Sunday 18 December 2011

Die Evangelie van Johannes - 13 (Hy en Sy Hele Gesin!)

1.     INLEIDING: 
Jesus het twee dae lank in Samaria in die dorpie Sigar deurgebring waar die ontugtige vrou by die put o.a. vir Jesus as Verlosser ontmoet het en waar ’n groot hoeveelheid van die dorpie se inwoners ook tot geloof in Jesus gekom het. Van Sigar af stap Jesus nou na Galilea en spesifiek na Kana waar Hy Sy eerste wonderwerk gedoen het (Joh.2).

2.     SKRIFLESING: 
Joh.4:43-54 ~ Ná die twee dae het Jesus daarvandaan na Galilea toe gegaan. 44Hy het self verklaar dat ’n profeet nie in sy eie land geëer word nie, 45maar toe Hy in Galilea kom, het die Galileërs Hom verwelkom. Hulle het alles gesien wat Hy gedurende die feesvierings in Jerusalem gedoen het, want hulle was self ook by die paasfees. 46Jesus het toe weer na Kana in Galilea toe gegaan, waar Hy die water wyn gemaak het. In Kapernaum was daar ’n sekere regeringsamptenaar wie se seun siek was. 47Toe hy hoor dat Jesus uit Judea na Galilea toe gekom het, het hy na Hom toe gegaan en Hom gevra om te kom en sy seun gesond te maak, want hy het op sterwe gelê. 48Jesus sê toe vir hom: “As julle nie tekens en wonders sien nie, glo julle eenvoudig nie.” 49En toe sê die amptenaar vir Hom: “Here, kom tog voordat my kindjie sterwe.” 50Maar Jesus sê vir hom: “Gaan maar huis toe, jou seun lewe.” Die man het geglo wat Jesus vir hom gesê het, en gegaan. 51Toe hy nog op pad was, het sy werksmense hom al tegemoet gegaan en vertel dat sy kind lewe. 52Hy vra hulle toe presies wanneer hy begin beter word het, en hulle antwoord hom: “Gistermiddag een-uur het die koors hom verlaat.” 53Die pa het toe besef dat dit op dieselfde oomblik was waarop Jesus vir hom gesê het: “Jou seun lewe.” En hy en sy hele huisgesin het tot geloof in Jesus gekom. 54Dit was die tweede wonderteken wat Jesus gedoen het nadat Hy weer uit Judea na Galilea toe gekom het.

3.    TWEE WONDERWERKE:
In hierdie paragraaf van Johannes 4 sien ons ’n tweede wonderwerk van Jesus wat eintlik uit twee wonderwerke bestaan.

Kom ons begin egter voor. Ons sien in v.44 dat Jesus iets baie eienaardigs van Homself sê ~ Hy het self verklaar dat ’n profeet nie in sy eie land geëer word nie. Dit is amper asof ’n mens wil vra, maar is Hy dan nie God nie? Kon Hy nie geweet het wat in v.45 gaan gebeur nie? Ons sien in v.45 dat presies die teenoorgestelde (oënskynlik) gebeur, want toe Hy in Galilea kom, het die Galileërs Hom verwelkom. Waarom sou Jesus gesê het wat Hy gesê het? Waarom het Hy op die oog af gesê dat Hy nie in Sy eie land geëer word nie, as die mense Hom dan verwelkom?

Hierdie uitspraak van Jesus is presies dieselfde as wat Hy vroeër in Nasaret gemaak het, toe Hy in Matt.13:57 gesê het ~ ’n Profeet word oral erken behalwe in die plek waar hy grootgeword het, en in sy familiekring.

Wat ons hier van Jesus hoor, was waarskynlik juis ’n demonstrasie van Sy alwysheid, want al was Hy op hierdie stadium vriendelik in Galilea ontvang, het Hy onthou wat nie lank terug gebeur het, toe die mense van Sy tuisdorp in Nasaret, nadat Hy vir hulle in die sinagoge gepreek het, hulle so die harnas in gejaag was, dat hulle Hom uit die stad gejaag en by ’n krans wou afgooi (Luk.4:25). Later weet ons, het hulle Hom só verag, dat hulle Hom oorhandig het, om gekruisig te word.

Omdat Hy geweet het wat in die toekoms in Sy eie tuiste gaan gebeur, maar ook gedagtig aan wat so pas, in die oë van die Jode, in die veragtelike Samaria gebeur het, maak Hy hierdie uitspraak. Die Samaritane verheerlik my, maar my eie mense gaan my verwerp, daarom dat Hy sê ~ ’n Profeet word oral erken behalwe in die plek waar hy grootgeword het, en in sy familiekring.

Vir die huidige ontvang die mense van Galilea, Jesus egter nog met ope arms, want hulle het alles gesien wat Hy gedurende die feesvierings in Jerusalem gedoen het, want hulle was self ook by die Paasfees (v.45b). Het Jesus hierdie gulde ontvangs geniet, omdat die mense opgewonde was oor wat Hy vir hulle kon doen, of was dit soos met ’n suksesvolle Springbokspan wat van oorsee af terug keer en deur ’n nuuskierige en jillende massa mense op die lughawe terug verwelkom word en met harte wat swel, want "ons seuns het goed gedoen oorsee!" Jesus was immers ’n boorling van Galilea? Wat die geval ook al mag wees – Jesus word vir die huidige terug verwelkom in Galilea en dit is met afwagting dat die mense wag om te sien wat Jesus nou gaan doen.

Nog ’n vraag wat ons kan vra is waarom Jesus weer terug gegaan het na Galilea – dit terwyl Hy weet hoe Sy eie mense ten diepste oor Hom voel? Waarom gaan Hy weer na mense wat Hom verwerp?
·           Wel, eerstens glo ek, het Hy dit gedoen omdat dit God se wil was dat Hy weer daarheen moes gaan en Jesus sou en het nooit geskroom om God se wil te doen nie – ten spyte van wat die gevolge ook al mag wees.
·           Hy het egter ook, in die tweede plek, ’n "afspraak" gehad met ’n familie wat uitverkorenes was en wat "ingebring moes word in die Koninkryk".
·           In die derde plek glo ek, het Jesus terug gegaan Galilea toe, juis omdat Hy nie die vorige keer goed ontvang was daar nie en Hy geweet het dat die Galileërs die Evangelie broodnodig gehad het.  

Terug by die skare wat Jesus ontvang het in Galilea. Dit was nie lank nie of daar kom ’n desperate regeringsamptenaar na Jesus – sy seun is ernstig siek! Hy vra vir Jesus om Sy seun te genees. Hy is raadop, want niks wil help nie en daarom kom hy al die pad van Kapernaum af (sowat 35 km. van waar Jesus Hom bevind), of was hy regtig raadop? Het hy nie dalk ten diepste geglo dat Jesus waarlik God is en daarom sy seun kon genees nie? Ons sal nie regtig weet nie en tog sal vv.50-54 vir ons meer lig hierop werp.

Met die lees van hierdie gebeure waar ’n klomp mense byeen was en die amptenaar vir Jesus vra om sy seun te genees, kan ’n mens amper die opwinding en opgewondenheid onder die Galileërs aanvoel – hier kom iets! Hulle kan hulle nuuskierigheid nie verder in bedwang hou nie! Wat is Jesus se reaksie hierop? Hy kyk hulle aan en Hy sê vir hulle ~ As julle nie tekens en wonders sien nie, glo julle eenvoudig nie (v.48). Hierdie was nie ’n teregwysing wat gerig was tot die amptenaar nie, maar dit was ’n klap van Jesus se kant wat Hy gemik het na die klomp Galileërs wat net getrakteer wil word met wonderwerke – dit gaan nie vir hulle oor Jesus die Here nie! Hulle het ’n honger na opwinding en nie na verlossing nie – hulle sien Jesus net as ’n "miracle worker" – ’n mens kan amper sê ’n towenaar of ’n goëlkunstenaar wat mense vermaak.

Daar is baie kommentators wat reken dat Jesus se teregwysing ook tot die ampsdraer gerig was en sommige reken dit was nét tot hom gerig. Ek glo egter nie dat dit die geval was nie. Hierdie man was desperaat – sy seun is besig om te sterf; hy het nie tyd vir vermaak nie en wêreldse middele het oënskynlik nie gehelp nie en daarom wend hy hom na hierdie Man Jesus wat nie ’n gewone man kon wees nie – nie op grond van wat hy reeds van Jesus gesien, of gehoor het nie (dalk in Jerusalem by die tempel, of by die bruilof toe Jesus die water in wyn verander het?). Al was sy geloof nog nie gevestig nie, was die saad reeds geplant en hy het net geweet dat Jesus anders was.

Jesus wat mense se harte ken en ook geweet het wat binnekort sou gebeur nadat die seun genesing ontvang het, laat my saam stem met enkele ander teoloë (al motiveer hulle dit nie) wat glo dat Jesus se teregwysing gemik was op die skare en nie op hierdie man nie.

In v.49 pleit die amptenaar by Jesus en dit is amper asof hy ongeduldig raak en vir Jesus sê: Los tog nou net hierdie geprekery, want my kind lê op sterwe en daar is nie meer tyd dat U nog met hierdie spul sensasiesoekers praat nie - Here, kom tog voordat my kindjie sterwe.

Jesus verras waarskynlik die omstanders met sy opdrag aan die amptenaar, toe Hy in v.50 vir hom sê ~ Gaan maar huis toe, jou seun lewe. In skrille kontras met die Galileërs, het hierdie man (net soos die Samaritaanse vrou by die put) geglo en ’n mens moet hierdie man se geloof waarlik bewonder, want hy het sonder aarseling omgedraai en homself na sy huis gehaas.

Wat hierdie man nie besef het nie, was dat sy seun genees is, die oomblik toe Jesus vir hom sê dat sy seun lewe, maar hy sou dit eers die volgende dag uitvind.

Hierdie gesprek tussen Jesus en die amptenaar het een-uur die middag plaasgevind (die sewende uur – Romeinse tyd). Omdat hy ver moes stap om by die huis te kom en dit gevaarlik was om gedurende die nag te stap, moes hy iewers oornag en die volgende oggend sy terugreis aangepak het. Op pad huis toe, kom sy werksmense hom tegemoet en breek die goeie nuus aan hom. Dit is baie interessant dat ons hier weer ’n geval het waar die diensknegte of werksmense weet wat aan die gang is nog voor diegene wat veronderstel is om dit te weet, dit besef – hier dink ons bv. aan die water wat verander het in wyn – daar het die diensknegte eerstehands gesien wat gebeur (Joh.2:9).

Toe die amptenaar vir sy werksmense vra wanneer sy kind gesond geword het en hulle hom antwoord, besef hy dat dit presies op dieselfde tyd was dat Jesus vir hom gesê het dat sy seun lewe – dit was die eerste wonderwerk wat hierdie gesin beleef het.

Verse 49-50 is twee verse wat ons nie maar net so terloops moet aanraak nie, want hierin lê veel dieper waarde opgesluit as wat dit dalk op die oog af lyk ~ En toe sê die amptenaar vir Hom: “Here, kom tog voordat my kindjie sterwe.” 50Maar Jesus sê vir hom: “Gaan maar huis toe, jou seun lewe.” Die man het geglo wat Jesus vir hom gesê het, en gegaan

Die amptenaar wou hê dat Jesus alles net so los en saam met hom huis toe gaan ten einde sy seun te genees. Jesus demonstreer weereens hier dat die wêreldse spreukwoord ~ om te sien is om te glo, in Sy Koninkryk net mooi andersom werk, nl. ~ om te glo is om te sien. Jesus verwag dus van hierdie man om huis toe te gaan sonder dat Jesus by is en hy sal vind dat sy seun genees is – hy moes dus glo sonder om te sien en dit is presies wat hierdie man gedoen het. Hy glo dat die menslik onmoontlike vir God geen probleem is nie. Hierdie man neem Jesus op Sy woord – hy trek dit nie in twyfel nie; hy redeneer nie daaroor nie; hy sê nie dis onmoontlik nie – hy glo en hy gaan!

Dit is so anders in ons dag – baie mense en veral teoloë in ons dag neem God nie meer op Sy Woord nie, nee hulle het slimmer geraak as God; hulle het god in hulle eie oë geraak. Hulle trek Jesus se maagdelike geboorte in twyfel; hulle trek Jesus se opstanding uit die dood in twyfel; hulle sê dat die verhaal van Jona ’n fabel is, ens. Die probleem met sulke mense is dat wanneer hulle so begin redeneer, hulle ook moet sê dat die Israeliete se "Rooi See-ervaring" ’n mite is. Wanneer ’n mens so met die Woord begin omgaan, begin jou geloof in die Woord en uiteindelik in God, stadig maar seker in mekaar tuimel en word jy uiteindelik ’n ongelowige en is jy verlore en verdoem tot ’n ewige lewe in die hel. As ons in een deeltjie van die Woord begin twyfel, begin alles in duie stort en glo ons op die ou einde glad nie meer nie (al dink ons dalk ons glo!). So gepraat van Jona en hedendaagse teoloë – Augustinus het al in 409 n.C. gesê dat die verhaal van Jona ’n grap vir die ongelowiges was, maar weet u, Jesus het in die outentiekheid van die Jona-verhaal geglo, want in Matt.12:38-42 en 16:1-4 verwys Jesus na Jona as profeet wat drie nagte lank in die maag van ’n vis was en sê Hy ook aan die Skrifgeleerdes dat hulle in die toekoms, saam met "Jona se Nineviete" voor God se Regterstoel sal staan. As "slim mense" vandag sê dat Jona ’n mite is, dan trek hulle ook Jesus se woorde en derhalwe Sy bestaan in twyfel en sal hulle óók saam met die Skrifgeleerdes en "Jona se Nineviete" voor God se Regterstoel verantwoording doen vir hulle ongeloof en "slimmighede".

Hierdie ampsdraer was egter anders – hy het Jesus op Sy woord geneem, geglo en huis toe gegaan – vol vertroue dat sy seun genees is.

Daar was ook ’n tweede wonderwerk wat in die lewe van hierdie ampsdraer en sy gesin plaasgevind het.  

Ons lees hierdie wonderlike woorde in vv.53b-54 ~ En hy en sy hele huisgesin het tot geloof in Jesus gekom. 54Dit was die tweede wonderteken wat Jesus gedoen het nadat Hy weer uit Judea na Galilea toe gekom het

Iemand het dit op ’n keer pragtig gestel, toe hy gesê het, dat hierdie man se geloof van "krisisgeloof" gevorder het tot "vertrouensgeloof", toe hy nie kans gesien het om gedurende die nag terug te keer huis toe nie, maar eerder vas te hou aan Jesus se belofte dat sy seun lewe. Die volgende dag egter, groei sy geloof van "vertrouensgeloof" tot "bevestigende geloof", toe hy sy seun springlewendig en gesond by die huis vind – en die gevolg? Hierdie amptenaar word deur Jesus aangeraak en nie net hy alleen nie – hy en sy hele gesin! Hy en sy hele huisgesin het tot geloof in Jesus gekom. Dit is die tweede wonderwerk in hierdie verhaal van die amptenaar.

Is dit nie eienaardig dat ons gereeld in die Nuwe Testament sien dat die verstotelinge en die "godsdiensloses", die eerstes is wie die Evangelie ontvang en aanvaar nie? Dit is die prostituut en nie die Fariseërs nie. Dit is die jonger "wegloop-kind" en nie die ouer en getroue broer nie. Dit is waarom Jesus in Mark.2:17 sê ~ Dié wat gesond is, het nie ’n dokter nodig nie, maar dié wat siek is. Ek het nie gekom om mense te roep wat op die regte pad is nie, maar sondaars.

Wat egter verder uitstaan t.o.v. hierdie amptenaar, is die feit dat hy nie net ’n verstoteling is, as dit kom by die Fariseërs nie, maar hy is aan die anderkant ’n ryk en invloedryke man. Invloedryk, omdat hy in Grieks genoem, ’n βασιλικός (basilikos) was – dit is ’n woord wat in verband gebring word met ’n koninklike, maar omdat hy, gesien in die lig van die politieke sisteem en situasie op daardie stadium, nie ’n koning was nie, moes hy ’n invloedryke koninklike amptenaar gewees het en hy moes ook baie geld gehad het, omdat hy diensknegte (meervoud) gehad het.

Ons het dus hier te doen met ’n ryk en invloedryke man, maar wat aan die "anderkant" van die godsdienstige sisteem as die Fariseërs staan en tog word hy en sy gesin deur die Evangelie geraak en getransformeer. Hierdie is dus vir ons ’n pragtige voorbeeld daarvan dat die verlossingsboodskap van die Evangelie van Jesus Christus vir alle mense bedoel is – of dit nou arm of ryk is; of dit swart of wit is; of dit werke-gedrewe godsdienstige, of wettelose uitgeworpene is – ook vir jou!

Hierdie verhaal van die amptenaar en die ervaring van twee wonderwerke in sy en sy gesin se lewe, moet ons laat besef dat ons, ons nie net moet blindstaar teen die wonderwerk alleen nie, ons moet Jesus agter hierdie wonderwerke raaksien. Die amptenaar het hom nie alleen in sy seun se genesing verheug nie; ook het hy nie net vir Jesus geloof nie – hy het in Jesus geglo – hy en sy huisgesin. Hulle het Jesus agter die wonderwerk raakgesien en hulle nie blind gestaar teen die wonderwerk nie.

4.    AFSLUITING:
Die Galileërs het Jesus om wonderwerke gevra, maar hierdie ampsdraer het Jesus se woord geglo – dit is waarom Jesus in Joh.20:29 sê ~ Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo. Waar staan jy? Soek jy ook wonderwerke in jou lewe voor jy sal glo, of glo jy soos ’n kind? Jesus het in Matt.18:3 gesê ~ As julle nie verander en soos kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemel kom nie.

Neem jy ook God op Sy Woord, of moet daar eers iets spesiaals in jou lewe gebeur, voor jy glo?

Laat al hierdie "geestelike modder-gooiery" in die pers en selfs op Facebook, jou wonder oor God se soewereiniteit; begin jy twyfel in dele van God se Woord as gevolg hiervan, of glo jy steeds soos ’n kind (Matt.18:3)?

Wanneer iets wonderliks in jou lewe gebeur (’n wonderwerk) en jy nie kan stilbly daaroor nie – waarop val jou fokus wanneer jy daaroor praat – op die wonderwerk, of op Jesus Christus?

Onderskryf jy nog die 1689 Baptiste Geloofsbelydenis met jou hele hart en dan spesifiek die gedeelte wat lees: The whole counsel of God concerning all things necessary for His own glory, man's salvation, faith and life, is either expressly set down or necessarily contained in the Holy Scripture, to which nothing is to be added at any time, either by new revelation of the Spirit, or by the traditions of men? Of as jy wil Artikel 3 van die Nederlandse Geloofsbelydenis wat as volg lees: Ons bely dat hierdie Woord van God nie deur die wil van 'n mens gestuur of voortgebring is nie, maar die heilige mense van God het dit, deur die Heilige Gees gedrywe, gespreek, soos die heilige Petrus sê (2 Pet 1:21). Daarna het God deur sy besondere sorg vir ons en ons saligheid sy knegte (profete en apostels) beveel om sy geopenbaarde Woord op skrif te stel en Hy self het met sy vinger die twee tafels van die wet geskrywe. Daarom noem ons sulke geskrifte die heilige en Goddelike Skrif (2 Pet. 1:21; Ps. 102:19; Eks. 17:14; (Deut. 3); Eks. 34:27; Deut. 5:22; Eks. 31:18)?

Geliefdes, ons speel ’n uiters gevaarlike "geestelike speletjie" as ons God se Woord in twyfel begin trek – as ons begin wonder of dele nie tog dalk mites is nie, of nóg meer subtiel, wanneer ons begin sê dat dele van die Skrif nie meer op ons moderne era van toepassing is nie. As ons dit begin doen, staan ons op die rand van ’n "geestelike afgrond" en is ons koersvas op pad na ’n duistere toekoms – ’n duistere ewige lewe!


[1] Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te VAALDRIEHOEK Baptiste Gemeente (Vereeniging) - Sondagoggend 11 Desember2011