Saturday 14 January 2012

Sewe Briewe aan Sewe Gemeentes - 02 (Die Gemeente in Smirna)

1.     INLEIDING:
Ons leef in ’n uiters vyandiggesinde wêreld – ’n wêreld wat die waarheid van die Woord van God met al sy mag teëstaan. Hierdie aanslag raak by die dag erger, maar ons as gelowiges moet leer om voortdurend onder die beheer van Jesus Christus te staan en te leef en derhalwe staande te bly in die wonderlike Evangelie van Jesus Christus, want Hy is voorwaar Here en regeer oor hierdie aarde en SY Koninkryk en Sy kerk staan vasgeanker en daarom sal ...die poorte van die doderyk dit nie oorweldig nie (Matt.16:8 – O.A.V.).

Ons het verlede week begin kyk na Johannes se sewe briewe wat hy aan die sewe gemeentes in Klein-Asië gestuur het. Die eerste brief wat afgelewer was, was dié aan die gemeente in Efese. Die tweede gemeente wat hul brief ontvang, is die gemeente in Smirna.

Ons het ook gesien dat al die briewe aan die sewe gemeentes in Klein-Asië, oor dieselfde struktuur beskik, nl.:
Die Geadresseerde Gemeente
Beeld of Beskrywing
van Christus
Christus se Aanprysing
Christus se Bestraffing
Christus se Raad
Christus se Belofte
Die uitsondering is egter met twee gemeentes, nl. dié in Smirna en dié in Filadelfia – beide hierdie gemeentes het geen teregwysing, of bestraffing van Christus ontvang nie.

2.    SKRIFLESING:
Openb.2:8-11 ~ Skrywe aan die leraar van die gemeente in Smirna: So sê die Eerste en die Laaste, wat dood was en weer lewend geword het: 9Ek ken julle verdrukking en julle armoede, en tog is julle ryk. Ek weet ook van die kwaadstokery van die mense wat daarop aanspraak maak dat hulle Jode is, en dit nie is nie, maar tot die sinagoge van die Satan behoort. 10Moenie bang wees vir wat julle alles gaan ly nie. Kyk, die duiwel gaan party van julle in die tronk laat gooi,
sodat julle in beproewing sal kom, en julle sal tien dae lank baie swaar kry. Bly getrou tot die dood toe, en Ek sal julle die lewe as kroon gee. 11Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeente sê. Dié wat die oorwinning behaal, sal beslis nie deur die tweede dood getref word nie.

3.    DIE GEMEENTE IN SMIRNA (2:8-11):
·           Die Geadresseerde Gemeente: 
Openb.2:8a ~ Skrywe aan die leraar van die gemeente in Smirna.  Smirna was in baie opsigte net so ’n betekenisvolle stad as dié van Efese en in baie opsigte was hierdie stad in kompetisie met Efese, t.o.v. belangrikheid wat handelstatus ens. behels. Smirna was sowat 50 km. noordwes van Efese geleë en was gesien as die mooiste stad in Klein-Asië. Wat interessant is, is dat hierdie stad ongeveer 700 jaar oud was toe Johannes die openbaring van Christus ontvang het. Vandag is die Turkse stad Izmar hier geleë.

In hierdie stad was daar ook ’n tempel wat gewy was aan ’n godin met die naam van Roma wat die gees van Rome verteenwoordig het. In 26 v.C. is daar ’n tempel gebou om keiser Augustus te aanbid en in 25 n.C. een om keiser Tiberius te aanbid.

Die stad het baie en waarskynlik oorwegend, Joodse inwoners gehad wat sterk in die handelswêreld betrokke was en soos gewoonlik het sakelui baie nou saam gewerk met die owerhede en hierdie entrepreneurs het die owerhede uitgebuit en misbruik om op te tree teen die Christen gelowiges in Smirna.

Dit is nie baie duidelik wie die kerk in Smirna gestig het nie, maar omdat Paulus se derde sendingreis deur die hele Klien-Asië gestrek het (Hand.19:10), is die kanse goed dit die stigter van hierdie gemeente dan Paulus was.  Hierdie reis het tussen 53-56 n.C. plaasgevind.

·           Die Beeld van Christus:
Ons sien in Openb. 2:8b, dat Christus Homself as volg voorstel ~ So sê die Eerste en die Laaste, wat dood was en weer lewend geword het.  Hierdie "Titel" wat Christus vir Homself gee, nl. "die Eerste en die Laaste", is ’n direkte aanhaling uit Jes.44:6 en 48:12, waar dit gebruik word om Hom as Jehova (Here God) voor te stel.  Eendersyds bevestig Jesus dus dat Hy Jehova is, maar andersyds stel Jesus Homself dus ook voor as die ewige, of ewig lewende Een en Oorwinnaar oor die dood.  In kort stel Jesus Homself dus bekend as die Almagtige God – Hy wat beskik oor alle mag en gesag in hemel en op aarde. Met hierdie bekendstelling verwys Jesus egter ook na Sy kruisdood en Sy opstanding (dood en lewe dus).

Hy stel Homself verder ook voor as dié Een op wie die Kerk moet staatmaak, omdat, soos Fil.1:6 tereg sê, Hy die Een is ...wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom.  Alle dinge is dus van Hom, deur Hom en vir Hom.  Omdat Hy die enigste Een is wat die dood kon oorwin, kan Hy tereg sê dat Hy simpatie kan hê met die ergste vorme van beproewing wat enige gelowige denkbaar kan ervaar.

Hierdie gemeente in Smirna het geweldig swaar gekry en het erge vervolging gely, net omdat hulle getrou en gehoorsaam was aan Christus en die Waarheid en daarom kon hierdie bekendstelling van Christus as die “dood-oorwinnende-Christus” nie op ’n meer geleë tyd gekom het nie en dien dit as wonderlike bemoediging vir die gelowiges, want Jesus ís voorwaar dié Een wat die dood oorwin het en is Paulus se woorde in 1Kor.15:55-57 dus vir hulle saam met hierdie bekendstelling van Wie Jesus is, ’n ware bemoediging en troos ~ Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?” 56Die angel van die dood is die sonde, en die sonde kry sy krag uit die wet van God. 57Maar ons dank God dat Hy aan ons die oorwinning gee deur ons Here Jesus Christus.

·           Christus se Aanprysing:
Ons lees in Openb.2:9 die volgende aanprysing van Christus rig tot die gemeente in Smirna ~ Ek ken julle verdrukking en julle armoede, en tog is julle ryk. Ek weet ook van die kwaadstokery van die mense wat daarop aanspraak maak dat hulle Jode is, en dit nie is nie, maar tot die sinagoge van die Satan behoort.  Wat hier opmerklik is, is dat hier geen sprake van kritiek teen die gemeente is nie, trouens die gemeente in Smirna het vir drie uitstaande dinge bekend gestaan.

Die eerste uitstaande kenmerk van hierdie gemeente, was die feit dat hulle volhard en uitgehou het te midde van fel vervolging.  Presies watter vorm hierdie vervolging aangeneem het, is nie heeltemal seker nie, maar hoogs waarskynlik het dit die vorm van fisiese mishandeling behels, wat uiteindelik tot die dood kon lei.  Sulke vervolging is waarskynlik die ergste vorm van vervolging wat ’n gelowige kan ervaar.

Tweedens het die gemeente ook geweldige armoede ervaar.  Vir ’n gemeente om te midde van rykdom rondom hulle, bekend te staan as ’n armoedige gemeente, moes geweldig vernederend gewees het.  Hierdie armoede het waarskynlik voortgespruit uit die feit dat die gelowiges ontneem is van besigheidsgeleenthede ens. en dit was hoogs waarskynlik, o.a. omdat hulle nie toegegee het aan allerlei onwettige en onbybelse praktyke ten einde hulself te verryk en om besigheid te kon kry nie (vergelykbaar met hedendaagse praktyke van bedrog en omkopery?).  Bevordering in die werksomgewing was hulle waarskynlik nie beskore nie en onregmatige afdankings en vervolging in die werk was waarskynlik aan die orde van die dag.  Elke moontlike poging is waarskynlik aangewend om materiële verlies vir die gelowiges te verseker.  Verskriklike ostrasisme (verbanning en uitsluiting uit die gemeenskap) is dus toegepas op hierdie groepie gelowiges. 

Wanneer hierdie uiterste vorme van vervolging ons tref, verseker Christus ons, dat dit bloot uiterlik is en dat wonderlike vergoeding en eer en rykdom op diegene wag wat ly t.w.v. hulle gehoorsaamheid aan Christus en hierdie vergoeding en eer en rykdom sal ’n ewigheid duur!

Derdens het die gemeente smaad en laster en beswaddering en kwaadsprekery ervaar.  Hulle is volgens oorlewering beskuldig van talle onwaarhede en hulle is geïmpliseer by allerlei skandale.  Kan julle dink hoe dit sou gevoel en gewees het, as koerante en die internet toe al bestaan het!

Die mees pynlike daarvan, was die feit dat hierdie smaad en belastering, ens. deur sg. gelowiges teen hierdie Christene geloods was.  Ons moet in gedagte hou dat die heidense wêreld, die Jode gesien het as gelowiges en daarom was hierdie aanvalle deur "gelowiges", geloods deur Jode, of deur “gelowiges” van ander denominasies wat nie waarlik die getuienis van ’n godvrugtige lewe uitgeleef het nie, of hulle kon dalk ook “gelowiges” gewees het, wat openlik gekant was teen ’n godvrugtige lewe, maar wat die etiket van ’n Christen wou dra.  Hierdie sg. gelowiges was die gelowiges se mede-volksgenote wat deel was van die Joodse sinagoge, maar Christus verwys na hulle as “behorende tot die sinagoge van satan”, want hulle was direkte instrumente in die hande van die bose.  Dit is algemene kennis dat die mees flagrante en aakligste vervolging op gelowiges, juis geskied het deur mense wat hulleself gelowiges genoem het – daarom is die Engelse spreuk so waar ~ More deeply felt is the stab of a brother than that of a stranger. Bevestiging vir wat ook so pas gesê het van die Jode, vind ons op verskeie plekke in o.a. Hand.6 en 7; 10; 14; 17; 18; 19; 21; 24; 25; 28; ens.

Jesus het in Matt.24:22 gesê dat die gelowiges (en dit sluit natuurlik die gelowiges in Smirna in) se vervolging binnekort sou toeneem – verwysende natuurlik na die gebeure in 70 n.C., toe die tempel en Jerusalem "geval" het ~ En as dit nie was dat God daardie tyd ingekort het nie, sou geen mens dit oorleef nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal God daardie tyd inkort. Daar is egter ’n bemoedigende en vertroostende boodskap opgesluit vir die gelowiges in hierdie profesie van Jesus t.o.v. die vervolging van die gelowiges wat gaan toeneem, want in Openb.2:10 sê Jesus ~ En as dit nie was dat God daardie tyd ingekort het nie, sou geen mens dit oorleef nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal God daardie tyd inkort. Die gelowiges se vervolging sou dus toeneem, maar soos ons hier in Openb.2:10 sien, is dit vir hulle eie beswil, want deur hierdie vervolging ontwikkel die gelowiges "geestelike spiere" om te kan volhard tot die einde toe.

In die lig van wat ek so pas gesê het, moet ons as gemeente ook weet en onthou, dat ons ook vervolging sal ervaar wanneer ons gehoorsaam is aan Christus en die Waarheid van die Woord maar wat ’n vertroosting vind ons nie in hierdie bemoedigende woorde van Christus aan die gemeente in Smirna nie – laat ons dit altyd in gedagte hou!

·                    Christus se Bestraffing:
Soos reeds gesê, het hierdie gemeente in Smirna, tesame met die gemeente in Filadelfia, geen bestraffing van Christus ontvang nie – dit opsigself is waarskynlik die hoogste vorm van lof wat ’n gemeente kan ontvang, nl. Geen bestraffing!

·                    Christus se Raad:
Openb.2:10 ~ Moenie bang wees vir wat julle alles gaan ly nie. Kyk, die duiwel gaan party van julle in die tronk laat gooi, sodat julle in beproewing sal kom, en julle sal tien dae lank baie swaar kry. Bly getrou tot die dood toe, en Ek sal julle die lewe as kroon gee.  Sommige vorme van lyding is baie moeilik hanteerbaar en dit is ewe moeilik om mense wat gebuk gaan onder lyding werklik te vertroos en te bemoedig – veral sekere soorte lyding.  Dit is baie dikwels net die sekuriteit en vertroosting wat God voorsien, wat regtig vertroos.  Dit is so dat God op die regte tyd sulke sekuriteit en vertroosting, asook raad skenk.

Dit is egter baie interessant om te sien dat Christus hierdie groepie mense in Smirna eers waarsku, alvorens Hy hulle vertroos.  Waarom doen Hy dit?  Omdat dit baie dikwels ’n natuurlike gevolg en optrede by mense wat ly, tot gevolg het, nl. om te vrees.  Die probleem met vrees, is dat dit baie dikwels ’n mens se emosies lam lê.  Die teenoorgestelde van hierdie verlammende vrees, is moedige en dapper hoop.  Die antwoord dus op vrees en wanneer jy onder aanvalle verkeer, is om daardie aanvalle teen te staan en te beveg en dan sal jy die vervolging en vrees die hoof kan bied.

Tweedens waarsku Christus teen hoop wat ongegrond en “self opgeklits” is.  Hoop m.a.w. wat nie gegrond is op die Woord van God nie en hoop wat onrealisties is.  Sulke hoop lei gewoonlik na ontnugtering.  Die hoop wat Christus egter bied, is realisties en eerlik en staar realiteite in die gesig – dit bied dus nie vals hoop nie.  Dit is waarom Hy nie vir die gemeente in Smirna sê:  Moenie bang wees nie, hierdie swaarkry van julle sal binnekort verby wees.   Nee, Hy weet wat vir hulle voorlê en deel van die hoop wat Hy hulle bied, is om hulle voor te berei op wat wag, daarom dat Hy sê ~ Kyk, die duiwel gaan party van julle in die tronk laat gooi, sodat julle in beproewing sal kom, en julle sal tien dae lank baie swaar kry

Hy sê dus op die oog af vir hulle dat dit wat hulle tot dusver ervaar het, ’n vulletjie gaan wees, in vergelyking met dit wat nog gaan kom – nog meer vervolging is dus op hande!  Dit klink nie regtig na bemoediging nie!  En nog minder sal sulke tipe bemoediging in ons moderne era “afgaan”. 

Hoe ongevoelig dit ook al mag klink – harde en ongenaakbare feite en waarheid, bemagtig en staal gelowige “soldate” baie beter as valsbeelde van oorwinning wat nie ’n realiteit is nie.

Baie belangrike waarhede spruit voort uit hierdie somber waarskuwing wat Christus maak:
–     Soms kan gelowiges se beproewing onverbiddelik voortduur.
–     Agter elke stukkie vervolging wat oor die pad van ’n gelowige kom, sit die bose – Hy was ’n “mense moordenaar” van die eerste dag af.  Hoor wat sê Joh.8:44 van mense wat folteraars is ~ Julle is kinders van die duiwel; hy is julle vader, en julle wil doen wat julle vader wil hê julle moet doen. Hy was van die begin af ’n moordenaar. En hy staan nie aan die kant van die waarheid nie, omdat daar geen waarheid in hom is nie. Wanneer hy leuentaal praat, is dit volgens sy aard, want hy is ’n leuenaar en die vader van die leuen.
       Ons moet besef dat geen beproewing om dowe neute plaasvind nie.  Vir die gelowige is dit ’n herinnering aan die aakligheid van die sondige aard waarin ons almal nog steeds vasgevang is en fokus dit opnuut ons gedagtes op God se genade vir ons as sondaars – Hoe nodig het ons nie Sy genade nie!  Vir die gelowige is beproewing, ’n “eksamen”.  Indien hy die “eksamen” slaag, word sy karakter gebrei en word daar bygevoeg by sy hemelse beloning.
       Ons moet besef dat geen beproewing vir altyd aanhou nie – nog net “tien dae”.  Die getal tien kan hier ook ’n volheidsgetal simboliseer – bedoelende dat hierdie beproewing deur God in Sy soewereiniteit verordineer is en nie deur die satan nie.
       Ons moet vervolging verwag. Petrus waarsku ons in 1Pet.4:12 dat ons vervolging moet verwag

Geliefdes, ons as gelowiges moet leer om beproewing en vervolging te omhels - we must embrace our suffering.

Ons lees in Fil.3:10 hierdie swaar gelaaide en uiters gewigtige woorde van Paulus wat elkeen van ons wat bely dat ons gelowiges is, ten alle tye móét onderskryf en uitleef, nl. ~ Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood....

Hier is ’n paar dinge wat ons uit hierdie gedeelte in Filippense vir ons self moet toe-eien, ten einde voorbereid en toegerus te wees op vervolging en beproewing wat oor ons pad sal kom.

Paulus spreek in v.10, drie wense uit, nl.:
·           Om Christus te ken.  Dit is tog immers elke gelowige se begeerte, want as dit nie die geval is nie, is ons nie waarlik kind van God nie – hierdie is tog immers een van die merktekens van ’n ware gelowige. Ons kan dus met hierdie wens van Paulus identifiseer.
·           Tweedens spreek Paulus die wens uit om die krag van Christus se opstanding te ondervind. Hiermee het gelowiges ook nie ’n probleem nie, want dit is tog immers ons groot troos in die skadu van die dood en as dit nie was vir Christus se opstanding uit die dood nie, het ons ook geen hoop gehad om uit die dood te kan opstaan en ’n ewige lewe tegemoet te gaan nie.
·           In die derde plek spreek Paulus egter ’n wens uit waarmee ons as gelowiges ons nie graag vereenselwig nie, nl. om deel te hê aan Christus se lyding nie. Dit is egter noodsaaklik dat ons ook hierdie gebed saam met Paulus sal bid, want ons kan nie verwag dat Christus ons sal help en bystaan tydens beproewing, as ons nie deel het aan Sy lyding nie. 

Om deel te hê aan Christus se lyding beteken nié dat ons gewillig moet wees om vir andere se sonde te ly nie – net Jesus kon dit doen.  Nee, om deel te hê aan Jesus se lyding, beteken om vervolging wat van die wêreld kom, op dieselfde wyse te ervaar en te hanteer as wat Jesus dit gedoen het – ons reaksie moet dus elke keer dieselfde wees as Jesus se reaksie toe Hy vervolg, of benadeel was – Hy het elke keer geseën en nie vervloek nie.  Wanneer ons vervolging op hierdie wyse hanteer, sal ons nader aan Christus groei en sal ons vervolging baie beter hanteer, trouens, ons sal geseën word, elke keer as ons vervolging hanteer soos wat Jesus dit hanteer het. Ek het netnou gesê dat Petrus ons waarsku dat ons vervolging moet verwag, maar Petrus sê daarmee saam, dat ons bly moet wees as ons vervolging en beproewing ervaar, want wanneer ons deel het aan Christus se lyding, sal ons ...oorloop van vreugde by sy wederkoms in heerlikheid (1Pet.4:13).

Derdens doen Christus ’n ernstige beroep op die Kerk om getrou te bly.  Wat meer is, hierdie getrouheid moet nie tot ’n einde kom wanneer die beproewing of vervolging afneem of verby is nie – dit is ’n roeping tot die dood toe!  Dit impliseer dus dat vervolging deurgemaak en deurgestaan moet word sonder ’n gekla en gebrom of om die egtheid van jou geloof te kompromitteer; of om jou liefde vir God in die proses te verloor; of om jou vertroue in Sy getrouheid te verloor.  Hierdie getrouheid word natuurlik met die kroon van die lewe vergoed in die hiernamaals – Jak.1:12 ~ Gelukkig is die mens wat in versoeking standvastig bly. As hy die toets deurstaan het, sal hy as oorwinningsprys die lewe ontvang wat die Here belowe het aan dié wat Hom liefhet.  ’n Kroon is tekenend van koningskap en hierdie kroon wat elke getroue volgeling van Jesus Christus gaan ontvang, se glinstering gaan afhang van die dimensie van die draer se aardse arbeid, gehoorsaamheid en getrouheid.  In 2Tim4:8 lees ons van die “oorwinnaarskroon” ~ Nou wag die oorwinnaarskroon vir my, die lewe by God. Op die dag dat Hy weer kom, sal die Here, die regverdige Regter, dit vir my gee, en nie net vir my nie, maar ook vir almal wat met verlange uitsien na sy komsElkeen wat versoeking en vervolging suksesvol deurstaan sal die kroon van die lewe ontvang ~ Gelukkig is die mens wat in versoeking standvastig bly. As hy die toets deurstaan het, sal hy as oorwinningsprys die lewe ontvang wat die Here belowe het aan dié wat Hom liefhet (Jak.1:12).  So sal die “sielewenner” bv. ’n kroon van blydskap ontvang ~ Wie anders tog as julle is ons hoop en ons blydskap, die kroon op ons werk waarop ons trots sal wees wanneer ons met sy wederkoms voor die Here Jesus sal verskyn? 20 Júlle is immers ons trots en ons blydskap! (1Tes.2:19-20).  ’n Kroon van heerlikheid sal gegee word vir geestelike leiers wat getrou na die kudde omgesien het (1Pet.5:5).  Al hierdie krone en ander belonings sal gegee word deur die genadige hand van Jesus die Christus wie al hierdie gawes en dienswerk aan Sy kinders geskenk het, want uit onsself is ons in elk geval nie tot hierdie goeie dade in staat nie.

·           Christus se Belofte:
Openb.2:11 ~ Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê. Dié wat die oorwinning behaal, sal beslis nie deur die tweede dood getref word nie.  Weereens word hier ’n beroep gedoen op gemeentes wat in die Gees wandel, om aandag te skenk aan wát die Gees sê.  In hierdie boodskap lê daar ’n wonderlike belofte opgesluit vir die diegene wat oorwin, m.a.w. vir diegene wat tot aan die einde van hul dienswerk en lewe hier op aarde, volhard in hul geloof en gehoorsaamheid en getrouheid aan Jesus Christus.  Wat behels hierdie belofte? 
       Dit behels ewige immuniteit teen die “tweede dood”, m.a.w. die “triomfeerders” word gespaar van ’n ewige lyding in die hel en wat meer is, volgens Paulus in 2Tim.2:12, sal ... ons (wie) in die geloof volhard, saam met Hom regeer...

Die eerste dood is die fisiese dood waar die liggaam afsterwe en dit opsigself is pynlik vir die gelowige, maar genadiglik (prys die Here!), nie die tweede dood nie.  Dit word ondubbelsinnig in Openb.20:6 vir ons gesê ~ Geseënd en heilig is dié wat aan die eerste opstanding deel het. Oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom die duisend jaar lank regeer (Die getal 1 000:  Lang tydperk of groot hoeveel).  Wat is die tweede dood?  Openb.20:14 ~ Toe is die dood en die doderyk in die vuurpoel gegooi. Dit is die tweede dood, die vuurpoel.  Wie gaan die tweede dood ervaar – Openb.21:8 ~ Maar dié wat bang en ontrou geword het, die losbandiges, moordenaars en onsedelikes, bedrieërs en afgodsdienaars en al die leuenaars, hulle lot is die poel wat met vuur en swael brand, dit is die tweede dood.

’n Gemeente wat deur die beproewing gaan waardeur die gemeente in Smirna gegaan het, het hierdie tipe van bemoediging absoluut nodig gehad.  Baie gepas besoek Christus die “Eerste en die Laaste”, wie dood was en nou lewend, dié Een wie deur soortgelyke beproewing as dié van die gemeente in Smirna gegaan het en veel, veel meer as dit – Hy het oor die dood getriomfeer – Hy kom nou en Hy vertroos en bemoedig die gemeente in Smirna.  Hy vertroos hulle met realistiese en opregte hoop – hoop op ’n wonderlike triomferende en ewige lewe in die hiernamaals!

Hierdie selfde hoop, nl. hoop op ’n wonderlike triomferende en ewige lewe in die hiernamaals, is ook ’n belofte van hoop wat elkeen van ons in ons harte kan vertroetel.


[1] Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te VAALDRIEHOEK Baptiste Gemeente (Vereeniging) - Sondagoggend 15 Januarie 2012