Saturday 10 March 2012

Die Evangelie van Johannes - 14 (Die Dag van die Here)

1.     SKRIFLESING: 
Joh.5:1-17 ~ Hierna was daar weer ’n fees van die Jode, en Jesus het daarvoor Jerusalem toe gegaan. 2By die Skaappoort in Jerusalem was daar ’n bad met die Hebreeuse naam Betesda. Dit het vyf pilaargange gehad, 3waar daar baie gestremdes gelê het: blindes, kreupeles en lammes. 5Onder hulle was daar ’n sekere man wat al ag en dertig jaar lank siek was. 6Jesus het hom sien lê en het geweet dat hy al baie lank siek was. Toe vra Hy vir hom: “Wil jy gesond word?” 7Die sieke het Hom geantwoord: “Meneer, ek het niemand om my in die bad te sit as die water in beweging kom nie; en terwyl ek aansukkel, gaan iemand anders voor my in.” 8Jesus sê toe vir hom: “Staan op, tel jou goed op en loop. 9Oombliklik het die man gesond geword, sy goed opgetel en geloop. Dit was ’n sabbatdag. 10Die Jode sê toe vir die man wat genees is: “Dit is ’n sabbatdag; jy mag nie jou goed dra nie.” 11Maar hy antwoord hulle: “Die man wat my gesond gemaak het, het vir my gesê: Tel jou goed op en loop.” 12Hulle vra hom toe: “Wie is die man wat vir jou gesê het: Tel jou goed op en loop?” 13Die man wat gesond geword het, het egter nie geweet wie dit was nie, want Jesus het ongemerk weggegaan omdat daar ’n klomp mense op die plek was. 14Later kry Jesus hom in die tempel en sê vir hom: “Kyk, jy is nou gesond. Moet nou nie meer sonde doen nie, sodat daar nie iets ergers met jou gebeur nie.” 15Die man het vir die Jode gaan vertel dat dit Jesus is wat hom gesond gemaak het. 16Die Jode het toe teen Jesus te velde getrek omdat Hy dit op ’n sabbatdag gedoen het. 17Maar Jesus het Hom teen hulle verweer: “My vader werk tot nou toe, en Ek werk ook.”   

2.    INLEIDING:
Ons sien in ons gelese gedeelte dat Jesus in vv.1-9 ’n siek man by die bad van Betesda, genees. Hierdie bad van Betesda was in werklikheid twee baddens wat langs mekaar was en is ’n klompie dekades gelede deur argeoloë ontdek (vandag staan hierdie bad bekend as die Bad van St. Anne). Die mense van destyds het geglo dat die water van hierdie bad, helende krag besit het. Hulle het geglo dat die water op sekere tye deur ’n engel geroer word, en as jy op daardie oomblik in die water is, ontvang jy genesing vir watter siekte ook al. Ons lees ook hier dat hierdie siek man homself nie kon help nie – iemand moes hom in die bad geplaas het. Hy het egter lank langs die bad gelê omdat daar niemand was wat hom in die bad kon plaas nie en daarom was hy totaal hulpeloos en afhanklik en kan hy vir homself niks doen nie – en wat gebeur? Jesus sien hierdie man raak in Sy nood en Sy fokus brand in op hierdie man en Jesus genees hierdie man deur net ’n woord te spreek ~ Staan op, tel jou goed op en loop (v.8).

Hierdie man is hulpeloos en Jesus spreek net ’n woord en die man is genees. Hierdie is so ’n tipiese beeld van wat keer op keer in die Woord van God gebeur – God reik uit na ons; Hy neem die inisiatief – en ons kan maar net glo en dan opstaan en loop! Hierdie gedeelte spreek dus (weereens) van Christus se inisiatief wat Hy neem om ons as sondaars te verlos en te genees. Ons was ook op ’n stadium geestelik blind (vgl. Joh.2) – eens geestelik verlam en die woorde van Paulus in 1 Kor.2:14 was ook van ons waar ~ Die mens wat nie die Gees van God het nie, aanvaar nie die dinge van die Gees van God nie. Vir hom is dit onsin. Hy kan dit ook nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel moet word. Die vraag wat Jesus vir die mense van Sy dag gevra het, is ook op ons van toepassing ~ Waarom ken julle my spraak nie? Omdat julle na my woord nie kan luister nie (Joh.8:43 – O.A.V.). Die E.S.V. stel dit eintlik nog beter wanneer dit sê dat ons nie kan verstaan nie, omdat ons dit nie kan vat om na Sy Woord te luister nie.

Dit is juis vir sulke mense dat Jesus gekom het – vir die blindes en lammes en siekes en by Betesda stap hy tussen ’n klomp mense deur wat wag op genesing en Sy oog val op een spesifieke man wat al 38 jaar langs die bad lê en wag dat iemand hom in die water moet sit en Jesus reik uit na hóm – en die ander? Enersyds het niemand Hom herken nie, want hul oë was nie op Jesus gerig nie, maar op die roerende waters van Betesda, maar andersyds het Jesus een man uitgesonder tussen die massas – Hy het een sieke gekies. Jesus het vir die man by die bad gevra ~ ...Wil jy gesond word? 7Die sieke het Hom geantwoord: “Meneer, ek het niemand om my in die bad te sit as die water in beweging kom nie; en terwyl ek aansukkel, gaan iemand anders voor my in.” 8Jesus sê toe vir hom: “Staan op, tel jou goed op en loop. 9Oombliklik het die man gesond geword, sy goed opgetel en geloop (vv.6-9).

Jesus het egter, net soos in die geval van die man by die bad van Betesda, ook uitgereik na ons en die inisiatief geneem om ons geestelik te genees – en dít is genade! Die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is (Luk.19:10). My liewe vriend/vriendin, as jy dalk nog "lam langs die bad van Betesda lê"; as jy dalk nog geestelik lam is – Jesus het gekom om ook vir jou te red as jy jou oë op Hom vestig en in Hom glo.

3.    JESUS EN DIE SABBAT:
Ons lees egter verder in hierdie verhaal van die siek man, hierdie volgende baie interessante stelling ~ Dit was ’n sabbatdag (v.9). Skielik neem hierdie verhaal ’n nuwe wending aan, want hier word die eerste klagte op die klagstaat teen Jesus geformuleer – daardie klagstaat wat uiteindelik tot Sy kruisdood sou lei.

Die vraag is egter of hierdie saak t.o.v. die Sabbat enige relevansie vir ons in ons dag het? Ek meen wel so. Die Fariseërs het Jesus baie vrae gevra t.o.v. die Sabbat en wel met aaklige bymotiewe – hulle wou ontslae raak van Jesus, maar wat is die kern van Jesus se standpunt? Luk.6:5-9 ~ Verder sê Hy vir hulle: “Die Seun van die mens is Here oor die sabbat.”6Op ’n ander sabbatdag het Jesus weer in die sinagoge ingegaan en die mense geleer. Daar was ’n man met ’n gebreklike regterhand. 7Die skrifgeleerdes en die Fariseërs het vir Jesus dopgehou om te sien of Hy op die sabbatdag iemand sou gesond maak sodat hulle ’n aanklag teen Hom kon kry. 8Maar Hy het hulle gedagtes geken en vir die man met die gebreklike hand gesê: “Staan op en kom staan hier in die middel.” En hy het daar kom staan. 9Toe sê Jesus vir hulle: “Nou vra Ek julle: Mag ’n mens op die sabbatdag goed doen of kwaad doen, iemand red of doodmaak?” Ons sien hier dat Jesus dus ook Here óór die Sabbat is (Mark.2:27-28). Nou wat beteken dit? Dit beteken in kort twee dinge:
·           God het die Sabbat ingestel tot die mens se voordeel en verfrissing en nié sodat die mens allerlei wettiese gewoontes en reëls rondom die Sabbat in stand moet hou nie.
·           Markus beklemtoon dit dan ook, dat Jesus, die Meester is van o.a. ook die Sabbat, omdat Hy soewereine gesag daaroor beskik (sien o.a. Mark.3:1-5; Matt.12:9-14; Luk.6:6-11).

Om meer lig hierop te werp, moet ons na Matt.12:1-8 kyk ~ In dié tyd het Jesus op ’n sabbatdag deur gesaaides geloop. Sy dissipels het honger geword en are begin pluk en van die koring geëet. 2Toe die Fariseërs dit sien, sê hulle vir Hom: “Kyk daar! U dissipels doen iets wat op die sabbatdag nie gedoen mag word nie. 3Maar Hy sê vir hulle: “Het julle nie gelees wat Dawid gedoen het toe hy en sy manne honger geword het nie? 4Hy het in die huis van God ingegaan en van die offerbrood geëet, wat hy en sy manne nie mag gedoen het nie, maar net die priesters. 5Of het julle nie in die wet van Moses gelees dat die priesters op die sabbatdag in die tempel diens moet doen nie? Hulle oortree dus die sabbatsgebod, en tog is hulle nie skuldig nie. 6“Ek sê vir julle: Hier is Een wat groter is as die tempel. 7As julle begryp het wat dit beteken: ‘Ek verwag barmhartigheid en nie offers nie,’ dan sou julle nie mense wat onskuldig is, veroordeel het nie. 8Die Seun van die mens is immers Here oor die sabbat.”  

Die Sabbat was deur die Jode gekoester as ’n heilige instelling deur God self. God het natuurlik self die Sabbat aan die Jode gegee na hul uittog uit Egipte ~ Sorg dat jy die sabbatdag heilig hou. 9Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet, 10maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God. Dan mag jy geen werk doen nie, nie jy of jou seun of jou dogter of die man of vrou wat vir jou werk, of enige dier van jou of die vreemdeling by jou nie. 11Die Here het in ses dae die hemel en alles daarin gemaak, die aarde en alles daarop, die see en alles daarin. Op die sewende dag het Hy gerus, en daarom het die Here dit as gereelde rusdag geheilig (Eks.20:8-11 – sien ook Neh.9:14). Hierdie opdrag tot Sabbatsonderhouding was ’n spesiale teken tussen Israel en God ~ “Jy moet vir die Israeliete sê: Onderhou my sabbatte. Dit is van geslag tot geslag ’n teken tussen My en julle sodat julle kan besef dat Ek, die Here, julle vir My geheilig het. 14Onderhou dus die sabbat. Dit moet vir julle ’n gewyde dag wees. Hy wat dit ontwy, moet doodgemaak word. Wie op dié dag werk, moet van sy volk afgesny word. 15Ses dae kan daar gewerk word, maar die sewende dag is ’n rusdag, ’n sabbat wat gewy is aan My, die Here. Elkeen wat op die sabbatdag werk, moet doodgemaak word. 16“Die Israeliete moet die sabbat onderhou. Ook op hulle nageslag lê die verbond ’n blywende verpligting om die sabbat te onderhou. 17Dit sal vir altyd ’n teken wees tussen My en die Israeliete. In ses dae het Ek, die Here, die hemel en die aarde gemaak, maar op die sewende dag het Ek nie gewerk nie, maar gerus.” (Eks.31:13-17).

Daar is nêrens in die Woord van God, enige uitspraak dat God die Sabbat vir enige ander volk gegee het nie. Behalwe dat Moses in Eks.20:10 gesê het dat die Jode nie op die Sabbat mag werk nie, het hy slegs enkele ander dinge genoem wat die Jode nie op die Sabbat mag doen nie, bv. in Eks.35:1 word gesê dat die Jode nie op die Sabbat ’n vuur mag aansteek om kos voor te berei nie; of om hout bymekaar te maak ten einde ’n vuur te maak nie (Num.15:32); in Jer.17:21 (O.A.V.) word gesê dat hulle nie laste op die Sabbat mag dra nie (so jammer dat die N.A.V. amper die Joodse tradisies hier wil ondersteun, deur te sê dat hulle niks mag dra op hierdie dag nie) en in Neh.10:31 en 13:15, 19 word gesê dat die Jode nie besigheid op die Sabbat mag bedryf nie.

Die Joodse tradisie het egter nog ’n verdere 39 optredes bygevoeg wat nie op die Sabbat mag plaasvind nie, soos bv. om op grond van Jos.3:4 (’n totaal verkeerde interpretasie van hierdie gedeelte natuurlik) te sê hoe ver hulle op die Sabbat mag reis. In kort, die Sabbat het ’n las geword vir al wat Jood is – ’n tipiese versinnebeelding van die godsdienstige skuldlas waarin die Judaïsme verval het.

Toe Jesus dan die Sabbattradisies openlik begin oortree het, was dit soos ’n oorlogsverklaring teen die Fariseërs.

Nou terug na Matt.12 waar Jesus se dissipels koringare uitgevryf het – die Jode het dit gesien as kosmaak en werk op die Sabbat – ’n oortreding dus van hul aangelaste tradisies en nie ’n oortreding van die Woord van God nie. Daarom dat Jesus met twee argumente hier na vore kom:
·           Wat het Dawid gedoen (terug na die Woord dus)? Dawid se optrede word in Matt.12:3-4 beskryf – hy en sy manskappe het op die Sabbat, van die tempel se toonbrode (offerbrode) geëet omdat hulle honger was – Jesus sê ~ Hulle oortree dus die sabbatsgebod, en tog is hulle nie skuldig nie (Matt.12:5b).
·           Wat het die priesters gedoen? Volgens Matt.12:5-6 het hulle op die Sabbat in die tempel gewerk. Ook van hulle sê Jesus ~ Hulle oortree dus die sabbatsgebod, en tog is hulle nie skuldig nie (Matt.12:5b).

Spesifiek wat Jesus se argument t.o.v. Dawid betref, was dit ’n baie geldige en goeie argument, want net soos wat honger koning Dawid toegelaat het dat sy ewe honger manskappe van die toonbrode mag eet, net so het Hy wat Jesus is – Hy wat Here oor die Sabbat is, Sy honger dissipels toegelaat om op die Sabbat te eet. Jesus was dus meer besorg oor Sy eie mense (net soos wat Hy vandag nog steeds is), as wat Hy besorgd was oor uitgediende, onbybelse Joodse tradisies.  

In kort sê Jesus dus vir die Fariseërs dat die Sabbat bedoel is om ’n seën te wees en nie ’n las nie.

Waar laat dit ons? As Jesus, Here oor die Sabbat is en as ons nie deel het aan die Ou Testamentiese Verbond nie en as die Sabbat vir ons ’n seën moet wees en nie ’n las nie – hoe moet ons dan omgaan met die Sabbat? Laat ek ook net dadelik sê dat wanneer ek praat van die Sabbat in ’n Nuwe Testamentiese konteks, praat ek nie van ’n hedendaagse Saterdag nie – dit is ’n onderwerp vir ’n ander dag, waarin ek kan aantoon waarom ons die "Sabbat" op ’n Sondag gedenk en nie meer op ’n Saterdag nie. Wat ek wel net kortliks wil noem, is dat Handelinge bv. die woord "Sabbat" net nege keer gebruik en nie een keer was dit gebruik om ’n onderhouding van die Sabbat te regverdig nie – dit was gebruik om na ’n Sabbatsreis te verwys (Hand.1:12) – dit het bloot net die afstand aangedui wat Jesus en Sy dissipels op die betrokke dag gestap het. Ander kere weer het dit net verwys na die bepaalde dae waarop Paulus die geleentheid aangegryp het om die klomp Jode op een slag (in die tempel op die Sabbatdag) bymekaar te kry te einde te preek (Hand.13:14,27,42,44; 15:21; 16:13; 17:2; 18:4).

In die Sendbriewe word dit uitdruklik gestel dat gelowiges vrygestel is van die onderhouding van al die Sabbatswette en reëls en regulasies (bv. Kol.2:16-17 en Gal.4:9-11). Net dalk ’n laaste opmerking oor Jesus en die Sabbat: Waarom het Jesus dan self die Sabbat onderhou? Ons moet onthou dat hy onder die Joodse wette en die Ou Verbond gebore is – daarom dat Hy homself in gehoorsaamheid aan die Sabbat onderwerp het, maar Paulus sê in Kol.2:14, dat Jesus, met Sy dood al die eise van die Wet opgehef het ~ Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem.

Hoe moet ons as Nuwe Testamentiese gelowiges dan die "Sabbat" (Sondag) deurbring?

As uitgangspunt, dink ek is dit belangrik dat ons net vir ’n oomblik weer Lev.20:8 en 1 Pet.1:16 in herinnering roep ~ Wy julle aan My. Wees heilig, want Ek is die Here julle God, (Lev.20:8) en 1 Pet.1:16 ~ Daar staan immers geskrywe: “Wees heilig, want Ek is heilig.” In die lig hiervan, moet ons kyk na wat die heilige God sê t.o.v. hoe Hy die Sabbat deurgebring het en hoe Hy wil hê dat ons wat heiligheid moet najaag, dit ook moet doen.

4.    DIE DAG VAN DIE HERE:
·           Ons lees in Gen.2:2-3, nadat God die hemel en die aarde geskape het ~ Op die sewende dag was God reeds klaar met die skeppingswerk en het Hy gerus na al die werk wat Hy gedoen het. 3Hy het die sewende dag as gereelde rusdag geheilig, want op daardie dag het Hy gerus na al die skeppingswerk wat Hy gedoen het. Die Rusdag is dus ’n instelling van God en is ingestel, nog voor die Eksodus wetgewing, of die Joodse tradisionele toevoegings tot die wet en die Sabbat. Gepraat egter van die Wet – God het die Rusdag so hoog geag dat Hy dit weer bevestig en deel uitmaak van Sy Wet aan die Israeliete en wel as vierde gebod. God wil ons herinner aan hoe hoog Hy die Sabbat ag, deur die Gen.2-opdrag om te rus en hierdie dag te heilig, deel laat uitmaak van Sy morele wet en al het die onderhouding van die Tien Gebooie weggeval, het die essensie van hierdie morele wet nie weggeval nie (net soos wat ons nie die essensie van die sesde gebod, nl. dat ons nie mag doodslaan nie, kan laat wegval nie, ens.). Ons as gelowiges het dus ’n morele verantwoordelikheid om die Sabbatdag te gedenk en in ere te hou – al sê die Nuwe Testament nie vir ons wat ons mag en nie mag op ’n Sondag nie, moet Sondae vir ons ’n spesiale dag wees, wat opsy gesit word vir spesiale aanbidding en lofprysing en oordenking van die Woord van God – dit moet voorwaar ’n rusdag wees waarop ons rus van al die aktiwiteite van die week en die dag gebruik om op God te fokus.    
·           Ons lees in Hebr.10:25 dat die Hebreërskrywer sê dat Ons nie van die samekomste van die gemeente af moet wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom. Waarom moet ons nie die onderlinge byeenkomste versaak nie? Wel een van die redes is dat ons met ons bywoning van die erediens, ons geloof in en liefde vir Jesus Christus betoon.
·           Jesus sê in Matt.5:14 ~ Julle is die lig vir die wêreld. ’n Stad wat op ’n berg lê, kan nie weggesteek word nie. Jesus beklemtoon hier die belangrikheid daarvan dat ons getuies vir Hom teenoor die wêreld sal wees en wanneer ons God se opdrag om die "Sabbat te heilig", in stand hou, is ons ’n kragtige getuienis teenoor die wêreld daarbuite, want dit is ’n getuienis teenoor die wêreld van ons liefde vir Christus Jesus. Ons entoesiastiese en opgewonde getuienis teenoor andere t.o.v. ons kerkbywoning, stuur ’n kragtige en positiewe boodskap uit.
·           As gelowiges, is ons almal in afwagting op die wederkoms van Christus en ons kerkbywoning dien o.a. as aanmoediging en bemoediging vir mekaar om te volhard op hierdie pad van heiligmaking, sodat ons die koms van Christus met opgewonde afwagting tegemoet kan gaan. Ons onderhouding van die Sondag en ons bywoning van eredienste is daarom altyd ’n bemoediging vir medegelowiges.   
·           Om God Drie-enig te aanbid is van kardinale belang vir elke gelowige – dit is en behoort ons primêre fokus te wees, maar dit is en behoort ook ons primêre fokus tydens eredienste te wees en daar spruit baie voordele uit gesamentlike aanbidding van God:
-       God word gesamentlik deur die gemeente verheerlik;
-       Elke lidmaat het ’n besondere gawe van die Here ontvang waarmee hy die gemeente kan dien en dit kan besonderlik ook op ’n Sondag gebruik word om God te verheerlik (sang; begeleiding; voorbidding; bemoediging; diensbaarheid/tee skink; prediking; gasvryheid teenoor besoekers bv.; ens.).

Wanneer ons as gelowiges dan byeen is en elkeen se primêre fokus is om God te verheerlik en sy broers en susters te bedien met die gawes wat hy van die Here ontvang het, dra dit by tot beter aanbidding van God. Hoe tevrede en gelukkig moet Christus nie wees as Hy sien hoe ons as gemeente Hom op hierdie wyse aanbid en mekaar en andere deur ons onderlinge gawes bedien nie!
·           Om Sondag deur te bring as ’n spesiale dag, toegewy aan God, hou ongetwyfeld geestelike groei vir elkeen in. God se Woord is die primêre wyse van genade en geestelike groei in en deur ons lewens en daarom behoort elke preek, vir elke lidmaat, ’n besondere Woord van die Here in te hou wat goed en nodig is vir ons geestelike welsyn – die gepredikte Woord hou dus bepaalde geestelike seën vir elkeen van ons in – daarenteen, as ons dink dat ons al die antwoorde het, of dat ons teologies goed genoeg onderlê is en dat ons daarom nie lering op ’n Sondag nodig het nie, is ons op ’n pad van selfvernietiging en is ons oop skywe vir misleiding! Nee, ons het nodig om weekliks as gemeente ook opgebou te word in die allerheiligste geloof – dit is waarom Paulus in Ef.4:11-15 die volgende gesê het ~ En dit is die “gawes” wat Hy “gegee het”: apostels, profete, evangeliste, en herders en leraars. 12Sy doel daarmee was om die gelowiges toe te rus vir hulle diens en vir die opbou van die liggaam van Christus. 13So sal ons uiteindelik almal kom tot die werklike eenheid in ons geloof en in ons kennis van die Seun van God. Dan sal ons, sy kerk, soos ’n volgroeide mens wees, so volmaak en volwasse soos Christus. 14Dan sal ons nie meer kinders wees nie; ons sal nie meer soos golwe op en af en heen en weer geslinger word deur elke wind van dwaalleer as vals leraars ons met hulle slinksheid en listigheid op dwaalweë wil wegvoer nie. 15Nee, ons sal in liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe...

Dit is egter ook so dat die weeklikse Rusdag ook vir ons fisiese seën inhou, omdat dit noodsaaklik vir ons is dat ons liggame ook rus moet kry van ons weeklikse arbeid – daar is dus beide geestelike, sowel as fisiese voordele vir ons daarin om die Rusdag van die Here in stand te hou.
·             Daar is meer as 400 verwysings in die Bybel na kinders en dit gee aan ons ’n aanduiding van hoe belangrik kinders vir God is. God verwag van ouers (en spesifiek van die Pa as Priester in die huis) om ons kinders van Hom te leer en hulle na Jesus Christus as Verlosser te lei. In Deut.6:6-7 lees ons ~ Hierdie gebooie wat ek jou vandag gegee het, moet in jou gedagtes bly. 7Jy moet dit inskerp by jou kinders en met hulle daaroor praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan. Watter beter dag is daar nie om dit juis op ’n Sondag te doen nie – ja ook elke dag van die week, maar om jou kinders aan die gemeentebyeenkoms bloot te stel, bied hulle ook die geleentheid om te leer wat reg is; om die Woord te hoor; om saam met die gemeente die Here te loof en prys (ek hoor bv. elke Sondag vir Shi-Ann saam met die gemeente sing en dit moet welgevallig wees vir die Here om dit aan te hoor!). Die prediking bied verdere stof en geleentheid aan ouers om met hul kinders oor die Evangelie te praat – ouers se onderhouding van die Rusdag speel beslis ’n beduidende rol t.o.v. kinders se redding en ons moet dit nie onderskat nie.
·           Waarom het die eerste eeu se gelowiges die eerste dag (Sondag – Hand.20:7, 1 Kor.16:2) van die week opsygesit om Christus te aanbid? Omdat die eerste dag vir hulle spesiaal was, want dit was op die Sondag dat Jesus Chistus uit die dood opgestaan het – Sondag is dus "Opstandingsdag". Sondag het dus die dag geword waarop die Kerk van die Here Jesus, korporatief die reddingswerk van Christus deur Sy oorwinning oor die dood, gevier het. Sondae beklemtoon dus Jesus se reddingswerk.
·           Die laaste rede waarom ons as gelowiges die Sondag as baie spesiale dag moet gedenk, is omdat ons ’n baie spesiale seën van God ontvang, want God het ’n wonderlike belofte aan ons gemaak indien ons Sy Rusdag sal gedenk – en daarmee sluit ek af – Jes.58:13-14 ~ As jy nie op die sabbat oortree nie, op my heilige dag doen net wat jy wil nie, as jy die sabbat ’n vreugde noem, as jy die heilige dag van die Here in ere hou, as jy dit eer deur nie jou gewone gang te gaan nie, nie te doen net wat jy wil nie, en nie handel dryf nie, 14sal jy vreugde vind in die Here. Ek sal jou die land weer in besit laat neem, Ek sal jou laat eet van die opbrengs van die land van jou vader Jakob. Ek, die Here, het dit gesê.


[1] Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te VAALDRIEHOEK Baptiste Gemeente (Vereeniging) - Sondagoggend  11 Maart 2012