Saturday 7 March 2015

Die Bybelse Hantering van Beproewing

1.     INLEIDING:
Ek wil vanoggend oor ’n onderwerp met julle deel wat ek voel noodsaaklik is om van kennis te neem, omdat ek persoonlik dink dat dit ’n reuse blokkasie in bykans alle gelowiges se lewe is. 

Daar is nie een van ons wat vanoggend hier sit wie nie op een of ander stadium van ons lewe, een of ander vorm van beproewing of pyn of lyding ervaar het nie.  Sommige in ’n bykans oortreffende trap en andere moontlik in ’n mindere mate – Niemand word gespaar van pyn en lyding nie!

Dit is verder van die uiterste belang dat ons as gelowiges sal leer om pyn en lyding, of beproewing as u wil, op die regte wyse te hanteer, want as ons nie weet hoe om dit te hanteer nie, kan ons ontnugter raak in God; kan ons knak onder vervolging indien ons ooit daaraan blootgestel mag raak; ons kan verbitterd en uitsigloos raak, ens.

Ek wil graag twee vrae aanspreek in ons soeke na ’n Bybelse hantering van beproewing en dié twee vrae is die volgende:
·      Hoe moet ek God se soewereiniteit en beproewing met mekaar versoen?
·      Hoe moet ek pyn en lyding op die regte wyse, nee, op ’n Bybelse wyse hanteer?

2.  BEPROEWING EN GOD SE SOEWEREINITEIT:
Ons lees die volgende in 1 Kron.29:10-16 ~ Dawid het ’n lofprysing aan die Here in teenwoordigheid van die hele vergadering uitgespreek. Sy woorde was: “Geloof sy U, Here, God van ons voorvader Israel, van ewigheid tot ewigheid. 11 Die grootheid, Here, die krag, die glans, die roem en die majesteit behoort aan U, ja, alles in die hemel en op aarde. Aan U, Here, behoort die heerskappy; U is bo almal verhewe. 12 Van U kom rykdom en eer. U heers oor alles. Mag en krag word deur U geskenk, en dit berus by U om enigiemand groot en sterk te maak. 13 En nou loof ons U, ons God, ons prys u glansryke Naam, 14 want wie is ek en wie is my volk dat ons die vermoë sou hê om sulke gawes te bring? Alles kom tog van U af en ons gee aan U wat ons van U gekry het. 15 Net soos al ons voorvaders is ons by U sonder reg of aanspraak. Ons tyd op aarde is soos ’n skaduwee, dit gaan verby. 16 Here ons God, al hierdie goed wat ons bymekaargemaak het om ’n huis vir u heilige Naam te bou, het ons van U gekry en dit behoort aan U.

Hierdie gedeelte waar Dawid, God loof en prys, is ’n klassieke Skrifgedeelte om na God se soewereiniteit te verwys. 

Wat bedoel ons egter met die uitdrukking, “God se soewereiniteit”?  A.W. Pink, in sy klassieke werk, “The Sovereignty of God”, sê dat wanneer ons sê dat God soewerein is, ons daarmee verklaar dat God, God ís.  Hy sê verder ~ To say that God is sovereign is to declare that He is the Most High, doing according to His will in the army of heaven, and among the inhabitants of the earth, so that none can stay His hand or say unto Him, What doest Thou?  Dit grond Pink natuurlik op Dan.4:35 ~ Teenoor Hom is al die bewoners van die aarde soos niks; Hy doen soos Hy besluit met die hemelse magte en met die mense op aarde. Daar is niemand wat Hom daarvan kan weerhou en vir Hom kan sê: ‘Wat doen U?

Hy gaan voort en sê:  To say that God is sovereign is to declare that He is the Almighty, the Posessor of all power in heaven and earth...  Dit weer, grond hy op Ps.115:3 ~ En dit terwyl ons God in die hemel is! Alles wat Hy wil, doen Hy.

Die SOLA5 Geloofsbelydenis verklaar in paragraaf 1.3 die volgende oor die soewereiniteit van God ~ God is sovereign and works all things according to his own righteous will, for His own glory.  From all eternity God decreed everything that would ever happen in time; He did this in perfect wisdom and holiness.  Furthermore, God sustains and governs all His creatures by His supremely wise and holy providence.  In so doing He fulfils thepurpose for which they were created, in order that His own attributes and glory may be praised.

Hierdie is pragtige en Bybelse korrekte definisies van God se soewereiniteit en ek glo dat die meeste, indien nie almal van ons volmondig hiermee saamstem. 

Wanneer ons gekonfronteer word met allerlei swaarkry en beproewing is die meeste van ons ook reeds so “geprogrammeer” om baie vinnig te sê dat God soewerein is en dat Hy nie foute begaan nie en dat ek onder Sy soewereine wil buig. Dat Hy in beheer is!  En dit is nie verkeerd nie, want dit ís so dat God deur Sy soewereine wil, beproewing in my lewe toelaat, die vraag is egter, wat my siening régtig is t.o.v. God se soewereiniteit is.  Sien ek God as ’n soewereine God wat maak net wat Hy wil en tree Hy gevoelloos en liefdeloos op, of is daar genade en liefde en guns en barmhartigheid teenwoordig in die uitvoering van Sy soewereine wil?

Indien ek sê dat God my straf as ek beproewing ervaar, kan dit op een van twee maniere manifesteer.
·      Ons kan óf in opstand kom teen God en soos die Israeliete, uiteindelik bedroë daarvan af kom.  Jesaja beskryf dit baie mooi ~ Kom tog, laat ons die saak met mekaar uitmaak, sê die Here: Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu. Al was julle purperrooi, julle sal wit word soos wol. 19 As julle gehoorsaam wil wees, sal julle die goeie van die land eet, 20 maar as julle weier en opstandig bly, sal die swaard júlle eet, want dit is die Here wat dit gesê het (Jes.1:18-20).
·      Of ons kan God se soewereiniteit gelate aanvaar, want ek mag mos nie teen God in opstand kom nie en daarom onderdruk ek enige negatiewe gevoelens oor my pyn en lyding, maar ek tree tog ook nie Bybels korrek op nie, want ek dra en hanteer hierdie pyn en lyding steeds nie met die regte gesindheid nie – ek kan nie oorwinning kry nie; ek kan nie in vreugde lewe nie

Wat is die gevolg van beide hierdie gesindhede; van hierdie siening van God se soewereiniteit?  So ’n optrede en gesindheid, lei uiteindelik tot wanhoop en uitsigloosheid en ontnugtering – ontnugtering in ’n God wat toelaat dat hierdie swaarkry oor my kom en uiteindelik kan ek so maklik uitroep: Hoe kan die Woord sê dat Hy ’n God van liefde is?  Of die Woord maak ten diepste net nie vir my sin nie – ek verstaan God se karakter nie; ek verstaan Sy liefde nie – in kort, ek verstaan Sy Woord nie.

Hoe moet ek dan God se soewereiniteit sien?  Kom ons kyk net kortliks daarna:
·                    Ons moet besef dat God in die eerste plek ’n barmhartige God is.  Ons het nie ’n reg tot God se barmhartigheid nie.  Nee, Hy skénk dit aan ons wie gebuk gaan onder die sonde en die sondeval.  ’n Volmaakte voorbeeld van God se soewereine barmhartigheid, is die feit dat Sy Seun, Jesus Christus mens geword het en tussen ons kom bly het.
·                    Tweedens leer die Woord ons, dat God se soewereiniteit genadig van aard is.  God stort Sy genade uit oor almal van ons wat dit beslis nie verdien nie.  Ons sien God se soewereine genade pragtig uitgebeeld in Rom.5:21 ~ Die doel was dat, soos die sonde deur die dood heerskappy gevoer het, die genade deur die vryspraak ook heerskappy kan voer en tot die ewige lewe kan lei deur Jesus Christus ons Here.
·                    Ons het eerstens gesien dat God se soewereiniteit gaan oor barmhartigheid en tweedens het ons gesien dat God se soewereiniteit vol genade is.  Nou sien ons in die derde plek, dat die fondasie van God se soewereiniteit, Sy liefde is.  Rom.8:31-39 beskryf dit vir ons pragtig ~ Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Dít: God is vír ons, wie kan dan teen ons wees? 32 Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom uit genade skenk nie? 33 Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry. 34 Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons. 35 Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? 36 Daar staan immers geskrywe: “Dit is oor U dat die dood ons dag vir dag bedreig, dat ons soos slagskape behandel word.” 37 Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. 38 Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte 39 of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.

Wanneer ek dus oor die regte siening t.o.v. God se soewereiniteit beskik begin ek beproewing uit ’n ander hoek sien, maar steeds kan daar vrae in my gemoed wees, vrae soos:  Indien God liefdevol, genadig en barmhartig soewerein is, waarom ervaar ek dan hierdie beproewing  - Sy Woord sê tog immers in Rom.8:28 ~ Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep isAlles werk nie nou terwyl ek hierdie beproewing ervaar ten goede vir my uit nie en as ek dan glo dat God se soewereiniteit in liefde en genade en barmhartigheid geskied, moet die fout mos by my lê! Baie gelowiges kom dan op hierdie punt en begin hulle glo dat hulle gesondig het en daarom is God nie meer lief vir hulle nie en straf Hy hulle.

Ons moet altyd in gedagte hou en veral wanneer ons beproewing ervaar, dat God beproewing in Sy soewereine wil toelaat en dat hierdie soewereine wil, altyd geskied uit barmhartigheid, genade en in volmaakte Goddelike liefde.

3.  HOE OM BEPROEWING BYBELS TE HANTEER:
Ten einde die probleem van beproewing verder aan te spreek en te kyk wat die regte gesindheid onder die omstandighede behoort te wees, moet ons gaan kyk waar beproewing vandaan kom en daarvoor moet ons uiteraard, spesifiek na die Woord van God gaan kyk:
·       In die eerste plek leer die Woord ons dat alle pyn en lyding en beproewing, uiteindelik terug gelei kan word na Adam se sonde.  Gen.3:17-19 ~ Vir die mens het die Here God gesê: “Omdat jy na jou vrou geluister het en geëet het van die boom waarvan Ek jou verbied het om te eet, is die aarde deur jou toedoen vervloek; met swaarkry sal jy daaruit ’n bestaan maak, jou lewe lank; 18 die aarde sal vir jou dorings en dissels laat uitspruit, en jy sal veldplante eet; 19 net deur harde werk sal jy kan eet, totdat jy terugkeer na die aarde toe, want daaruit is jy geneem. Stof is jy, en jy sal weer stof word.

Ons moet dus altyd in gedagte hou dat swaarkry in hierdie lewe, bestaan a.g.v. Adam se sonde en dit sal nooit verdwyn alvorens Jesus Christus ons kom haal nie.  Die enigste manier om uiteindelik van hierdie swaarkry op aarde en die uiteindelike ewige swaarky, verlos te word, is deur die soendood wat Jesus Christus aan die kruis vir my gesterf het, maar solank ek in hierdie lewe is, sal ek voortdurend gekonfronteer word met beproewing in een of ander vorm.

·      Tweedens leer die Woord ons, dat sommige van die ellende in hierdie lewe, die gevolg is van ons eie sonde.  Ons gaan dus gebuk onder die gevolge van ons eie sonde in hierdie lewe.  ’n Eenvoudige voorbeeld dalk: Die Woord leer ons dat ons, ons moet onderwerp aan die gesag wat oor ons aangestel is (Rom.13:1-5) en hierdie “gesag” bepaal dat ek nie die snelheidsgrens van 60 k.p.u. in die dorp mag oorskry nie – is ek ongehoorsaam en ek word gevang, lei ek aan die gevolge van my eie sonde, deurdat ek ’n boete moet betaal. 

Ook hier kan ons egter staatmaak op God se liefdevolle en barmhartige soewereiniteit, deurdat ek my sonde teenoor Hom kan bely en om vergifnis vra ~ 1Joh.1:9 ~ Maar as ons ons sondes bely-Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid

·      Derdens kan beproewing veroorsaak word deur ander mense se sonde.  Ons vind talle sulke voorbeelde in die Woord. Ons sien bv. in Gen.12, hoe dat Abraham vir Sarai sy vrou, opdrag gegee het om vir die koning van Egipte te lieg oor die feit dat sy, sy vrou is en ons sien in vers 17 wat die koning van Egipte se beproewing was, a.g.v. Abraham se liegsonde ~ Maar die Here het die farao en sy huis met swaar plae getref oor Sarai die vrou van Abram

Ons ken ook die verhaal van Jakob en Esau baie goed, waar Jakob sy pa Isak bedrieg het en sy ouer broer Esau, se seën “gesteel” het.  Die gevolg was dat Esau vir die res van sy lewe, asook sy nageslag, erge beproewing sou moes ervaar.  Esau is ontneem, van sy eersgeboortereg (Gen.27:36).  Esau en sy nageslag sou Jakob se diensknegte moes word (v.37).  Esau het geen seën van sy vader ontvang nie, al was hy die oudste (v.38).  Esau was gebroke en hy het gehuil (v.38).  Ons sien in vers 39, dat die Edomiete, Esau se nageslag ’n land sou bly met grond wat nie baie vrugbaar sou wees nie.  Hy sou van oorlog moes leef sê vers 40 vir ons.  En in vers 41 sien ons dat Esau gebuk gegaan het onder haatgevoelens jeens sy broer en het hy homself voorgeneem om Jakob te vermoor.

Ook in hierdie geval sien ons dat God se soewereine liefde en genade ons kan help om hierdie beproewing te bowe te kom, deur o.a. die volgende Bybelse beginsels toe te pas:
-     Matt.6:14 ~ As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergeweIndien ons nie andere vergewe nie, sê die Woord, kan ons nie verwag dat die Vader ons moet vergewe nie.  Hy is egter getrou en regverdig en Hy sal ons vergewe, het ons netnou in 1Joh.1:9 gesien.
-     Indien ons nie vergewe nie, kan ons ook nie bid nie, want hoor net wat sê Jesus in Sy modelgebed, hoe ons o.a. moet bid ~ ...en vergeef ons ons sondes, want ons vergewe ook elkeen wat teen ons oortree (Luk.11:4).  Doen ons dit werklik?
-     Die uiteinde van Jakob en Esau se verhaal ken ons ook – Gen.33:4 ~ Esau het hom tegemoet gehardloop en hom omhels. Esau het sy arms om Jakob se nek gesit en hom gesoen, en hulle het gehuil.

Ons moet dus diegene wat teen ons sondig, vergewe en ons kan dit net regkry as ons God se soewereine liefde en genade in ons eie lewe ervaar.

·      In die vierde plek kan God beproewing in ons lewe wil, sodat ’n situasie geskep kan word, waardeur ons Hom kan verheerlik.  Dit impliseer dus dat nie elke stuk beproewing, noodwendig terug gelei kan word na eie sonde, of ander se sonde nie, en dan moet ons onsself afvra, hoe ons hierdie bepaalde situasie gaan hanteer.

Ook hier kan ons aan verskeie voorbeelde in die Skrif dink waar die persoon wat deur beproewing gegaan het, nie geweet het waarom dit hom getref het nie, maar sy gesindheid was deurgaans om God te loof en te prys in sy omstandighede.  Dink maar net aan Fil.1:29 ~ God het julle die voorreg gegee om Christus te dien, nie alleen deur in Hom te glo nie, maar ook deur vir Hom te ly.

Hoeveel te meer moet ons nie bereid wees om te ly as ons dink aan die woorde van Petrus, toe hy gesê het ~ Juis hiervoor is julle ook geroep, omdat Christus self vir julle gely en so vir julle ’n voorbeeld gestel het, sodat julle in sy voetspore kan volg. 22 “Hy het geen sonde gedoen nie en uit sy mond het daar nooit ’n leuen gekom nie.” 23 Toe Hy beledig is, het Hy nie terug beledig nie, toe Hy gely het, het Hy nie gedreig nie, maar alles oorgelaat aan Hom wat regverdig oordeel. 24 Hy het self ons sondes in sy liggaam aan die kruis gedra. Daardeur is ons vir die sondes dood en kan ons lewe in gehoorsaamheid aan die wil van God. Deur sy wonde is julle genees (1Pet.2:21).  Om te ly soos wat Christus gely het, behoort dus eintlik vir ons ’n voorreg te wees. Kan ons dit uit eie krag regkry om God te verheerlik deur ons swaarkry? Natuurlik kan ons nie, maar Hy kan en wil ons deur Sy liefde en barmhartigheid help om dit wel reg te kry.

·                    Laastens leer die Woord ons dat beproewing wat oor ons pad kom, altyd ons eie geestelike groei ten doel het. Al is ons beproewing te wyte aan watter een van hierdie faktore ook al, moet ons elke keer wanneer ons beproewing ervaar, onsself meet aan Gal.5:22-23 (“Die Vrug van die Gees”). Wanneer ek besef dat my liefde vir my naaste (broers, susters, vreedmdelinge – ook my man of vrou) bv. nie is wat dit moet wees nie, of as my vreugde, of my vrede, of my geduld, of vriendelikheid, of goedhartigheid, getrouheid, nederigheid, of my selfbeheersing te kort skiet, dan moet ek my bekeer en aandag skenk aan daardie tekortkominge.

Daar moet dus biddend, ernstige selfondersoek gedoen word, ten einde vas te stel in watter kwaliteite die Here wil hê dat ek sal groei, sodat ek Hom daardeur sal verheerlik. 

Dit is dus ook baie duidelik dat die Here God  beproewing op hierdie vlak oor ons pad bring, omdat Hy ons oneindig lief het.

4.  TEN SLOTTE:
Dit is van kardinale belang dat ons, wanneer ons midde in beproewing en pyn en lyding verkeer, die regte gesindheid jeens God en beproewing sal hê ~ Geliefdes, moenie verbaas wees oor die vuurproef waaraan julle onderwerp word nie. Dit is nie iets vreemds wat met julle gebeur nie. 13 Wees liewer bly hoe meer julle in die lyding van Christus deel, want dan sal julle ook oorloop van vreugde by sy wederkoms in heerlikheid. 14 Geseënd is julle wanneer julle beledig word ter wille van die Naam van Christus. Dit is ’n bewys dat die Gees aan wie die heerlikheid behoort, die Gees van God, op julle bly (1Pet.4:12-14) en 1Pet.1:6 ~ Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle ’n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings.

Dit is ook belangrik dat ons sal besef dat daar 4 redes is waarom beproewing oor ons pad kom en dat dit belangrik is dat ons sal vasstel watter rede op ons van toepassing is. 

Beproewing is altyd deel van Adam se sonde. Volgende moet ons vir ons afvra, of die beproewing, die toedoen van my eie sonde is, of die van andere; of die moeilikste een om dalk te onderskei, is of dit bloot is om God te verheerlik en laastens dat ek my daarin kan verheug dat dit altyd sal lei tot my eie heiligmaking.

Ons kan altyd verseker wees en daarin rus, dat beproewing ’n baie besliste doel dien.  Probeer dus vasstel wat dit is wat die Here vir jou wil leer – en leer dit!  Jakobus sê hieroor in Jak.1:3-4 ~ ...want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard. 4 En die volharding moet end-uit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkomingEn mag ons na die tyd saam met Job kan sê ~ Hy ken my pad; as Hy my toets, is ek suiwer soos goud (Job 23:10).

Ek wil ons almal aanmoedig dat ons getrou en gehoorsaam aan die Here sal bly tydens ons beproewing ~ Maar wanneer iemand ly omdat hy ’n Christen is, moet hy hom nie daaroor skaam nie. Inteendeel, as draer van daardie naam moet hy God verheerlik. 19 Daarom moet dié wat ly omdat God dit wil, hulle lewe toevertrou aan die getroue Skepper, en aanhou goed doen (1Pet.4:16,19).


Ons moet laastens besef dat die Here nie noodwendig altyd die beproewing van ons sal wegneem nie, maar Hy belowe dat Hy aan ons die nodige sal voorsien om staande te kan bly te midde van die beproewing – dink maar net hier aan Paulus se “doring in die vlees” (2Kor.12:7-11).  Jes.41:10 ~ Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou. Ook die bekende 1Kor.10:13 ~ Geen versoeking wat meer is as wat ’n mens kan weerstaan, het julle oorval nie. God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan. Laastens, 1Pet.5:10 ~ God wat alle genade gee en wat  julle geroep het om in Christus Jesus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle ’n kort tydjie gely het, self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig maak

Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te VAALDRIEHOEK Gereformeerde Baptistegemeente – Sondagoggend 08 Maart 2015