Saturday 3 August 2013

Die Boodskap van Daniël - 05 (Waar is jou God?)


1.    SKRIFLESING:
       Ons het die vorige keer gesien dat koning Nebukadneser opdrag gegee het dat al die raadgewers in Babel om die lewe gebring moes word omdat hulle nie vir hom kon sê wat hy gedroom het nie. Daniël het egter daarop gevra of die voltrekking van die vonnis nie uitgestel kon word nie, omdat hy antwoorde het vir die koning.

       Ons het ook gesien dat Daniël nie dadelik die droom uitgelê het nie, maar dat hy homself eers voor God verootmoedig het in gebed, waarop die Here in vv.19-23, Sy liefde en genade aan Daniël betoon het, deur alles aan hom te openbaar wat nodig was om die koning tevrede te stel én om hom en sy vriende se lewens te spaar, waarop Daniël God se almag en alwysheid besing het.

       Daniël 2:24-49 ~ Toe is Daniël na Arjok toe vir wie die koning beveel het om die koninklike raadgewers dood te maak, en hy het vir hom gesê: “Moenie die koninklike raadgewers doodmaak nie. Vat my na die koning toe, en ek sal sy droom vir hom uitlê.” 25Arjok het toe dadelik vir Daniël na die koning toe gevat en gesê: “Ek het iemand onder die Judese ballinge gekry wat die droom vir die koning kan uitlê.” 26Die koning het toe vir Daniël, wat Beltsasar genoem is, gevra: “Kan jy vir my sê wat die droom is wat ek gehad het en wat sy uitleg is?” 27Daniël het die koning geantwoord: “Die raadgewers, die voorspellers, die towenaars en die sterrekykers is nie in staat om die droom waaroor u navraag doen, vir u te vertel nie. 28Maar daar is ’n God in die hemel wat geheime kan openbaar en wat aan u, koning Nebukadnesar, wil bekend maak wat in die toekoms gaan gebeur. In u slaap het u ’n droom, ’n visioen gehad. 29Toe u gaan slaap het, het u gedink oor wat in die toekoms sal gebeur, en Hy wat geheime kan openbaar, het aan u bekend gemaak wat gaan gebeur. 30Dit is nie omdat ek meer wysheid het as ander mense dat hierdie geheim aan my geopenbaar is nie, maar omdat die uitleg aan u bekend moet word sodat u ’n antwoord kan kry op die vrae waaroor u gedink het. 31“U het ’n visioen gehad. Daar was ’n groot beeld. Dit was hoog en het baie geblink. Dit het voor u gestaan, iets skrikwekkends. 32Die beeld se kop was van suiwer goud, sy bors en sy arms van silwer, sy maag en sy heupe van brons. 33Sy bene was van yster en sy voete deels van yster en deels van klei. 34Toe u nog so kyk, breek daar ’n klip los sonder dat ’n hand daaraan geraak het en dit tref die beeld teen die voete van yster en klei en verpletter dit. 35Die yster, die klei, die brons, die silwer en die goud is alles fyn gestamp en het geword soos kaf op die dorsvloere wat in die oestyd deur die wind weggewaai word, sodat geen spoor daarvan oorbly nie. Die klip waardeur die beeld getref is, het ’n groot rots geword en het die hele aarde bedek. 36Dit is die droom, en nou sal ek dit vir u uitlê. 37“U is die groot koning; die God van die hemel het aan u die heerskappy, die krag en die mag en die eer gegee. 38Hy het die hele bewoonde wêreld, die mense, die wilde diere en die voëls in u mag gegee en u die heerser oor hulle almal gemaak. U is die kop van goud. 39Ná u sal ’n ander koninkryk na vore kom wat nie so belangrik as dié van u sal wees nie, en daarna ’n derde, die een van brons wat oor die hele wêreld heerskappy sal voer. 40Die vierde koninkryk sal so sterk wees soos yster. Yster vergruis alles en stamp dit fyn. Soos yster wat alles vergruis, so sal dié koninkryk die ander fyn stamp en vergruis. 41Die voete en tone, deels klei en deels yster, wat u gesien het, wys op ’n koninkryk wat verdeeld sal wees. Dit sal iets van die sterkte van yster hê, want soos u gesien het, is daar yster tussen die klei. 42Die tone en voete, deels van yster en deels van klei, wys dat die koninkryk deels sterk, deels swak sal wees. 43Dat u gesien het dat die yster met klei gemeng is: daar sal ondertrouery tussen die mense wees, maar hulle sal nie ’n eenheid word nie, net soos yster nie met klei meng nie. 44In die tyd van daardie konings sal die God van die hemel ’n koninkryk oprig wat nooit vernietig sal word nie. Hierdie koninkryk sal nie deur ’n ander vervang word nie. Dit sal die ander koninkryk plat trap en vernietig, maar self sal dit vir altyd bestaan. 45En dat u ’n klip uit ’n rots sien losbreek het sonder dat ’n hand daaraan geraak het en dit die yster, die brons, die klei, die silwer en die goud verpletter het: God wat magtig is, het aan u bekend gemaak wat in die toekoms gaan gebeur. Die droom is waar en oor die uitleg is daar geen twyfel nie.” 46Toe het koning Nebukadnesar diep voor Daniël gebuig, aan hom eer betoon en opdrag gegee dat daar ’n graanoffer en ’n wierook offer aan hom geoffer moet word. 47Die koning het vir Daniël gesê: “Werklik, julle God is die grootste van al die gode, Hy heers oor die konings en Hy openbaar geheime, want jy kon hierdie geheim bekend maak. 48Die koning het hoë eer aan Daniël betoon, vir hom baie en groot geskenke gegee en hom aangestel as goewerneur van die hele provinsie Babel en as hoof van al die koninklike raadgewers. 49Op versoek van Daniël het die koning vir Sadrag, Mesag en Abednego in beheer geplaas van die administrasie van die provinsie Babel. Maar Daniël self het in die paleis gebly.

2.    DANIËL VERHEERLIK GOD:
       Die eerste karakter met wie ons in hierdie gedeelte van ons Skriflesing te doen kry, is Arjok – Arjok, die hoof van die koning se lyfwag (2:14) en die man wat opdrag van die koning ontvang het om al die raadgewers in Babel om die lewe te bring – insluitende Daniël en sy vriende.
      
       Arjok is ’n leuenaar – ’n man wat vir die koning lieg en hy doen dit om waarskynlik indruk te maak op die koning en so bietjie krediet te ontvang, of dalk bevordering – wie sal weet? Hy gaan na die koning en sê vir Nebukadneser in v.25b ~ Ek het iemand onder die Judese ballinge gekry wat die droom vir die koning kan uitlêEK het iemand gekry...! Het hy regtig iemand – vir Daniël, gekry? Nee, ons lees in v.24 dat Daniël na Arjok toe gegaan het en vir hom gevra het om hom na die koning te neem.

       Arjok se liegstorie kon egter daartoe bygedra het dat Daniël ook die geleentheid kon uitbuit ten einde lof van die koning te ontvang. Daniël kon maklik gesê het, o ja u majesteit, ek kan verseker, maar hy doen dit nie; hy lieg nie soos Arjok nie; hy oes nie lof vir homself in nie, want hy antwoord in vv.27-28 ~ Die raadgewers, die voorspellers, die towenaars en die sterrekykers is nie in staat om die droom waaroor u navraag doen, vir u te vertel nie. 28Maar daar is ’n God in die hemel wat geheime kan openbaar en wat aan u, koning Nebukadnesar, wil bekend maak wat in die toekoms gaan gebeur. Daniël bring onbeskroomd al die eer aan God Almagtig en hy gaan voort in vv.29 deur te sê ~ Toe u gaan slaap het, het u gedink oor wat in die toekoms sal gebeur, en Hy wat geheime kan openbaar, het aan u bekend gemaak wat gaan gebeur.

       Hier is ’n les vir ons te lere. Wanneer ons in die wêreld en tussen mense is, moet ons net soos Daniël, altyd eer aan God bring, eerder as om net stil te bly, of natuurlik nog erger, as om eer vir onsself te probeer versamel. Watter gawes, geleenthede en talente ons ook al oor beskik – God moet altyd die eer daarvoor kry, want dit is Hý wat dit aan ons geskenk het. Ons is bloot net God se diensknegte wat die werk doen wat Hy aan ons gegee het om te doen. Hierdie is dan natuurlik ook een van die vrugte van die Gees, nl. nederigheid (Gal.5:23). Dit is egter ook deel daarvan om my kruis op te neem en te identifiseer met Jesus, want Hy is die volmaakte voorbeeld vir ons van nederigheid, trouens Hy gee ook opdrag aan ons om nederig te wees ~ Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed (Matt.11:29). Om gehoorsaam te wees aan hierdie opdrag van Jesus, hou vir ons ’n heerlike belofte in - ... julle sal rus kry vir julle gemoed. Wat is hierdie rus waarvan Jesus praat? Dit is om vrede in en met God te ervaar, wat uiteraard op die ewige rus sal uitloop!

3.    DIE DROOM:
       Terug by die droom. Omdat God die Openbaarmaker van geheime is, was dit vir Daniël moontlik om die onmoontlike te vermag – hy kon, nie net die interpretasie van die droom met Nebukadneser deel nie, maar hy kon ook vir hom presies vertel wát hy gedroom het! Daniël maak dan geen geheim daarvan, dat dit nie hy wat Daniël is wat so oulik is om hierdie geheimenis met die koning te deel nie, maar dat dit God Almagtig is wat dit doen en net Hy en Hy alleen is by magte om dit te doen.

       Wanneer Daniël vir Nebukadneser aanspreek gee hy erkenning aan die koning dat hy waarskynlik die magtigste aardse koning van sy tyd is ~ U is die groot koning (v.37). Die OAV vertaal hierdie woorde met ~ U, o koning, koning van die konings. Hierdie magtige koning moes goed gevoel het toe Daniël hom so aangespreek het, maar terselfdertyd ontbloot Daniël die koning se menslike afhanklikheid van God en sê hy eintlik tussen die lyne ~  Arme jy, jy is toe eintlik ook nie so groot as wat jy dink jy is nie, want my God is dié enigste ware God – Hy wat alles weet – selfs dít wat jy in die geheim van jou binnekamer gedroom het en jy Nebukadneser, sit nou hier voor my en jy is afhanklik van my God om te weet wat jou droom, wat jou so pla, nou regtig beteken en wat meer is, die mag waaroor jy beskik, is deur God aan jou gegee en raai wat, jy gaan binnekort uitvind dat die einste lewende God, hierdie mag van jou gaan wegneem!

       Hoe dit ook al sy, Daniël gaan in vv.31-35 voort om vir Nebukadneser te vertel wat hy gedroom het. Nadat hy die inhoud van die koning se droom met hom gedeel het, begin hy om die droom uit te lê. Hierdie droom gaan oor ’n beeld, ’n groot, hoë en blink beeld – iets skrikwekkends (v.31) en Daniël beskryf hierdie beeld in vyf dele:
·           Kop van goud;
·           Bors en arms van silwer;
·           Maag en heupe van koper;
·           Bene van yster;
·           Voete van yster en klei.

       Daniël verskaf ’n kort en bondige beskrywing van elke deel van die beeld. Wat interessant is, is dat elkeen van hierdie vier metaalsoorte wat Daniël beskryf, verteenwoordigend is van die vier hoofmetaalsoorte wat in daardie tyd ontgin en gebruik was en goud en silwer het op rykdom gedui en koper en yster verteenwoordig mag en die mengsel van yster en klei dui op ’n rampspoedige swakheid.

       Die getal vier is ook ryk aan betekenis en ons sien bv. in Dan.7 dat Daniël in een van sy visioene, vier diere sien en daar word ook gepraat van die vier windrigtings; die vier hoeke van die aarde. In Gen.2:10-14 word daar bv. gepraat van vier riviere, ens. Hierdie getal vier is nie maar net om dowe neute in die droom gebruik nie. Die getal vier het gewoonlik ten doel gehad om iets omvattend aan te dui. Daar word bv. in Open.4:7-8 gepraat van vier lewende wesens om God se troon. Hulle verteenwoordig die hele skepping. In Jeremia 15:2-3 kondig God Sy oordeel aan wanneer Hy vier woorde in vers 2 gebruik om aan te dui hoe omvattend en onomkeerbaar Sy oordeel is.

       Hierdie droom gaan dus nie nét oor Nebukadneser en sy koninkryk nie, maar oor die omvattende wêreldgeskiedenis.

4.    DIE UITLEG:    
       Daniël se uitleg van die droom begin met die kop en ’n beskrywing van die belangrikheid van die Babiloniese Ryk. Die rede waarom hy hier begin, is omdat Daniël midde in daardie tydperk staan en dat dit hier gaan oor Nebukadneser wat die droom gedroom het en ’n uitleg daarvoor vereis.

       Daniël is baie wys en baie taktvol wanneer hy vir Nebukadneser sê ~ U is die groot koning... (v.37); ...U is die kop van goud (v.38b). Die goue kop verwys dus na Nebukadneser en die Babiloniese Ryk (625-539 v.C.). Ons vind Babel reeds vroeg in die Bybel en wel reeds in Genesis met Nimrod as heerser (Gen.10:8-12) en natuurlik die bekende gebeurtenis rondom die toring van Babel en die verwarring van tale (Gen.11:1-9). Babel was altyd ’n mag waarmee rekening gehou moes word, maar onder Nebukadneser het dit ongekende hoogtes bereik.

       Daniël was egter nie net taktvol teenoor die koning nie; hy is ook baie eerlik en reguit en daarom gaan hy voort en maak hy geen geheim daarvan dat dit nie volgens die toedoen van Nebukadneser is dat hierdie grootse koninkryk tot stand gekom het nie en Daniël skroom ook nie om dit, soos ons reeds gesien het, vir die koning te sê nie ~ U is die groot koning; die God van die hemel het aan u die heerskappy, die krag en die mag en die eer gegee 38Hy het die hele bewoonde wêreld, die mense, die wilde diere en die voëls in u mag gegee en u die heerser oor hulle almal gemaak. U is die kop van goud. Nebukadneser het natuurlik hierdie opmerking van Daniël in twyfel getrek en ons sal dit D.V. nog vorentoe in hoofstukke 3 en 4 sien.

       Na die Babiloniese tydperk sou meer koninkryke volg, maar almal sal, al was dit magtige Ryke, minderwaardig wees in vergelyking met Babel.

       In v.39 verwys Daniël na die tweede deel van die droom en spesifiek dan die bors en arms van silwer.

       Om nou te begin spekuleer oor watter deel van die beeld, watter koninkryk verteenwoordig, sal uiteindelik net by spekulasie bly, omdat die teks glad nie vir ons pertinent sê watter deel, watter koninkryk verteenwoordig nie. Daar is baie mense wat sê dat die tweede gedeelte van die beeld na die Mede- en Persiese Ryk (539-331 v.C.) met koning Darius as belangrikste heerser verwys en dit kan sekerlik so wees, omdat dit die volgende groot wêreldryk was wat op die Babiloniese Ryk gevolg het. Dit klink logies dat dit die volgende Ryk moes wees, want as ons na die geskiedenis kyk, het die Babiloniese Ryk tot ’n einde gekom gedurende 539 v.C. en die Mede- en Persiese Ryk se aanvang was ook in 539 v.C.

       Die derde deel van die beeld (die maag en heupe) was van brons gemaak. Hierdie gedeelte van die beeld verwys volgens baie mense na die Griekse Ryk wat op die Mede- en Persiese Ryk sou volg (331-63 v.C.). Let op dat daar ’n verskil is tussen brons en koper – brons is ’n koper wat met tin vermeng is en soms met bykomende elemente van lood, terwyl koper suiwerder is.

       Die laaste deel, nl. die bene wat uit yster bestaan, asook die voete wat uit ’n mengsel van yster en klei bestaan, verwys volgens baie analiste na die Romeinse Ryk (strek so ver tug as 753 v.C., maar die eerste keiser was Octavia wat homself as keiser Augustus in 27 v.C. aangestel het. Die Ryk het bestaan tot in 610 n.C.). As ons na vv.39-41 kyk, dan kan ons baie na aan reg wees om te sê dat dit verteenwoordigend is van die uiteindelike Romeinse Ryk wat die een land na die ander ingepalm het en wat uiteindelik ook verdeeld was, met ’n Oostelike Ryk en ’n westelike Ryk (v.41 ~ Die voete en tone, deels klei en deels yster, wat u gesien het, wys op ’n koninkryk wat verdeeld sal wees).

       Ons moet ons egter nie moeg maak, deur te probeer bewys watter deel van die beeld, watter koninkryk verteenwoordig nie, want dit is nie die punt van die uitleg van die droom nie en Daniël het dit ook nie so uitgespel aan Nebukadneser nie. Dit gaan in hierdie droom en uitleg, nié oor die wanneer en die wie nie, maar oor die wat t.o.v. die toekoms.

       Wat dan is dit wat Daniël vir ons wil leer?
·           God is die Een wat aardse koninkryke daarstel. Dit is Hy wat regerings daarstel. Dit is God wat gesag en krag aan hulle verleen. Geen regeerder, regering of wie ook al kan daarop roem dat hy of hulle uit eie krag daar gekom het nie – ook nie Mandela, of Zuma, of Mugabe nie. Daniël maak dit baie duidelik, soos ons reeds in v.37 gesien het, dat dit God is wat Nebukadneser, die krag en die mag en die eer gegee het. Daniël vergelyk Nebukadneser met Adam in v.38 en hy sê aan die koning dat net soos Adam, het God ook al Nebukadneser se mag aan hom geskenk. Daniël vergelyk die koning dan juis ook met Adam, om hom daardeur te waarsku, dat net soos wat al die mag van Adam gestroop was nadat hy gesondig het, ook die magtige "goue-kop-Nebukadneser" gestroop sou word van al sy mag en tot stof sou vergaan, indien hy sondig en volhard in sonde – wat hy natuurlik, wel gedoen het. Daniël sê dus maar net aan Nebukadneser wat hy vroeër vir God in sy gebed gesê het, dat God dié Een is ~  ...wat tye en omstandighede verander, wat konings afsit en konings aanstel... (v.21).

·           Die feit dat een koninkryk die ander opvolg in die droom, bevestig maar net dat alle koninkryke en alle regerings nie vir altyd in beheer sal bly nie – goud verander uiteindelik na silwer en silwer word uiteindelik brons en uiteindelik yster en klei. Soos wat die tyd aanstap, raak die rebellie van die mens en regerings teen God net erger en erger en in plaas daarvan dat daar verbetering kom, is daar ’n konstante agteruitgang en verval – sien ons dit nie maar in ons eie land; in ons eie kontinent; in die res van die wêreld nie! Uiteindelik het almal en sal almal maar net soos v.42 vir ons aantoon, voete van klei hê en vernietig word.

       Die beeld is dus ’n versinnebeelding van die wêreld en sy sug na mag en oorheersing en al groter wordende rebellie teen God Almagtig – ons sien hierdie patroon reeds van die sondeval af, regdeur die Ou Testament en ons sien dit van Christus se tyd af tot vandag toe – daar is net konstante agteruitgang wat uiteindelik sal lei tot ’n verskriklike einde.

·           Aan die einde van al hierdie verval egter, kom daar ’n Rots wat al hierdie koninkryke gaan vernietig (vv.34-35).

       Hierdie Rots is die Koninkryk van God wat reeds gevestig is nadat die Here Jesus Christus Sy aardse sending voltooi het en opgevaar het na die hemel. Ja, die verval en rebellie in hierdie wêreld gaan steeds voort, maar stadig maar seker vind daar ’n positiewe opbou na die finale vestiging van Christus se ewige Koninkryk plaas, wanneer Hy weer sal terugkeer na die aarde ~ ...want Hy het ’n dag bepaal waarop Hy regverdig oor die wêreld gaan oordeel deur ’n Man wat Hy uitgekies het. As bewys daarvan vir almal, het Hy Hom uit die dood laat opstaan (Hand.17:31).

5.    TOEPASSING:
       Wat moet ons met hierdie droom van Nebukadneser en Daniël se uitleg daarvan maak? Wat se betekenis hou dit vir ons vandag in?
·           Die verganklikheid van die aardse heerlikheid: Die feit dat, soos wat Daniël uit die uitleg van Nebukadneser se droom aangetoon het, die heerlikheid van hierdie wêreld verganklik is – dit is tydelik m.a.w. en daarom moet ons besef dat daar ’n nuwe Koninkryk reeds gevestig is, maar dat die volle omvang daarvan nog in die toekoms lê (die "reeds-en-die-nog-nie-beginsel") en dit is daarop dat ons, onsself moet instel. Soos al so dikwels in die verlede gesê, moet ons ’n ewigheidsperspektief ontwikkel – ons moet ons oë vestig op die beter Koninkryk wat kom en ons moet ons lewe daarvolgens inrig. Hierdie wêreld en alles wat dit bied, is nie waaroor die lewe gaan nie, want dit is van verbygaande aard.
·           Die koninkryk(e) wat ons bou: Aan die anderkant moet ons besef dat, al moet ons die ewigheid wat voorlê gedurig voor oë hou, ons steeds in hierdie verganklike wêreld is en dat ons as gelowiges ’n roeping het om hier te volbring. Daar is soveel dinge waaraan ons as kerk gehoorsaam moet wees – dink maar net aan ons "Matt.28:19-20-roeping" om die Waarheid in hierdie wêreld te leef en te verkondig – die Evangelie van Jesus Christus. Dink maar net aan al die opdragte wat Jesus aan ons gegee het om uitleef en te gehoorsaam, soos bv. dié in die Bergpredikasie (Matt.5), trouens al die opdragte van ons Verlosser wat Hy aan ons gegee het.


       Om heel prakties hieroor te wees – In Psalm 42 sê die Psalmdigter dat die mense vir hom vra, "Waar is jou God?" Ons moet gedurig vir onsself vra, "waar ís my God?" Ons moet dit vra as ons besig is met ons dagtaak. Ons moet dit vra as ons agter die stuur van ons motors sit. Ons moet dit vra as ons met ander rasse te doen kry. Ons moet dit vra as die regering wat deur God daargestel is, bedrog pleeg en nie doen wat van hulle verwag word nie. Ons moet dit vra as ons by die werk is; as ons ontspan; as ons kuier; as ons in die kuberwêreld besig is. Ons moet dit gedurig vra, want ons eerlike antwoord daarop, sal vir ons sê waar ons geestelik staan; waar God presies in ons lewe is - is ek besig om die roeping wat die Here Jesus op my lewe gelê het, uit te leef? Is my lewe 'n getuienis van my verlossing in Christus Jesus? Leef ek die oorwinningslewe wat 'n gelowige behoort te leef? Is die Vrug van die Gees in my lewe te bespeur? Leef ek my roeping uit waartoe ek geroep is as gelowige? Is ek waarlik wedergebore?


      Ons sê dikwels (ek dalk die meeste) dat ons ’n "ongewilde-Evangelie" verkondig en dan gebruik ons dit eintlik ten diepste as ’n verskoning om niks daaromtrent te doen nie, terwyl ons juis hierdie "ongewilde-Evangelie" met ’n passie moet verkondig, omdat dit Lewe impliseer ~ Maar aan God die dank! Hy voer ons altyd saam in sy triomftog omdat ons een is met Christus. Deur ons versprei Hy die kennis van Christus oral soos ’n aangename geur (2 Kor.2:14). 
·           Die Ewige Rots Jesus Christus: Soos ons reeds gesien het, is die rots in Nebukadneser se droom, niemand anders Jesus Christus nie. Vir Daniël was die koms van die Here Jesus as Messias iets wat nog in die toekoms gelê het en was dit derhalwe iets waarna hy geweldig uitgesien het. Vir ons daarenteen, is Jesus se koms reeds verlede tyd, maar terselfdertyd ook toekomende tyd. Jesus die Christus het gekom en Sy Koninkryk kom vestig en daarom roep God ons op om onsself aan die Rots Jesus Christus te onderwerp en Sy Koninkryk eerste te soek. Aan die anderkant moet ons egter ook uitsien na Sy tweede koms en daarom moet ons voortdurende gebed, dié van Openb.22:20 wees ~ Kom, Here Jesus!



[1] Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 04 Augustus 2013