Wednesday 30 January 2013

DIE PELGRIM SE REIS ~ 15 (Pelgrim Onderwerp aan Dissipelskap)


Let asb. daarop dat hierdie 'n ongeredigeerde weergawe van die oorspronklike lering is en die eerste en lateres, sal weldra ook geplaas word - daar word ook nog ernstig gedink aan beter vertalings vir die verskillende karakters se name - voorstelle sal verwelkom word
 
DIE PELGRIM SE REIS ~ 15
(Pelgrim Onderwerp aan Dissipelskap)
                                     p.46-52   of   p.48-53  of  p.56-61                                     

1.  INLEIDING:
Ons het die vorige keer gesien hoe dat “Waaksaam” vir “Pelgrim” aan sommige van die ander inwoners van die “Pragtige Paleis” voorgestel het, waarna “Waaksaam” ‘n onderhoud met hom gevoer het.  Ons gaan nou sien hoe dat drie volwasse gelowiges ‘n, pad van Dissipelskap met “Pelgrim” begin loop.  Eerste aan die beurt is “Godsvrug” (“Piety”).

Lees p.46-48 of 48-50 (1) of 56-58
Ons lees in Matt.28:19-20 ~ Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en 20 leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.” 

Ons moet dan eerstens vir onsself afvra:  “Wat is ‘n Dissipel?”

Ten aanvang moet ons ook net kyk na Luk.6:40 ~ ’n Leerling is nie hoër as sy leermeester nie, maar iemand wat volleerd is, sal aan sy leermeester gelyk wees.

2.  DISSIPELSKAP – “GODSVRUG”:
Ons moet tweedens vir onsself vra:  Hoe word ‘n dissipel gemaak?
*       Deur openbare prediking en lering van die Woord ~  Maar hoe kan ’n mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie? En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek? 15 En hoe kan iemand preek as hy nie gestuur is nie? Daar staan ook geskrywe: “Hoe wonderlik klink die voetstappe van dié wat die goeie boodskap bring” (Rom.10:14-15).
*       Deur individuele of privaat bediening van die Woord.  Hier moet ook daarop gelet word, dat hierdie die verantwoordelikheid van elke gelowige is, deurdat hy/sy, nie net sal praat daaroor nie, maar dit ook sal voorleef, want dit is hoe dissipels gemaak word – d.m.v. verhoudinge.  Daar moet dus tyd spandeer word met mekaar. 

Paulus is vir ons hier ’n voorbeeld – Hy het bv. nooit alleen gereis nie.  Sy dissipels het op informele wyse van hom geleer, deurdat hulle hom voortdurend gesien het en na hom geluister het – aan die anderkant kon hulle ook dinge doen wat hy nie kon nie en sodoende hom weer gehelp.  Hy het hulle dus voortdurend opgelei.  Daarom is “fellowship” (gemeenskap van die gelowiges) so geweldig belangrik  - ook t.o.v. nuwe lidmaat aansoeke – ons moet weet hoe hierdie nuwe aansoeker in sy huis leef; met sy vrou en met andere ens.

Hoe kan jy sien hoe iemand anders lewe?  Net as jy tyd spandeer met daardie persoon.

Ouers:  Kan u nou sien watter geweldige verantwoordelikheid u teenoor u kinders het en hoe ontsettend belangrik dit is hoe u vóór u kinders leef.

Kom ons kyk hier na enkele Skrifgedeeltes ten einde hierdie punt te ondersteun ~ Hy het toe twaalf, wat Hy apostels genoem het, aangestel om by Hom te bly... (Mark.3:14a) en hiermee saam, Joh.13:15 ~ Ek het vir julle ’n voorbeeld gestel, en soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen.

Fil.4:6 ~ En wat julle van my geleer en ontvang het, en gehoor en gesien het, dit moet julle doen. En God wat vrede gee, sal by julle wees (sien ook Hand.4:13; 1Tes.1:5-6).

Om saam te vat dan – Dissipelskap vind plaas tydens en met openbare prediking en lering van die Woord (tydens die erediens dus) en tweedens vind dissipelskap plaas tydens individuele en/of privaat bediening van die Woord.

Ons het gesien dat “Pelgrim” eerstens” onderwerp word aan dissipelskap deur “Godsvrug” (“Prudence”).  Die Griekse woord vir “Godsvrug”, is “Eusebius”.  (Hou in gedagte dat Bunyan name gee aan die mense wat ’n pad van dissipelskap loop met “Pelgrim” - name wat die drie belangrikste eienskappe in ’n gelowige se geloofslewe is).  Die eerste van hierdie eienskappe is dan Godsvrug.

Wat beteken Eusebius?  Eusebius of te wel “Godsvrug” dui op: Lojaliteit; Toewyding; Respek; Getrouheid; Eerbied en ’n Godvrugtige lewe.  Hierdie eienskappe word verskeie kere in die Nuwe Testament vermeld – bv.  Titus 2:11-12 ~ Die genade van God wat verlossing bring, het immers aan alle mense verskyn.  Dit voed ons op om die goddelose leefwyse en wêreldse begeerlikhede te laat vaar en met selfbeheersing, opregtheid en godsvrug in die teenswoordige wêreld te lewe.  Dit word bv. 15 keer in Paulus se sendbriewe vermeld (sien o.a. 1Tim.2:1-2, 10; 3:16; 4:7-8; 5:4; 6:3-6; 2Tim.3:5,12; Titus 1:1).  Dit word ook verskeie kere in Petrus se tweede Sendbrief vermeld, bv.: 2Pet.1:3-5,7 ~  Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien. Dit kom deurdat ons Hom ken wat ons geroep het deur sy heerlikheid en mag. Deur dit te doen, het Hy ons die kosbaarste en allergrootste gawes geskenk wat Hy belowe het. Daardeur kan julle die verderf ontvlug wat deur begeerlikheid in die wêreld werksaam is, en deel kry aan die Goddelike natuur.  En juis om hierdie rede moet julle alles in die stryd werp om julle geloof te verryk met deugsaamheid, die deugsaamheid met kennis, die kennis met selfbeheersing, die selfbeheersing met volharding, die volharding met godsvrug, die godsvrug met liefde onder mekaar en die liefde onder mekaar met liefde vir alle mense (sien ook 2Pet.3:11).

 “Godsvrug” loop dan ‘n pad van dissipelskap met “Pelgrim” en sy vra feitelike vrae, maar terselfdertyd vrae wat maklik beantwoord kan word – dit is dan ook uiteraard wat ons moet doen wanneer ons ‘n pad van dissipelskap met iemand loop.

Net voor ons verder gaan:  Hoe verklaar ons die feit dat “Pelgrim” (’n man) hier deur ’n vrou geleer word – dit is tog nie Bybels nie?  Onthou, Bunyan verwys hier na die kerk (korporatief) en daar word in die Woord na die kerk, as Christus se Bruid (vroulik) verwys en die dissipelskap word dus deur die Bruid van Christus hanteer, daarom dat hy vroulike name gebruik – verwysende na die Bruid van Christus.

Sy maak dus gebruik van die “Vraag-en-Antwoord- metode”:
*       Wat het daartoe aanleiding gegee dat jy na Christus begin soek het?
*       Hoe het dit gebeur dat jy jou land verlaat het en hierheen gekom het?
*       Het jy dan nie by die Huis van “Uitlêer” verby gegaan nie?
*       Het die “Man met die verskriklike droom” vir jou vertel van sy droom?
*       Was dit al wat jy in “Uitlêer” se huis gesien het?
*       Wat het jy nog gesien op jou reis tot dusver?

Ons sien dat “Godsvrug” verskeie dinge geleer het n.a.v. die vrae wat sy vir “Pelgrim” gevra het:
*       Dat “Pelgrim” uiters bekommerd was oor God se haat en oordeel oor sonde.
*       Hy het sy tuisdorp verlaat, omdat dit God se wil was.
*       Hy verstaan nie regtig wat die rol van God se soewereiniteit speel in die reddingsproses nie – die uitverkiesing dus.
*       “Pelgrim” was baie diep geraak deur die dinge wat hy in “Uitlêer” se huis gesien het – bv. die “Vuur teen die muur”; die “Man in die Ysterhok”; die “Man met die Verskriklike Droom”; die “Pragtige Paleis” ens.
*       Dat “Pelgrim” ’n geweldige begeerte gehad het om meer van God se waarheid te leer.
*       Dat “Pelgrim” oortuig was van die feit dat die mens se enigste hoop op verlossing van sy sondeskuld en wegwerplikheid voor God, geleë is in die soendood van Jesus Christus aan die kruis op Golgota.
*       Dat “Pelgrim” alreeds die vermoë begin ontwikkel het om te onderskei tussen ware geloof en vals geloof.
*       Dat “Pelgrim” reeds ’n mate van verantwoordelikheid begin beleef om mense te waarsku en/of te berispe, wat ’n vals sekuriteit en hoop op ’n ewige lewe, koester
*       Dat gelowiges onvermydelik, swaar tye in hierdie wêreld en hulle Christelike lewe sal beleef.
*       Dat “Pelgrim” erken het dat hy nie oor die vermoë beskik om die lewe van ’n Christen te leef, sonder die hulp van God en ander gelowiges nie.
*       Dat “Pelgrim” die wyse waardeer, waarop God hom tot nou beskerm het en vir die wyse waarop hy ontvang is in die Liggaam van Christus (die kerk).

Waarom het “Godsvrug” hierdie vrae aan Pelgrim gevra en waarom moet ons dieselfde vrae aan nuwe dissipels vra?
*       Om die egtheid van “Pelgrim” se getuienis te bepaal – m.a.w. sy wi; seker maak of hy werklik wedergebore is (“is hy deur met die Here?”).
*       Om die vlak of diepte van sy geestelike begrip en volwassenheid in die Here te bepaal, ten einde vas te stel watter tipe lering hy nodig het – Dit laat ’n mens dink aan die woorde in Spr.18:13 ~ Wie antwoord voor hy die vraag gehoor het, is dwaas en kom in die skande.
*       T.w.v. van “Godsvrug” se eie geestelike groei en dit seën haar om iemand anders se getuienis te hoor.
*       T.w.v. “Pelgrim” se eie beswil, want dit versterk ook sy eie geloof.

3.  DISSIPELSKAP – “WYSHEID”:
Ons volgende lidmaat wat ‘n pad met “Pelgrim” loop, is “Wysheid” (“Prudence”) en wysheid is dan ook die tweede belangrike eienskap van ’n gelowige se geloofslewe.

Lees p.48-49 of 50-51 (2) of 58-59
‘n Baie belangrike Bybelse eienskap wat hier in gedagte gehou moet word, tref ons o.a. aan in Spr.18:15 ~ ’n Mens met insig doen kennis op; wyse mense hou hulle ore oop vir kennis.  Spr.13:16 ~ Alles wat ’n verstandige mens doen, word met kennis gedoen; wie nie wysheid het nie, begaan een dwaasheid na die ander.  Spr.15:5 ~ ’n Dwaas verag wat sy vader hom leer; wie hom laat teregwys, is verstandig.  Spr.19:14 ~ Van sy ouers kan iemand ’n huis en besittings erf, maar ’n verstandige vrou is ’n geskenk van die Here.  Spr.27:12 ~ ’n Verstandige mens sien onheil kom en sorg dat dit hom nie tref nie, onervare mense loop oop oë daarin en boet daarvoor.

’n Baie belangrike Bybelse kwaliteit wat ons ook in gedagte moet hou, wanneer dit kom by die dissipleskapspad wat “Wysheid” met “Pelgrim” geloop het, is o.a. díé wat ons aantref in 1Tim.3:2 ~ ’n Ouderling moet onberispelik wees, getrou aan sy vrou, nugter, verstandig, beskaaf, gasvry en bekwaam om te onderrig.  Ook 1Tim.2:9,15 ~ Van die vroue wil ek hê dat hulle ook in hulle kleredrag waardig, beskeie en ingetoë moet wees. Hulle versiering moenie haarkapsels en goud of pêrels of duur klere wees nie, 15 Maar sy sal haar redding vind in moederskap, as sy maar volhard in geloof, liefde en ’n heilige lewe, en daarby beskeie bly.  Titus 2:2,5,6 ~  Sê vir die ouer mans hulle moet nugter wees, eerbaar, verstandig, gesond en vas in geloof, liefde en volharding. 5 verstandig en kuis, goeie huisvrouens, onderdanig aan hulle mans. Dan sal die woord van God nie in diskrediet kom nie. 6 Net so moet jy die jonger mans vermaan om hulle verstandig te gedra.  Mark.5:15 ~ Toe hulle by Jesus kom en die besetene in wie die baie bose geeste was, daar sien sit met sy klere aan en by sy volle verstand, het hulle groot geskrik.  Rom.12:3 ~ Kragtens die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen van julle: Moenie van jouself meer dink as wat jy behoort te dink nie. Nee, lê jou liewer daarop toe om beskeie te wees in ooreenstemming met die maat van geloof wat God aan elkeen toebedeel
het.

Wat dan beteken “Wysheid” se naam dan regtig?  En wanneer ons daarna kyk, moet ons die betekenis van haar naam koppel aan dit wat sy in haar dissipelskap van “Pelgrim”, aan hom geleer het – m.a.w., hierdie is kwaliteite wat ’n Christen oor behoort te beskik en wat ons vir ’n nuwe dissipel moet leer.

“Wysheid” se naam beteken dan o.a.:
*       Om in beheer van jouself te wees – die teenoorgestelde van impulsiwiteit dus.
*       Om wys te wees – Die teenoorgestelde is dus om onverstandig te wees
*       Om wyse besluite te neem – Om m.a.w. goeie oordeel aan die dag te lê
*       Om gewilig te wees om te luister – “Pelgrim” weet dus hy het baie om te leer.
*       Neem besluite wat gebaseer is op feite.
*       Beoordeel op grond van feite
*       Om vooruit te dink – antsipeer

Voorbeelde van wysheid:
*      Barnabas in Hand.11:19-26 ~ Deur die vervolging wat na Stefanus se dood ontstaan het, is die gelowiges uitmekaar gejaag. Party van hulle het na Fenisië, Siprus en Antiogië toe gegaan, maar hulle het die woord aan niemand anders as net aan Jode verkondig nie. 20 Onder die vlugtelinge was daar sekere mense wat van Siprus en Sirene afkomstig was en wat in Antiogië gekom en daar ook aan die Griekssprekendes die evangelie dat Jesus die Here is, verkondig het. 21 Die Here het die gelowiges gehelp, sodat daar baie mense tot geloof gekom en hulle tot die Here bekeer het. 22 Die berig hieroor het die gemeente in Jerusalem bereik, en hulle het vir Barnabas na Antiogië toe gestuur. 23 Toe hy daar kom, was hy bly om te sien hoe God in sy genade onder hulle gewerk het, en hy het hulle almal aangespoor om met hart en siel aan die Here getrou te bly. 24 Barnabas was ’n goeie man, vol van die Heilige Gees en met ’n vaste geloof. ’n Aansienlike groep mense is tot geloof in die Here gebring, 25 en Barnabas is na Tarsus toe om vir Saulus te gaan soek. 26 Toe hy hom kry, het hy hom na Antiogië toe gebring, en hulle twee het ’n hele jaar lank saam in die gemeente gewerk en baie mense onderrig. In Antiogië is die gelowiges die eerste keer Christene genoem.
*       Paulus in Hand.16:1-3 ~ Paulus het in Derbe gekom en daarna in Listra. Dáár was ’n gelowige met die naam Timoteus. Sy ma, ook ’n gelowige, was ’n Joodse vrou en sy pa ’n Griek. 2 Die gelowiges in Listra en Ikonium het net goed van hom gepraat. 3 Omdat Paulus vir Timoteus met hom wou saamneem, het hy hom besny. Dit het hy gedoen ter wille van die Jode wat in daardie gebied gewoon het, want hulle het almal geweet sy pa is ’n Griek.    Paulus het in sy wysheid geweet, dat indien die onbesnyde (sy pa was ’n Griek) gelowige Timoteus (sy ma was ’n gelowige), onder die Jode wou werk, sou hy besny moes wees.
*       Sien ook vir Aquilla en Priscilla in Hand. 18:24-26; Moses in Hebr.11:24-26; Josef in Gen.39 en Die Jongman in Spr.7:6-23.

Waarom is wysheid so ’n belangrike eienskap vir ’n gelowige?
*       Sonder wysheid kan ’n gelowige maklik op ’n syspoor gelei word.
*       Sonder wysheid kan ’n gelowige baie maklik misverstaan word.
*       Sonder wysheid kan ’n gelowige nie gerespekteer word nie.

Kom ons kyk ‘n bietjie na die vrae wat “Wysheid” vir “Pelgrim” gevra het:
*       Wat dink jy van jou vorige lewenswyse?  Hierdie is ‘n diep vraag en die antwoord kan vir “Wysheid” baie dinge t.o.v. “Pelgrim” openbaar.
*       Verag en verwerp jy jou vorige lewe?  Die insig wat hier verkry kan word, is o.a. om te sien of “Pelgrim” werklik insig het in sy vorige verlorenheid en hoe God sonde werklik sien en voel daaroor.
*       Ervaar jy ooit vryheid van ‘n innerlike stryd met vleeslike en wêreldse gedagtes? 
*       Wanneer jy oorwinning ervaar – wat help jou die meeste en wat se betekenis hou so ‘n oorwinning vir jou in? 
*       Wat motiveer jou om te volhard in jou Christelike lewe?
*       Wat is die rede, waarom jy so entoesiasties en vol ywer voort beur om by die Berg Sion uit te kom?

Ons sien deur hierdie vrae van “Wysheid”, dat sy baie meer diepgaande en ondersoekende vrae as “Godsvrug” gevra het en sy weet, dat “dit wat buite is, ook binne is”, m.a.w. dat dit wat innerlik gedeponeer is, ook uiterlik sal manifesteer.

En deur haar vrae aan “Pelgrim”, is hy ook weer gemotiveer om diep na te dink oor sy eie geloof en oortuigings en in die proses word sy oortuigings net nog meer vasgelê.

4.  DISSIPELSKAP – “LIEFDE”:
 Laastens word “Pelgrim” deur “Liefde” (“Charity) gehelp op sy pad van dissipelskap.

Lees p.49-50 of 52-53 (2) of 59-61
‘n Volgende baie belangrik eienskap vir ‘n gelowige se lewe, is liefde.  Dit is interessant om te sien dat die Hebreeuse woord vir liefde, meer as 500 keer voorkom in die Ou Testament, bv. Eks.20:6 ~ ...maar Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet en my gebooie gehoorsaam (bha - aw-hab') – sien ook Deut.6:4-5; Lev.19:18; Deut.7:9; 10:12; 11:1; 30:6 ens. 

En in die Nuwe Testament kom die woord “liefde”, meer as 370 keer voor, bv. 1Tim.1:5 ~ Die doel van hierdie opdrag is om liefde te wek wat uit ’n rein hart, ’n goeie gewete en ’n opregte geloof kom.  1Pet.2:17 ~ Julle moet alle mense respekteer en julle medegelowiges liefhê. Vrees God. Eer die keiser (sien ook: Rom.8:28; Kol.3:12-14; 1Kor.8:3,13; 1Pet.1:8,22; Jak.1:12; Matt.22:37-40; Luk.10:25-37 en Joh.13:34-35).

As ons dus sien dat die begrip “liefde”, meer as 870 keer in die Woord gebruik word, dan kan dit nie anders as om vir ons te sê hoe ‘n belangrike begrip en eienskap dit in die gelowige se lewe is nie.  Net in 1Joh.3 en 4 alleen, word die woord “liefde” 35 keer gebruik.

Voorbeelde van Bybelse liefde:
*       Liefde is om te doen – Bv. die 12 dinge wat in Lev.19:9-18 vermeld word ~ “Wanneer julle julle lande afoes, moet julle nie die wenakkers afoes nie en ook nie die are wat bly lê, agterna optel nie. 10 Julle moet ook nie die wingerde ’n tweede keer oes of die korrels wat val, optel nie. Laat dit alles bly vir die armes en die vreemdelinge. Ek is die Here julle God. 11 “Julle mag nie steel nie en julle mag nie lieg of mekaar bedrieg nie. 12 Julle mag nie ’n vals eed aflê in my Naam en so die Naam van julle God ontheilig nie. Ek is die Here. 13 “Jy mag nie jou naaste uitbuit of hom beroof nie. Jy mag nie ’n dagloner se loon terughou tot die volgende dag nie. 14 Uit eerbied vir jou God mag jy nie ’n dowe vloek of ’n hindernis in die pad van ’n blinde lê nie. Ek is die Here. 15 “Jy mag nie onregverdig wees in die regspraak nie: jy mag nie partydig wees vir dié wat geen aansien het nie of die vooraanstaande bevoordeel nie. Oordeel regverdig oor jou naaste. 16 Jy mag nie loop en skinder nie, jy mag nie jou medemens se lewe in gevaar stel nie. Ek is die Here. 17 “Jy mag nie haatdraend wees teenoor jou volksgenoot nie. Maak die geskil openlik met hom uit, moenie wat hy verkeerd gedoen het, teen hom bly hou nie. 18 Jy mag nie wraak neem of ’n grief koester teenoor jou volksgenoot nie, jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Ek is die Here. 19 “Julle moet my voorskrifte gehoorsaam. Moenie verskillende soorte diere kruis of verskillende soorte saad in een land saai of ’n kledingstuk van verskillende soorte materiaal dra nie.  Bybelse liefde is dus om te doen.
*       Liefde is om 1Kor.13:4-8 uit te leef ~ Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie. 5 Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie. 6 Dit verbly hom nie oor onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid. 7 Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles. 8 Die liefde vergaan nooit nie, maar die gawe van profesie sal verdwyn, die gawe om ongewone tale en klanke te gebruik, sal ophou, en dié van kennis sal uitgedien raak. 
*       Liefde is om die Goeie Samaritaan te wees (Luk.10:25-37).
*       Jesus Christus is Liefde ~ “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê (Joh.3:16 – sien ook Rom.5:8).
*      Liefde is soos die man in die huwelik ~ Mans, julle moet julle vrouens liefhê soos Christus die kerk liefgehad en sy lewe daarvoor afgelê het. 26 Dit het Hy gedoen om die kerk aan God te wy, nadat Hy dit met die water en die woord gereinig het, 27 sodat Hy die kerk in volle heerlikheid by Hom kan neem, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks, heilig en onberispelik  (Ef.5:25-27).
*       Liefde is geestelike volwassenes soos, “Godsvrug”, “Wysheid” en “Liefde”, wat uitreik na jong dissipels en ’n pad van dissipelskap met hulle loop.
*      Liefde is om uit te reik na jou familie
*      Liefde is om verloregaande siele te waarsku, soos wat “Pelgrim” gedoen het in die geval van “Mnr. Wêreldwys”, “Jabroer”, “Hardkoppig” e.a.

Vrae wat “Liefde” vir “Pelgrim vra, is o.a. die volgende:
*       Het jy familie?
*       Waarom is hulle nie saam met jou nie?
*       Moes jy nie met hulle gepraat en hulle gewaarsku het nie?
*       Het jy vir jou familie gebid, sodat hulle onder sondebesef sal kom?
*       Het jy vir hulle gesê dat jy intens besorgd is oor hulle?
*       Watter redes het jou familie aangevoer waarom hulle nie saam met jou op hierdie reis gegaan het nie?
*       Het jou vorige onheilige lewe, jou vermoë om jou familie te waarsku en oor te haal om saam met jou te reis, benadeel?
*       Was daar sonde of dinge in jou lewe wat ’n struikelblok vir hulle kon gewees het?

Let verder daarop, dat “Liefde” bo en behalwe al die vrae wat sy vra, nogtans vir “Pelgrim” bemoedig en aanmoedig! 

Hoe het die vrae van “Liefde” verskil van díé van “Godsvrug” en “Wysheid”?  Sy het gekonsentreer op verhoudinge – liefde en sy naaste.  “Godsvrug het vrae gevra oor sy verhouding met Jesus Christus.  “Wysheid” het vrae gevra wat handel oor wysheid, kennis ens.

“Liefde” se dissipelskapsklem val dus op die feit dat “Pelgrim” en daarom ons ook, se verhouding met Christus, nie net bestaan uit kennis en wysheid nie, maar ook uit verhoudinge en liefde – ons moet dus ook en ek wil amper sê, veral ’n praktiese liefdesgemeenskap wees.  Sy moedig hom dus aan om nie net te werk aan sy verhouding met Christus nie, maar o.a. ook aan sy verhouding met sy broers en susters en sy naaste.

Wat wou “Liefde” verder met haar vrae bereik?  Sy daag “Pelgrim” daardeur uit om te dink en te evalueer en homself te ondersoek.
5.  VOLGENDE KEER:
DIE PELGRIM SE REIS ~ 16
Nogsteeds In Die Pragtige Paleis ~ 03
p.50-52   of   p.53-57  of  p.61-65