Sunday 5 August 2012

Die Brief aan die Hebreërs - 08 (Vestig jou oë op Jesus)


1.    INLEIDING:
       Ons verlede week gesien dat Jesus, ons as Sy broers beskou en ons het na die implikasies van hierdie uitspraak van Hom gekyk en o.a. gesien...:
·           Dat ons dieselfde Vader as Jesus het;
·           Dat ons mede-erfgename saam met Jesus is;
·           Dat Jesus, die Vader se Naam aan ons bekend maak in die gemeente;
·           Dat ons ’n toekoms in Jesus het;
·           Dat ons die aanvanklike houvas van die satan oor ons, nie meer hoef te vrees nie;
·           Dat ons die dood nie meer hoef te vrees nie;
·           Dat Jesus ons ewige Hoë Priester is.  

2.    SKRIFLESING:
       Hebr.3:1-6 ~ Daarom, broers wat vir die Here afgesonder is en deelgenote is van die hemelse roeping, moet julle noukeurig let op Jesus, die Apostel en Hoëpriester van die geloof wat ons bely. 2Hy is getrou aan God wat Hom aangestel het, soos ook Moses getrou was in die hele huis van God. 3Maar Jesus is groter heerlikheid waardig geag as Moses, net soos die een wat ’n huis bou, meer eer waardig is as die huis. 4Elke huis word deur iemand gebou, maar God is die Een wat alles gebou het. 5Moses was as dienaar getrou in die hele huis van God en moes getuig van die dinge wat God nog sou sê. 6Christus daarenteen is as Seun getrou oor die huis van God. En ons is sy huis as ons maar net met moed en oortuiging bly vashou aan wat ons hoop.

       Wanneer ons vanoggend na hierdie gedeelte gaan kyk, sal ons sien dat die Hebreërskrywer vir ons ’n vergelyking tref tussen, aan die eenkant Jesus wat getrou was aan God en aan die anderkant, Moses wat getrou was aan God.

       Daarna sal hy ’n kontras tref tussen Jesus wat getrou is oor God se huis en Moses wat getrou in God se huis was. Ons struktuur sal dus as volg daaruit sien:
1.      Die Vergelyking (v.2):
o    Jesus was getrou aan God (v.2a)
o    Moses was getrou aan God (v.2b)
2.      Die Kontras (vv.3-6):
oJesus – getrou oor God se huis (vv.4, 6)
oMoses – getrou in God se huis (v.5)

       As ons dan na v.1 van ons Skriflesing kyk, sien ons dat die apostel die hoofstuk met die woord "daarom" begin en ons weet mos nou al, dat wanneer ’n gedeelte met hierdie woord begin, moet ons vra waarom sê hy "daarom"? As ons dit wil beantwoord moet ons terug gaan na ons vooraf gedeelte. Tot nou het ons dan gesien dat die Heilige Gees deur die Hebreërskrywer met die gelowige Jode in ’n, waarskynlik klein gemeentetjie iewers in die omgewing van Rome gepraat het, terwyl hulle die een oog op Jesus gehou het en met die ander oog teruggekyk het na die Judaïsme waaruit hulle gekom het.

       ’n Verdere interessantheid wat ons hier in v.1 aantref, is die feit dat gelowiges vir die eerste keer "broers" genoem word en dit is o.a. omdat hulle Christus as oudste broer het en omdat alle gelowiges Christus as oudste broer het, is hulle ook broers (en natuurlik susters) van mekaar.

       Die skrywer hang egter nog ’n etiket om sy broers in hierdie gemeentetjie se nekke, want hy sê vir hulle dat hulle ...vir die Here afgesonder... is. Letterlik staan daar, Daarom, broers, julle wat heilig is... Die skrywer praat dus hier met mense wat deur Christus se soendood geheilig is – heilig verklaar is – sonder sonde dus in die oë van die Vader!

          Die skrywer gaan egter voort en hy sê dat sy broers in die gemeente, ...deelgenote is van die hemelse roeping. Die Griekse woord vir "deelgenote" is μέτοχος (metochos) en beteken letterlik om kamerade of metgeselle van mekaar te wees. Hulle is dus kamerade of metgeselle van die hemelse roeping en ons sien die hemelse roeping omskryf in Hebr.11:14,16, is ~ Mense wat so praat, gee daarmee duidelik te kenne dat hulle op soek is na ’n vaderland... ...16Maar hulle het na ’n beter vaderland, dit is die hemelse, verlang. Daarom is God nie skaam om hulle God genoem te word nie; trouens, Hy het vir hulle ’n stad gereed gemaak.. Hulle roeping (en ons roeping) waaraan hulle deel het, omdat hulle geheilig is deur Christus, is om die ewige heerlikheid saam met God, tegemoet te gaan (en om te dink hulle is alreeds saam met die Hebreërskrywer in daardie hemelse stad – die nuwe Jerusalem wat vir hulle en vir ons wat in Christus Jesus is, gereed gemaak is!).

       Die skrywer van die brief gaan voort en hy sê vir hulle dat hulle noukeurig op Christus moet let. Die ESV sê: Therefore....consider Jesus. Die woord wat vir "consider" gebruik word, of dan "let op", is in die Grieks, κατανοέω (katanoeō) (kata-na-hy-hou) en impliseer aandag en voortdurende waarneming, of om versigtige oorweging te skenk aan iets sodat jy dit ten volle kan verstaan. Die skrywer wil dus vir sy lesers sê, dat hulle ernstige aandag moet skenk aan wie en wat Jesus werklik is en wanneer hulle dit gedoen het en verstaan – wérklik verstaan wie Jesus is, sal hulle ook verstaan dat Jesus die allehoogste Apostel is wat deur God gestuur is, maar ook die volmaakte Hoë Priester – Jesus Christus wat alles verteenwoordig en veel-veel meer is, as wat enige mens maar kan begeer! In die lig hiervan doen die skrywer ’n ernstige beroep op sy lesers om Jesus die Christus na te volg en Hom te eer. Trouens hy sê vir sy lesers dat hierdie hul hoogste- en hemelse roeping moet wees – hulle moet hulleself in die woorde van Paulus in Fil.3:14 ~ (in)span om by die wenstreep te kom, sodat (hulle) die hemelse prys kan behaal waartoe God (hulle) geroep het in Christus Jesus.

       Ons het nou al gesien dat Jesus ons Voorspraak genoem word, ook ons Verlosser; ons Oudste Broer, ens., maar die benaming, "Apostel" is ’n nuwe benaming wat die Hebreërskrywer hier aan Jesus toeken. Wanneer ons egter na die Griekse betekenis vir apostel kyk, nl. ἀπόστολος (apostolos), besef ons dat dit ’n baie gepaste naam vir Jesus Christus is, want die letterlike betekenis van "Apostel" is, die "Gestuurde".

3.    DIE VERGELYKING:
       Tot nou het ons dan gesien hoe die Hebreërskrywer stap vir stap sy argument ontwikkel, nl. dat Jesus groot bo alles en almal is, Hy is groter as die engele; Hy is die Outeur van ons verlossing, maar ook groot genoeg om mens te kon word ten einde verlossing vir ons te bewerkstellig. Sy aandag verskuif egter nou na Moses, wat deur die Jode as die grootste van alle mense beskou is en hy vergelyk Moses met Jesus.

       Baie van die Jode het Moses selfs groter as die engele beskou en daarom kon hy in hulle oë selfs groter as Jesus gewees het. Ons sal dan ook sien dat die skrywer in sy beredenering, nie eenkeer vir Moses verkleineer of kritiseer nie. Hy aanvaar dat Moses ’n groot leier was, maar hy dui aan dat Jesus nog groter – veel-veel groter as Moses is.

o    Jesus was getrou aan God:
       In Hebr.2:17 het ons reeds gesien dat Jesus as ’n getroue Hoë Priester beskryf is en nou hier in v.2a word dieselde byvoeglike naamwoord vir Hom gebruik, maar nou word dit spesifiek gebruik om Jesus se getrouheid t.o.v. die uitvoering van Sy roeping waartoe God die Vader Hom geroep het en wat Sy Vader aan Hom toevertrou het, te beskryf. Hierdie roeping van Jesus word o.a. bevestig in Hand.2:36 ~ Die hele Israel moet nou vas en seker weet: God het hierdie Jesus, wat julle gekruisig het, Here en Christus gemaak! Die beeldspraak wat hier gebruik word, is die van ’n hofmeester wat aangestel is oor die huishouding van iemand belangrik.

       Wat die skrywer dus wil sê is dat Jesus getrou was teenoor Hom (die Vader) wat Hom geroep en aangestel het.

       Jesus se primêre oogmerk met Sy vleeswording was om die taak wat God aan Hom opgedra het, uit te voer. Hierdie doelgerigte gehoorsaamheid van Jesus, nl. om na die aarde te kom en uiteindelik in ons plek te kom sterf, word pragtig en profeties vooruitgewys in die woorde van Ps.40:8-9 ~ Daarom het ek gesê: “Hier het ek gekom soos dit in die boekrol vir my voorgeskrywe is. 9Om u wil te doen, my God, is my een begeerte, u woord is my hele lewe.” Die feit dat Christus volkome gehoorsaam aan Sy Vader was, verskaf aan ons enorme sekuriteit, want net soos wat Hy aan Sy Vader getrou en gehoorsaam was, net so kan ons die vaste versekering hê dat Hy ons vertroue, volkome en volmaak waardig is.     

o    Moses was getrou aan God:
       V.2b van ons Skriflesing begin met die woord, ...net so... Die skrywer tref dus ’n vergelyking hier tussen Christus en Moses en hy sê dat, net soos wat Christus getrou was, net so was Moses getrou, trouens die Vader het die volgende in Num.12:7-8 van Moses gesê ~ Maar met my dienaar Moses is dit anders Hy is die betroubaarste in my diens.8Met hóm praat Ek direk en persoonlik, nie in raaisels nie. Hy sien selfs die gestalte van die Here. Waarom was julle dan nie bang om só met my dienaar Moses te praat nie?”

       Dit het veertig jaar geneem om Moses voor te berei op sy roeping om die volk uit Egipte te lei en toe vir ’n verdere veertig jaar het God vir Moses kragtig gebruik. Moses was egter nie Christus en derhalwe nie God nie en daarom praat die skrywer eers oor Christus se getrouheid en dan oor Moses s'n.

4.    DIE KONTRAS:
       In vv.3-6 word daar vir ons ’n kontras geskilder tussen Christus en Moses. In hierdie verse sal ons sien dat Moses bloot dienskneg is, terwyl Jesus, Seun van God is.

o    Jesus – getrou oor God se huis:
       Die skrywer borduur voort op sy standpunt en verduideliking dat Jesus groter is as Moses, deur in v.4 te sê ~ Elke huis word deur iemand gebou, maar God is die Een wat alles gebou het. Die Griekse woord vir "huis" hier, is οἶκος (oikos) wat na mense verwys. Hier word dus verwys na die "Ware Israel", waarvan die volk Israel slegs ’n beeld is. Die Ware Israel is daardie groep mense wie se vertroue en geloof in Christus Jesus gevestig is en gevestig bly; dit is mans en vrouens wie nooit ophou jubel in die hoop waarop hulle hul harte geplaas het nie. Hierdie woordjie "hoop" is dan ook ’n sleutelwoord in Hebreërs. Ons Afrikaanse woord bevat ’n element van onsekerheid (bv. ons hoop dat dit binnekort warmer sal word). Die Hebreërs se hoop was egter anders en so ook Ware Israel (die gelowiges) se hoop. Dit bevat ’n sekerheid en ’n vaste oortuiging en Paulus, in sy brief aan Timoteus, beskryf hierdie hoop pragtig deur een woord of naam daaraan te koppel wanneer hy sê ~ Van Paulus, ’n apostel van Christus Jesus in opdrag van God ons Verlosser en van Christus Jesus ons Hoop (1 Tim.1:1). As ons as gelowiges dan praat van "hoop", kan ons maar net sê dat ons hoop voorwaar en volkome in Christus Jesus is – en wat ’n hoop het ons nie in Hom nie!

       Omdat God die bouer van die Ware Israel is, is Hy dus groter as Moses en die apostel bevestig dit vir ons in v.3 waar hy sê ~ Maar Jesus is groter heerlikheid waardig geag as Moses, net soos die een wat ’n huis bou, meer eer waardig is as die huis.

       Omdat God dan die volmaakte Bouer is van die huis waarvan ons in v.4 lees, nl. Sy huis (die Kerk/gelowiges), is Sy belofte ook dat Hy getrou oor God se huis sal waak. Die vyfde punt van die "Five points of Calvinism" leer ons dat almal wat deur God verkies is en deur Christus verlos is en aan wie geloof geskenk is deur die Heilige Gees, vir ewig gered is en hulle word in die geloof gehou deur die krag van die Almagtige God en sal dus volhard tot die einde toe. Christus is die Een wat die Vader se Huis, veilig bewaar – Joh.3:16 ~ God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. Fil.1:6 ~ Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom. En dan veral Joh.10:29 ~ Dié wat my Vader vir My gegee het, is die belangrikste van almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie. Christus is getrou oor God se huis – niemand wat ín Christus Jesus is, sal dus verlore gaan nie Jesus is dus by uitnemdheid getrou aan God se huis!

o    Moses – getrou in God se huis:
       Die een uitstaande karaktereienskap van Moses was sy getrouheid – hy het gedoen wat God van hom verwag het.  As hy bv. nie gereageer het op God se roeping by die brandende bos en God se opdragte getrou uitgevoer het nie (Eks.3:2), sou die Farao bv. nie die Woord van God gehoor het nie; of Israel sou dalk by die Rooisee omgedraai het en terug gekeer het na slawerny in Egipte. Moses was egter getrou! Hy was getrou in sy diens aan die Here en hy lei God se volk van Egipte na die Beloofde Land.

       Die Hebreërskrywer wil m.a.w. vir ons sê dat Moses op dieselfde wyse getrou was as Christus. Ons moet egter daarop let dat die skrywer hier ’n bepaalde volgorde handhaaf wanneer hy skryf oor Christus en Moses se getrouheid – eers Christus en dán Moses.

       Moses was egter nie ’n volmaakte mens nie – soos reeds gesê – hy was nie God nie en daarom het hy ook soms onvolmaak opgetree – net soos wat hy tydens die eerste jare van sy roeping moord gepleeg het toe hy ’n Egiptenaar dood geslaan het, net so het hy ook in die wildernis van tyd tot tyd gestruikel. Hy het bv. die rots by die Meribawaters met sy staf geslaan, terwyl God uitdruklik vir hom gesê het om met die rots te praat – die gevolg van hierdie ongehoorsaamheid was natuurlik dat die Here vir Moses en Aäron gesê het dat hulle nie die Beloofde Land sou binnegaan nie (Num.20:1-13). Oor die algemeen was Moses egter baie getrou en gehoorsaam.

       Ons het dan nou gesien dat beide Jesus en Moses getrou was in, soos v.2 dit stel, ...die hele huis van die Here. Eerstens moet ons daarop let dat hier nie verwys word na ’n gebou (bv. kerkgebou) nie.

       Moses was volgens die Hebreërskrywer ’n getroue dienskneg in die Huis van die Here. As ons na die woorde in 1 Kor.4:2 kyk, sien ons dat daar staan ~ En verder word van die bedienaars vereis dat hulle getrou bevind moet word. En dit is presies wat Moses was – God het hom vir presies dit geprys, maar hierdie woorde was in Christus op volmaakte wyse vervul en dit is baie duidelik regdeur die Nuwe Testament. Dit is bv. baie duidelik in Joh.7:16 ~ Jesus het vir hulle gesê: “Wat Ek die mense leer, kom nie van Myself af nie, maar van Hom wat My gestuur het en Joh.12:49 ~ Ek het nie uit my eie gepraat nie, maar juis die Vader wat My gestuur het, het My opgedra wat Ek moet sê en wat Ek moet praat. Hier getuig Jesus self van Sy volmaakte diensknegskap

       Wanneer die Hebreërskrywer dan sê dat beide Jesus en Moses getrou was in die Huis van die Here en omdat Christus veel-veel hoër was as Moses, moet ons verstaan dat Christus die Huis van die Here bou, terwyl Moses net ’n getroue leier in die Huis van die Here was – die Bouer is tog sekerlik groter as enige van Sy instrumente en Moses was bloot net ’n instrument in die hand van die Here.

       Die Hebreërskrywer sê dus vir sy lesers, om terug te keer, of steeds vas te hou aan die Judaïsme, of om aan die Judaïsme se groot leier Moses vas te hou, is om vas te hou aan ’n simbool van die realiteit – ’n instrument van realiteit, maar om aan Jesus Christus vas te hou, is om aan die realiteit self vas te hou – daarom is dit beter om vas te hou aan die Een wat getrou is OOR die Huis van die Here (Jesus Christus), eerder as die een wat getrou is IN die Huis van die Here (Moses).

5.    AFSLUITING:
       Ons het gesien dat Christus die gelowiges in stand sal hou, maar ons moet ten slotte net kan kyk na ’n paar baie belangrike woorde in v.6b. Daar staan geskrywe ~ ... ...as ons maar net met moed en oortuiging bly vashou aan wat ons hoop. Van watter hoop word hier gepraat? Ons het vroeër gesien dat ons hoop – ons vooruitsig is, om met die koms van Christus, verheerlik te word en ’n ewige lewe tegemoet te gaan. Wat egter hier belangrik is, is die woordjie "AS". Dit klink skielik asof die skrywer vir ons wil sê dat ons nie té gerus moet wees oor ons hoop nie – AS ons maar net kan bly vashou, sê hy. Die skrywer eindig hierdie gedeelte van sy brief dus met ’n waarskuwing en ons sal die ontwikkeling hiervan in die res van die hoofstuk sien. Daar is dus meer daaraan om Christus na te volg en deur te druk tot die einde toe, as om bloot net ’n goeie begin te maak.

       Ja, ons moet begin en daarom is die vraag of jy al waarlik begin het met hierdie reis op pad na ’n ewige bestemming? 2 Kor.13:5 ~ Stel julle self op die proef en ondersoek julleself of julle in die geloof lewe. Besef julle dan nie self dat Christus Jesus in julle is nie? So nie, het julle die toets nie deurstaan nie.

       As jy wel sekerheid het daaroor dat jy in Christus is – dat jy gered is; dat jy deel is van die Huis van die Here, dan sê die skrywer, moet jy vashou en deurdruk tot die einde toe.

       Hoe kan jy weet dat jy deel uitmaak van die Huis van die Here? Daar is verskeie mense wat allerlei lyste saamgestel het van ware merktekens van geloof en elkeen van hulle is sekerlik korrek, maar die gevaar bestaan dat ’n mens baie maklik wetties oor die saak kan raak en verval in allerlei werke ten einde jou saligheid te probeer bewerkstellig. Ek dink dat die Woord van God vir ons die beste "lys" (nie minder nie as 24 punte) verskaf waaraan ons onsself kan meet en ons vind dit in Rom.12:9-21 ~ Die liefde moet opreg wees. Verafsku wat sleg is en hou vas aan wat goed is. 10Betoon hartlike broederliefde teenoor mekaar; bewys eerbied teenoor mekaar en wees mekaar daarin tot voorbeeld. 11Moenie in julle toewyding verslap nie, bly altyd geesdriftig, dien die Here. 12Verbly julle in die hoop; staan vas in verdrukking; volhard in gebed. 13Help die medegelowiges in hulle nood en lê julle toe op gasvryheid. 14Seën julle vervolgers, ja, seën hulle, moet hulle nie vervloek nie. 15Wees bly saam met dié wat bly is en treur saam met dié wat treur. 16Wees eensgesind onder mekaar. Moenie hooghartig wees nie, maar skaar julle by die nederiges. Moenie eiewys wees nie. 17Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Wees goedgesind teenoor alle mense. 18As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense. 19Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God. Daar staan immers geskrywe: “Dit is mý reg om te straf; Ék sal vergeld,” sê die Here. 20“As jou vyand honger is, gee hom iets om te eet; as hy dors is, gee hom iets om te drink; want deur dit te doen, maak jy hom vuurrooi van skaamte.” 21Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.

            Geliefde, as jy tekort skiet, kom voor die Here en bekeer jou. As jy dink dat jy nie wedergebore is nadat jy deur hierdie teksverse gewerk het nie en jy ’n begeerte het om reddende geloof in Jesus Christus te ervaar, moet jy dringend werk maak daarvan.


[1]Boodskap deur Kobus van der Walt te Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Meyerton) - Sondag, 05 Augustus 2012