Vir Klankopnames van Preke

Saturday, 18 August 2012

Die Gebed van alle Gebede - 02 (Die Laaste Drie Smeekbedes)



1.    SKRIFLESING:
       Matt.6:9-13 ~ So moet julle bid: Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word; 10laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel. 11Gee ons vandag ons daaglikse brood; 12en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree; 13en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose. Die O.A.V. sluit hierdie gebed in v.13b af met die woorde ~ ...Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.

2.    INLEIDING:
       Ons kom vanoggend by die laaste drie smeekbedes van Jesus se Modelgebed. Ons het gesien dat die eerste drie smeekbedes prioriteit geniet oor die laaste drie bedes en dat die eerste drie gehandel het oor God.
       Jesus het Sy dissipels geleer om hul gebed te begin deur vir en rondom God se Naam te bid, dan oor God se Koninkryk en dan oor God se wil – die eerste drie bedes gaan dus oor God en Sy eer. Dit beteken egter nie dat die laaste drie bedes onbelangrik is nie – daardie bedes wat oor ons eie behoeftes gaan – solank ons egter net altyd in gedagte sal hou dat die eer van God se Naam altyd voorrang moet geniet in ons gebede. Met dit in gedagte mag ons derhalwe ook soos Dawid uitroep ~ Moet my tog nie verlaat nie, Here, my God, moenie ver van my af bly nie! (Ps.38:22).
       Ons moet onthou dat ons hemelse Vader weet wat ons nodig het en vind ’n vreugde daarin om ons te versorg en in ons behoeftes te voorsien. Ons Vader gee ook om vir ons praktiese en materiële en persoonlike sake en daarom behoort ons dit nie vir Hom "weg te steek nie", maar eerder ons afhanklikheid van Hom bekend te maak. Daar is natuurlik nog ’n goeie rede waarom ons met ons persoonlike behoeftes na God moet kom en dit is dat Hy, Skepper van alle dinge is. Hy skep; hou in stand; versorg en "bestuur" alle dinge vir en na hul einddoel waarvoor dit geskape is. Daarom sal ons Vader nie net voorsien in dit wat ons nodig het nie, maar ook in dit wat goed is vir ons. Dit impliseer dus dat ons met vrymoedigheid, maar ook met groot dankbaarheid na Hom kan en mag kom en ons persoonlike behoeftes met Hom deel. Ons sal dan ook sien dat hierdie volgende drie persoonlike smeekbedes al ons fisiese en geestelike behoeftes insluit en omvat – hierdie smeekbedes gaan oor ons fisiese behoeftes, vergifnis van sonde en geestelike oorwinning en dan sluit die gebed weer af met eer wat aan God gegee word.

3.    DIE VIERDE SMEEKBEDE:
       Ons eerste persoonlike en vierde smeekbede vind ons in v.11 ~ Gee ons vandag ons daaglikse brood. Hierdie een kort sinsnede sê so geweldig baie en rondom hierdie een sinnetjie kan ons ook soveel bid. Kom ons kyk dan in groter detail na hierdie bede.   
       Eerstens kyk ons na die "bestanddeel" vir hierdie bede, nl. "brood". Brood in hierdie geval verteenwoordig nie net voedsel nie, maar is ook simbool van al ons ander fisiese behoeftes. Martin Luther het gesê dat hierdie "brood" waarvan Jesus hier praat, ons daaglikse voedsel insluit, máár dit verteenwoordig ook ’n gesonde liggaam, reën, ’n woning, ’n vrou, kinders, ’n goeie regering en vrede – alles wat ons dus "aan die lyf mag voel."
       Dit is wonderlik om te besef dat die God wat die heelal geskape het – Hy wat selfvoorsienend is; almagtig; heilig; van ewigheid tot ewigheid is – dat Hy genoeg omgee om jou en my ook te "voed" en te klee en te beskerm en ’n rusplek aan ons te voorsien en ons gelukkig te maak! Dit is presies ook wat Lukas in Hand.17:24-25 vir ons sê ~ God, wat die wêreld met alles wat daarin is, gemaak het, hý is die Here van hemel en aarde, en Hy woon nie in tempels wat deur mense gemaak is nie. 25Hy het ook nie nodig dat mense Hom versorg nie. Inteendeel, dit is Hy wat aan almal lewe en asem en alles gee.
       God onderneem om ons te versorg en Hy doen dit voorwaar ook, dit is waarom Jakobus in 1:17 sê ~ Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van Bo. Dit kom van die Vader wat die hemelligte geskep het, maar wat self nie soos hulle verander of verduister nie. Ons Vader wat ons aan die begin van ons gebed aangeroep het, is dus die Groot Voorsiener van al ons behoeftes – trouens, Hy het reeds voorsien nog voor Hy die mens geskape het – Gen.1:29 ~ Verder het God gesê: “Let op! Ek gee aan julle al die plante wat saad gee op die hele aarde; ook al die bome wat vrugte dra en saad gee. Dit sal julle kos wees.
       Alle fisiese dinge waaroor ons beskik kom dus van die Vader en om Hom nie elke dag daarvoor te dank nie, getuig van ondankbaarheid en is derhalwe sonde.
       Wanneer ons hierdie smeekgebed bid, nl. ~ ...gee ons vandag ons daaglikse brood, moet ons ook na die woordjie "gee" kyk. Al het God dit ook alreeds aan ons verskaf, vra ons nogtans daarvoor, om daardeur erkenning aan Hom te gee vir Sy versorgende liefde in die verlede, asook Sy huidige versorging, maar daardeur spreek ons ook ons vertroue uit dat Hy ook in die toekoms sal voorsien. Ons gee dus deur hierdie gebed, erkenning aan God vir Sy liefdevolle versorging.
       Ons kan hierdie vertroue wat ons uitspreek in God se versorgende en voorsiende liefde en genade, alleen doen., op grond van die belofte in Sy Woord – so sê Ps.37:4-5 bv. ~ Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer. 5Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg. Die "ons" in hierdie vierde smeking is die hart van ons versoek wat ons tot die Vader rig, want dit erken enbevestig ons nood, maar ook ons afhanklikheid van God. Paulus skryf in 2 Kor.9:10-12 aan die gelowiges en hy sê ~ God wat saad verskaf om te saai en brood om te eet, sal ook aan julle saad gee en dit laat groei en julle vrygewigheid ’n ryk oes laat oplewer. 11Hy maak julle altyd in alles ryk genoeg om by elke geleentheid vrygewig te kan wees. Deur ons bemiddeling het julle vrygewigheid tot gevolg dat God gedank word, 12want die bediening van hierdie hulpbetoon voorsien nie alleen in die behoeftes van die gelowiges in Judea nie, maar bring ook oorvloedige dankbaarheid teenoor God mee.
       Jesus sê in Luk.18:29-30 ~ Dit verseker Ek julle: Daar is niemand wat ter wille van die koninkryk van God afgesien het van huis of vrou of broers of ouers of kinders nie, 30of hy ontvang in hierdie tyd al baiekeer soveel terug, en in die tyd wat kom, die ewige lewe. Ons hemelse Vader onderneem om in elke noodsaaklike behoefte van ons te voorsien.
       In hierdie woordjie "ons" lê daar egter nog ’n dieper waarheid verskuil. Die Here Jesus het ons nié geleer om te bid ~ Gee MY vandag MY daaglikse brood nie. Hierdie gebruik van die woord "ons" impliseer dus dat ons ook vir andere se daaglikse behoeftes moet bid, maar dit impliseer ook dat die Here in my persoonlike behoeftes voorsien, sodat ek ook my oorvloed met andere kan deel waar daar nood bestaan. Die Here Jesus het self gesê ~ ...Om te gee, maak ’n mens gelukkiger as om te ontvang (Hand.20:35). In Ef.4:28 sê Paulus ~ As iemand ’n dief is, moet hy ophou steel; hy moet deur harde werk op ’n eerbare manier self in sy lewensonderhoud voorsien; dan sal hy iets hê om vir die armes te gee.
       Laastens die woordjie, "vandag". Hierdie woord "vandag" soos wat dit hier in Christus se Modelgebed (v.11) gebruik word, word nêrens anders in die Woord gebruik nie. In die Grieks word hierdie woord ook as ’n byvoeglike naamwoord gebruik, wat dus beteken dat ons praat van die dag wat voorlê. Indien ons dus in die oggend vra, gee ons vandag ons daaglikse brood, impliseer dit dat ons vra vir God se voorsiening tydens die dag wat voorlê. Indien ons dit in die aand bid, vra ons dus vir die voorsiening vir die volgende dag wat voorlê. Dit gaan dus oor ’n dag-tot-dag voorsiening. Ons moet ons dus nie bekommer oor die dag van môre nie. Jesus het self in Matt.6:34 gesê ~ Moet julle dus nie oor môre bekommer nie, want môre bring sy eie bekommernis. Elke dag bring genoeg moeilikheid van sy eie.
       Ons sien dus dat ons enige tyd, vir enige iets kan vra, deur gebed – Fil.4:6 bevestig dit ~ Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend:
·           Slegs God weet regtig wat ons nodig het. Wanneer ons dus vir God vra om aan ons te gee wat óns glo ons nodig het, is Hy nog steeds die Enigste Een wat weet of ons dít waarom ons vra, wérklik nodig het. Kom ek gee ’n voorbeeld: Dit is nie verkeerd vir ’n enkellopende om die Vader te vra om ’n godvresende man nie, maar as God nie hierdie gebed verhoor nie, moet so ’n persoon dit aanvaar, omdat God in daardie enkellopende se geval weet dat dit dalk beter is om nie getroud te wees nie. So is dit ook nie verkeerd om bv. vir ’n ander kar te vra as jou kar gedaan is nie, maar as die Vader nie vir jou ’n ander kar gee nie, moet jou gesindheid een wees waar jy sê: Here, U genade is vir my genoeg – ek onderwerp my aan U wil, want U weet beter.
·           Tweedens moet ons altyd die gebed wat ons gebid het net voor ons by die laaste smeekbede kom, in gedagte hou en ons daarby neerlê, nl. ~ ...laat U wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel (v.10).
       Dit bring ons by ons tweede laaste smeekbede, nl. ~ ...
en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree (v.12). Die bekende teoloog en prediker, John Stott het eenkeer die hoof van ’n sielsiekeinrigting in Engeland aangehaal wat gesê het  ~ I could dismiss half of my patients tomorrow if they could be assured of forgiveness. In ons dag – soos in die verlede, roep mense uit om ware en opregte vergifnis.
       Wat is die probleem hier – waarom is dit nodig om God te vra om ons te vergewe? Ons weet dat sonde skeiding gebring het tussen God en die mens, toe Adam in die Tuin van Eden gesondig het en sy ganse nageslag in hom daarvoor gestraf is, deurdat daar skeiding gebring is tussen God en die mens (die erfsonde). Ons word deur die gereformeerde teologie geleer dat diegene wie in Christus Jesus ingevlug het en Hom vertrou vir hul regverdigmaking, tog rééds vergifnis ontvang het vir hul sonde – hulle is reeds volkome geregverdig – daar is dus geen skeiding meer tussen ons en God nie. Rom.8:1 sê dit immers ook vir ons ~ Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie. Die ewige Regter het ons vergewe en geregverdig, daarom sê Paulus in Rom.8:33-34 ~ Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry. 34Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons en dan verse 38 en 39 ~ Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte 39of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.
       Die feit dat ons gered is, impliseer egter nie dat ons sondeloos is nie – ja, ons is vergewe en regverdig verklaar wat betref ons erfsonde (daardie sonde waaraan alle mense onderwerp is en skuldig voor God staan - Adam se sonde - maar waarvan gelowiges kwytgeskeld word op grond van Jesus se soendood aan die kruis), maar ons as gelowiges sondig steeds elke dag, dit is waarom Jesus sê dat ons oortredings (meervoud) het waarvoor ons vergifnis moet ontvang. Dawid, ’n man na God se hart (1 Sam.13:14) het in Ps.40:12 gesê dat sy ...ongeregtighede...meer (is) as die hare op (sy) kop. Johannes sê ook vir ons in 1 Joh.1:10 ~ As ons beweer dat ons nie gesondig het nie, maak ons Hom tot leuenaar en is sy woord nie in ons nie. Ons sien dus dat dit steeds nodig is om vergifnis te ontang vir ons daaglikse sonde (ook genoem die sondesmet).
       Om vergifnis te vra, impliseer dus belydenis. John MacArthur het eenkeer gesê: Feet that are not presented to Christ cannot be washed by Him. Sonde kan dus nie vergewe word as dit nie bely word nie. Dit is presies dan ook wat Johannes vir ons in 1 Joh.1:9 leer ~ Maar as ons ons sondes bely—Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.
       Die woord "bely", beteken eintlik "om te erken". Wanneer ons dus ons sonde bely, erken ons en stem ons saam met God dat ons sonde boos en verkeerd is. Dit is egter die enigste manier waarop ons vry kan kom van ons sondeskuld. Spreuke sê in Spr.28:13 ~ Wie sy sonde wegsteek, moet niks goeds te wagte wees nie; wie sy sonde bely en daarvan afsien, sal genade ontvang.
       Wanneer ons, ons sonde bely impliseer dit egter nié dat ons maar net kan voortgaan en maar weer en weer te sondig nie. Nee, ons moet God se vergifnis sien as ’n geleentheid tot geestelike groei en heiligmaking en daarom behoort ons God voortdurend te dank vir Sy liefde en gewilligheid om my te vergewe en te vergewe en weereens te vergewe. Ons moet ook in gedagte hou, dat om ons sonde te bely, impliseer dat ons God daardeur verheerlik, want ons gee erkenning daardeur aan Hom, dat Hy ’n heilige God is.
       Jesus stel egter ’n voorwaarde wanneer ons, ons sonde bely en om vergifnis vra ~ en vergeef ons ons oortredings – en dan hierdie woorde ~ soos ons ook die vergewe wat teen ons oortree. Dit kan anders gestel word: As ons vergewe het, sal ons vergewe word. As ons nie vergewe nie, sal ons nie vergewe word nie. Ons moet ons harte dus behoorlik ondersoek, voor ons God om vergifnis vra. Ons kan nie verwag dat Hy ons gaan vergewe as daar mense is wie ons nie vergewe het nie – Matt.5:7 ~ Geseënd is dié wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word. Vergifnis is dus ’n ware teken van ’n herskepte hart. Ef.4:32 sê ~ Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het. Daar is nie uitkom kans nie – daar is nie wegsteek kans nie. Om andere te vergewe, verlos ons van God se dissipline, want waar daar ’n onvergewensgesinde gees bestaan, is daar sonde teenwoordig en waar sonde teenwoordig is, sal daar noodwendig straf en dissipline wees. As ons kyk na die situasie in die gemeente in Korinte, sien ons dat daar baie gemeentelede was wat siek was en selfs gesterf het as gevolg van hul sonde (1 Kor.11:30). Hierdie beginsel is só belangrik dat Jesus dit na Sy modelgebed weer herhaal het in vv.14-15 ~ As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. 15Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie. Ons moet derhalwe besef dat God ons hanteer soos wat ons ander mense hanteer (Julius Malema e.a. – Wat is my gesindheid?).
       Dit is baie moeilik om sonde te bely, omdat die satan ons probeer weerhou daarvan en omdat ons vlees dit net nie wil doen nie en wanneer hierdie voorwaarde wat Jesus in die "onse Vader" stel, nog bygevoeg word, word dit nóg moeiliker. Dit is egter ongelukkig die enigste manier waarop ons vry kan kom; vergifnis kan ontvang en ’n vreugdevolle lewe kan lei.
       Ons laaste smeekbede vind ons in v.13 ~ ...en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose. Wat ons hier eerste opval is dat hierdie bede met die woordjie "en" begin. Hierdie woordjie verbid ons dringende versoek in die sesde smeekbede, met ons versoek om vergifnis van sonde in die vyfde smeekbede. Ons ervaring van sonde maak ons dus meer bedag op die versoekinge van die vlees en die aanslae van die bose wat ons weer kan laat struikel en in sonde laat verval.
       Ons moet onmiddellik net eers vir mekaar sê dat God ons nooit in die versoeking lei nie – Jak.1:13 is baie duidelik hieroor ~ Iemand wat in versoeking kom, moet nooit sê: “Ek word deur God versoek” nie; want God kan nie verlei word nie, en self verlei Hy niemand nie. Jakobus volg hierdie verklaring op deur vir ons te sê waar versoeking vandaan kom – v.14 ~ Maar ’n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep. Ons word dus deur ons eie vlees versoek en verlei.
       God sal ons egter toets, soos wat Hy vir Abraham getoets het deur die verbond met hom te sluit, sonder ’n oënskynlike nageslag. Satan het dan weer op sy beurt hierdie toets misbruik, sodat die toets in Abraham se lewe, ’n versoeking geword het. Versoekings en toetse verskil in die opsig, nl. dat Satan ons versoek en dit het boosheid tot gevolg, daarenteen toets God ons ten einde, uiteindelik die goeie tot gevolg te hê.
       Ons moet egter ook daarop let dat versoekings nie insigself sonde is nie – dit is ons reaksie op hierdie versoekings wat sonde kan word.
       Wanneer ons hierdie gebed bid, vra ons dus vir God om ons te help om nie toe te gee wanneer toetse oor ons pad kom nie, maar dat Hy ons sal help om staande te bly. Hierdie is dus nie ’n gebed wat ons bid en vra dat die Here ons sal weghou van versoekings nie, maar dat Hy ons sal bewaar wanneer versoekings oor ons pad kom en selfs wanneer Hy ons voor bepaalde toetse te staan bring.
       Wanneer ons hierdie laaste smeekbede bid, gee ons erkenning aan God dat ons afhanklik van Hom is en dat ons afhanklik van Hom en niemand anders wíl wees nie.

4.    DIE SLOT VAN DIE GEBED:
       Jesus se Modelgebed wat Hy aan ons gegee het, word met die woorde ~ Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen, afgesluit (O.A.V.). Alhoewel hierdie gedeelte nie in die N.A.V. en talle ander vertalings voorkom nie en ook nie in die vroegste Latynse vertalings nie, kom dit tog voor in verskeie Griekse manuskripte. Die vroegste kerk het ook hierdie gedeelte gebruik wanneer hulle hierdie gebed gebid het en dit is in ooreenstemming met Paulus se doksologie (lofverheffing, of afsluiting van ’n gebed) in bv. Rom.11:36 ~ Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid! Amen.
       Hierdie gebed begin met die fokus op God die Vader en indien hierdie gedeelte wel deel was van die oorspronklike teks, is dit ook net van pas om die gebed weer af te sluit met eer aan God (soos Paulus ook hierbo in sy gebed doen). Wanneer ons dan hierdie slotgedeelte bid, sê ons:
·           As ons eerstens dan kyk na die frase ...die koninkryk, sê ons dat die heerskappy en gesag aan God behoort, sodat ons seker kan wees, ongeag hoe groot ons stryd met die bose is, dat ons Vader "die laaste woord sal hê".
·           Tweedens, ...die krag: Hierdie woorde word pragtig  verduidelik deur Ef.3:20 ~ Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink (O.A.V.). Sy mag is ver verhewe bo dit wat ons kan bedink en dit is tot Hóm wat ons as Vader bid!
·           Laastens, ...die heerlikheid. Deur hierdie woorde sê ons aan ons Vader dit wat ook in Ef.3:21 staan ~ ... aan Hom die heerlikheid in die gemeente in Christus Jesus deur alle geslagte tot in ewigheid! Amen. En Amen!


[1] Boodskap gebring  deur Kobus van der Walt (Sondagoggend 19 Augustus 2012)

No comments:

Post a Comment