Saturday 25 August 2012

Die Brief aan die Hebreërs - 09 (Die Sonde van Ongeloof)



Indien u hierdie preek wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige Woordverwerkingsprogram (bv. MS Word of Word Perfect) – druk daarna gewoon uit.
1.    VOORAF:
       Ons het in vv.1-6 van Hebr.3 gesien dat die skrywer Jesus vergelyk het met Moses en hoe hy dan duidelik aantoon dat Jesus veel, veel groter is as Moses, want Moses was wel getrou aan God, maar hy was nie en sou ook nooit volkome getrou kon wees soos wat Jesus was nie. Ook het ons gesien dat Moses getrou was in God se huis, maar Jesus is getrou oor God se huis en dat Moses maar net ’n instrument in God se hande was. Omdat Jesus dan groter is as Moses, trouens omdat Jesus volkome en volmaak is, moet ons, ons oë op Hom gevestig hou.

2.    SKRIFLESING:
       Hebr.3:7-19 ~ Luister daarom na wat die Heilige Gees sê: “Vandag, as julle sy stem hoor, 8moet julle nie hardkoppig wees nie, soos julle voorvaders toe hulle in opstand gekom het en My in die woestyn op die proef gestel het. 9Daar het hulle My op die proef gestel en uitgetart, hoewel hulle veertig jaar lank gesien het wat Ek vir hulle gedoen het. 10Daarom het Ek ’n afkeer van hierdie geslag gekry en gesê: ‘Met hulle hart is hulle gedurig op ’n dwaalspoor, hulle wou my paaie nie leer ken nie.’ 11Toe het Ek in my toorn ’n eed afgelê: In my rus sal hulle beslis nie ingaan nie.” 12Broers, julle moet toesien dat daar nooit by een van julle ’n verkeerde gesindheid van ongeloof ontstaan en hy van die lewende God afvallig word nie. 13Maar solank daar nog ’n “vandag” is, moet julle mekaar elke dag aanspoor sodat niemand van julle deur die misleiding van die sonde verhard word nie. 14Ons behou deel aan Christus as ons end-uit volhard in die vertroue waarmee ons begin het. 15Daarom word daar gesê: “Vandag as julle sy stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie, soos julle voorvaders toe hulle in opstand gekom het.” 16Wie was dit dan wat gehoor het en tog in opstand gekom het? Was dit nie hulle almal wat onder leiding van Moses uit Egipte getrek het nie? 17En van wie het God veertig jaar lank ’n afkeer gehad? Was dit nie van hulle wat gesondig het en wie se dooie liggame in die woestyn agtergebly het nie? 18Oor wie anders as dié wat ongehoorsaam was, het Hy ’n eed afgelê dat hulle nie in sy rus sou ingaan nie? 19Ons sien dus dat hulle as gevolg van hulle ongeloof nie in sy rus kon ingaan nie.

3.    SKEMA:
       Die Hebreërskrywer kom nou by ’n punt waar hy op die Heilige Gees se ernstige waarskuwing t.o.v. die sonde van ongeloof wys en hy doen dit op die volgende wyse:
·           Die Voorbeeld van Ontrouheid (vv.9-11 en 16-19):
o      Israel se sonde in die wildernis (vv.9-10).
o      Israel se vonnis in die wildernis (vv.11, 16-19) – ’n Hele geslag sterf in die wildernis en kan nie die Beloofde Land binnegaan nie.
·           ’n Oproep tot Getrouheid (vv.7-8 en 12-15):
o      Slaan ag op God se Woord (vv.7-8, 15).
o      Bemoedig mekaar elke dag (vv.12-14).

4.    INLEIDING:
            Die Hebreërboek staan bekend daarvoor dat dit ’n boek van vermaning is. Hierdie vermanings is nie vermanings wat ligtelik opgeneem kan word nie, want dit is vermanings met lang termyn gevolge as dit nie ernstig opgeneem word nie. Die Hebreërskrywer beklemtoon die erns van hierdie vermanings deur vir sy lesers daarop te wys, dat dit nie hy is wat hierdie waarskuwings aan hulle gee nie, maar dat dit direk van die Heilige Gees self kom – en daarom moet elkeen van ons ook ernstig aandag skenk aan hierdie saak.

            Hierdie vermanings wat ons hier in Hebreërs aantref, trouens in die hele Skrif, het spanning by ons as gelowiges tot gevolg, want wanneer ’n mens ’n gelowige word, verdwyn die onsekerhede van die mens se bestaan nie maar sommer net soos mis voor die son nie. Trouens dit word juis geïntensiveer, want gelowiges moet elke dag saamleef met die spanning van potensiële vervloeking of seën – van moontlike beloning of straf.

            Ons Skrifgedeelte en verder aan (tot en met 4:13) gee dan ook juis iets van hierdie spanning vir ons deur. Waarskynlik die mees treffende, is die vergelyking van die Israeliete se wildernis tradisie regdeur hierdie verse. Die hele gedeelte berus op die aanname dat ons as gelowiges van die nuwe verbond, onsself in ’n soortgelyke situasie bevind as die Israeliete van ouds. Die beloftes en dreigemente wat Israel beleef het, kan grootliks ook deurgetrek word na ons vandag.

            Wat baie interessant is, is die skrywer se gebruik van Ps.95 in hierdie gedeelte, want die woorde van vermaning wat tot Dawid se geslag gerig was, spreek ook die spanning aan, wat ons as deel van die nuwe verbond in ons tyd ervaar.

5.    VOORBEELD VAN ONTROUHEID:
       Wat merkwaardig is van die Hebreërskrywer, is die wyse waarop hy Ps.95 in sy teks gebruik, want hy rangskik die aanhaling uit hierdie Psalm, op so ’n wyse dat die vermaning in hierdie Psalm, direk tot sy lesers spreek en daarom begin hy met presies dieselfde woorde in v.8 as dié in Ps.95:8, nl. ~ Moenie hardkoppig wees (nie) en dan verwys hy na die lesers se voorouers, net soos wat Dawid sy volgelinge verwys het na hulle voorouers wat in opstand gekom het teen God. Die motief met hierdie aanhaling, is baie duidelik – die Here se dreigement t.o.v. die moontlikheid dat die Israeliete hul erfenis kan verbeur, is net so van toepassing op die mense van die nuwe verbond (die gelowiges). Hy wil dus sy lesers waarsku, deur die voorbeeld van die Israeliete se ontrouheid in die wildernis en die gevolge wat dit vir hulle ingehou het.

o   Israel se sonde in die wildernis:
       Wat het die Israeliete se ontrouheid behels? Hulle het toegelaat dat hulle ongeloof en rebellie, hul harte verhard het teenoor God. Die tragiek van die hele situasie was dat God die Israeliete bo maat geseën het terwyl hulle in die wildernis was, maar tog sondig hulle – Hy het elke dag aan hulle kos voorsien; skadu in die dag om hulle te beskerm teen die son en hulle te lei op die pad waarlangs hulle moes trek; in die nag het hy ’n vuurkolom geskenk om hulle te beskerm. God het hulle op wonderbaarlike wyse gespaar van die Egiptenare en ander vyande. Hierdie beskerming wat hulle geniet het, was nie iets onsigbaars nie (soos wanneer ons per motor op ’n besige pad ry en veilig by ons bestemming aankom nie). Nee, hulle kon o.a. sien hoe dat God, hulle droogvoets deur die Rooisee lei en hoe al die Egiptenare net daarna verdrink in dieselfde see waardeur hulle pas getrek het. Nogtans was die volk ondankbaar en ongelukkige, trouens hulle het meermale in opstand gekom teen God as hulle nie hulle sin kon kry nie, of as hulle voel dat hulle te na gekom is – in kort hulle rebelleer teen God en stel hulle ongeloof ten toon.

o   Israel se vonnis in die wildernis:
       Wat was die gevolg hiervan? Vers 11 sê vir ons wat hulle vonnis op hierdie rebellie en ondankbaarheid van hulle was ~ Toe het Ek in my toorn ’n eed afgelê: In my rus sal hulle beslis nie ingaan nie. God het aan Moses opdrag gegee om Sy volk uit Egipte te lei, deur hierdie woorde te spreek ~ Daarna sê die Here: “Ek het die ellende van my volk in Egipte duidelik gesien en hulle noodkrete oor die slawedrywers gehoor. Ek het hulle lyding ter harte geneem. 8Daarom het Ek afgekom om hulle uit die mag van Egipte te bevry en om hulle daarvandaan te laat trek na ’n goeie en uitgestrekte land, ’n land wat oorloop van melk en heuning. Dit is die land van die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete (Eks.3:7-8). Ten spyte van God se onuitspreekbare genade en liefde en "omgee" vir Sy volk, verwerp hulle God nogtans, deurdat (volgens Hebr.3:10), hul, ~ ...hart(e)  gedurig op ’n dwaalspoor (is),en  hulle nie God se paaie (O.A.V.- weë) wou leer ken nie. Hierop, soos in v.11 gesien, neem God in Sy toorn, ’n eed dat Sy volk gestraf sal word vir hierdie rebellie van hulle en sal hulle gevolglik nié die Beloofde Land binnegaan nie.

       Die woord "toorn" wat hier gebruik word om God se gevoel jeens Sy volk uit te druk, is ’n baie sterk woord, want dit kom daarop neer dat God Sy volk verwerp en verstoot het. Ons weet dan ook uit die geskiedenis, dat die Israeliete op die drumpel van die Beloofde Land gestaan het en nadat die Verspieders die land in is om te verken en hulle terug gekeer het met nuus oor die vyand (wat reuse was) wat verdryf sou moes word, het die volk nogeens in opstand gekom en teen God se wil en in Sy almag getwyfel deur vreesbevange te raak en weereens teen God te rebelleer. Hierop het God in Num.14:22-23 die volgende gesê ~ ...nie een van die manne wat my mag en die wonders wat Ek in Egipte en in die woestyn gedoen het, gesien het, en wat My nou oor en oor getart het en nie na my woorde geluister het nie, 23sal die land wat Ek met ’n eed aan hulle voorvaders beloof het, sien nie. Nie een van hulle wat My geminag het, sal die land sien nie. Die volk het meer as genoeg bewyse en getuienisse gesien en ervaar om hul lewens aan God toe te wy en om op Hom te vertou dat Hy die geveg vir hulle in die land Kanaän sou veg, maar hulle het God nie vertou nie en net na hul eie vermoëns gekyk.

       Die punt wat die Hebreërskrywer wil maak, is om sy lesers te laat besef dat hulle ’n merkwaardige geestelike "uittog uit Egipte" ervaar het, maar dat hulle op die ou einde traag geraak het en uiteindelik die gevaar loop om ook hulle intog in die "Beloofde Land" (die ewige lewe) mis te loop. Dit was die boodskap van die Heilige Gees aan die lesers van die Hebreërbrief vanuit Ps.95 – en dit is Sy boodskap vandag ook aan ons!        

       Indien die volk van Israel destyds oor meer as genoeg bewyse beskik het van God se almag en liefde en genade, hoeveel te meer nie ons in ons dag en veral nadat ons ook nog die getuienis van die vleesgeworde Jesus en die apostels en die vroeë Christelik kerk gehoor het nie! Die van julle wat dalk al baie lank op die drumpel van die "Beloofde Land" staan (redding en verlossing) en steeds vir God vra om bewyse ens., moet  versigtig wees dat God nie ook op ’n stadium jou die rug mag keer nie – ’n hele geslag van die Israeliete (almal wat uit Egipte ontsnap het – met die uitsondering van twee) sterf op die ou einde in die wildernis en kon nie die Beloofde Land binnegaan nie, trouens niemand oor die ouderdom van twintig het die Beloofde land binne gegaan nie. Jy wat wik en weeg oor God en Sy koninkryk moet versigtig wees dat jy nie ook die geleentheid om die Beloofde Land binne te gaan, kan verspeel nie.

       Die van ons wat al "lank op die pad" is, het al dikwels mense gesien wat "radikaal tot bekering kom en wat die pad met oorgawe loop", net om ’n paar jaar later weer "saam met die varke in die modder rond te rol" en hul rug te keer op Christus die Verlosser. In so ’n geval is die woorde van Jesus in Matt.13:18-22 so waar ~ Luister julle dan na wat die gelykenis van die saaier beteken: 19Die Bose kom by elkeen wat die woord van die koninkryk hoor maar dit nie verstaan nie, en vat dan weg wat in sy hart gesaai is. Dit is hy by wie daar op die pad gesaai is. 20Die man weer by wie daar op die klipbanke gesaai is, is hy wat die woord hoor en dit dadelik met blydskap aanneem. 21Hy laat dit egter nie by hom wortel skiet nie, en hy hou nie lank uit nie. As hy ter wille van die woord verdruk en vervolg word, word hy gou afvallig. 22Die man by wie daar tussen die onkruid gesaai is, is hy wat die woord hoor, maar die bekommernis van die lewe en die verleidelikheid van rykdom verstik die woord, en dit bly sonder vrug.

       Die probleem met baie mense wat in ons dag sê dat hulle Christene is, praat oor hul "uittog uit Egipte" en sal selfs daaroor getuig, maar wanneer druk op hulle geplaas word, of hulle vervolging ervaar, ens. draai hulle weg en "val heeltemal uit die Koninkryk", of hulle wend hulle na ’n geloofstroom waar daar geen druk is nie en/of waar dit "lekker is" en waar alles aanvaarbaar is – hulle volg dan ’n goedkoop en mensgesentreerde evangelie wat alles behalwe welgevallig is in die oë van die Here – sulke geloof is morsdood! Dieselfde waarskuwing wat aan die Israeliete gerig is, geld ook vir diesulkes – v.19 ~ Ons sien dus dat hulle as gevolg van hulle ongeloof nie in sy rus kon ingaan nie.

6.    OPROEP TOT GETROUHEID:
       Met die skrywer wat almal nou gewaarsku het, vervolg hy en rig hy ’n oproep tot getrouheid. Wat behels hierdie oproep tot getrouheid?

       Die apostel skryf in v.15 ~ Vandag as julle sy stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie, soos julle voorvaders toe hulle in opstand gekom het. Die appèl wat tot God se volk gerig was, nl. om terug te keer na Hom, word weer hier deur die Heilige Gees aan die Hebreërskrywer se lesers gerig en ook aan elkeen van ons vandag, maar die Israeliete wou nie glo nie en God het in Sy toorn, geweier dat hulle die Beloofde Land binnegaan – hierdie ongeloof en ongehoorsaamheid van die volk het hulle derhalwe gepootjie om in God se rus in te gaan.

       Die Here het wonderlike seën wat Hy vir elkeen van Sy kinders voorberei het en Hy wil hierdie seën op ons uitstort – nou en in ewigheid, maar daarvoor het ons geloof nodig. Spr.29:1 waarsku ons egter ~ ’n Man wat hom bly verset teen teregwysings, kom skielik tot ’n val en staan  nie weer op nie. Dit gaan egter nie net oor God se seën nie, dit gaan ook oor die ewigheid en indien jy jou hart bly verhard teen die stem van God (Sy Woord en die influistering van die Heilige Gees), kan jy die ewige rus in Christus misloop.

       Die Israeliete is deur Moses uit Egipte gelei, met die doel voor oë dat hulle op pad was na hulle "rusplek" in Kanaän. Tussen hul verlossing uit Egipte en ’n binnegaan in die Beloofdeland, het daar ’n tydperk van ontbering van veertig jaar in die woestyn vir hulle gewag. Hierdie 40 jaar se omswerwinge in die woestyn is ’n pragtige uitbeelding van ons eie "woestynomswerwinge" wat ons in ons lewe ervaar en die vraag is of ons, ons "wildernis tog" anders hanteer as die destydse Israeliete? Dit is daarom dan dat die Hebreërskrywer in v.15 sê ~ Vandag as julle sy stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie, soos julle voorvaders toe hulle in opstand gekom het.

o    Slaan ag op God se Woord:
       Wanneer die skrywer dan sê dat ons nie hardkoppig moet wees nie, moet hy tog vir ons sê wat ons in die plek van hardkoppigheid moet doen – daarom dat hy in vv.12-15 vir ons bepaalde riglyne verskaf waarvolgens ons moet optree.

       Hy sê in v.15, dat ons moet ag slaan op God se stem. Dit beteken dus dat ons na God se Woord moet luister – ons moet Sy Woord bestudeer en toepas in en deur ons lewens. Dit is interessant dat hy v.15 begin met die woord, "vandag". Die gebruik van hierdie woord beklemtoon die noodsaak daaraan dat ons erns sal maak met God se Woord en nie sal uitstel nie – Vandag! Volharding en dan spesifiek volharding in die geloof, is nie iets wat ons maar net kan uitstel tot môre nie – nee, ons moet elke dag daaraan werk en ons moet vandag daarmee begin, anders mag ons ook uiteindelik die gevolge daarvan dra.

       Ons moet egter verstaan dat hierdie nie net ’n negatiewe boodskap vol dreigemente is nie, want soos wat Ps.95 ook sê, is ons God ~ ...die rots by wie ons redding vind... ...die magtige God, die groot koning oor al die gode. 4Die dieptes van die aarde behoort aan Hom, die kruine van die berge is Syne. 5Die see is Syne, Hy het dit gemaak; sy hande het die land gevorm. Met dit in gedagte sê die Psalmdigter dan in v.6 ~ Kom  ons val in eerbetoon voor Hom neer, kom ons buig, kom ons kniel voor die Here ons Skepper! 7Hy is ons God en ons is sy volk, sy kudde, sy skape, deur sy hand versorg. Omdat ons skepsels van God is en ons meer as genoeg getuienisse t.o.v. Hom al in ons lewe ervaar het, sal ons ook geen verskoning hê (soos die Israeliete), as ons nie ag slaan op Sy Woord nie.

       Die gevaar (soos reeds vantevore gesien) het by die lesers van die Hebreërbrief bestaan dat hulle wou terugval op die Judaïsme, maar dit was nie die enigste gevaar wat die skrywer geïdentifiseer het nie – hy sien ook dat daar ’n baie besliste gevaar bestaan dat van hierdie gemeentelede hulle geloof kon versaak, daarom dat hy in v.12 sê ~ Broers, julle moet toesien dat daar nooit by een van julle ’n verkeerde gesindheid van ongeloof ontstaan en hy van die lewende God afvallig word nie. Die ESV stel dit nog duideliker wanneer dit praat van "falling away from God".

       Wanneer mense ’n gesindheid van ongeloof, of ongehoorsaamheid openbaar soos die Israeliete van ouds, het dit noodwendig ’n reaksie by God tot gevolg. Ons sien in vv.8, 15 en 16 dat God uitgedaag word (die Engels het ’n mooi woord hiervoor, nl.: "provoke") – in die Grieks is dit παραπικρασμός / (parapikrasmos), waar ons woord rebellie vandaan kom. Dit impliseer dat God uitgedaag word (geprovokeer) deur die mens (ons?) – ongehoorsaamheid of ongeloof wat God noop om ten sterkste teen so iemand op te tree.

       Die woord ongeloof hier in vv.18 en 19 is ἀπειθέω (apeitheō). Ons woord "apatie" ("apathy") word aan hierdie woord ontleen – apatie beteken om lusteloos te wees, of gevoelloos, of dooierig, of ongeërgd te wees, of ’n afwesigheid van hartstog of strewe - in kort, ’n "kan nie worry" houding – ’n ongeërgdheid t.o.v. God en ons geloofslewe dus. Gebaseer op die Israeliete se rebellie en ongeloof in die wildernis kom die Hebreërskrywer en waarsku hy sy lesers, deur vir hulle te sê, dat indien hulle ongehoorsaam is (v.18), hulle uit die geloof kan val (en dan was hulle nooit uitverkies nie) en dat hulle nie God se belofte sal ontvang nie – hulle gaan m.a.w. die "Beloofde Land" nie in besit neem nie (v.11).

       In v.13 gee hy nou raad aan sy lesers oor hoe om nié van die lewende God afvallig te raak nie:

o    Bemoedig mekaar elke dag:
       In v.13 sê hy dat hulle mekaar daagliks moet "aanspoor" of bemoedig – παρακαλέω (parakaleō) – ’n woord wat ons nou al goed ken en ons het gesien dat dit ’n woord was wat Jesus t.o.v. die Heilige Gees gebruik het – Joh.14:16 ~ Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ’n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees. Die wortelbetekenis van hierdie woord is om langs iemand te kom en so ’n persoon te ondersteun en regop te hou, sodat hy nie struikel en val nie. V.13b sê dan ook spesifiek dat ons mekaar moet aanspoor om nie te sondig nie. Die probleem met sonde is dat dit subtiel is; dit mislei en dit maak uiteindelik dood soos wat dit die Israeliete in die wildernis dood gemaak het – Rom.7:11 sê ~ Die sonde wat deur die gebod ’n vastrapplek gekry het, het my deur die gebod mislei en my doodgemaak. Ons sien nie altyd die sonde in ons eie lewe raak nie en daarom moet ons dit met ’n goeie gesindheid toelaat, wanneer broers en susters in ons lewe inspreek, want hulle bedoel goed daarmee, trouens hulle tree net in gehoorsaamheid op  en dan o.a. aan dit wat Hebr.3:13 aan ons opdra, nl. om mekaar aan te spoor.
      
       Ons het derhalwe ’n roeping om sonder ophou, mekaar te ondersteun en aan te spoor om te volhard in die geloof tot die einde toe. Dit eindig egter nie daar nie – ons het ook ’n roeping om langs en onder die ongelowiges te kom om hulle aan te spoor om nié te volhard in hul ongeloof nie, maar hulle vertroue en geloof in Jesus Christus te plaas.

7.    AFSLUITING:
       Ons vind ’n wonderlike en bemoedigende boodskap in v.14 wanneer die skrywer sê ~ Ons behou deel aan Christus as ons end-uit volhard in die vertroue waarmee ons begin het. Ons sal nie van God afvallig word, indien ons enduit volhard en geliefdes, daarvoor het ons mekaar o.a. nodig – ons kan die pad nie alleen loop nie – dit is ’n resep vir ’n ramp – ’n ramp met ewige gevolge – gevolge wat ons kan weerhou om die ewige rus binne te gaan en daarom sluit die Hebreërskrywer hierdie gedeelte af, deur te sê ~ Vandag as julle sy stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie (v.15).


[1]Boodskap deur Kobus van der Walt te Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Meyerton) - Sondag, 26 Augustus 2012