die feit dat Petrus homself in hierdie openingswoorde, identifiseer as ʼn apostel, want daarmee vestig hy die aandag op die gesag wat sy brief dra, omdat hy as gestuurde (dit is wat die benaming “Apostel” beteken) die brief aan sy ontvangers skryf, in opdrag van en met die gesag wat hy van Jesus Christus self ontvang het. Petrus skryf en preek dus nie sy eie woorde nie, maar die boodskap van die Here self – dit is bv. hoe Paulus homself aan die Galasiërs voorgestel het ~ Van Paulus, ’n apostel, en van al die broers wat by my is. Dat ék ’n apostel is, dank ek nie aan mense nie. Ek is ook nie deur ’n mens aangestel nie, maar deur Jesus Christus en deur God die Vader wat Hom uit die dood opgewek het (Gal.1:1).

Met hierdie bekendstelling van Petrus sê hy dus dat hy net soos die ontvangers van die brief, ʼn getroue, gehoorsame en gelowige dienskneg van Jesus is, maar hy sê terselfdertyd dat hy ʼn apostel is en daarom moet die lesers ag slaan op wat hy skryf – dit is in ooreenstemming met Jesus se woorde in Luk.10:16, waar Jesus Sy dissipels bemagtig het met die woorde ~ Wie na julle luister, luister na My; wie vir julle verwerp, verwerp My; en wie My verwerp, verwerp Hom wat My gestuur het – die lesers (en daarom ons ook) moet derhalwe ag slaan op die inhoud van hierdie skrywe.

4.    GROETEWOORD:
Ons vind ʼn baie interessante groetewoord aan die begin van hierdie tweede brief van Petrus. Hy spreek die ontvangers van die brief in baie algemene terme aan – hy noem hulle, ...dié wat ...dieselfde kosbare geloof as ons ontvang het (v.1), maar hierdie ongeïdentifiseerde geadresseerdes, is nie maar sommer net “skimme in die lug” nie – hulle word tog wel geïdentifiseer, sonder dat daar menslike name en vanne en plekke aan hulle gekoppel word. Wie is hulle? Hulle is diegene wie dieselfde geloof as Petrus ontvang het.

Hierdie woord “ontvang” is in die Grieks, λαγχάνω (lanchanō) en in die ESV word dit vertaal met “obtain”. Ten einde hierdie woord beter te verstaan, kan ons o.a. na Luk.1:9 kyk ~ Op ’n keer toe Sagaria in die beurt van sy diensgroep besig was om die priesterdiens voor God te verrig, 9is hy volgens die priesterlike gebruik deur die lot aangewys om in die tempel van die Here in te gaan en die wierook op die altaar te brand, asook Joh.19:24 ~ Hulle sê toe vir mekaar: “Ons moet dit nie skeur nie. Kom ons loot wie dit moet kry.” Dit het gebeur sodat die Skrif vervul kan word waar dit sê: “Hulle het my klere onder mekaar verdeel, en vir my kleed het hulle geloot.” Dit is wat die soldate gedoen het. Hierdie gebeure in Joh.19 was natuurlik ʼn vervulling van die profetiese woorde in Ps.22:19 ~ Hulle verdeel my klere onder mekaar en trek lootjies oor my mantel. Die gebruik van hierdie uitdrukking, “die lot werp” dui op ʼn direkte ingrepe van God self en dra nié dieselfde betekenis as om lootjies te trek of om te dobbel soos in ons moderne samelewing nie.

Hierdie kosbare geloof” wat die lesers dus ontvang het, is nie geloof wat hulle self opgeklits het nie – nee, dit is reddende en saligmakende geloof wat hulle deur God se heilige geregtigheid as genadegawe ontvang het – deur God se soewereine ingrepe en besluit dus. Paulus omskryf hierdie geloof baie mooi in Ef.3:6 ~ En dit is die geheimenis: deur die verkondiging van die evangelie en in hulle verbondenheid met Christus Jesus, word ook mense wat nie Jode is nie, saam met ons deel van die volk van God en lede van die liggaam van Christus, en kry hulle ook saam met ons deel aan wat God belowe het.

5.    GOD SE GEREGTIGHEID:
Dit is geweldig belangrik om kennis te neem van die feit dat hierdie geloof wat aan beide Jood en heiden gegee word, uit God se geregtigheid geskenk word. Daar is twee maniere om na hierdie Griekse woord wat hier gebruik word, nl. δικαιοσύνη (dikaiosynē), te kyk. Enersyds dui God se geregtigheid daarop dat hierdie geloof wat aan Jode gegee word in dieselfde maat aan heidene gegee word – sonder onderskeid dus en net soos daar geen onderskeid tussen die geloof wat die Jode en die heidene ontvang, bestaan nie, net so bestaan daar geen onderskeid tussen die geloof wat Petrus aan die eenkant en sy lesers aan die anderkant ontvang het nie. Die geloof wat Dawid uit genade ontvang het; die geloof van Paulus; die geloof van Spurgeon, ens. is dus presies dieselfde geloof wat jy en ek ontvang het – dit gaan dus nie oor geloof om “berge te versit” nie, maar geloof wat lei tot redding en verlossing. Paulus is nie méér gered as jy nie! Petrus is nie méér gered as ek nie – ons is “ewe veel gered”!

Om hierdie uitgangspunt toe te pas op Petrus se gebruik van die uitdrukking, “God se geregtigheid, klink baie aanloklik, omdat Petrus pynlik bewus was van etnisiteit – so verwys hy bv. na Noag wat deur die vloed heen gespaar was, terwyl die heidennasies almal omgekom het. So verwys hy ook na Lot wat gered is, terwyl die goddeloses uitgedelg is (2 Pet.2:7-8). Hierdie is die een kant van God se geregtigheid, maar daar is ook ʼn anderkant.

Die ander en meer algemene faset van God se geregtigheid word vir ons baie mooi geïllustreer deur Paulus se woorde in o.a. Rom.3:25-26 sê ~ Hom het God gegee as offer wat deur sy bloed versoening bewerk het vir dié wat glo. Hierdeur het God getoon wat sy vryspraak behels: Hy het die sondes wat Hy voorheen in sy verdraagsaamheid tydelik ongestraf laat bly het, vergewe. Maar Hy het ook getoon wat sy vryspraak in die teenswoordige tyd behels: Hy oordeel regverdig deurdat Hy elkeen vryspreek wat in Jesus glo. Hierdie hele saak van “geregtigheid” waarvan Paulus hier praat en natuurlik ook Petrus in die verse waarna ons vandag kyk, is van sulke wesentlike belang dat ons net eenvoudig in meer detail daarna móét kyk.

Hierdie Evangeliewaarheid, nl. regverdiging deur die geloof alleen, lê nie net aan die hart van ons allerheiligste geloof nie, maar dit behoort ook 'n bron van onuitputlike troos en sekuriteit te wees vir elkeen wat vir lewe en dood in Jesus Christus skuil. Ons het al dikwels hieroor gepraat, en vir meeste van julle gaan ek niks nuuts sê nie, maar hierdie is ʼn Skrifwaarheid wat oor en oor met mekaar gedeel móét word.

Martin Luther het gesê dat die kerk by hierdie Waarheid staan of val en ons moet baie seker maak dat ons in ons gemeente, hierdie Waarheid ook as Waarheid glo en leef, want dít bepaal ʼn gemeente se egtheid al dan nie – dit bepaal ook die egtheid van jou en my geloof – staan en val jy daarby?

Die waarheid rondom God se geregtigheid is waarskynlik – nee, is beslis dié Waarheid wat ʼn mens waarlik vrymaak en wanneer jy dit verstaan – wanneer jy dit wérklik verstaan, kan en sal jy nie meer geteister word met allerlei onsekerhede oor jou geloof en redding nie en daarom moet ons baie seker maak dat ons hierdie begrip verstaan en dat ons dit sal omhels in die geloof; dit weer en weer sal oordink en ons lewe daarvolgens sal rig.

Ek het nou net verwys na Martin Luther – hy was die baie bekende Rooms-Katolieke monnik en professor aan die universiteit van Wittenberg (1483–1546). Luther het hom verset teen die kerklike bewering dat mense van hul straf vir sondes vrygestel kon word deur “pouslike aflaatbriewe” te koop. In der waarheid is die geld eenvoudig gebruik om die geldkoffers van die pous in Rome aan te vul, en vir Luther was dit ’n ongehoorde vergryp, te meer omdat hy geglo het dat sondevergifnis slegs van God kan kom. Daarom het hy sy 95 Stellinge op 31 Oktober 1517 teen die deur van die slotkapel in Wittenberg vasgespyker.

Terwyl hy klas gegee het oor Romeine, het hy vasgehaak by Rom.1:16-17 ~ Ek skaam my nie oor die evangelie nie, want dit is ’n krag van God tot redding van elkeen wat glo, in die eerste plek die Jood, maar ook die nie-Jood. 17In die evangelie kom juis tot openbaring dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo. Dit is soos daar geskrywe staan: “Elkeen wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe. Hy het verstaan dat hierdie twee verse die tema van die hele Romeine-boek is, en as sodanig die sleutel tot die verstaan daarvan. Oor en oor het hy die twee verse gelees en elke keer gestruikel oor die uitdrukking in v.17: "die geregtigheid van God" (OAV). Deur die Middeleeue het die Katolieke kerk geleer (en soveel hedendaagse Christene steeds) dat hierdie uitdrukking oor een van die karaktertrekke van die Here praat, naamlik dat Hy 'n God van geregtigheid is en toorn oor die sonde van mense uitspreek – dit opsigself is natuurlik nie verkeerd nie, máár daar is ʼn ander betekenis ook en in ʼn sekere sin, is dit ʼn veel swaarder gelaaide begrip.
   
As daar één kwessie was wat in Luther se hart gebrand het, was dit Job se vraag ~ ...hoe kan 'n mens regverdig voor sy Maker staan? (Job 4:17; 9:2). Hy skryf daarom in sy outobiografie dat hy mettertyd die uitdrukking begin haat het, en al hoe meer kwaad geword het vir God, want vir baie jare het hy met 'n intense sondebesef geworstel, magteloos om 'n heilige lewe te lei. Die laaste ding wat hy wou hoor, allermins van hierdie boek (Romeine) wat daarop aanspraak maak dat dit die geheim van ewige verlossing dra, was dat hy te doen het met 'n God wat algeheel onverdraagsaam is teenoor sondaars.
   
Een dag (waarskynlik in die herfs van 1514), terwyl hy in die toring van die Augustiniaanse klooster in Wittenberg worstel met die Here, en hy weer hierdie verse oor en oor lees, tref dit hom skielik dat hierdie uitdrukking in die Grieks ook ʼn ander betekenis kan hê en val die sentrale boodskap van die Romeineboek vir hom oop, nl. dat die uitdrukking, “God se geregtigheid” ook kan beteken dat God “geregtigheid” skenk – uitdeel met ander woorde! Hy skryf later n.a.v. hierdie insig: "Toe ek dit verstaan het ek wedergebore gevoel soos 'n nuwe mens, en ek het deur oop deure, God se Paradys binnegestap."

       Só het die sestiende eeuse Reformasie begin en niks sou ooit weer dieselfde wees nie en soos iemand dit eens gestel het: “Opeens is Europa se vensters oopgestoot om die sonskyn van heilswaarheid orals te laat instroom en die duisternis van die Middeleeue te verdring.” Duisende der duisende mense het hierna
(tot vandag toe) God se geregtigheid ervaar.

Om hierdie uitdrukking te verstaan moet ons terug gaan na die begin van die Woord, nl. na Adam. Adam het as hoof van die ganse mensheid opgetree toe hy in sonde geval het. Die effek van sy sonde op sy nageslag was dat hulle (ons), ʼn onveranderbare verlies aan geregtigheid gely het – die mens Adam en sy nageslag het hul geregtigheid verloor, m.a.w. die reg om gemeenskap met God te hê, maar ook die vermoë om sonder sonde te leef. Ons kan dit as volg verduidelik:
·           Eerstens het Adam sy geregtigheidsaard, of toestand van geregtigheid verloor. Hy het nou ʼn
sondige natuur, m.a.w. hy verkeer in ʼn teenoorgestelde toestand as voor die sondeval (sonde is dus die teenoorgestelde van geregtigheid) en hierdie toestand staan dan ook bekend as die erfsonde (of erfsmet) – dit wat ons van Adam geërf het en ons sien en ervaar die vrug daarvan elke dag in ons lewe (ons sondig voortdurend).
·           Tweedens het die mens sy juridiese geregtigheidstand voor God verloor. Ons noem dit ook die erfskuld, want elke mens is nou strafwaardig voor God, selfs nog voordat hy of sy 'n enkele sonde gepleeg het. Die mensheid, as nageslag van Adam, is as sodanig doemwaardig, daarom dat Artikel 15 van die Nederlandse Geloofsbelydenis o.a. sê: “Ons glo dat die erfsonde deur die ongehoorsaamheid van Adam oor die hele menslike geslag uitgebrei het. Dit is ʼn verdorwenheid van die hele natuur en ʼn oorgeërfde gebrek waarmee selfs die klein kindertjies in die moederskoot besmet is.” Hierdie feit word deur verskeie Skrifverwysings onderskryf, soos bv. Ps.51:7 ~ Ek was al skuldig toe ek gebore is, met sonde belaai toe my moeder swanger geword het en Joh.3:6-7 ~ Wat uit die mens gebore is, is mens; en wat uit die Gees gebore is, is gees. 7Moenie verbaas wees dat Ek vir jou gesê het: Julle moet opnuut gebore word nie.

       Die probleem met die erfsonde is dat dit daagliks in alle mense se lewens toeneem, soos wat die mens dag na dag self ook sondig (die sondesmet). God het egter nie die mens net aan sy eie lot oorgelaat nie – die ewige dood en verdoemenis met ander woorde. Nee, Hy het Sy Seun, Jesus Christus as "tweede mens", as "laaste Adam" (1Kor 15:45, 47) – en as Hoof van God se nuwe mensheid – na die wêreld gestuur om die effekte van die sondeval vir Sy mense op te hef (let op: Sy mense – die uitverkorenes). Hoe kan ons dit verseker weet? Kom ons blaai na Rom.5:12-21 en lees dit aandagtig saam ~ Verder nog dít: Deur een mens het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood, en so het die dood tot al die mense deurgedring, omdat almal gesondig het. 13Die sonde was al in die wêreld nog voordat die wet van Moses gegee is, maar sonde word nie toegereken as daar nie ’n wet is nie. 14Nietemin het die dood heerskappy gevoer van Adam af tot by Moses, ook oor mense wat nie gesondig het op dieselfde manier as dié waarop Adam oortree het nie. Daar is ooreenkoms tussen Adam en Hom wat sou kom, 15maar met die genadegawe is dit anders as met die oortreding. Deur die oortreding van een mens het baie gesterf, maar die genade van God en die gawe wat deur die genade van die een Mens, Jesus Christus, gekom het, is veel oorvloediger aan baie geskenk. 16En met die gawe van God is dit anders as met die sonde van die een mens. Op die oortreding van die een mens het die oordeel gevolg en dit het tot veroordeling gelei, maar op die baie oortredings het die genadegawe gevolg en dit het tot vryspraak gelei. 17Deur die oortreding van die een mens het die dood begin heerskappy voer deur hierdie een mens, maar deur die Een, Jesus Christus, is veel meer bereik: dié wat die oorvloed van genade en die vryspraak as gawe ontvang het, sal lewe en heerskappy voer. 18Soos een oortreding gelei het tot veroordeling vir alle mense, so het een daad van gehoorsaamheid dus ook gelei tot vryspraak en lewe vir almal. 19Soos baie deur die ongehoorsaamheid van een mens sondaars geword het, so ook sal baie deur die gehoorsaamheid van die een Mens vrygespreek word. 20Die wet het bygekom om die oortredinge nog meer te maak; en hoe meer die sonde geword het, hoe oorvloediger het die genade geword. 21Die doel was dat, soos die sonde deur die dood heerskappy gevoer het, die genade deur die vryspraak ook heerskappy kan voer en tot die ewige lewe kan lei deur Jesus Christus ons Here.

       Wanneer 'n sondaar in alle opregtheid en erns sy volle geloofsvertroue in Christus stel, word hy of sy by wyse van spreke uit Adam uitgehaal en in Christus oorgeplant. Soos wat Adam se sonde aan ʼn sondaar toegereken, oftewel gedebiteer is, so word Christus se verdienste nou aan hom toegereken, oftewel gekrediteer.

Om te verstaan hoe Christus die probleem van ons verlies aan 'n geregtigheidstand voor God aanspreek, moet ons vir 'n oomblik oor die aard van sonde praat (ons eie sonde en ons sonde in Adam).

Alle sonde val in een van twee klasse:
·           Dit wat ʼn mens doen (wat teenstrydig is met die Woord), en...
·           Dit wat jy nalaat om te doen (nie doen wat die Skrif sê gedoen moet word).

       Ons oortree God se voorskrifte, én ons misluk om aan Sy standaarde te voldoen (ons sondes van oortreding is één ding, maar wat van al die dinge wat die Here beveel, wat ons nie doen nie? Vandat ons wederbaar is, haat ons Hom nie meer nie – en dis wonderlik - máár wat daarvan dat ek Hom nie liefhet met my hele hart en verstand en krag, soos dit hoort nie?).

Meeste van ons is deeglik bewus daarvan dat Christus met Sy vernedering en bloed betaal het vir alle sonde wat Sy mense gedoen het; doen en nog sal doen. Die straf wat Hy verduur het, het Hy as my Plaasvervanger gedoen - in my plek. My skuld is aan Hom toegereken – dit is oorgeplaas na Sy rekening, Hy is daarmee gedebiteer... en toe Hy dit betaal het, was dit die einde van my skuld!

Hoeveel van ons besef egter dat hierdie vryspraak op sigself nie genoeg is nie? Wat ek nou gaan sê is kardinaal belangrik! Indien ons net vryspraak ontvang het, was ons maar net weer waar Adam voor die sondeval was – sonder skuld. Die vraag is dus of Christus se vryspraak genoeg is? Die antwoord is, “nee”! Christus moes nog deur aktiewe gehoorsaamheid die loon verdien! Deur positiewe gehoorsaamheid moes hy toegang tot die Boom van die Lewe verkry. Nee, dis nie genoeg om God se gebooie nie te oortree nie, ons moet hulle hóú! Daar is nie net straf om te ontkom nie; daar is loon om te verwerf! Wil jy die ewige lewe beërf, dan moet jy God volkome gehoorsaam en dit is ons grootste probleem, want ons kan dit nie uit eie krag verdien of verwerf nie!

Hierdie onoorkombare dilemma van die sondegevalle mens word egter óók deur Christus aangespreek. Hý het God volkome gehoorsaam – van Sy eerste lewenslig af, tot en met Sy dood aan die kruis. Hy het nie 'n enkele sondige gedagte bedink nie; Hy het nooit enige sondige begeerte, of sondige motief vertroetel nie, want Hy was volkome, ja tot die dood toe, gehoorsaam aan Sy Vader en hierdie selfde gehoorsaamheid word aan elkeen wat waarlik glo, toegereken! Christus se volkome gehoorsaamheid word oorgeboek na sy of haar rekening wat glo! Stel dus jou geloofsvertroue in die verdienste van die Plaasvervanger, en jy word met Sy volmaakte geregtigheid gekrediteer!
 
Dít is waarvan Rom.1:17 praat as dit sê ~ In die evangelie kom juis tot openbaring dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo. Dit is soos daar geskrywe staan: “Elkeen wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe. Dít is die geregtigheid wat God gee. Dít is wat Luther gesien het. Dít is die essensie van regverdigmaking deur die geloof alleen.

Wat beteken dit alles? As iemand anders jou skuld namens jou betaal, skuld jy tog immers niks meer nie en dit is presies wat gebeur het toe jy God se geregtigheid ontvang het. Om te hou by die bekende boehoukundige terminologie van Paulus – in God se kasboek het jy die status van iemand wat die wet van God volkome onderhou, want God het aan jou geregtigheid geskenk – Christus se geregtigheid. Hierdie is derhalwe 'n objektiewe saak, nie 'n subjektiewe nie, m.a.w. dit gebeur buite jou (in God se boeke!), nie ín jou nie. Dit is nié 'n ervaring nie; dit is iets wat jy in die geloof moet vat - omdat God se Woord dit belowe.

Om weg van onsself te kyk, en ons oë op Christus en Sy verdienste vas te nael, is een van die eerste en belangrikste lesse wat 'n Christen moet leer. Dít is die essensie van ons geloof. Dít is dieselfde tipe geloof wat die Israeliete aan die dag moes lê toe hulle geteister was deur slange en hulle bloot net moes opkyk na die koperslang – ʼn heenwysing na Jesus Christus aan die kruis (Num.21:5-9 en Joh.3:14-15) en dít is presies wat ons moet doen – ons oë vasgenael hou op die gekruisigde; plaasvervangende, “gedebiteerde” en verrese Jesus Christus.

So baie gelowiges vasgevang in ʼn maalkolk van verwarring en selfverwyt en vertwyfeling oor sonde en allerlei vrae oor hulle eie wedergeboorte, omdat hulle nie hierdie Waarheid verstaan en vir hulleself toegeëien het nie. Dit is niks anders as ongeloof nie – ja dit is so dat talle Christene nooit hierdie Waarheid – hierdie ander faset van God se geregtigheid van die kansels af hoor nie, maar dit is nie ʼn verskoning nie – ook nie vir ons nie, want keer op keer lees ons daarvan in die Skrif!

Dit wat Adam moes, maar nie kon nie, dit het die Laaste Adam reggekry. Dit wat ons nie kan nie, dit het Jesus Christus vir ons vermag! Ons lees in Gen.3:24 van die gerubs, asook die vlammende swaard wat die toegang tot die boom van die lewe (die ewige lewe) bewaak, maar daardie selfde engele sal vir ons, wie in die geregtigheid van God ingeplant is, met ope arms inwag wanneer ons die ewigheid binnegaan – soos iemand dit eenkeer gestel het – hulle sal vir ons ʼn erewag vorm!
  
Die bekende Amerikaanse kerkleier en teoloog, Gresham Machen, se laaste woorde op sy sterfbed op 1 Januarie 1937 was: "Ek is so dankbaar vir die aktiewe gehoorsaamheid van Christus. Daarsonder is daar geen hoop nie.”

6.    AFSLUITING:
Kom ons kyk net ter afsluiting, kortliks en in die lig van ons Skrifgedeelte vanoggend, na enkele uitstaande kenmerke waaroor ons as gelowiges beskik:
·           Ontvang geloof: Hoe word ons gelowiges – deur geloof te ontvang en dan te glo, maar dit is ook God wat ons geloof in stand hou ~ Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie (Joh.10:28).
·           Dieselfde geloof: Die geloof wat ons ontvang is niks anders as die geloof wat die Apostels ontvang het nie ~ Aan dié wat deur die regverdige beskikking van ons God en Verlosser, Jesus Christus, dieselfde kosbare geloof as ons ontvang het (2 Pet.1:1).
·           Lewensveranderende geloof: Die geloof wat ons ontvang, verander ons ganse lewe ~ Mag daar vir julle genade en vrede in oorvloed wees deur julle kennis van God en van Jesus ons Here (2 Pet.1:2). Wanneer ons genade ontvang en wanneer ons vrede wat alle verstand te bowe gaan ervaar, is en sal ons lewens nooit weer dieselfde wees nie.
·           Reddende- en Saligmakende geloof: In en deur Christus ontvang ons vergifnis en verlossing ~ En dan sal daar vir julle vrye en feestelike toegang wees tot die ewige koninkryk van ons Here en Verlosser, Jesus Christus (2 Pet.1:11).


Amen

Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te VAALDRIEHOEK Gereformeerde Baptistegemeente – Sondagoggend 18 Januarie 2015

Saturday, 10 January 2015

“Wat Hy ook al sê, moet julle doen”

1.     SKRIFLESING: 
Joh.2:1-12 ~ Op die derde dag was daar ’n bruilof in Kana in Galilea, en die moeder van Jesus was daar. 2Jesus en sy dissipels is ook na die bruilof toe genooi. 3Toe die wyn opraak, sê Jesus se moeder vir Hom: “Hulle het nie meer wyn nie.” 4Maar Hy sê vir haar: “Waarom sê u dit vir My? My tyd het nog nie gekom nie.” 5Sy moeder sê toe vir die kelners: “Wat Hy ook al vir julle sê, moet julle doen.” 6Daar het ses klipkanne gestaan vir water wat die Jode by hulle reiniging gebruik het. Elkeen het tussen negentig en honderd liter gehou. 7Jesus sê toe vir die kelners: “Maak die kanne vol water.” Hulle het dit tot bo toe volgemaak. 8Toe sê Hy vir hulle: “Skep nou daarvan uit en gaan gee dit vir die seremoniemeester.”  Hulle het dit gedoen. 9Die seremoniemeester het nie geweet waar dit vandaan kom nie, maar die kelners wat die water uitgeskep het, het geweet. Toe die seremoniemeester die water proe wat wyn geword het, roep hy die bruidegom 10en sê vir hom: “’n Mens sit gewoonlik eers die goeie wyn voor, en as die mense goed gedrink het, dié van swakker gehalte; maar jy het die goeie wyn tot nou toe teruggehou.” 11Hierdie eerste wonderteken het Jesus in Kana in Galilea gedoen. Hy het daardeur sy heerlikheid laat blyk, en sy dissipels het tot geloof in Hom gekom. 12Hierna het Hy, sy moeder, sy broers en sy dissipels na Kapernaum toe gegaan, maar hulle het nie baie lank daar gebly nie.

2.    INLEIDING:
       In hoofstuk een van die Johannes Evangelie het Jesus o.a. Sy dissipels geroep om Hom te volg.  In ons gelese gedeelte vandag, sien ons hoe dat Jesus se openbare optrede by ’n bruilof in Kana begin het.

       Hierdie wonderwerk by die huwelik het nie net Jesus se goddelikheid gedemonstreer nie, maar dit het ook ’n diepgaande effek op Jesus se eerste volgelinge gehad, want dit het aan Sy volgelinge bevestig dat daar veranderende- en herskeppende mag in Jesus gesetel was – Hy kon en het die spreekwoordelike water van Judaïsme verander in die wyn van Christenskap.  Hy verander die water van Godloosheid in die wyn van die volheid van ’n ewige lewe in Jesus Christus. Of as u wil, Jesus verander die water van wettisisme in die wyn van die Evangelie en God se onverdiende genade.

       Op bloot menslike vlak was Jesus se wonderwerk ook van belang vir die bruidegom en sy familie, want destydse huwelike het dikwels vir dae geduur en wyn het ’n belangrike rol gespeel in die feesvieringe en daarom sou dit vir die bruidegom en sy familie ’n groot verleentheid gewees het, indien die wyn sou opraak.  Hierdie wonderwerk van Jesus was dus om meer as een rede, baie belangrik.

       Ek wil dat ons na hierdie gedeelte kyk onder die volgende ses opskrifte:     
·         Jesus en die Geleentheid (2:1-3);
·         Jesus se Vraag (2:4);
·         Jesus en Maria se Opdragte (2:5-8);
·         Die Seremoniemeester se Verbasing (2:9-10);
·         Die Kruks (2:11-12) en dan sal ons laastens kyk na ʼn...
·         Toepassing.

3.    JESUS EN DIE GELEENTHEID (2:1-3):
       Ons sien in v.1 dat Johannes vir ons sê dat Jesus op die derde dag by die huweliksfees aangekom het.  Hierdie "derde dag" waarna hy verwys, is die derde dag nadat Jesus vir Filippus en Nataniël geroep het.  Hy en Sy ses dissipels stap na ’n dorpie genaamd Kana.  Dit was ’n dorpie in die heuwels van Galilea.  Die presiese ligging is nie aan ons bekend nie, maar alle aanduidings is dat hierdie dorpie ongeveer 14 kilometer noord van Nasaret was.

       ’n Huwelik was destyds ’n baie belangrike en luisteryke fees en in ’n dorpie soos Kana sou dit die hele gemeenskap betrek het. 

       Die huwelik is altyd voorafgegaan deur ’n verlowing wat ’n baie ernstige seremonie was, want tydens hierdie seremonie het die paartjie plegtig trou aan mekaar beloof.  ’n Verlowing was só ’n bindende ooreenkoms, dat die verbreking van ’n verlowing in dieselfde ernstige lig as ’n egskeiding beskou was. 

       Die huwelik het op ’n Woensdag plaasgevind in die geval van ’n maagd en op ’n Donderdag in die geval van ’n weduwee.  Die bruidegom en sy vriende het gewoonlik die voorafgaande nag in ’n skouspelagtige optog met fakkels en lanterns, na die bruid se huis beweeg.  Daar het dan toesprake plaasgevind en geluk- en seënwense is uitgespreek, waarna die bruid en bruidegom en al die ander teenwoordiges, na die bruidegom se huis gegaan het vir die huweliksonthaal en soos reeds gesê, het hierdie fees, baie dikwels vir dae aangehou en moes die bruidegom en sy familie die verversings en veral die wyn, wat ’n belangrike deel uitgemaak het van die onthaal, moes voorsien en indien die wyn sou opraak, was dit ’n baie groot verleentheid vir die bruidegom en sy familie, trouens hulle was volgens wet verplig om aan sekere standaarde te voldoen wat betref die feesvieringe.

       In v.2 sien ons dat Jesus en Sy dissipels ook na die bruilof genooi was.  Ons weet nie of Jesus na die huwelik genooi was omdat hy familie was en of hy net saam met sy jongste dissipel, Natanael wat van Kana was, genooi is nie.  Die punt is egter dat Jesus en Sy dissipels ook genooi is en dat Jesus die uitnodiging aanvaar het.

       Jesus se moeder (Maria) was ook by die huwelik en sy het agtergekom dat daar nie meer wyn was nie.  Ons weet nie regtig hoe sy daarvan kennis geneem het nie.  Miskien was sy ’n "baie naby familielid" en het sy van haar familielede se verleentheid geweet.  Dit is ook moontlik dat sy gemoeid was met die reëlings van die onthaal en daarom geweet het van die probleem.

       Ons moet onthou dat Jesus tot nou, nog geen wonderwerk gedoen het nie en Maria het nie geweet dat Hy by magte was om dit te kon doen nie – of was sy?  Maria het tog geweet dat sy ’n maagd was toe sy Jesus verwag het.  Ook het engele met haar gepraat oor Jesus voor haar swangerskap.  Sy moes dus geweet het dat Jesus nie maar net ’n gewone mens was nie en wat meer is, sy het Jesus se lewe geken en geweet dat Hy anders was as ander mense.  In kort, sy moes geweet het dat Hy die Messias was (die Engel het tog immers vir haar verloofde, Josef gesê dat Jesus deur die Heilige Gees verwek is)

       In die lig hiervan, kom Maria na Jesus en sê vir Hom dat die wynkanne leeg is.  Hierdie was dus ’n indirekte versoek tot Jesus om iets aan die saak te doen. Wat hierop sou volg, is dat Jesus se dissipels en diegene wat binnekort aan Jesus se wonderwerk blootgestel sou word, hulle eerste openbaring van God se mag en heerlikheid sou ervaar en hulle nuut gevonde geloof se fondasie sou terselfdertyd gelê word.

4.    JESUS SE VRAAG (2:4):
       Jesus se reaksie op Maria se opmerking teenoor Hom dat die wyn opgeraak het, is baie interessant.  In die OAV sien ons dat Hy haar aanspreek as "vrou".  Dit mag vir ons uiters oneerbiedig en hard voorkom as Hy haar so antwoord, maar in die Grieks was dit nie so intens of onbeleefd soos dit vir ons in die Afrikaanse kultuur mag klink nie, trouens die Griekse woord vir vrou in hierdie verband is γυνή (gynē), wat ’n baie beleefde aanspreekvorm was.  Jesus het dit bv. weer gebruik in Sy laaste oomblikke aan die kruis, toe Hy Sy geliefde dissipel gevra het om om te sien na Maria (19:26); ook toe Hy die Samaritaanse vrou by die put aangespreek het (4:21); die owerspelige vrou (8:10), asook vir Maria Magdalena by Lasarus se graf (20:15).

       Jesus vra egter ook vir Maria waarom sy Hom by die saak betrek.  Jesus se openbare optrede as die gestuurde Messias (Seun van God) het amptelik begin en Jesus wil hierdeur vir haar sê, dat sy nie langer na Hom moet kyk as haar kind nie, maar as die Verlosser, Jesus die Christus.  Deur hierdie reaksie van Jesus, word daar dus ’n nuwe verhouding tussen Hom en Maria gevestig, nl. dié van Verlosser en volgeling, of dissipel.

       Tweedens sê Jesus aan Sy moeder, dat Sy tyd of Sy uur (OAV) nog nie gekom het nie.  Daar word kort-kort deur hierdie Evangelie verwys na Jesus se tyd of uur (bv.7:6, 8, 30;8:20).  Wat Jesus egter hier gesê het, is dat Hy na die aarde gekom het met Joh.12:23 as doelwit, nl. dat Hy verheerlik moes word; dat Hy gekruisig moes word; dat Hy uit die dood moes opstaan.  Die huweliksonthaal was dus nie die plek vir Hom om Homself te openbaar, of Homself as Messias bekend te maak nie.

5.    JESUS EN MARIA SE OPDRAGTE (2:5-8):
       Maria het dus oënskynlik iets groters in gedagte gehad as wat Jesus uiteindelik gedoen het, maar Sy berus haar egter by Jesus se antwoord en sy gee opdrag aan die dienaars om presies te doen wat Jesus vir hulle sê om te doen – so asof sy vir hulle wil sê:  Doen alles wat Hy vir julle sê om te doen, al klink of lyk dit ook hoe absurd of onmoontlik – doen dit net! 

       Hierdie kinderlike geloof en vertroue van Maria in Jesus as Messias, moet ons ook aanspoor om ons onvoorwaardelike geloof en vertroue in Jesus te plaas, ongeag van wat en hoe Hy ook al ons bepaalde versoek of situasie gaan hanteer – ons moet Hom ten alle tye vertrou dat Hy net die beste volgens Sy wil vir ons sal laat geskied.  Hierdie selfde beginsel geld dus ook ons gehoorsaamheid aan die Woord van God – dit maak nie saak hoe onmoontlik, of absurd, of selfs onregverdig dit ook al mag klink of lyk nie, ons móét Sy Woord ten alle tye en met oorgawe gehoorsaam.

       Jesus gee opdrag aan die diensknegte om die kanne vol water te maak, waarop hulle dit tot oorlopens toe vol gemaak het.  Daar was 6 kanne en saam het dit nagenoeg 450 tot 700 liter water bevat wat Jesus in wyn verander het.  Ons kan vra, waarom so baie wyn?  Deur hierdie, amper oordadigheid van Jesus, wou Hy die grootsheid van Sy gawe en die oorvloed van Sy liefde en genade betoon (ek wil amper sê – soos altyd!).

       Dit is ook opmerklik dat Jesus opdrag gee dat die waterkanne wat gebruik was vir die Jode se reinigingseremonies gevul moes word.  Ook hier sien ons ’n subtiele optrede van Jesus om die ou Judaïstiese reinigingsgebruike en Judaïsme in totaliteit met God se krag in Christus te suiwer en te verander.

       Nadat die diensknegte die klipkruike gevul het, gee Jesus opdrag aan hulle om van die inhoud uit te skep en na die seremoniemeester te neem.
 
6.    DIE SEREMONIEMEESTER SE VERBASING (2:9-10):
       Toe die seremoniemeester die wyn proe was hy stomgeslaan – nie oor die wonderwerk wat plaasgevind het nie, want hy het nie geweet dat Jesus die water in wyn verander het nie (net die diensknegte het geweet), maar oor die gehalte wyn wat vir hom aangebied is en die feit dat ’n mens gewoonlik die beste wyn eerste voorgesit het omdat die gaste later gedurende die fees te veel wyn gedrink het en dan nie meer die gehalte kon onderskei en waardeer nie, maar nou gebeur die teenoorgestelde – die beste wyn word laaste voorgesit!  Hy het onmiddellik die bruidegom geroep en vir hom gesê ~  ’n Mens sit gewoonlik eers die goeie wyn voor, en as die mense goed gedrink het, dié van swakker gehalte; maar jy het die goeie wyn tot nou toe teruggehou (v.10).  Waarskynlik was sy opmerking bedoel as ’n kompliment teenoor die bruidegom.

       Ons moet besef dat Jesus nooit tweede beste vir ons as Sy kinders gee nie – dit wat Hy ook al vir ons gee en doen, is die heel beste vir ons op daardie stadium – niks wat Hy doen of gee is minderwaardig of onvoldoende nie.  In vergelyking met die wêreld en selfs ander gelowiges, mag dit wat Hy vir ons gee of aan ons toevertrou, op daardie oomblik dalk minderwaardig of gebrekkig voorkom, maar wanneer ons dit in die lig van die ewigheid beskou, sal ons altyd sien en besef dat dit Sy beste vir óns spesifiek op daardie tydstip van ons lewe is – Hy weet die beste! 

7.    DIE KRUKS (2:11-12):
       Ons vind in vers 11, die kruks van hierdie gebeure in Kana ~ Hy het daardeur sy heerlikheid laat blyk, en sy dissipels het tot geloof in Hom gekom.  Wat sê Johannes vir ons hier?  Hy wil vir ons sê dat alles wat hy in hierdie Evangelie van hom skryf, ten doel het dat mense Jesus die Christus sal ontmoet; beter sal leer ken en uiteindelik tot reddingsgeloof in Christus sal kom. Die metode wat Johannes in sy skrywe gebruik, is om die soeklig op Jesus se tekens en gesprekke te laat val en derhalwe sy lesers se aandag te vestig op Jesus Christus, die Seun van God wat gekom het om vir skuldige sondaars aan die kruis te kom sterf en weer uit die dood uit op te staan.  Dit is presies wat hier tydens Jesus se eerste wonderwerk plaasgevind het ~ ...Sy dissipels het tot geloof gekom

       Daar het egter nog iets veel meer betekenisvol gebeur.  Ons lees ook daarvan in v.11, nl. ~ Hy het daardeur sy heerlikheid laat blyk, of soos die OAV dit stel ~ Hy het sy heerlikheid geopenbaar, m.a.w. Hy het deur hierdie eerste wonderwerk van Hom, onteenseglik aangetoon dat Hy waarlik die Seun van God is.  Johannes bevestig hierdie feit in Joh.20:31 wanneer hy sê ~ Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê

       Die primêre rede waarom Jesus se dissipels geglo het, was nié omdat Hy ’n wonderwerk gedoen het nie, maar omdat hulle Hom as Messias herken en erken het.  Die wonderwerk het dus weggewys van die daad self en die fokus op die "Wonderwerker", Jesus Christus gevestig.  Dit is waarom ons nie veel detail het oor die huwelik self nie – ons weet nie watter rol Maria daar vervul het nie; ons weet nie wie die bruidegom was nie (familie of kennis); ons weet nie hoe lank die fees geduur het nie, ens.  Nee, die fokus word vierkantig op Jesus geplaas.

In Joh.1:49 sien ons, dat Natanael reeds in Jesus as Messias geglo het en daarom het hy uitgeroep ~ Rabbi, U is die Seun van God; U is die Koning van Israel! Die ander dissipels het voor hierdie wonderwerk reeds genoeg van Jesus geweet om Hom te volg, maar nou, na hierdie wonderwerk het hulle Sy heerlikheid gesien en Hom waarlik as Messias erken.

8.    TOEPASSING:
       Wanneer ons na ’n toepassing van hierdie gedeelte in die Johannes Evangelie kyk, moet ons eerstens besef dat ons gedurig daarop bedag moet wees dat ons nie ook allerlei rituele en wettiese gebruike in ons godsdiensbeoefening inbring soos die Jode met die klipkanne en hul reinigingsrituele, wat uiteindelik niks met God te doen het nie.  Jesus het die klipkanne gereinig en net so wil Hy hê dat ons begeerte na Jesus sal wees en nie na allerlei gewoontes en strukture; na die skouspelagtige en dit wat die sinne bevredig nie.  Ons moet voortdurend na die kerk (na ons gemeente) en na ons self kyk en probeer vasstel of daar nie allerlei formaliteite en tradisies en gebruike is wat niks met die Woord en met Jesus te doen het nie. Jesus het vernuwing en reiniging na Kana en vir Judaïsme gebring, wat dit vir altyd sou verander en dit is presies dieselfde wat Hy vir jou en my begeer.

       Ons moet ons oë vestig op Jesus self en nie Sy wonderwerke, of dit wat Hy vir ons doen of kan doen nie.  As dit die geval is, is ons in presies dieselfde bootjie as die vyfduisend, nadat Jesus, hulle gevoed het en Hy in Joh.6:26 aan hulle gesê het ~ Dít verseker Ek julle: Julle soek My, nie omdat julle die wondertekens gesien het nie, maar omdat julle van die brood geëet en versadig geword het.  Ons moet doen wat Hy in v.27 vir die menigte gesê het ~ Julle moet nie werk vir die voedsel wat vergaan nie, maar vir die voedsel wat nie vergaan nie en wat ewige lewe gee. Dit sal die Seun van die mens vir julle gee, want God die Vader het Hom die mag daartoe verleen.

       Laastens wil ek net graag onder u aandag bring dat hierdie eerste wonderwerk van Jesus in Kana, vir ons prakties en baie eenvoudig aantoon hoe dat sondaars gered word en in elkeen van die simbole waarmee ons te doen kry in hierdie verhaal, sien ons wat met sondaars gebeur wanneer hulle tot redding in Jesus Christus kom:
·        Eerstens het ons ’n klomp bruilofsgaste wat dors is.  Hierdie is ’n baie mooi uitbeelding van die verloregaande wêreld rondom ons. Die wêreld smaak die plesiere van hierdie wêreld, maar ervaar geen vervulling en tevredenheid nie.  Die Woord van God nooi sondaars wat dors na die waarheid, om na Christus te kom vir redding en vervulling.  Joh.4:13-14 sê ~ Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry; 14maar wie van die water gedrink het wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie. Nee, die water wat Ek hom sal gee, sal in hom ’n fontein wees met water wat opborrel en vir hom die ewige lewe gee.  Jesus nooi die verloregaande wêreld in Joh.7:37 deur te sê ~ As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink! 38Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei.  Openb.22:17 stel dit ook pragtig ~ Die Gees en die bruid sê: “Kom!”  En elkeen wat dit hoor, moet sê: “Kom!”  En elkeen wat dors het, moet kom; elkeen wat die water van die lewe wil hê, moet dit kom kry, verniet!
·        In die tweedeplek vind ons die leë waterkruike.  Ons kan hierdie leë kruike vergelyk met die mens se hart wat verhard en leeg is.  Die Woord van God vergelyk die mens op verskeie plekke met ’n kruik of kleipot – bv. 2Kor.4:7 ~ Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie.  ’n Sondaar se lewe mag pragtig lyk van buite, maar wat God in so ’n mens se binneste sien, is leegheid en nutteloosheid, behalwe as God self ’n genadige en wonderwerkende reddingswerk in so ’n leë kleipot verrig.  Dit laat ’n mens onmiddellik dink aan die woorde in 2Tim.2:20-21 ~ In ’n groot huis is daar nie alleen voorwerpe van goud en silwer nie, maar ook van hout en klei. Sommige is vir besondere gebruik en ander vir die alledaagse. 21As iemand hom van die kwaad gereinig het, sal hy ’n voorwerp vir besondere gebruik wees. Dan sal hy vir die eienaar afgesonder en bruikbaar wees, voorberei vir enige goeie diens.
·           Derdens was die kleipotte met water gevul.  Water wat gebruik word vir wasdoeleindes word in die Bybel vergelyk met die Woord van God (Ef.5:26; Joh.15:3 O.A.V.).  Al wat die diensknegte by die huweliksfees moes doen, was om al die kruike te vul met water.  Presies dieselfde moet gebeur met iemand wat tot wedergeboorte kom – hy moet homself vul (of was) met die Woord van God.  En wanneer ons die Evangelie met mense deel, moet die Woord van God met sulke mense gedeel word, want dit is deur die Woord van God dat die Heilige Gees oortuig van sonde en ongeregtigheid.

In die Ou Testament het Moses die water in Egipte verander in bloed wat oordeel geïmpliseer het (Eks.7:19).  Jesus het egter water in wyn verander wat genade en vreugde simboliseer.
·           Dan was daar die water wat in wyn verander het.  Eers wanneer ’n sondaar se hart gevul word met die Woord van God, kan Christus die wonderwerk van vreugde en volheid en redding teweeg bring.  Wanneer ons na Hand.8:26-40 kyk,  sien ons hoe dat Filippus die Woord van God met die Etiopiese hofdienaar gedeel het, vóór die wonderwerk van redding plaasgevind het.
·           Laastens sien ons dat die gebeure in Kana, die begin van Jesus se wonderwerke tydens Sy aardse bediening was en dit dui vir ons ook op die wonderwerke wat dag vir dag ná ’n sondaar se wedergeboorte in so ’n persoon se lewe plaasvind.

       Geliefdes, ons moet Maria se woorde aan die diensknegte, ter harte neem toe sy gesê het ~ Wat Hy ook al vir julle sê, moet julle doen.  Dit moes onsinnig vir die diensknegte geklink het toe Jesus vir hulle gesê het om die kanne vol water te maak, terwyl daar ’n tekort aan wyn was, maar God gebruik baie dikwels die onmoontlike en selfs die oënskynlik onsinnige,  om kinders van Hom te maak.  Dit is waarom Paulus in 1Kor.1:27 vir ons sê ~ En tog, wat vir die wêreld onsin is, het God uitgekies om die geleerdes te beskaam; wat vir die wêreld swak is, het God uitgekies om die sterkes te beskaam.


       As ons wil sien dat mense na Christus kom, moet ons gehoorsaam wees aan God; moet ons nie vermaak en ontspanning en die skouspelagtige aan ’n verloregaande wêreld gee nie, maar die Woord, want dit is die Woord en die prediking van die Woord wat die Heilige Gees gebruik om siele te red.

Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te VAALDRIEHOEK Gereformeerde Baptistegemeente – Sondagoggend 11 Januarie 2015

Saturday, 3 January 2015

Psalm 119 (Dié wat wandel volgens die Woord van die Here)

1.    INLEIDING:
In teenstelling met die kortste Psalm, nl. Ps.117 wat uit net twee versies en vyf reëls bestaan en wat ook die kortste hoofstuk in die Bybel is, kry ons net twee Psalms later, die langste Psalm, asook die langste hoofstuk in die Bybel in die vorm van Psalm 119. Psalm 119 bevat 176 verse en 315 reëls.

Ps.119 is ’n sg. "naamdig" en is verdeel in 22 strofes en elkeen van hierdie 22 strofes begin met een van die letters van die Hebreeuse alfabet.

Wat egter die heel belangrikste eienskap van Ps.119 is, is die feit dat elkeen van die 176 verse van hierdie Psalm, met die uitsondering van hoogstens 5 verse, ’n verwysing na die Woord van God is. Daar is verder ook minstens agt sinonieme wat in hierdie Psalm vir die Skrif gebruik word. Die Wet ("Torah") kom 25 keer voor; die Woord ("dabar") word nagenoeg 24 keer gebruik; Insettinge ("mispatim") – 23 keer; Getuienis ("hedot") – 23 keer; Opdragte ("miswoth") – 22 keer; Verordeninge ("huqqim") – 21 keer; Voorskrifte ("piqqudim") – 21  keer en Beloftes ("imra") – 19 keer. 

Die naam Here ("Jahweh") kom 24 keer voor in hierdie Psalm, terwyl die naam God ("Elohim") net een keer voorkom. Die verwysing na God, met die uitdrukking of woord "U" kom egter 211 keer voor. Dit is baie duidelik dat God dus die sentrale tema van hierdie Psalm is. Die feit dat die Naam vir God, nl. "Jahweh" meerendeels gebruik word en nie "Elohim" nie, dui waarskynlik daarop dat Dawid die outeur van hierdie Psalm was, alhoewel daar sommiges is wat glo dat Jeremia en selfs Daniël eerder die outeur was.

2.    SKRIFLESING: 
Ps.119:1-8 ~ Dit gaan goed met dié wat onberispelik lewe, dié wat wandel volgens die woord van die Here. 2Dit gaan goed met dié wat sy verordeninge gehoorsaam, dié wat met hulle hele hart sy wil doen, 3geen onreg pleeg nie en in sy weë wandel. 4U het u bevele gegee dat dit ten volle uitgevoer moet word. 5As ek tog maar net op ’n vaste koers kan bly en my aan u voorskrifte kan hou! 6As ek al u gebooie in ag neem, sal ek nooit raad-op wees nie. 7U bepalings is regverdig; as ek hulle ter harte neem, sal ek U loof met ’n opregte hart. 8Ek sal my aan u voorskrifte hou: moet my tog nooit verlaat nie.

Wanneer ons kyk na die inhoud van hierdie eerste strofe van die Psalm, kan die tema hiervan, soos volg verwoord word: Dié wat wandel volgens die Woord van die Here.

3.    VERS-VIR-VERS VERKLARING:
Vers 1 (Dit gaan goed met dié wat onberispelik lewe, dié wat wandel volgens die woord van die Here) – hierdie vers begin met die woord "welgeluksalig" (O.A.V.) of "blessed" (E.S.V.). Die Hebreeuse woord van "welgeluksalig" of "geseënd" begin ook met "Aleph" (die eerste woord van die Hebreeuse alfabet).

Hierdie eerste 8 verse van Ps.119 moet saam met Psalm 1 gelees word en dan sal ons sien dat die eerste drie verse van Ps.119, die positiewe kant van Ps.1:1 is ~ Dit gaan goed met die mens wat nie die raad van goddeloses volg nie, nie met sondaars omgaan en met ligsinniges saamspan nie. Ons eerste drie verse verduidelik dus aan ons hoe ons nié saam met die goddeloses moet wandel nie, trouens dit toon aan ons hoe ons vlekkeloos kan wees – iemand van integriteit. Hoe sê die Psalmdigter, hoe moet ons optree ten einde vlekkeloos te wees? Hy sê in v.1 dat ons onberispelik moet lewe en hoe kan ons dit regkry? Ons kan dit regkry deur volgens die Woord van God te wandel.

In v.2 (Dit gaan goed met dié wat sy verordeninge gehoorsaam, dié wat met hulle hele hart sy wil doen) wil die Psalmis die tema van hierdie strofe beklemtoon, wanneer hy sê dat ons God se wil met ons hele hart moet doen. Ons moet met ons hele hart, volgens God se Woord wandel.

Dit is baie interessant om te sien dat die woorde, "met jou hele hart" ook die sleutelgedagte van die boek Deuteronomium is. Dit is ook interessant om te weet dat Deuteronomium die basis vorm vir talle Psalms, soos ook vele ander Skrifgedeeltes. Die Nuwe Verbond se wortels is ook in Deuteronomium geanker en Jesus het male sonder tal, uit Deuteronomium aangehaal.

Hoe dit ook al sy, daar sit veel meer agter die woorde in v.2, wanneer dit sê dat ons God se wil met ons hele hart moet doen. God is glad nie tevrede met bloot uiterlike gehoorsaamheid en -diens nie. Nee, Hy kyk na ons hartsgesindheid wanneer ons gehoorsaam is aan Sy Woord – Hy wil hê dat ons van harte, volgens Sy Woord en wil sal optree – Hy wil hê dat ons dit met oorgawe en dankbaarheid en opgewondenheid sal doen – van harte dus en nie uit pligpleging of om Hom te probeer beïndruk nie, want so ’n optrede beïndruk Hom hoegenaamd nie.

Wanneer ons God se wil van harte uitleef, wandel ons in Sy weë, soos v.3 tereg opmerk (Dit gaan goed met hulle wat... 3geen onreg pleeg nie en in sy weë wandel). Ons optrede en ons karakter moet dus iets van Sy karakter reflekteer, want dan wandel ons waarlik in Sy weë. 1Pet.1:14-16 sê ~ As gehoorsame kinders moet julle nie julle lewe inrig volgens die begeertes wat julle vroeër gehad het toe julle God nie geken het nie. 15Nee, soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in julle hele lewenswandel heilig wees. 16Daar staan immers geskrywe: “Wees heilig, want Ek is heilig.” Hierdie opdrag wat ons hier in Petrus se brief vind, nl. dat ons heilig moet wees, is ’n herhaling van wat in Lev.11:44a staan ~ Ek is die Here julle God. Wy julle aan my diens en wees heilig, want Ek is heilig.

Ps.119 fokus dus op ons gehoorsaamheid aan die Woord en Jakobus is baie duidelik hieroor wanneer hy in Jak.1:22 sê ~ Julle moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle julleself.

Die Psalmis se opmerking in v.3 dat ons nie onreg moet pleeg, of ongeregtigheid (O.A.V.) moet doen nie, mag dalk duidelik en eenvoudig klink, maar hy skryf dit spesifiek om twee redes:
·           Eerstens wil die Psalmis ons leer dat ons ganse lewe; ons totale wese onder die beheer van God moet wees;
·           Tweedens, dat ons toegewyd en sorgvuldig aandag moet skenk aan God se Woord en daarvolgens moet leef.

Dit is voor die hand liggend dat wanneer ons volgens God se Woord leef, ons nie van die pad kan dwaal nie, maar daar is ’n voorwaarde hieraan verbonde en ons vind dit in die woorde van Ps.1:2 wat sê dat ons God se Woord dag en nag moet oordink.

Wanneer ons daaraan dink dat ons God se Woord dag en nag moet oordink, is daar twee dinge waaraan ons aandag moet skenk, nl.:
·         "Dag en nag";
·         "Oordink".

       Kom ons begin by die tweede, nl. die uitdrukking "oordink" wat ook vertaal kan word met "mediteer". Die Hebreeuse woord vir "God se Woord" dui op die Torah of te wel die Mosaïese Wette en natuurlik was die Mosaïese Wette die riglyn vir die Hebreërs se lewe. Die Hebreërs (of Jode as jy wil), waarvan die Psalmis natuurlik deel was, was demonstratiewe mense – hulle was, om dit in Engels uit te druk, baie "vocal" – hulle het dus hulle stemme laat hoor (soos ook in die Afrika kultuur).

       Die Psalmis wil daarom in Ps.1 sê dat wanneer hy en sy volksgenote die Woord oordink, of dan daaroor mediteer, doen hulle dit hardop – hulle praat daaroor; hulle bid hardop daaroor en hulle sing dit hardop. Ons weet natuurlik dat dit reeds bewys is, dat ’n mens baie beter leer as jy dit hardop doen. Ek kan onthou toe ek in my vroeë onderwysjare Tswana vir Laerskoolkinders geleer het, hoe ons altyd in onguns by die onderwysers in die klasse langsaan was, omdat ons kort-kort gesing het, want die kinders het die frases wat hulle in Tswana geleer het, op bekende wysies soos bv. “Vader Jakob” gesing en dit is gedoen juis omdat die sing van frases, ’n nóg beter tegniek is om daardie frases aan te leer en vas te lê... ...en síng, het die Hebreërs gesíng! Nie sommer enige volksliedjies nie – hulle het die Woord gesing! Dit is presies wat die Psalmis bedoel met die uitdrukking "oordink" of te wel mediteer, nl. dat hy die Wet van die Here dag en nag, hardop praat, bid én sing – ons kan dit in Engels "vocal meditation" noem.

       Ek het die afgelope tyd baie daaroor gedink, oor wat dit werklik beteken om God se Woord dag en nag te oordink? Beteken dit dat ons elke oomblik, elke sekonde van die dag en nag aan God se Woord moet dink? Baie van ons sukkel dikwels om net iets van ’n patroon in ons "stiltetyd" te vind en derhalwe ’n vrugbare "tydjie" saam met die Here elke dag te spandeer, wat staan nog dag en nag (in die lig van bg. moet ons dalk maar nie meer praat van "stiltetyd" nie!). Dit is tog nie moontlik nie, of is dit? Wat beteken dit regtig? Daar sal sekerlik mense wees wat van my mag verskil oor die betekenis hiervan, maar as ons regtig wil weet wat dit beteken, moet ons ’n antwoord in die Skrif daarvoor probeer vind en ’n goeie beginpunt, is dan sekerlik Ps.1:2.

       Die O.A.V. is hier ’n beter vertaling en in ooreenstemming met die oorspronklike Hebreeuse teks. Die meeste Engelse vertalings is dit ook eens met die O.A.V. Ps.1:2 lees dan as volg ~ ... maar sy behae is in die wet van die Here, en hy oordink sy wet dag en nag. Ek dink ons moet begin deur vir mekaar te sê dat dit nie hier gaan oor allerlei "moets" en "moenies" nie – dit wat ek mag en nie mag nie. Dit gaan eerder oor ʼn hartsgesindheid. My hartsgesindheid moet dus een wees waar ek in alles wat ek doen en dink en sê, God wil verheerlik. My ganse optrede en gesindheid moet dus dag en nag een wees waardeur ek Godgesentreerd en Christus- verheerlikend wil optree. Wanneer dít my uitgangspunt is, sal ek God in en deur my lewe verheerlik, want ’n mens se optrede word gemotiveer deur jou gesindheid.

Ons totale oordenking (hou in gedagte wat tot nou gesê is t.o.v. vokaliteit) moet dus van so ’n aard wees dat ons...
·           Eerstens vreugde daaruit sal put, trouens dit moet ons soveel vreugde verskaf dat ons heeldag daaraan wíl dink én daaroor praat én daaroor sing.
·           Tweedens moet my oordenking lei tot aksie. Dit wat ek leer uit die Woord moet ek met ander woorde daagliks – elke oomblik, in my praktiese lewe begin toepas en dit verg oefening en nogmaals inoefening om daarop te konsentreer en dit te doen. As dit my ernstige voorneme is om werklik, heeldag God se Woord te oordink, sal ek erns daarmee maak om dit te begin toepas in en deur my lewe. Negatief gestel, as ek my nié daarop toespits om dit te doen nie, is ek nie ernstig met en oor God se Woord en om dit dag en nag te oordink nie.

Ons moet verstaan dat Bybelse meditasie of –oordenking, nie inhoudloos, soos baie ander wêreldse tegnieke is nie. Nee, Bybelse oordenking is vol inhoud en dit is hierdie Bybelse inhoud wat ons moet toepas op ons daaglikse lewe. As ek vanoggend in die Woord die volgende vers bv. sal lees, moet ek vir my vra hoe ek dit vandag en elke dag in my lewe sal toepas en dan moet ek dit begin doen (elke dag). Kan ek weer sê – En dit begin doen – dit moet dus deel word van my daaglikse optrede – dit moet dus deel uitmaak van my verwysingsraamwerk – alle toekomstige optrede moet daarvolgens gerig word. Kom ons neem sommer enige twee voorbeelde uit die Skrif, bv.: 1Kor.6:1 ~ Gaan iemand van julle wat ’n saak teen ’n ander gelowige het, werklik so ver dat hy sy reg by heidense regters soek en nie by gelowiges nie? Dit gebeur op ’n bepaalde oggend dat ’n medegelowige wat saam met jou in die gemeente is, nie sy skuld aan jou betaal op die dag waarop daar ooreengekom is nie – wat doen jy? Dagvaar jy hom, of volg jy ’n ander roete? Natuurlik sal jy n.a.v. hierdie teksvers ’n ander roete volg en daardie roete sal ondersteun word deur ’n ander Skrifgedeelte wat jy dalk twee jaar terug oordink het en wat jy ingeoefen en gememoriseer, daaroor gepraat het (en dit selfs dalk gesing ook?) en dit toe gepas het by vorige geleenthede – ja ek praat van Matt.18:21-22 ~ Daarna het Petrus na Jesus toe gekom en gevra: “Here, hoeveel keer moet ek my broer vergewe as hy iets verkeerds teen my doen? Selfs sewe keer?” 22Jesus antwoord hom: “Ek sê vir jou, nie sewe keer nie maar selfs sewentig maal sewe keer. Daarmee saam natuurlik ook Matt.18:15-17 ~ As jou broer verkeerd opgetree het teen jou, gaan wys hom tereg waar julle eenkant alleen is. As hy na jou luister, het jy jou broer teruggewen. 16Maar as hy nie luister nie, neem nog een of twee met jou saam, sodat alles wat gesê word, deur die woord van twee of drie getuies bevestig kan word. 17En as hy na hulle nie luister nie, sê dit vir die gemeente. As hy ook na die gemeente nie luister nie, moet jy hom as ’n heiden en ’n tollenaar behandel. Hierdie verse sal dus jou optrede teen so ’n broer bepaal en wanneer jy so optree, is jy besig om die Woord, dag en nag te oordink.

Nog ’n voorbeeld waarop ek nie nou in detail wil ingaan nie, is bv. Jak 3:9-10 ~ Met die tong loof ons die Here en Vader, en met die tong vloek ons die mense wat as die beeld van God gemaak is. 10Uit dieselfde mond kom lof en vloek. My broers, so moet dit nie wees nie – wanneer ’n taxi skielik in ’n kruising voor jou stilhou – hoe wend jy jou tong aan? Is jou tong vir jou gegee om te loof, of om te vloek en te vervloek?

In die praktyk van die lewe moet ek dus alles wat ek vantevore geleer het, in my gedagtes oproep en toepas op die situasie waarin ek my bevind. Dit is waarom Dawid ook in Ps.143:5 sê ~ Ek dink aan die verre verlede, ek peins oor alles wat U gedoen het en oor die werk van u hande dink ek na. Josua rig waarskynlik dié belangrikste waarskuwing tot elke gelowige wanneer hy in Jos.1:8 sê ~ Hierdie wetboek moet die rigsnoer wees vir alles wat jy sê. Oordink dit dag en nag en sorg dat jy alles uitvoer wat daarin geskryf staan. Dan sal jy slaag in wat jy moet doen, jy sal voorspoedig wees. Hiermee saam en nóg belangriker, is Jesus se opdrag in Joh.8:31-32 (O.A.V.) ~ As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels. En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak. Om in die Woord te bly beteken dus voortgesette dissipelskap, wat ’n bewys van jou kindskap van God is – anders gestel: Om kind van God te wees impliseer dat jy nie die bestudering van God se Woord sal afskeep nie; jy sal die memorisering van die Woord nie afskeep nie én jy sal dit wat jy lees en leer en memoriseer, toepas in jou daaglikse lewe – dit is bewys dat jy waarlik kind van God is. Dit is dan ook die basis vir heiligmaking in jou lewe: Lees die Woord; oordink die Woord; pas die Woord toe in jou lewe; jy word meer heilig; jy lees die Woord; oordink dit, ens.

Om ’n voortgesette en getroue "stiltetyd", jaar in en jaar uit te hou, is sekerlik een van die grootste gevegte wat ons in ons lewe veg, maar ons moet ons net eenvoudig self dissiplineer om dit te doen en wanneer dit die geval is, sê Ps.1:3 vir ons, sal ons ~ ...soos ’n boom (wees) wat by waterstrome geplant is, wat op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie. (Ons sal) voorspoedig (wees) in alles wat (ons) aanpak.

Vers 4 van Ps.119 sluit pragtig aan by wat ons tot nou uit Psalm 1 gesê het (4U het u bevele gegee dat dit ten volle uitgevoer moet word). Hier beklemtoon die Psalmis die feit dat God nie Sy bevele, of te wel Sy Wet, of dan Sy Woord, vir ons om dowe neute gegee het nie – nee, Hy het dit juis gegee sodat ons dit ten volle sal uitvoer. Hoor u wat hy sê? Ten volle. Nie net deels nie – ten volle! Nie net somtyds nie – ten volle, m.a.w. ten alle tye. Die meeste Engelse vertalings stel dit pragtig – dit sê ~ You have commanded your precepts to be kept diligently"diligently", m.a.w. dit moet ywerig, toegewyd en nougeset nagevolg en toegepas word.

Waarom moet ons God se Woord nougeset navolg en toepas? Ps.19:8 ~ Die woord van die Here is volmaak: dit gee
lewe. Die onderwysing van die Here is betroubaar: dit gee wysheid aan dié wat nog onervare is.

Die Psalmis is voorwaar ’n man van God, maar in v.5 erken hy egter ook dat hy pynlik bewus is van hoe onheilig hy nog steeds is, deurdat hy ’n versugting uitspreek waarmee elkeen van ons sekerlik ook kan identifiseer ~ As ek tog maar net op ʼn vaste koers kan bly en my aan u voorskrifte kan hou! Dit is waarskynlik hierdie vers wat Paulus in gedagte gehad het toe hy in Rom.7:15-23 gesê het ~ Ek begryp self nie wat ek doen nie, want wat ek wil doen, dit doen ek nie, maar wat ek haat, juis dit doen ek. 16Dat ek nie wil doen wat ek doen nie, beteken dat ek toegee dat die wet goed is. 17Maar nou is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon. 18Ek weet immers dat die goeie nie in my woon nie, nie in my sondige aard nie. Daar is by my wel die wil om die goeie te doen, maar ek doen dit nie. 19Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek. 20En as ek nou doen wat ek nie wil doen nie, dan is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon. 21So vind ek dan hierdie wet in my: ek wil die goeie doen, maar al wat ek doen, is die slegte. 22Diep in my wese vind ek vreugde in die wet van God, 23maar ek vind in my doen en late ’n ander wet, wat stryd voer teen die wet van my gees. Dit maak my ’n gevangene van die wet van die sonde wat in my doen en late aan die werk is.

Met hierdie versugting is die Psalmis eerlik en sê hy enersyds dat ook hy van tyd tot tyd daarmee sukkel en dat hy nie altyd getrou is in sy oordenking van die Wet nie. Wat belangrik is, is dat ons nie sal identifiseer met die Psalmis se, "van tyd tot gebrekkige oordenking van die Woord nie", maar met "sy versugting om die saak reg te stel"

Die kerngedagte hier is egter dat hierdie versugting die primêre begeerte van ons hart moet wees – dit moet ook ons daaglikse gebed wees, want uit onself kan ons dit nie doen nie – Here hou ons op ’n vaste koers, sodat ons aan U voorskrifte kan bly hou

In verse 6-8 neem die Psalmis standpunt in en gaan hy oor tot aksie (6As ek al u gebooie in ag neem, sal ek nooit raad-op wees nie. 7U bepalings is regverdig; as ek hulle ter harte neem, sal ek U loof met ’n opregte hart. 8Ek sal my aan u voorskrifte hou: moet my tog nooit verlaat nie). Hy motiveer homself en herinner hom net weer daaraan, dat God se Wet regverdig is en as hy dít in ag neem, sal hy nooit raadop wees nie en hy weet ook dat indien hy gehoorsaam is, hy nie anders sal kan as om God te loof en te prys nie.

       In v.8 kom hy in die teenwoordigheid van die Here en neem hy homself voor en maak hy ’n belofte aan die Here, dat hy homself aan God se voorskrifte sál hou. Hy hou egter steeds sy swakhede en tekortkominge in ag en in nederigheid en afhanklikheid vra hy weer vir die Here om hom by te staan in hierdie noodsaaklike proses van heiligmaking. Hierin is daar ook ’n les vir ons opgesluit. Ons moet nie net vra nie, ons moet net soos die Psalmis in afhanklikheid van God, ’n besluit neem en oorgaan tot aksie.

4.    AFSLUITING:
            Geliefdes, mag hierdie worsteling, maar ook kragdadige optrede van die Psalmis, ook vir ons as bemoediging dien. Mag ons ook soos hy, ernstige besluite neem t.o.v. ons oordenking van God se Woord, maar mag ons ook in nederigheid en opregtheid ons sonde en tekortkominge bely, maar mag ons egter ook ons afhanklikheid aan God se genade en hulp verklaar en hom daarom vra. Laat ons altyd die woorde van die Hebreërskrywer in gedagte hou ~ Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie. 6Daarom kan ons met vertroue sê: “Die Here is my helper, ek ken geen vrees nie: wat kan ’n mens aan my doen? (Hebr.13:5b-6).

Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te VAALDRIEHOEK Gereformeerde Baptistegemeente – Sondagoggend 04 Januarie 2015