Saturday 9 June 2012

Die Brief aan die Hebreërs - 01 (God se Selfopenbaring)


1.    INLEIDING:
       Stuart Olyott sê in sy boekie, I Wish Someone Would Explain Hebrews To Me!: Every Christian needs to understand Hebrews. If they do not, they will misunderstand the Old Testament and willl also fail to fully appreciate what our Lord Jesus Christ has done, what he is doing now, and what He is going to do in the future. As a result they will remain spiritually stunted (ingeperk, geestelik "agterlik").

       Ene Dr. Charles Feinberg het gereeld vir sy studente gesê dat hulle Hebreërs nie sal verstaan as hulle nie die boek Levitikus verstaan nie, omdat Hebreërs gebaseer is op die beginsels soos vervat in Levitikus. Hy het egter ook sy studente bemoedig deur vir hulle te sê, dat hulle nie bekommerd moet wees nie, want teen die tyd dat hulle deur Hebreërs gewerk het, sal hulle Levitikus ook verstaan. Dit sal dus goed wees as julle tuis en op julle eie tyd, self deur Levitikus sal lees en werk, omdat Levitikus o.a. talle seremoniële simbole bevat wat aangespreek word in Hebreërs.

       Voor ons op ’n reis deur Hebreërs gaan, is dit noodsaaklik dat ons eers kyk na belangrike agtergrond aspekte en waarteen ons Hebreërs moet lees, preek en verstaan. Dit is ook belangrik dat ons hierdie dinge voortdurend in gedagte sal hou, wanneer ons Hebreërs bestudeer en daarom moet julle nie nou net luister na wat ek gaan sê nie, maar julle moet ook hoor wat ek sê.

       Hebreërs is by verre die beste kommentaar oor die Ou Testament. Dit verklaar vir ons die Ou Testamentiese geskiedenis. Dit verklaar vir ons die vervullings van die Ou Testamentiese profesieë. Dit verklaar vir ons die Ou Testamentiese seremonies en – offers wat almal heenwys na Christus, die groot en volmaakte offer wat vir ons sonde gebring is – wat heenwys na die ware Priester en Tussenganger tussen ons en God.

2.    AGTERGROND:
       Hierdie boek is waarskynlik so rondom 65 n.C. geskryf en wel ongeveer 35 jaar nadat ons Here Jesus Christus gekruisig is en opgestaan en opgevaar het na die hemel en nadat die Heilige Gees uitgestort is. ’n Groot aantal van die gelowiges wat hierdie boodskap ter insae gehad het, kon die gebeure rondom Jesus nog baie goed onthou, want baie van hulle was waarskynlik ooggetuies van wat nagenoeg 35 jaar vantevore gebeur het, trouens hulle kon waarskynlik hierdie grootse gebeure nie vergeet nie, want dit het hulle persoonlike lewens ingrypend verander.

       Selfs van die oorspronklike apostels het met die skryf van Hebreërs nog gelewe, maar die meeste van die gelowiges was reeds deel van ’n tweede geslag gelowiges en hulle het almal tot geloof gekom deur die prediking en getuienisse van die oorspronklike ooggetuies.

       Met die skryf van hierdie brief, het die tempel nog in Jerusalem gestaan, alhoewel daar reeds sterk aanduidings was dat dit nie meer lank die geval sou wees nie (Hebr.12:27). Intussen het die Joodse geloof egter voortgegaan soos in die verlede, alhoewel groot hoeveelhede Jode, gelowiges geword het en dit is juis aan ’n gedeelte van hierdie Jode wat gelowiges geword het, aan wie die Hebreërbrief gerig was.

       Daar is baie spekulasie oor wie die skrywer van hierdie brief is (of dalk preek?) en baie moontlikhede word geopper. Paulus word oor die algemeen genoem as die mees waarskynlike skrywer, maar omdat sy naam nie genoem word nie, kan ons nie aanvaar dat hy wel die skrywer was nie. Wat ons kán aanvaar, is dat hierdie brief wel deur een van die apostels geskryf is, omdat die vroeë kerk nie hierdie brief in die insluiting van die kanon sou aanvaar het, as dit nie deur ’n apostel geskryf was nie en daarom kan ons sekerlik sê dat die apostel, óf die skrywer van Hebreërs,  "sus of so sê."  

       Die brief sê nie vir ons presies waar hierdie groep gelowiges hulle bevind het nie – hoogs waarskynlik deel van dieselfde gemeente – iewers. Daar is kommentators wat reken dat hierdie gelowiges in Jerusalem was omdat daar soveel verwysing na die tempel is, terwyl ander weer reken dat hulle, hulself iewers in Italië bevind het (Hebr.13:24).  
      
       ’n Vraag wat ons ook altyd vir onsself moet afvra voor ons na ’n nuwe boek in die Bybel begin kyk; daaruit lees en/of daaruit preek, is die doel waarom die boek/brief geskryf is. Wat Hebreërs aan betref, is ons nie heeltemal seker wat die redes is nie.

       Wat wel duidelik blyk, is dat ons hier te doen het met ’n groep gelowiges, waarskynlik deel van ’n huisgemeente, of dalk ’n paar huisgemeentes, wat ontmoedig geraak het a.g.v. die toewyding wat van gelowiges vereis word en wel te midde van vervolging – dit is soos ’n vuur wat nat geraak het en nou rook die hoop hout net – met geen vlam nie. Tog is daar onder die as nog ’n paar gloeiende stompies hout wat aangeblaas kan word en dit is presies wat die skrywer deur hierdie brief wil doen – hy wil die vuur weer aanblaas en hulle daardeur aanmoedig en bemoedig om vas te hou aan hulle Christelike belydenis en geloof.

       Die boodskap, of dan lering wat die apostel in die Hebreërbrief deel met hierdie groep gelowiges, word vir ons pragtig saamgevat in die eerste drie verse van hoofstuk 1. Hy praat van openbaring: God (het) baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete (1:1); Hy praat van ’n Persoon: Hy (God) (het) met ons gepraat deur die Seun (1:1-2) en hy praat van die werk wat gedoen is: Hy (het) die reiniging van sondes bewerkstellig (1:3). Dit is dan presies  ook waaroor Hebreërs handel.

       Die wyse waarop die apostel die vuur weer aan die gang kry in die lewe van die gelowiges in Hebreërs, is om bepaalde grondwaarhede weer met hulle te deel, maar hy rig ook bepaalde waarskuwings en vermanings tot hulle.

       Wat die struktuur van die brief aan betref, bestaan dit uit twee afdelings. Daar is dertien hoofstukke in totaal. Van hoofstuk 1:1 af, tot en met 10:18 gee die apostel meestal lering en van 10:19 af deel hy hoofsaaklik waarskuwings en vermanings uit.

3.    SKRIFLESING:
       Hebr.1:1-14 ~ In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, 2maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun. God het Hom deur wie Hy die wêreld geskep het, ook erfgenaam van alles gemaak. 3Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God. Hy hou alle dinge deur sy magswoord in stand. Nadat Hy die reiniging van sondes bewerkstellig het, het Hy gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoë hemel. 4Hy is net so verhewe bo die engele as wat die Naam wat God Hom gegee het, voortrefliker is as hulle naam. 5Immers, aan wie van die engele het God ooit gesê: “Jy is my Seun, van vandag af is Ek jou Vader,” en ook: “Ek sal sy Vader wees, en Hy sal my Seun wees”? 6En wanneer God die Eersgeborene in die wêreld inbring, sê Hy: “Al die engele van God moet Hom aanbid.” 7Van die engele sê Hy: “Hy maak sy engele stormwinde en sy dienaars vuurvlamme.” 8Maar van die Seun sê Hy: “U troon, o God, staan vir ewig vas, met u koninklike septer laat U reg geskied. 9U het die reg lief en U haat die onreg. Daarom het God, u God, U onder groot vreugde tot Koning gesalf bo u tydgenote.” 10En verder: “U, Here, het in die begin die aarde gevestig, en ook die hemel is die werk van u hande. 11Dié dinge sal vergaan, maar U bly bestaan; soos ’n kledingstuk sal alles verslyt; 12soos klere sal U dit oprol; ja, soos ’n kledingstuk sal dit vervang word. Maar U, U bly dieselfde, en u jare het geen einde nie.” 13Van watter engel het Hy ooit gesê: “Sit aan my regterhand, totdat Ek jou vyande aan jou onderwerp het”? 14Is hulle dan nie almal geeste in diens van God, wat Hy uitstuur om dié te dien wat die saligheid gaan beërf nie?

4.    TEKSVERS:
       Hebr.1:1-2a ~ In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, 2maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun.

5.    GOD PRAAT IN DIE OU TESTAMENT:
       Hou ingedagte dat die ontvangers van hierdie boodskap, slap in die knieë geraak het wat hul geestelike lewe aan betref en die Hebreërskrywer wil hulle bemoedig en weer geestelike perspektief gee. Hy kom dan nou hier in vers 1 en hy val sommer met die deur in die huis, wanneer hy sê ~ In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat.... Die hoofgedagte hier, is dat God gepraat het.  

       Ons as gelowiges glo in God en ons weet dat God met Sy kinders praat. Hy het van die eerste dag dat die mens geskape is, met die mens gepraat – Hy het Homself dus aan die mens geopenbaar en die feit dat Hy met ons, Sy skepsele praat, impliseer dat ons ’n verantwoordelikheid en ’n verpligting het om na Hom te luister.

       Daar bestaan egter baie uitsprake en standpunte in kerklike kringe t.o.v. die wyse waarop God met die mens praat. Daar is baie groepe wat sê dat God steeds in ’n hoorbare stem met gelowiges praat, of as Hy dit nie hardop doen nie, praat Hy d.m.v. drome, openbarings, visioene, ens. met hulle. Andere weer sê dat God nie meer hardop, of d.m.v. drome of openbarings met die mens praat nie. As hy nie meer hoorbaar met ons praat nie, is die vraag hoe praat Hy dan met ons? Wat glo ons, hoe praat God met ons?

       Kom ons kyk weer na ons teksvers en dan sien ons dat God in die verlede baie met die mens gepraat het en Hy het op verskillende maniere met die mens gepraat. Ons sien bv. in Num.12:6-8 dat Hy die volgende sê ~ Luister na wat Ek sê: As daar ’n profeet van die Here onder julle is, maak Ek My aan hom bekend deur visioene en praat Ek met hom in drome. 7Maar met my dienaar Moses is dit anders Hy is die betroubaarste in my diens. 8Met hóm praat Ek direk en persoonlik, nie in raaisels nie. Hy sien selfs die gestalte van die Here. Hier sien ons eerstens, dat God met Sy profete gepraat het. Hoe het Hy dit gedoen? Hy het Homself d.m.v. visioene en drome aan hulle bekend gemaak. Hy het egter ook direk en persoonlik met hulle gepraat, soos met Moses die geval was. Gepraat van Moses, ons sien in Eks.20 dat God ook op ’n keer met Moses gekommunikeer het, deur met Sy vinger op kliptafels te skryf. Ander kere weer en dit was die meerderheid van kere, het die Heilige Gees op so ’n wyse Sy profete toegerus, dat hulle hul gedagtes in woorde uitgedruk het, wat presies die woorde was wat God aan die volk wou sê. God het ook d.m.v. magtige dade tot Sy volk gespreek; soms het Hy gefluister as Hy gepraat het, bv. met Elia by Horeb (1 Kon.19:12). Esegiël weer het God se stem d.m.v. visioene gehoor en Daniël het drome gedroom. Soms het God aan van die profete verskyn ("teofanie") – dink maar net weer aan Moses op die Berg Sinai (Eks19), of die brandende bos (Eks.3:2). God het aan Abraham in die gedaante van ’n mens verskyn en aan Jakob in die vorm van ’n engel.

       Natuurlik moet ons ook God se algemene openbaring meld, as wyse waarop Hy deur die eeue met alle mense praat (daarom dat geen mens ooit die verskoning sal hê dat hy nie van God geweet het nie) en waar word God se algemene openbaring beter beskryf as in Ps.19:1-4 ~ Vir die koorleier. ’n Psalm van Dawid. 2Die hemel getuig van die mag van God, die uitspansel maak die werk van sy hande bekend. 3Die een dag gee die berig deur aan die ander en die een nag deel die kennis aan die volgende mee. 4Sonder spraak en sonder woorde, onhoorbaar is hulle stem.

       Op grond van die feit dat God deur die profete met Sy volk gepraat het, kan ons dus ook onomwonde sê dat die ganse Ou Testament, God se spreke met Sy volk was en deur hierdie spreke van Hom, het Hy Homself aan Sy kinders bekend gemaak. 

       Die Ou Testamentiese spreke van God tot en deur Sy profete was egter nie om dowe neute nie, want God was voortdurend besig om Sy volk voor te berei op die koms van die Messias – Hy het oor ’n lang tydperk met hulle gepraat.

       Wat egter belangrik is, is om te besef dat hierdie profetiese woorde wat God se profete ontvang het, nooit God se finale woorde was nie – waarom nie? Omdat die klimaks en die finale punt van God se Ou Testamentiese profesieë nie in die profete se tyd gerealiseer het nie – Jesus die Christus was die klimaks van elke profesie en Hy sou eers veel – veel later, ná die profete se tydperk van optrede kom (ongeveer 400 jaar ná die laaste Ou Testamentiese profeet, nl. Maleagi).

       V.1 sê egter ook vir ons dat ~ In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete. Ons sien dus dat God nie alleen met die profete op baie maniere gepraat het nie, maar Hy het ook deur die profete, op baie maniere, met Sy kinders gepraat. Die profete het dus dit wat God aan hulle geopenbaar of gesê het, weer aan die volk Israel gesê, of oorvertel. Wanneer die profete gepraat het, het hulle dit ook op verskillende wyses gedoen. Sommige het presies herhaal wat God aan hulle gesê het (bv. Amos), terwyl andere weer God se boodskap op ’n vraag-en-antwoord wyse oorgedra het (Maleagi). Sagaria het dit weer d.m.v. tekens en wonders gedoen – die profete was manne van onkreukbare integriteit en het dus die boodskap getrou en korrek oorgedra.

       Deur God se profetiese spreke tot die mens, het dit hulle gehelp om hul geloof met ander te deel (dink aan Abraham en Isak); kon hulle teenstand weerstaan (dink aan Moses en sy konfrontasie met Farao); kon hulle in tye van nood en afhanklikheid met vertoue optree en bv. die vyand oorwin (dink aan Dawid en Goliat).

       Nooit was God se boodskap deur Sy profete ontydig, of vervelig, of onverstaanbaar, of onbelangrik nie. Wat meer is, God se woorde was altyd progressief van aard – m.a.w. dit het elke keer meer en meer oor en van God geopenbaar. God se spreke het ook daarop gedui, dat Hy altyd gretig was om met Sy kinders te praat, net soos wat Hy vandag nog steeds gretig is om met ons te praat.

6.    GROOT PRAAT IN DIE LAASTE DAE:
       As ons net v.1 in isolasie lees, kan ons vra, maar hoe praat God vandag met die mens? Soos aan die begin gesê, is daar mense wat vas glo dat God vandag nog d.m.v. profete; drome; tale; ens. met gelowiges praat. Die Hebreërskrywer verskaf egter dadelik in v.2 aan ons die antwoord wanneer hy sê ~ ...maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun.

       Hier in v.2 is ’n paar woorde waaraan ons aandag moet skenk:    
·           Eerstens word hier melding gemaak van ... hierdie laaste dae. Wat of wanneer is hierdie laaste dae? In die Grieks word "die laaste" dae" vertaal met ἔσχατος (eschatos) en ἡμέρα  (hēmera). Hierdie woord "eschatos" word in hierdie geval, eskatologies gebruik (die leer van die laaste dinge) – "die laaste dae" in hierdie geval begin dus met die koms van Jesus en die huidige tyd waarin ons lewe maak ook deel uit van die laaste dae – ons sien dit in Hand.2:17 ~ Só sal dit in die laaste dae wees, sê God: Ek sal my Gees uitstort op alle mense.... Die laaste dae sal voortduur, tot en met die dag dat Jesus Christus terug sal kom – Joh.6:39-40 ~ En dit is die wil van Hom wat My gestuur het: dat Ek van almal wat Hy My gegee het, nie een verlore sal laat gaan nie, maar hulle almal op die laaste dag uit die dood sal laat opstaan. 40Dit is die wil van my Vader: dat elkeen wat die Seun sien en in Hom glo, die ewige lewe sal hê; en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan”. Die woord "hēmera" dui vir ons ’n onbepaalde tydperk aan. Hierdie laaste dae, praat dus van die tydperk vanaf Jesus se eerste koms (Sy geboorte) tot en met Sy wederkoms. Ons het hierdie feit ook pragtig gesien, toe ons die reeks oor Openbaring behandel het.
·           V.2 sê ook dat God met ons gepraat het.... Verlede tyd. Dit is uiters belangrik dat ons hiervan kennis moet neem. Hy is dus nié meer besig om met ons te praat deur hedendaagse "profete" nie. Ook praat Hy nié meer met ons d.m.v. drome, soos wat baie mense beweer nie. Nee, God praat nié meer deur mense nie – nou, deur wie praat Hy dan?   
·           Derdens sien ons dat God deur Sy Seun gepraat het in hierdie laaste dae. Ons moet verstaan dat Jesus, God se laaste spreke was. Die Griekse woord wat vir die Seun hier gebruik word, is υἱός (huios), wat letterlik "in Seun" beteken en dit impliseer dat alles vervat is ín die Persoon van Sy Seun. Jesus Christus is dus die finale wyse waarop en waardeur God met die mens gepraat het – Hy praat nie meer deur profete nie, maar deur die Seun. Ons het dus hier te doen met ’n progressiewe openbaring wat vanaf die Ou Testament lei na die Nuwe Testament – dit ontwikkel van belofte tot vervulling (Matt.5:17 ~ MOENIE dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul – O.A.V.). En omdat die ganse Nuwe Testament om Jesus Christus sentreer, is die Nuwe Testament, Christus se spreke tot ons vandag.

       Ons kan en mag ons dus nooit laat mislei deur mense wat sê dat die Here vir hulle sus of so gesê het nie – God gee nie meer openbarings deur mense nie – daarvoor het ons Sy Woord ontvang – dit is God se spreke vir ons vandag, daarom dat Paulus in 2 Tim.3:16-17 vir ons sê ~ Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ’n regte lewenswyse te kweek, 17sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk!  

       Die samestelling van die Bybel (die kanon) is dus afgehandel – die Woord van God is volledig en om enige iets daarby te voeg of weg te laat is Godslastering ~ Ek betuig aan almal wat die woorde van hierdie profetiese boek hoor: As iemand iets hieraan byvoeg, sal God vir hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is; 19en as iemand een van die woorde van hierdie profetiese boek wegneem, sal God sy deel aan die boom van die lewe en aan die heilige stad wegneem waarvan in hierdie boek geskrywe is (Openb.22:18-19).

       Om dus saam te vat wat ons tot nou gesê het: God het in die Ou Testamentiese tyd, deur profete met Sy kinders gepraat, maar sedert Jesus gekom het en tot en met Sy wederkoms, praat hy met ons, deur die Skrif en nét deur die Skrif en daarom moet ons ook gereeld luister na wat God vir ons wil sê, deur die Woord gereeld te lees en te oordink en toe te pas in en deur ons lewe.

                       
7.    AFSLUITING:
            Hier in vv.1-2a van Hebreërs bevestig die Heilige Gees die verhewenheid van Jesus Christus. Die Hebreërskrywer wil dus vir die gelowiges wat hierdie skrywe ontvang het, ondubbelsinnig sê dat Jesus ver verhewe (groter) bo die profete is – Hy is veel groter as enige openbaring wat in die Ou Testament aan die profete gegee is, want Hy is die vervulling van alle waarheid en nog veel meer. God het Homself daarom, ten volle verwoord en uitgedruk in Jesus Christus. Jesus het die finale openbaring van en oor God aan ons gebring, daarom dat Hy in Joh.14:9 sê ~ Hy wat My gesien het, het die Vader gesien... (O.A.V.). En  hoe sien ons Jesus? Deur die Woord van God. God het  klaar gepraat. Ons het niks meer nodig nie!


[1] Boodskap deur Kobus van der Walt te Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Meyerton) - Sondag, 10 Junie 2012