Sunday 12 January 2014

Psalm 110 (“Ons Soewereine Verlosser”)

1.     INLEIDING:
       Ons staan aan die begin van ’n nuwe jaar en die meeste van ons, indien nie almal nie, het al lankal besef en besluit dat allerlei nuwejaarsvoornemens sommer net ’n klomp nonsens is en dat dit tog nooit werk nie – baie dikwels is die eerste dag van die nuwe jaar nog nie eens verby nie en vind jy dat jy alreeds een of meer van jou goeie voornemens nie nagekom het nie en die redes daarvoor is legio.

       As daar egter een voorneme is wat ons as gelowiges behoort te neem – en nie net aan die begin van die nuwe jaar nie, maar elke oggend en middag en aand van ons lewe, is dit dat ons, ons dag en nag en week en maand en nuwe jaar, in afhanklikheid van die Here Jesus Christus moet deurbring en watter beter voorneme kan daar wees, as juis dit, want Jesus Christus is ons soewereine Verlosser en as ons dit bely en leef, kan daar geen beter voorneme wees as juis dit nie, maar dit moet en mag nie net by ’n voorneme bly nie – dit moet ’n absolute leefwyse word, want dan sál dit goed gaan met ons. Waarom – waarom juis hierdie bepaalde voorneme? Kom ons lees Psalm 110. 

2.     SKRIFLESING:
       Psalm 110:1-7 ~ Van Dawid. ’n Psalm. Die Here het vir my heer die koning gesê: “Kom sit aan my regterhand, en Ek sal jou vyande aan jou onderwerp.” 2As die Here die septer, simbool van u mag, uit Sion aan u oorhandig, heers dan oor u vyande! 3U volk is gereed vir die dag waarop u u magte monster. U jongmanne is u krag as hulle teen dagbreek aantree, geklee vir die heilige stryd. 4Die Here het ’n eed afgelê en Hy sal dit nie herroep nie: “Jy sal altyd priester wees in die priesterorde van Melgisedek.” 5Die Here gee u die oorwinning, Hy verdelg konings die dag as Hy sy toorn laat losbreek. 6Hy straf die nasies, Hy verdelg hulle leiers, Hy laat die wêreld vol lê van hulle lyke. 7Die koning drink water uit die stroom langs die pad, hy sal die oorwinning behaal.

       Psalm 110 word algemeen beskou as die “Kroon van al die Psalms”. Hierdie Psalm, net soos Ps.2, was waarskynlik gebruik tydens kroningsplegtighede en –rituele in die vroeë Israel. Martin Luther het bv. gesê dat hierdie Psalm waardig is om bekroon te word met die kosbaarste edelstene.

       Spurgeon het hierdie Psalm se sewe verse in drie dele verdeel, met v.4 wat die middelste gedeelte uitmaak. Anders gesien, kan ons sê dat hierdie Psalm uit twee parallelle gedeeltes bestaan. Beide gedeeltes begin met die Here wat aan die woord is in vv.1 en 4 en dan die Psalmskrywer se reaksie of oordenking in vv.2-3 en 5-7.

       Die eerste gedeelte (v.1) praat van ~ ...my heer die koning (let op die kleinletters) en die tweede gedeelte praat van ~ ... priester wees in die priesterorde van Melgisedek priester wees in die priesterorde van Melgisedek (v.4). Ons sien ook in v.1 dat daar melding gemaak word van God se regterhand en dan ook weer in v.5. Ons vind dus ’n pragtige beweging van verheerliking in die hemel, na verheerliking op aarde. Die boodskap is dat die Here as koning, ’n universele en ewige koninkryk daarstel deur oorwinning oor Sy vyande.

3.     CHRISTUS SE HEERSKAPPY:
            Die sinnetjie in v.1, nl. ~ Die Here het vir my heer die koning gesê: “Kom sit aan my regterhand, en Ek sal jou vyande aan jou onderwerp, lei ons tot twee vrae:
·         Wie is hier aan die woord?
·         Tot wie word hierdie woorde gerig?

       Verskeie verklarings bestaan oor wie hier aan die woord is en tot wie hierdie woorde gerig is. Die ou Joodse Rabbi’s het o.a. gesê dat dit Melgisedek is wat hier met Abraham praat. 

       Dawid word ook in sekere kring as moontlikheid genoem, maar dit kon ook nie Dawid gewees het waarvan hier gepraat word nie, omdat Dawid nooit opgeneem is in die hemel soos wat v.1 suggereer nie – dieselfde redenasie geld dan uiteraard ook vir mense – konings en leiers soos Salomo, Serubbabel,  Sadok, Josua en om dieselfde rede kon dit ook nie Abraham en Melgisedek gewees het nie

       Hier is ook geen engel ter sprake nie, want die Hebreërskrywer sê ondubbelsinnig in Hebr.1:13 ~ Van watter engel het Hy ooit gesê: “Sit aan my regterhand, totdat Ek jou vyande aan jou onderwerp het”? 

       Die waarheid is dat hierdie woorde deur God self gespreek word en Hy praat hier in Ps.110 van Sy Seun, Jesus Christus, die Messias en Hoë Priester volgens die Orde van Melgisedek wat aan Sy regterhand sit, totdat Hy weer sal terugkeer na die aarde as die seëvierende Koning.

       Antieke aardse konings het dikwels hul regtervoet op die liggaam van ’n neergevelde en oorwonne vyand geplaas om sy oorwinning oor daardie bepaalde koning te demonstreer.   Net so word Christus ook hier beskryf as oorwinnaar oor die vyand – die satan, wanneer dit aan die einde van v.1 sê (OAV) ~ totdat Ek u vyande maak ’n voetbank vir u voet - en die vyand? Die satan natuurlik. Jesus se vyande sal dus almal aan Hom onderwerp word!  

       Jesus beklee dus die hoogste; mees bevoorregte en mees gesaghebbendste posisie in die ganse skepping.

       In vv.2-3 antwoord, of reageer die Psalmdigter nou op hierdie uitspraak wat God die Vader t.o.v. Sy Seun maak, deur te sê dat hierdie toekomstige heerskappy van die Seun, Jesus Christus, verseker gaan plaasvind, deurdat Hy Sy septer (teken van oorwinning en heerskappy en ook om guns en oordeel aan te dui) uiteindelik oor die ganse heelal uitgestrek sal hou, trouens hierdie proses is reeds aan die gang en sal sy klimaks bereik met Jesus se tweede koms.

       In v.3 sien ons dat die Seun se troepe – die ware gelowiges, gereed is om saam te veg. Wanneer vind hierdie geveg plaas? Die OAV vertaal v.3 met die woorde ~ ...op die dag van u krygsmag. Wanneer is hierdie ...dag van krygsmag? Hierdie dag van krygsmag strek van Jesus se hemelvaart tot en met Sy wederkoms – nou terwyl Hy aan die regterhand van God die Vader sit.

       Hoe vind hierdie geveg plaas? Paulus verskaf aan ons die antwoord in Rom.12:1 ~ En nou doen ek ’n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefenGee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Petrus sê in 1 Pet.1:15-16 ~ ...soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in julle hele lewenswandel heilig wees. 16Daar staan immers geskrywe: “Wees heilig, want Ek is heilig.” Dit is belangrik dat ons daarop sal let dat heiligmaking niks met wettisisme te doen het nie – ’n interessante verduideliking van heiligmaking is dat iemand wat heiligmaking najaag, die begeerte en strewe het om sy eie lewe en alles om hom te herstel tot dit wat dit was en hoe dit was voor die sondeval. Dit is ’n begeerte en strewe om my lewe te konformeer na die wese en karakter van Jesus Christus.

            Let op hoe stel die Psalmskrywer v.3 in die OAV – hy sê ~ U volk sal baie gewillig wees op die dag van u krygsmagU volk sal baie gewillig wees. Sy volk kies om diensbaar aan Hom te wees; hulle is vrywilligers wat onder geen dwang staan nie. Hulle is waar Jesaja was in hulle keuse om diensbaar te wees– hulle sê saam met Jesaja ~ Hier is ek! Stuur my! (Jes.6:8).

       Wanneer ek heiligmaking najaag in en deur my lewe, is ek besig om saam met Christus in hierdie heilige stryd te veg teen die satan en sy bose magte en is ek deel van Openb.19:14 se leër ~ Die leërs in die hemel het op wit perde agter Hom aan gery. Hulle het fyn, helder wit klere aangehad – hierdie wit perde en wit klere dui natuurlik op heilige en onbesmette lewens en dit is wat ons moet najaag.

       Jesaja  sê in Jes.1:19 dat indien ons gehoorsaam is en deelneem aan hierdie stryd, sal ons ...die goeie van die land eet, maar as julle weier (sê hy), sal die swaard júlle eet, want dit is die Here wat dit gesê het.

4.     CHRISTUSSE SE HOË PRIESTERLIKE AMP:
Hierdie geveg geskied o.l.v. Koning, Jesus Christus, maar meer nog – ons sien in v.4 dat Hy ook Priester is volgens die Orde van Melgisedek. Waarom word Melgisedek se naam so prominent hier genoem; waarom is dit belangrik dat Jesus volgens hierdie orde Priester is?

Ons kry slegs drie keer met Melgisedek in die Woord te doen. Hy word vir ons bekend gestel in Gen.14 as deel van Abraham se verhaal. Na hierdie bekendstelling is daar ’n duisend jaar stilte oor hom en word hy skielik weer hier in Psalm 110 vermeld – en sommer ook net so terloops. Na ’n verdere duisend jaar, kry ons weer met hom in Hebreërs te doen. Die Hebreërskrywer maak vier keer melding van Melgisedek (Hebr.5:6, 10; 6:20; 7:17) en ’n verdere vier keer van die Orde van Melgisedek (Hebr.5:6, 10; 6:20; 7:17). Die Hebreërskrywer sê o.a. van hom in Hebr.7:4 ~ Let nou op hoe groot hierdie man was aan wie Abraham, die stamvader, ’n tiende van die beste oorlogsbuit gegee het. Wie en wat was hierdie misterieuse man?

     In Gen.14 lees ons van Abraham wat Lot gered het van ’n koalisie van vier konings wat Lot en sy familie aangeval het. Op sy pad terug ná die geveg, ontmoet Abraham vir Melgisedek. Ons lees die verhaal van hierdie unieke ontmoeting in drie verse in Gen.14 – en dit is al wat in Genesis van hom vertel word ~ Melgisedek, koning van Salem en priestervan God die Allerhoogste, het vir Abram kos en wyn gebring 19en hom geseën: “Mag Abram geseën word deur God die Allerhoogste, Skepper van hemel en aarde. 20Geloof sy God die Allerhoogste! Hy het jou vyand in jou mag oorgegee.” Toe het Abram vir Melgisedek ’n tiende van alles gegee. 21Die koning van Sodom het vir Abram gesê: “Gee my net die mense en vat die besittings vir jou.” (vv.18-20). Hier word Melgisedek dus geïdentifiseer as ’n koning en priester van God wat van Salem in Sodom afkomstig was – dis al. Wat ons egter ook weet van hierdie man, is dat sy naam, eintlik ’n titel was wat hy gedra het, want ”Melgisedek” beteken “koning van geregtigheid”. Die uitdrukking, “koning van Salem” beteken “koning van vrede”. Klink hierdie titels bekend? Jesus Christus het vir ons geregtigheid geword en sodoende deur Sy dood, vrede tussen ons en God gebring. Melgisedek was dus ’n “Tipe van Christus” en het derhalwe vooruit gewys na Christus.

            Wanneer ons na Ps.110 kyk, word die naam of titel, “Melgisedek” baie duidelik gebruik as ’n tipe van Messias of Verlosser. In die eerste vers word die Here beskryf as Goddelike Verlosser aan wie die Vader heerskappy gegee het oor die vyande en dan in v.4 waarna ons nou kyk, word Hy beskryf as Priester volgens die Orde van Melgisedek. Ons sien dus dat Jesus beide Koning en Priester is (nes Melgisedek). Ons moet verstaan dat hierdie samevoeging van hierdie twee spesifieke ampte iets totaal ongehoords was in Israel – geen koning kon ’n priester wees nie en geen priester kon ’n koning wees nie – ’n goeie voorbeeld hiervan was toe Ussia, koning van Juda wierook in die Tempel wou brand en hy onmiddellik met melaatsheid gestraf is (2 Kron.26:16-23). Melgisedek wat nie ’n Israeliet was nie, was egter beide koning en priester en deur hierdie uitdrukking, “volgens die Orde van Melgisedek”, wil die Woord vir ons sê dat Christus uniek en derhalwe verhewe is bo enige Joodse priester of koning – Hy is inderdaad God en daarom heers Hy oor Sy Koninkryk, maar Hy is ook terselfdertyd Priester wat vir ons voorbidding kan doen.

Wat meer is, God het ’n eed geneem (Hy het by Sy eie Naam gesweer) dat Hy Sy Seun as Priester  na hierdie wêreld sal stuur. Wanneer God sweer, of ’n eed neem, is dit belangrik dat ons na Hebr.6:16-18 sal kyk om hierdie optrede van God beter te verstaan ~ Mense lê ’n eed af by iemand groter as hulleself. Vir hulle is dit die bevestiging van ’n saak, en dit sluit alle teëspraak uit. 17En omdat God aan die erfgename van die belofte bo alle twyfel wou verseker dat sy besluit onveranderlik is, het Hy dit met ’n eed gewaarborg. 18Die twee onveranderlike dinge, die belofte en die eed, waarborg dat God sy woord gestand sal doen, en is vir ons wat ons toevlug tot Hom geneem het, ’n kragtige aansporing om vas te hou aan die hoop op wat vir ons weggelê is.

Volgens die Hebreërskrywer is hierdie aanstelling van Christus as Priester volgens die Orde van Melgisedek ook uniek, anders en ewig, omdat Sy Priesterskap vir ons ’n beter hoop gee as dié van aardse priesters (Hebr.7:19). Hebr.9:9-11 sê ook vir ons dat Sy Priesterskap, gegrond word op ’n groter en volmaakte verbond en in Hebr.9:12-14 word dit vir ons bevestig, dat Christus se Priesterskap nooit tot ’n einde sal kom nie.

Hierdie eed wat God neem, sê dus vir ons dat Christus se aanstelling as ewige Koning en ewige Priester vasstaan en nooit in der ewigheid sal en kan verander nie en dit impliseer dus ook dat Christus se Plaasvervangende offerwerk aan die kruis ook vir ewig vasstaan en dit word vir ons bevestig in Hebr.10:17-18 ~ Dan sê Hy verder: “Aan hulle sondes en hulle oortredings sal Ek nooit meer dink nie. 18Waar die sondes vergewe is, is geen offer daarvoor meer nodig nie!

5.     CHRISTUS SE WEDERKOMS:
       Dawid, in hierdie pragtige Psalm van hom, voorsien ook ’n
toekomstige tyd en –gebeurtenis wanneer Christus gaan terugkeer – ’n profetiese visioen van die einde dus; ...die dag as Hy sy toorn laat losbreek – die dag wanneer die laaste geveg o.l.v. Christus geveg sal word teen die satan en al sy lakeie – Openb.19:11-15 ~ Toe het ek gesien die hemel is oop. Daar was ’n wit perd. Sy Ruiter word die Getroue en die Betroubare genoem. Met regverdigheid oordeel Hy en voer Hy oorlog. 12Sy oë het soos vuur gevlam, en op sy kop was daar baie heerserskrone. Daar was ’n Naam op Hom geskrywe wat niemand anders ken nie, net Hy self. 13Hy het klere aangehad wat met bloed deurweek was, en sy Naam is: “Die Woord van God.” 14Die leërs in die hemel het op wit perde agter Hom aan gery. Hulle het fyn, helder wit klere aangehad. 15Uit sy mond het daar ’n skerp swaard uitgekom om die nasies mee te tref, en Hy sal hulle met ’n ystersepter regeer. Hy sal self die parskuip trap vir die wyn, die wyn van die toorn en die oordeel van God, die Almagtige.

       In die laaste drie verse van hierdie wonderlike Psalm, sien ons skielik ’n wending in gebeure plaasvind – tot en met v.4 het ons gesien dat daar gepraat word oor ’n geveg en die oorwinning wat behaal sal word en Christus se bekleding as Koning en Hoë Priester, maar nou hier in vv.5-7 is die geveg klaar geveg en tree die Vader en die Seun nou tesame op tydens die finale oordeel – Christus se heerskappy oor hierdie huidige bedeling word nou afgesluit en Hy is op die punt om Sy vyande finaal te vernietig; te oorwin en te oordeel – ’n vervulling van Ps.2. In v.11 waarsku die Here hulle, deur te sê ~ Dien die Here met vrees, en juig met bewing, maar hulle het hulle nie gesteur aan hierdie waarskuwing nie en daarom gaan die  waarskuwing in v.9 nou in vervulling kom, nl. ~ U sal hulle verpletter met ’n ysterstaf, U sal hulle stukkend slaan soos ’n erdepot. Ons sien dan in vv.5 en 6 hoe dit gaan gebeur. Christus gaan op die dag van Sy wederkoms alle konings wat hom geopponeer het, oordeel deur hulle tot die ewige verdoemenis te veroordeel (Ps.110:5; Openb.6:16-17) en in v.6 sien ons dat die Seun, die nasies gaan oordeel en die skape van die bokke gaan skei (Matt.25:31-46).

       In v.7 bereik alles egter ’n klimaks en keer Christus die ewige Koning en –Hoë Priester finaal terug om vir ewig te heers oor die ganse heelal.

6.     SLOTSOM:
       Ons sien Jesus Christus in hierdie Psalm, as die soewereine Heerser oor alles en almal, maar ons sien Hom ook as Redder van diegene wie in Hom glo en daarom is dit van kritieke belang dat elkeen van ons reg sal reageer op sy roepstem; op die Psalmdigter se oproep van Ps.2, toe hy gesê het ~ Dien die Here met vrees, en juig met bewing. As ons dit doen het ons niks te vrees nie, want Christus as Hoë Priester hét die volmaakte en afgehandelde offer vir ons wie in Hom glo, gebring en Hy doen voortdurend voorbidding vir ons by die Vader, sodat ons nie uit Sy hand geruk sal word nie.

       As ek daarom maar een Nuwejaarsvoorneme kan hê, dan behoort dit te wees om my Redder en Hoë Priester met oorgawe te dien en al wat dit vra is om:
·           My sonde te bely en my daarvan te bekeer. Bekering van sonde lê dan ook aan die hart van die Evangelie, daarom dat Jesus in Matt 4:17 gesê het ~ Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom. Elke sondaar wat gered wil word, móét hom van sy sonde bekeer – hy móét m.a.w. ophou om te volhard in bepaalde sondes en hom/haar wend tot Christus Jesus. Dit behels m.a.w. ’n totale verandering van gesindheid, van gedagtes en denke; van optrede – daar moet ’n totale hartsverandering plaasvind en ons moet op ’n punt van algehele gebrokenheid en berou oor ons sonde kom ~ Laat ons dan ophou met die werke van die duisternis; laat ons die wapens van die lig opneem (Rom.13:12).

·           Tweedens moet ek in Jesus Christus glo – werklik glo. Reddingsgeloof behels ’n volkome en algehele en onvoorwaardelike oorgawe aan Sy wil, soos uitgedruk in die Woord van God – elkeen van ons moet aan die einde van onsself kom en die woorde van Jesus in Matt 16:24, nooit vergeet nie, maar meer nog, ons moet dit daagliks prakties toepas in en deur ons lewe ~ As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg. Ons moet Christus en Christus alleen vertrou vir ons redding ~ Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God. 9Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie (Ef.2:8-9).


       My gebed vir elkeen van julle en uiteraard vir myself ook, is dat hierdie ons opregte Nuwejaarsvoorneme en –strewe sal wees – mag julle ’n geseënde 2014 beleef wat gekenmerk sal word deur geestelik groei!

Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 12 Januarie 2014