Thursday 16 August 2012

Die Gebed van alle Gebede – 1 (“Die Eerste Smeekbedes”)


1.     SKRIFLESING:
Matt.6:9-13 ~ So moet julle bid: Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word; 10 laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel. 11 Gee ons vandag ons daaglikse brood; 12 en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree; 13 en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose.  Die O.A.V. sluit hierdie gebed in v.13b af met die woorde ~ Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.

2.         INLEIDING:
Hierdie gebed staan in die algemene omgangstaal bekend as die "Onse Vader". Hierdie gebed is ’n modelgebed wat die Here Jesus aan ons gegee het – daarom dat Hy aan die begin van die gebed sê ~ So moet julle bid. Hierdie gebed bestaan o.a. uit ses smeekbedes – Hy verskaf dus aan ons ’n struktuur waarvolgens ons behoort  te bid. Wat egter belangrik is, is dat die eerste smeekbedes oor God en Sy eer gaan en nie oor die mens of oor onsself nie.  Dit is so dat soveel mense hulle self tevrede stel deur vinnig te bid en dan net vir hulle eie situasie en hul eie mense, maar dit is allermins wat die Here Jesus vir ons geleer het, toe Hy gesê, So moet julle bid.  Ons moet nie net leer om God altyd eerste en sentraal te plaas in ons lewens nie, maar ons moet dit ook doen wanneer ons in gebed verkeer.

3.     DIE EERSTE SMEEKBEDE:
Wanneer ons dan na die struktuur van die “Onse Vader” kyk, sien ons dat die eerste smeekbede, die regte volgorde vir ons bepaal, omdat dit die “soeklig” op God laat val, m.a.w. ons gebed begin deur eer aan God te bring - ... laat u Naam geheilig word.  Die sleutelwoord hier, is geheilig en die betekenis daarvan, is om iets of iemand af te sonder.  Ons het reeds vantevore gesien dat voorwerpe wat in die Tempel gebruik was, “geheilig” was, of opsygesit is, spesifiek net vir ’n spesifieke doel.

Dit is baie interessant om te sien dat daar, benewens hierdie vers in Matt.6, net een ander plek in die Bybel is waar daar op hierdie wyse na God verwys word, nl. 1Pet.3:15 ~ Maar heilig die Here God in julle harte... (O.A.V.).  Hier wil Petrus vir ons sê dat ons God Sy regmatige plek in ons harte moet gee – daardie plek wat Hy verdien.  Wanneer ons dus bid en sê, ... laat u Naam geheilig word, sê ons daardeur, dat God heilig is en dat Hy derhalwe Sy regmatige plek in my hart inneem en dat ek ook daarmee verklaar, dat daar geen ander God in my lewe bestaan wat ek aanbid nie – Hy is heilig; Hy is die enigste God – die gedagte is dus om eer aan God te bring en te erken dat Hy die enigste ware en heilige God is.

Wanneer ons dan by hierdie gedeelte van Jesus se modelgebed kom, kan ons vir die Vader sê:  Vader in die hemel..... my eerste en enigste begeerte in hierdie lewe, is om U eerste in my lewe te plaas en daarom wil ek graag in ooreenstemming met die woorde soos wat dit in Matt.22:38 staan, vir U sê dat ek U liefhet met my hele siel en met my hele verstand.

Die Here Jesus het ons egter ook geleer om te sê, laat U Naam geheilig word.  Waarom het Hy gesê dat ons God se Naam moet heilig en nie God self nie?  As Jesus sê dat ons God se Naam moet heilig, moet ons noodwendig vir onsself afvra ~ Wat is God se Naam en wat beteken dit om dit te heilig?   Wanneer ons die eerste vraag wil beantwoord, kom ons gou agter dat daar talle name is wat in die Woord gebruik word om God te beskryf – ons moet in gedagte hou, dat ’n naam in die verlede, gewoonlik ’n beskrywing van ’n persoon, of sy karakter was. 
Wanneer ons dus na God se Name kyk, moet ons  onmiddellik vir onsself afvra, of ons daardie spesifieke karakter eienskap van God eer.  Kom ek noem vir u ’n klompie voorbeelde:
·           Elohim:  Hierdie naam van God verleen erkenning aan Hom as Skepper (Deut.10:17).
·           El Elyon:  Die Allerhoogste (Gen.14:20).
·           El Roi:  Die Alomteenwoordige God wat alles sien (Ps.139:7-12).
·           El Shaddai:  Die Almagtige God (Gen.17:1-8).
·           Adonai:  Here en Meester (Rig.6:14-16).
·           Jehovah:  Hy wat was en is en ewig sal wees – Hy is die ewige EK IS; die Alfa en die Omega, die begin en die einde (Eks.3:13-14).
·           Jehovah-Jireh:  Die Here sal voorsien (Gen.22:1-19).
·           Jehovah-Rapha:  Die Here wat genees (Eks.15:22-27).
·           Jehovah-Nissi:  “Die Here is my banier – Hy gee die oorwinning” (Eks.17:16).
·           Jehovah-Mekoddishkem: Die Here heilig my en Hy verklaar my regverdig (Eks.19:2-6).
·           Jehovah-Shalom: Die Here is vrede (Rigt.6:22-24).
·           Jehovah-Sabaoth: Die Here van die Leërskare (Sag.14:16). 
·           Jehovah-Raah: Die Here is my Herder (Ps.23:1).
·           Jehovah-Tsidkenu: Die Here is ons Geregtigheid (Jer.23:1-6).
·           Jehovah-Shammah: Die Here is daar – God is teenwoordig (Eseg.48:35).

Kan u sien, hoe swaar gelaai is hierdie woorde, laat U Naam geheilig word – U naam!  Ek kan dus bid, Vader is voorwaar heilig, want U is dié Een wat my regverdig verklaar het; U is dié Een wat van ewigheid tot ewigheid is; U Naam is Jehovah-Nissi en daarom is U dié Een wat aan my die oorwinning gee – die oorwinning oor my vyande; oor die bose; oor my vlees en daarom Vader, plaas ek U eerste in my lewe – daar is voorwaar geen ander een soos U nie.

Wat moet ons doen ten einde God te eer en Sy Naam te heilig?  Eerstens moet ons God ken.  Ons moet Sy karaktereienskappe ken.  Die Engele ken God beter as ons en daarom heilig hulle Sy naam voortdurend.  Dit vra dus harde werk van ons kant om God ook beter leer ken, sodat ons uiteindelik saam met die Psalmdigter dit kan uitroep ~ Dié God is ons God vir altyd... (Ps.48:15).

Oordink God se Woord gereeld en dit wat Hy vir ons gedoen het, sodat ons ’n groter waardering vir Hom kan ontwikkel – sodat ons liefde vir Hom, kan groei, want wanneer dit die geval is, sal ons soveel makliker, die Here God as Ons Vader, kan aanbid.

4.     DIE TWEEDE SMEEKBEDE:
Die tweede smeekbede, nl., ...laat u koninkryk kom..., is nou verwant aan die eerste smeekbede.  Ons kan dadelik vir onsself vra, wat is God se Koninkryk?  Hierdie is uiteraard ’n baie moeilike vraag om te beantwoord, omdat God se Koninkryk uit soveel fasette bestaan.  Wat ons waarskynlik kan help om ’n iets meer te verstaan van wat God se Koninkryk is, moet ons besef dat ’n Koninkryk, oor ’n Koning beskik – ’n koning regeer tog immers in ’n koninkryk.  Wanneer ons na God as Koning kyk, kan ons bv. na Ps.24:10 kyk, wat sê ~ Wie is Hy, hierdie magtige Koning? Dan gee die Psalmdigter ook die antwoord ~ Die Here, die Almagtige, Hy is die magtige Koning.  Ps.95:3 sê ~ ...want die Here is die magtige God, die groot koning oor al die gode.

Indien God dan hierdie magtige en groot Koning is wat oor al die gode heers, dan impliseer dit tog dat ons Hom moet dien.  Verder impliseer dit dat ons, onsself skaar by die Almagtige Koning van die heelal en dit het tot gevolg dat ons skuiling vind by Hom wat ons sal beskerm teen ons vyande – Hy het die magtigste aardse koning verpletter in Eks.14:18 ~ Wanneer Ek my mag laat geld teenoor die farao, sy strydwaens en hulle bemanning, sal Egipte besef dat Ek die Here is.  Dink net aan Wie Hy is en indien ons skuiling onder Sy vleuels vind, sal niks ons kan oorweldig nie!  Sag.2:5 sê ~ Ek sal ’n muur van vuur rondom die stad wees, my magtige teenwoordigheid sal binne-in hom wees.

Ons kan vertroosting en bemoediging vind in die feit dat Hy ons beskerm. Laat ons daarom hierdie Almagtige Koning vrees; laat ons onsself onderwerp aan Hom en laat ons Hom loof en prys vir Sy Koningskap.

Wanneer ons dus bid en vra dat God se Koninkryk moet kom, vra ons enersyds dat Hy Sy genade oor ons sal uitstort – dat Sy Koninkryk van genade moet kom, om ons te beskerm.

Andersyds beteken dit egter ook dat ons Hom vra om Sy genade in ons harte uit te stort.  Ons was eens in die koninkryk van die duisternis vasgevang, maar nou het ons deel geword van die Koninkryk van die Lig.  Omdat ons voortdurend neig na die koninkryk van die duisternis, pleit ons by Hom dat Hy Sy lig in ons harte sal laat skyn, sodat Hy ons daardeur gewillig en bekwaam (sal) maak om sy wil uit te voer (Fil.2:13).

Dit impliseer verder, dat wanneer ons vra dat God se Koninkryk sal kom, ons téén die koninkryk van die satan bid en dit beteken dat ons vra dat die Almagtige die koninkryk van die duisternis op aarde sal vernietig en hierdie koninkryk van die duisternis sluit o.a. in die voortgang van en slawerny aan sonde in hierdie wêreld (in ons eie lewe, in ons dorp, in ons land, ens.),

Jesus se dissipels het vir Hom in Hand.1:6b (O.A.V.) gevra ~ Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer oprig?  In verse 7-8 het Jesus hulle as volg geantwoord ~ Dit is nie vir julle om die tyd en omstandigheid te weet wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie. 8 Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my  getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.  Ons moet dus medewerkers wees, deur Christus se Koninkryk laat kom deur getuies vir Hom te wees, sodat alle mense die Blye Boodskap kan hoor.

Wanneer ons vra dat Sy Koninkryk moet kom, vra ons ook dat Sy Evangelieboodskap oor die aarde verkondig sal laat word; dat mense tot bekering sal kom en dat ek ’n aandeel aan daardie verspreiding van die Blye Nuus sal wees.

Ons moet egter ook besef dat wanneer ons vra dat God se Koninkryk moet kom, dat ons ook verwys na ’n letterlike en toekomstige Koninkryk en dat ons daarom ook identifiseer met die woorde in Openb.22:20, wanneer ons sê ~ Ja, kom Here Jesus, kom gou.  Mag Sy wederkoms met ander woorde spoedig plaasvind.

Wanneer ek dan bid en vra dat God se Koninkryk moet kom, vra ek God dat ek mag deel in die voorreg om ’n burger van Sy Koninkryk te wees waar Hy, Sy onderdane beskerm.  Ek kan dan voortgaan, deur uit te brei oor die hele kwessie van sonde wat hoogty vier in hierdie land van ons en kan ek bv. vra dat daar nie pornografiese kanale op TV toegelaat sal word nie.  Ek vra dat die Here my sal toerus en voorberei en gewillig sal maak om Sy Naam te verkondig en Sy Blye Boodskap met andere te deel; ek vra Hom ook om tig gou terug te kom omdat ons daarna verlang om vir die res van de ewigheid in God se teenwoordigheid te wees en eer aan Hom te bring saam met al die ander gelowiges en die engele. 

5.     DIE DERDE SMEEKBEDE: 
Ons vind ons derde smeekbede in die tweede gedeelte van vers 10 van Matt.6 ~ ...laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.  Hierdie versoek bestaan uit twee dele. Eerstens vind ons ’n baie belangrike versoek, want die enigste dinge waarvoor ons as gelowiges mag bid, is daardie dinge wat God in Sy soewereine wil aan ons wil skenk.  Ek kan tog nie vir die Here vra dat ek nie uitgevang sal word oor my belastingontduiking, terwyl Hy baie duidelik in Matt.22:21 sê ~ Gee dan aan die keiser wat aan die keiser behoort, en aan God wat aan God behoort. 

Daar is egter ook ’n tweede versoek, nl. dat ons vra dat God se wil nie net hier op aarde sal geskied nie, maar dat dit ook in die hemel sal geskied.

Eerstens moet ons kyk na wat dit beteken om te bid, ~ laat u wil ... ...geskied. God se wil word op drie maniere beskryf in die Woord. Eerstens vind ons God se soewereine wil, tweedens Sy morele wil en derdens God se individuele wil vir elke persoon.
·           God se soewereine wil is daardie wil van God wat altyd gebeur. Dit is daardie dinge wat God in Sy Woord sê Hy gaan doen. Dit is van hierdie soewereine wil waarvan Paulus in Ef.1:11 praat en sê ~ Deur Christus het ons deel geword van die volk van God soos Hy dit vooruit al bestem het. So het Hy Hom dit voorgeneem. Hy wat alles laat gebeur volgens sy raadsbesluit. Spr.19:21 praat ook hiervan ~ Al maak mense hoeveel planne, wat die Here besluit, staan vas.

God se soewereine wil is dus daardie breë en algemene sake waaroor God praat en wat gaan geskied, soos bv. die feit dat Jesus se wederkoms iewers in die toekoms gaan plaasvind. Dit gaan egter ook oor dinge wat reeds in die verlede plaasgevind het. Wanneer ons bid en vra dat Sy wil moet geskied, vra ons dus dat Hy Sy soewereine wil sal laat geskied hier op aarde en in ons lewens.
·           God se morele wil, is daardie dinge wat Hy in Sy Woord sê ons moet doen. Ons vra dus ook wanneer ons vra dat Sy wil moet geskied, dat Hy sal gee dat ons gehoorsaam sal wees aan Sy Woord en sal doen wat Hy van ons verwag. Matt.7:21 is ’n goeie verwysing na God se morele wil ~ Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is.
·           Derdens vind ons God se wil vir ons persoonlik. Dit handel dus oor Sy wil t.o.v. die wat, waar, wanneer en wie- aangeleenthede van die lewe. Lukas gee vir ons ’n mooi voorbeeld hiervan in Hand.22:10, toe Paulus gevra het ~ Wat moet ek doen, Here? Ons moet ook hierdie faset van God se wil in gedagte hou wanneer ons bid en sê, laat U wil... ...geskied.

Ons moet ook baie mooi daarop let dat wanneer ons so bid, ons op ons gesindheid moet let, want om God te vra dat Sy wil sal geskied, impliseer dat ek in opregtheid en dankbaarheid, my sal neerlê by Sy wil. Wanneer ek dus bid om Sy persoonlike wil vir my lewe, sal ek my berus by dit wat Hy in Sy soewereiniteit besluit rondom dit. Ek moet dus in die lig van Ef.5:20 en Fil.2:14 hierdie gebed bid en wat die uitkoms van my gebed betref, moet ek ~ God die Vader altyd (dank) oor alles en alles (sal doen) sonder kla of teëpraat. Ons sê dus aan die Here: Here, ek dank U vir alles wat U oor my pad bring en wat U met my laat gebeur, want ek weet dat U alles ten goede laat meewerk vir my, want U is ’n alwyse, liefdevolle Vader en daarom sal ek alles doen sonder om te kla of teë te praat.

Om so te bid impliseer natuurlik nie, dat dit verkeerd is om bepaalde dinge te vra, soos bv. vir genesing as ek siek is nie. Paulus het drie maal gevra dat die Here die doring in sy vlees sal verwyder (2 Kor.12:8). Wat wel verkeerd is, is wanneer ek opstandig raak wanneer my lot nié verander nie.

       Ook beteken dit nie dat ek vrygestel word om te bid, omdat ek nou alles "oorlaat aan die Here" nie. Nee, om te sê dat God se wil moet geskied beteken bloot dat ek my aan God se wil sal onderwerp, nadat ek gedoen het wat ek moes doen, wat o.a. volharding in gebed insluit.

       Om te bid, laat U wil... ...geskied, beteken ook nie dat ek die uitkoms van my gebed wat moontlik anders is as wat ek dit graag sou wou sien, maar net emosieloos moet aanvaar nie. Wanneer ’n geliefde sterf nadat ek gebid het om sy of haar herstel, beteken dit nie dat ek nie mag huil nie – ons hartseer is egter nie uit rebellie nie en dit is ook nie dié van iemand wat sonder hoop is nie – 1 Tes.4:13 sê ~ Ons wil hê, broers, dat julle nie onkundig moet wees oor wat met die ontslapenes gaan gebeur nie. Dan sal julle ook nie treur nie, soos die ander mense wat geen hoop het nie.

       Dit beteken ook nie dat ons nié die Vader mag vra, "waarom Here?" nie. Selfs Jesus het dit aan die kruis gedoen toe Hy uitgeroep het ~ My God, my God, waarom het U My verlaat? (Matt.27:46). Ons moet saam met die Psalmdigter bid ~ Maak my oë oop dat ek die kragtige werking van u wet ervaar. 19Hier op aarde is ek net op u beskerming aangewese: laat my tog nie sonder u gebooie wees nie. 20Ek kwyn weg van verlange na u bepalings (Ps.119:18-20) en dan gaan hy voort in vv.26-27 deur te bid ~ Ek het my lewensloop aan U bekend gemaak en U het my gebed verhoor; leer my u voorskrifte. 27Leer my hoe om u bevele uit te voer. Ek wil van u magtige dade vertel. Die Psalmdigter wou nie alleen God se besluite en soewereine wil verstaan nie, maar hy wou ook weet hoe om daarop te reageer. Hy het dus gebid dat God hom sou help om Sy soewereine, morele en individuele wil te verstaan en gewillig te maak om dit te aanvaar en uit te voer.

       Ons het tot nou eintlik net gekyk na die uitdrukking ~ ...laat U wil... ...geskied en wel soos die gebed lui, ook op die aarde, maar Jesus het nog iets bygevoeg, nl. ...net soos in die hemel. Wat wou Hy hê moes ons hiermee verstaan? Eerstens moet ons kyk na die woordjies net soos – hierdie woorde sê vir ons dat God se wil soos wat dit in die hemel geskied ook hier op aarde en in ons lewens moet geskied. Nou hoe geskied God se wil in die hemel en wat beteken dit vir ons hier op aarde?

       Ons moet begryp dat God se wil universeel in die hemel geskied – dit beteken dat alle skepsele in die hemel, God se wil tot in die aller fynste besonderhede uitvoer – daar is géén afwyking nie en daar is géén uitsonderings nie.

       Wanneer ons dan bid en vra dat God se wil hier op aarde moet geskied, net soos in die hemel, dan vra ons daarmee dat God ons sal help om ook Sy wil tot in die fynste besonderheid hier op aarde en in en deur ons lewens, uit te leef en dat ons nie ’n "aks" daarvan sal afwyk nie. Ons vra verder dat Hy ons sal help om altyd Sy wil met vreugde en met die regte gesindheid uit te voer en dat ons dit só sal uitvoer, dat ons ná die tyd saam met Ps.16:11 kan sê ~ U leer my hoe om te lewe. By U is daar oorvloedige blydskap. Uit u hand kom net wat mooi is.

6.    TEN SLOTTE:
       Wanneer ons in geloof en in ooreenstemming met God se wil bid, sal ons gebed tot groot seën vir die Here wees, maar terselfdertyd ook tot groot seën vir onsself – ’n gebed en ’n seën wat ons lewens sal verander. John Hannah het eenkeer gesê: The end of prayer is not so much tangible answers as a deepening life of dependency, ... the avenue of sweet, intimate, and intense fellowship of the soul with the infinite Creator.

Die gebed van ’n gelowige is "om die hemel af te bring na die aarde"; deur God se Naam te verheerlik; deur Sy Koninkryk te laat kom en deur Sy wil na te jaag.