Saturday 24 December 2011

Vrede op Aarde!

1.    INLEIDING:
Die wêreld vier vandag Kersfees. Ek vier nié Kersfees nie! Ek vier Christusfees! Hierdie dag het tog immers niks – hoegenaamd niks te doen met kerse nie. Hierdie dag (en die wêreld weet dit en besef dit nie regtig nie) gaan daaroor dat ons die geboorte van Jesus Christus, die Seun van God, gedenk. Hierdie is nie sommer maar net so ’n dag nie; dit is nie maar net nog ’n verjaarsdagviering nie. Nee, hierdie dag – die dag waarop Jesus gebore is, is waarskynlik die tweede belangrikste dag op die kalender van ons as gelowige Christene (Christus se kruisiging en spesifiek Sy opstanding is vir my die heel belangrikste dae en behoort dus eintlik veel, veel meer prominensie te geniet as "Kersdag").

Ons hoor ook baie dikwels gedurende die Kerstyd, dat mense  sê dat Jesus Christus na die aarde gekom het om vrede te bring. Dit klink alles so mooi en "in die gees van Kersfees" klink dit só reg, maar wat beteken dit regtig as ons dit sê – wat beteken dit as mense sê "vrede op aarde"? Beter nog, wat beteken dit as die Woord van God in Luk.2:14 sê ~ Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ’n welbehae het? Beteken dit regtig dat daar vrede op aarde is – dit lyk nie vir my so nie!

2.    SKRIFLESING:
Kol.1:15-23 ~ Die Seun is die beeld van God, van God wat self nie gesien kan word nie. Die Seun is die Eerste, verhewe bo die hele skepping. 16God het deur Hom alles geskep wat in die hemel en op die aarde is: alles wat gesien kan word en alles wat nie gesien kan word nie, konings, heersers, maghebbers, gesagvoerders. Alles is deur Hom en vir Hom geskep. 17Voor alles was Hy al daar, en deur Hom bly alles in stand. 18Hy is die hoof van die liggaam, van die kerk. Hy is die oorsprong daarvan, Hy is die Eerste, die Een wat uit die dood opgestaan het, sodat Hy die eerste plek in die heelal inneem. 19God het besluit om met sy volle wese in Hom te woon 20en om deur Hom alles met Homself te versoen. Deur die bloed van sy Seun aan die kruis het Hy die vrede herstel, deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen. 21Ook julle was voorheen ver van God af en vyandiggesind teenoor Hom, soos blyk uit julle sondige lewenswyse. 22Maar nou het Hy ook julle met Homself versoen deurdat sy Seun as mens gesterwe het om julle heilig, sonder smet en onberispelik voor Hom te stel. 23Maar dan moet julle vas en sterk bly staan in die geloof en julle nie laat losruk van die hoop wat in julle gewek is deur die evangelie wat julle gehoor het nie. Dit is die evangelie wat aan al die mense op die aarde verkondig is en waarvan ek, Paulus, ’n dienaar geword het.

3.    TEKSVERS:
Kol.1:20b en 22 ~ Deur die bloed van sy Seun aan die kruis het Hy die vrede herstel, deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen....22Maar nou het Hy ook julle met Homself versoen deurdat sy Seun as mens gesterwe het om julle heilig, sonder smet en onberispelik voor Hom te stel.

4.    ONVREDE:
Nadat God die hemel en die aarde geskape en alles wat daarop en daarin is, lees ons in Gen.1:31 die volgende woorde ~ Toe het God gekyk na alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed. God se aanvanklike doel en plan met die skepping was dus om die mens en die res van die heelal met Homself te versoen deur Jesus Christus.

God se volmaakte skepping wat "baie goed" was is egter kort na die skepping, op tragiese wyse geskend, deurdat Adam en Eva in sonde geval het. Ons sien in Gen.6:5-7 wat God se reaksie daarop en vele ander sondes wat daarna begaan is, was ~ Toe die Here sien hoe groot die verdorwenheid van die mens op aarde is en dat hy sy lewe lank net slegte dinge bedink, 6was die Here bedroef daaroor dat hy die mens op die aarde gemaak het. Dit het Hom diep gegrief. 7Die Here het gesê: “Ek sal die mens wat Ek geskep het, wegvee van die aarde af; mens en dier, ook dié wat kruip, en die voëls, want Ek is bedroef daaroor dat Ek hulle gemaak het. As gevolg van die sonde, het daar vyandskap tussen God en die mens ontstaan. Trouens, nie net tussen God en die mens alleen nie, maar ook tussen God en die res van die skepping. Dawid sê in Ps.143:1 ~ Moet tog nie ’n regsaak teen my begin nie, want niemand wat leef, is voor U onskuldig nie!

Dit is baie duidelik vanuit die Skrif, dat ons in ’n vervloekte wêreld bly – ’n wêreld waar daar beslis geen vrede heers nie! Beide mens en die res van die skepping gaan gebuk onder die invloed van die satan – aan die eenkant sien ons moord en doodslag, aborsies en oorloë en aan die anderkant sien ons Tsunami's, droogtes, haelstorms en aardbewings en kosbare wild- en ander diersoorte wat aan die uitsterf is. Satan is voorwaar die god van hierdie wêreld soos wat Paulus hom dan ook beskryf in 2Kor.4:4 en die vors van die onsigbare magte (Ef.2:2).

Hoe is dit dan moontlik dat Jesus se koms en Sy latere kruisiging, vrede na die aarde gebring het?

Wanneer ons na hierdie vervloekte wêreld kyk, dan kan dit baie maklik vir ons voel asof hierdie realiteit daar ver buite my staan – so asof, dit darem nie regtig op my van toepassing is nie; ek is tog sekerlik nie in dieselfde vyandskapsverhouding met God as wat die Bybel hier vir ons van vertel t.o.v. die res van die wêreld en die heelal nie! Wel, as jy so dink is jy óf mislei deur jou eie verkeerde denke, óf jy is mislei deur iemand anders, of dalk ’n kerk se teologie waaraan jy behoort of behoort het – feit is: Dit is nié wat die Woord van God vir ons leer nie. Paulus stel dit ondubbelsinnig en op die man af in Rom.3:10 ~ Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie! Die implikasie van Ef.2:1 is ook dat die mens dood is as gevolg van sy oortredings – sy sonde met ander woorde.

Wanneer ons insien dat en saamstem daarmee, dat die wêreld daarbuite boos is, maar ek sê of voel, dat ek persoonlik darem nie te sleg is nie, of dat daar darem baie goeie mense daarbuite is, dan is ek besig om myself ernstig te bluf en moet ons Martin Luther se woorde ernstig opneem – hy het op ’n keer gesê: Die mens se finale sonde is sy onwilligheid om te erken dat hy wel ’n sondaar is.

Daar bestaan dus geen twyfel nie, dat die mensdom en die skepping, maar ook ek en jy in vyandskap met God staan en/of gestaan het. Die Nederlandse Geloofsbelydenis (Artikel 15) leer ons ook dat die mens in sonde ontvang en gebore word – elke mens (van speenoud, tot stokoud) is dus verlore!

Om dinge egter nog meer kompleks te maak, lees ons bv. die volgende situasies wat gaan plaasvind, a.g.v. hierdie vrede wat Jesus gebring het – lw. GE-bring het (verlede tyd). Jes.11:6-9 gaan bv. waar word ~ Wolwe en skape sal dan saam bly, luiperds sal tussen bokkies lê, kalwers, leeus en voerbeeste sal bymekaar wees en klein seuntjies sal vir almal sorg. 7Koeie en bere sal saam wei, hulle kleintjies sal bymekaar lê, leeus sal gras eet soos beeste. 8Babatjies sal by die gate van adders speel, klein kindertjies sal hulle hande uitsteek na giftige slange. 9Op my heilige berg sal niemand kwaad aanrig of iets verniel nie, want die aarde sal so vol wees van die kennis van die Here soos die see vol water is. Wat ’n vreedsame toneel! Of Jes.65:25 ~ Die wolf en die lam sal saam wei, die leeu sal strooi vreet soos ’n bees, en stof sal die kos van die slang wees. Op my heilige berg sal niks verkeerds gedoen word nie, niks vernietig word nie, sê die Here. Wat ’n wonderlike situasie! Dit alles a.g.v. die vrede wat Jesus gebring het!

Het Jesus dié soort vrede gebring waarna die ganse mensdom en heelal smag, of word hier iets anders bedoel? As ons kyk na teksverse soos Matt.10:34 en Luk.12:51, is dit duidelik dat die vrede waarna Paulus in Kolossense verwys, nie die tipe vrede is waarna die wêreld smag nie en natuurlik verwys die profesieë uit Jesaja ook nie na hierdie selfde vrede nie. Jesaja se vreedsame beeld wat hy vir ons in sy profesieë skets, het natuurlik te make met die vrede wat gaan heers ná Jesus se wederkoms en nadat die oordeel deur God oor die sondaars gevel is. Paulus se Kolossense-vrede is egter iets anders.

Ons vind iets van ’n antwoord op hierdie vraag reeds kort na die sondeval, toe God in gesprek was met Adam en Eva ~ Ek stel vyandskap tussen jou en die vrou, tussen jou nageslag en haar nageslag. Dan hierdie gedeelteHaar nageslag sal jou kop vermorsel en jy sal hom in die hakskeen byt (Gen.3:15).

Die vrou se nageslag sal sy kop vermorsel! Wie is die vrou in hierdie geval? Wie sal die aksie uitvoer? Wie se kop sal vermorsel word? Sal die vraag rondom Paulus se vrede waarvan hy praat, opgeklaar word as ons die antwoorde verstrek op hierdie spesifieke vrae? Ek glo wel so.

As ons dan na die konteks van Gen.3 kyk, sien ons dat hierdie, die eerste Evangelieboodskap in die ganse Bybel is, maar ook gelykertyd, die grootste tragedie wat die heelal kon tref, nl. die sondeval – die skeiding wat tussen God en mens, maar dan ook die goeie nuus, nl. dat die vrou (Eva) se saad (Jesus), uiteindelik die satan en sy gevolg, sou oorwin (Gal.4:4-5).

Kom ons keer egter terug na die oorsaak van die onvrede – Ons het reeds gesien dat die sondeval en die satan die oorsake is vir die skeiding wat daar tussen God en die mens gekom het – die onvrede wat daar bestaan.

Dit behoort dus nou al duidelik te wees dat die vrede waarvan Paulus in Kolossense praat, niks te doen het met wêreldvrede nie – vrede van oorloë, ens. nie. Dit gaan eerder oor vrede wat tussen God en die sondige mensdom bewerkstellig moet word.

Dit is dan van hierdie Jesus waarvan Paulus ook in Kol.1:15-20 praat – Jesus is dus die Een wat hierdie vrede bring. Jesus is die Een wat die vrede tussen God en die mensdom bewerkstellig het. Jesus is die Een wat uiteindelik vrede tussen mens en dier sal bewerkstellig wanneer Hy die skepping gaan herstel – gaan herskep tot ’n nuwe aarde, waar ...wolwe en skape dan saam (sal) bly, (waar) luiperds tussen bokkies (sal) lê, kalwers, leeus en voerbeeste bymekaar (sal) wees en klein seuntjies vir almal (sal ) sorg (Jes.11:6). Paulus bevestig hierdie feit in Rom.8:21 wanneer hy sê~ ... die skepping sal self ook bevry word van sy verslawing aan die verganklikheid, om so tot die vryheid te kom van die heerlikheid waaraan die kinders van God deel sal hê.

Hierdie Jesus waarvan ons teksvers praat, is ook dié Een wat gekom het om vrede tussen God en die verlore mensdom te bewerkstellig. Vir die mens om gered te word, moes daar iewers op een of ander stadium versoening deur iets of iemand bewerkstellig word. Ons het aan die begin gesien dat God, Skepper van hemel en aarde is (Gen1:1) – ons is dus bloot skepsele waarmee Hy kan maak wat Hy wil. Voorts is God ’n heilige God wat geen sonde duld nie, daarom dat Hy o.a. in Lev.11:45b sê ~ Omdat Ek heilig is, moet julle ook heilig wees. Ons kan dus niks van ons kant doen om in vrede met God te kan lewe nie. Die enigste manier waarop vrede weer herstel kan word, is wanneer God dit van Sy kant doen.

Waarom sou God egter hierdie verbreekte verhouding met de mens wou herstel? Ons sien in Eks.34:6 dat God sê ~ ...Ek, die Here, is die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou. Hoor net wat sê Jona in Jona 4:2 ~ ...Ek het geweet U is ’n genadige en barmhartige God, lankmoedig en vol liefde. U sien maklik af van die straf wat U aangekondig het.

Hierdie barmhartigheid en genade en liefde van God, is egter nie vir alle mense beskikbaar nie, want daar is ’n voorwaarde of twee gekoppel aan hierdie genade en liefde van God – hierdie vrede wat tussen God en mens bewerkstellig moes word:  
·           Eks.33:19 ~ ... Ek betoon genade aan wie Ek genade wil betoon en Ek ontferm My oor wie Ek My wil ontferm. Dit is dus nie beskikbaar vir alle mense nie – God besluit aan wie Hy hierdie genade betoon.
·           God moes eers ’n soenoffer voorsien wat sonder gebrek was – m.a.w. dit moes ’n volmaakte offer wees wat God permanent tevrede sou stel.
·           Die mens moet glo en gehoorsaam wees. In Joh.1:12 sien ons dat Johannes sê ~ Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. Geen mens kan dus God se vrede ervaar as Hy nie glo nie – hy moet glo ten einde kind van God te kan wees. En in Rom.6:16 staan daar ~ Julle weet tog: as julle julle aan iemand onderwerp om hom as slawe te gehoorsaam, is julle die slawe van dié een aan wie julle gehoorsaam is. As dit die sonde is, beteken dit vir julle die dood; as dit gehoorsaamheid aan God is, beteken dit vryspraak en lewe. Johannes maak dit nog duideliker in 1Joh.2:4, wanneer hy sê ~ Iemand wat sê: “Ek ken Hom,” maar nie sy gebooie gehoorsaam nie, is ’n leuenaar, en die waarheid is nie in hom nie. 5Wie sy woord egter gehoorsaam—in hom het die liefde van God werklik sy doel volkome bereik. Hieraan weet ons dat ons in Hom is. 6Wie beweer dat hy in Hom bly, behoort self ook te lewe soos Jesus gelewe het.

Wat die eerste en derde punt betref, wil ek nie nou op ingaan nie, maar wel die tweede, want dít is die kruks waarom God se plan draai ten einde vrede in die mens (in jou en my) se lewe te bewerkstellig, nl. ’n volmaakte offer.

5.    VREDE:
Ek het gesê dat God ’n volmaakte soenoffer moes voorsien, anders sou daar nooit vrede kon wees nie. God hét wel daardie Soenoffer voorsien en ons sien dit o.a. in Joh.3:16 ~ God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. God het dus voorsien in die vorm van Sy eie Seun, Jesus Christus – Sy vlees- of menswording wat ons vandag vier – die CHRISTUSFEES! Ons sien dit dan ook in ons teksvers ~ Deur die bloed van sy Seun aan die kruis het Hy die vrede herstel, deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen.

Ons kan die essensie van ons teksvers opsom met vier stellings:
·           Versoening en daarom die daarstel van vrede, is ’n uitsluitlike en unieke werk van God en God alleen. Die Bybel is nie die verhaal van die mens se soeke na God nie. Dit is juis net die teenoorgestelde. In teenstelling met alle ander godsdienste op aarde, is die boodskap van Die Bybel, een waar God die mens soek – ons sien dit regdeur die Bybel – dink aan Jona; dink aan Abraham; dink aan Noag; dink aan Paulus; en so kan ons aangaan – God soek die mens en nie andersom nie!

God die Vader het Sy Seun na die aarde gestuur, ten einde sondaars van die krag en gevolge van hul sonde te red (Matt.1:21; Luk.19:10; 1Tim.1:15).
·           Tweedens is versoening, ’n afgehandelde saak. Dié van ons wie in Jesus Christus glo en Hom dien as Saligmaker en Verlosser, hoef nie tot ons dood, of tot Sy wederkoms te wag vir hierdie versoening om ’n realiteit te word nie. Nee, Jesus het reeds die versoening bewerkstellig toe Hy aan die kruis gesterf het – dit is waarom Sy laaste woorde aan die kruis, Τετέλεσται (Tetelestai) was, nl. "Dit is volbring!" – dit is afgehandel! Jesus het dus rééds sondaars wat in Hom glo, se skuld betaal en die straf op hulle sonde gedra – 1Pet.2:24 ~ Hy het self ons sondes in sy liggaam aan die kruis gedra. Daardeur is ons vir die sondes dood en kan ons lewe in gehoorsaamheid aan die wil van God. Deur sy wonde is julle genees (sien ook Rom.3:24-25).
·           In die derde plek, soos ons reeds nou al teen hierdie tyd gesien het, is die versoening aan die Kruis bewerkstellig en hierdie is die hart van die Evangelie (1Kor.2:1-5). Wat is die gevolg van hierdie versoening en vrede wat Christus aan die kruis bewerkstellig het? Ons vind die antwoord in v.23 van ons teksvers en ek wil dit graag uit die O.A.V. lees, omdat die N.A.V. hierdie vers (net soos 1Tes.5:23) teleurstellend afgewater het en ek begin by v.21 ~ Ook julle wat vroeër vervreemd was en vyandig gesind deur die bose werke, het Hy nou versoen in die liggaam van sy vlees deur die dood, (en dan hierdie woorde spesifiek) om julle heilig en sonder gebrek en onberispelik voor Hom te stel.

Die gevolg dan van hierdie versoening is:
-        Om heilig te kan wees. Die Griekse woord wat hier gebruik word, is ἅγιος (hagios) wat letterlik beteken, om afgeskei te word van sonde en eenkant, weg van sonde, vir God afgesonder te word. Dit gaan dus hier oor ons verhouding met God. As gevolg van gelowiges se geloof in Jesus Christus, beskou God hulle as heilig ~ Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom  (2Kor.5:21. O.A.V.).
-        Die gevolg van die versoening wat Christus tussen ons en God bewerkstellig het, is om sonder gebrek te wees (ἄμωμοςamōmos). In die Ou Testament is hierdie woord gebruik om na die offerdiere te verwys wat gebruik is om vrede of versoening tussen God en die volk te bewerkstellig en in die Nuwe Testament word hierdie woord uitsluitlik gebruik wanneer daar na Jesus verwys word (Heb.9:14; 1Pet.1:19). Die implikasie van Jesus se soendood aan die kruis, is dat ons as gelowiges vlekkeloos, of gebrekloos, voor God kan staan.
-        Nog ’n gevolg van die vrede wat Christus vir ons gebring het, is die derde begrip in v.21, nl. dat ons onberispelik voor God kan staan (ἀνέγκλητοςanenklētos). Om onberispelik voor God te staan, gaan ’n stappie verder as om sonder gebrek te wees – dit beteken dat niemand eers ’n klag teen ons kan lê nie – Rom.8:33 ~ Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry. Nie eers kan die satan, "die aanklaer van ons broeders" (Openb.12:10 – O.A.V.) dit doen nie. Om dit in Engels uit te druk, ons is nie net "above apporach" nie, ons "beyond approach"!

Geliefdes, Christus se versoeningswerk het tot gevolg dat God ons nou reeds sien soos wat ons eendag gaan wees ná ons verheerliking! Wat ’n wonderlike gerusstelling en as dít nie vrede in ons gemoed tot gevolg het, sal niks ons vrede gee nie, of anders gestel, het ons nog nie versoening in Christus Jesus ervaar nie!

6.    AFSLUITING:
Hierdie vrede waarvan ons teks praat, is dus nie vrede op aarde nie, maar vrede aan sekere mense op aarde – vrede in my en jou wat in Christus Jesus uitverkies is en in Hom glo en Hom gehoorsaam – dit is waarom Jesus self in Luk.2:14 sê ~ Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ’n welbehae het!”  Jesus het dus na hierdie wêreld gekom ter wille van die uitverkorenes. Hy het gekom om alles te doen wat vir hulle redding nodig was. Hy het gekom om vrede tussen God en Sy kinders te bewerkstellig.

My liewe vriend en vriendin, mag jy ook hierdie vrede wat net Christus kan bewerkstellig, in jou lewe ontvang en ervaar en geliefdes, mag ons die vrede wat Jesus Christus na hierdie aarde gebring het in die besonder in hierdie dag ervaar! ’n Geseënde Christusfees vir elkeen van julle en mag julle vandag in die besonder, maar elke dag vir die res van julle lewe, hierdie vrede ervaar wat net God in Jesus Christus kan gee! AMEN!


[1] Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te VAALDRIEHOEK Baptiste Gemeente (Vereeniging) - Sondagoggend 25 Desember2011